Generaal Rooi Michael Prinsloo / ABO / Held / Bethlehem

Generaal Rooi Michael Prinsloo

ABO

Groot held tydens ABO

Veg sy aan sy met Generaal Chritiaan de Wet.

Bethlehem

ANTONIE (ANTHONIE) MICHAEL PRINSLOO

1862 -1931

Michael Prinsloo, ook genoem Rooi Michael Prinsloo, waarskynlik agv sy rooi hare.

Hy is gebore in 1862 in Bloemfontein Distrik, sy ouers boere.

Op ñ baie jong ouderdom het hy na Bethlehem Distrik getrek waar hy aktief help boer het.

Op 16-jarige ouderdom het hy sy ouers se veeboerdery oorgeneem op hulle veeplaas in Bethlehem Distrik. Hy was ñ baie suksesvolle en hardwerkende boer in Bethlehem Distrik.

ROOI MICHAEL PRINSLOO TYDENS DIE ABO

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog sluit hy by die Bethlehem Kommando aan. Sy sterk leierseienskappe en dapperheid word gou raakgesien en teen Februarie 1900 is hy reeds Kommandant van die Bethlehem Kommando.

Rooi Michael Prinsloo se onverskrokkenheid, dapperheid en vasberadenheid word onvergeetlik tydens die Britte se aanslag op Colesberg.

Prinsloo word tydens die slag in die lugpyp gewond. Ten spyte hiervan help hy eers ñ medeburger op sy perd waarna hy die laaste een is wat uitjaag voor die Britse aanval. Daarna help hy ook eers gou om die Norvalspont-brug op te blaas om aankomende Britse opmars te probeer stuit.

ROOI MICHAEL PRINSLOO EN GENERAAL CHRISTIAAN DE WET

Rooi Michael veg sy aan sy saam met Genl Christiaan de Wet. Hulle loods 2 invalstogte in die Kaapkolonie.

Julie 1901 word Rooi Michael Prinsloo bevorder tot Generaal van die Noordelike Vrystaatse Kommando’s.

Generaal de Wet het oor Rooi Michael die volgende woorde geuiter:

“Gee my 100 burgers soos Rooi Michael Prinsloo van Bethlehem, en ek sal die Engelse uit Engeland jaag.”

Aan die einde van die oorlog was Rooi Michael Prinsloo aanvoerder van die grootste enkele kommando, meer as 1000 burgers sterk.

NA DIE ABO

Na die oorlog vestig Rooi Michael Prinsloo hom weer in Bethlehem Distrik.

Die oorlog het hom geruïneer. Die Britte het sy veestapel verwoes, sy plaas gekonfiskeer en verkoop. Rooi Michael moes selfs onderhoudgeld betaal, glo vir sy vrou en kinders se verblyf en versorging in ñ konsentrasiekamp. Hierdie geld is darem later weer aan hom terugbetaal, maar Rooi Michael het finansiëel nooit weer herstel nie.

Hy word Distrikskommandant van die Bethlehem Kommando.

Tydens die 1914 Rebellie sluit hy aan by die Uniemagte, iets waarvoor hy bitterlik kwalik geneem is deur landsburgers. Later het hy hom wel by Hertzog geskaar.

1927 tot 1931 dien hy as Stadsraadslid van Bethlehem.

ROOI MICHAEL PRINSLOO STERF

Saterdag 26 November 1931 hou Rooi Michael Prinsloo as munisipale amptenaar toesig oor boomaanplantings (bloekombome) buite Bethlehem.

ñ Waansinnige 22-jarige jong man, Cornelius van Heerden, kom aangejaag en skiet Rooi Michael koelbloedig op kort afstand. Die 69-jarige Rooi Michael Prinsloo, held van die ABO, sterf net daar langs die pad.

MONUMENT EN GRAF VAN ROOI MICHAEL PRINSLOO

Op die plek waar Rooi Michael gesterf het, word ñ monumentjie opgerig.

Die klipstapel tans nog steeds daar, is nou binne ñ nywerheidsgebied van Bethlehem. Die ou Bloekombome stille getuienis van ñ groot tragedie wat hier afgespeel het, lank gelede 1931.

Die datum op die stene verskil en word aangedui as 1930. Koerantberigte bevestig die datum as 1931.

Generaal Antonie Michael Prinsloo is in die ou Bethlehem Begraaplaas (Lamadstraat) begrawe. Meer as 3000 mense het sy begrafnis bygewoon.

Neffens hom rus sy vrou, Maria Catherina gebore Grobler 1880-1949.

CORNELIUS VAN HEERDEN

Cornelius van Heerden was ñ probleemkind met emosionele probleme wat met sy pa sowel as die gereg gebots het. Op 22- jarige ouderdom is hy aangekla van nalatige bestuur. Sy eie pa het ñ diefstalsaak teen hom aanhangig gemaak. Sy jeugdige ouderdom en feit as eerste oortreder laat hom tronkstraf vryspring.

Cornelius word ook in hierdie tyd afgedank by sy werk by die Spoorweë weens afweigheid sonder rede.

Cornelius van Heerden voel bedreigd en verbitter en gaan op ñ stormloop op soek na sy pa.

Hy woon saam met sy ouers op die plaas, Bethlehemspoort, so 7 km buite Bethlehem.

Die oggend van die 26ste November 1931 gaan hy vroeg dorp toe om ammunisie te gaan koop. Terug op die plaas vertel hy sy broer hy gaan bietjie skiet en keer terug dorp toe. Volgens getuies het hy eers na Dawie Viljoen gesoek, ñ plaaslike plaasboer. Hy wou wraak neem op Dawie want Dawie het te lekker gelag toe Cornelius van Heerden van ñ leer afgeval het. Hy kon Dawie nie opspoor nie en gaan voort om sy pa te soek wat ook iewers langs die spoorlyn werk.

Cornelius stop ñ verbygaande motor, ñ verkoopsman vanaf Natal, John Edward Darby. Hy skiet John Darby, stoot die lyk oor na die passasiersitplek en jaag voort. Op pad skiet hy verskeie skote op mense langs die pad o.a. spoorwegwerkers en ñ swart vrou.

Hy dood Rooi Michael Prinsloo en wond daar ook 2 werkers.

Die Polisie is nou op sy spoor en Van Heerden vlug. By Liebenbergsvlei keer ñ vol rivier in vloed hom vas. Toe die Polisie nader kom, skiet hy homself daar dood.

By die ingang van die dorp het hy sy sak by die venster uitgegooi. Daarin vind hulle selfmoordbriewe wat hy vooraf geskryf het.

Hy laat 5 dooies agter en 6 gewondes. Sy pa kon hy ook nie opspoor nie.

EENSAME GRAF LANGS DIE SPOORLYN

10 km buite Bethlehem, op die Reitz-pad, naby die brug, is ñ eensame verlate vewaardlose graf.

Dit is die graf van Cornelius van Heerden, moordenaar van Rooi Michael Prinsloo.

Die stadsraad het geweier dat Cornelius in die begraafplaas begrawe word. Die Spoorweë het toestemming gegee dat hy daar langs die spoorlyn begrawe mag word. Grafskrif dof, byna onleesbaar. Onder die Teksvers Joh 14.1(Nuwe vertaling: Julle moet nie ontsteld wees nie ..)

Bronne: Internet. Facebook. Kultuurdagboek. Eggsa. Heritage Portal

Foto’s: Internet. Eggsa. Facebook. Louis Van Zyl Junie 2023.

Samesteller:

Kobie Ströh

Maak 'n opvolg-bydrae