Die Stranding van die Haerlem / 25 Maart 1647 / Die gebeurtenis wat Suid-Afrika se Geskiedenis beinvloed het

25 Maart 1647

Stranding van die Haerlem

Die gebeurtenis wat Suid-Afrika se geskiedenis beinvloed het.

HAERLEM OP PAD TERUG NA NEDERLAND

Januarie 1647 vertrek die Haerlem ( Nieuwe Haerlem/Haarlem) as deel van ‘n retoervloot vanaf Batavië (Java) na Nederland.

HAERLEM EN DIE KAAP VAN STORMS

Die skepe was swaargelaai met voorraad.

Maart bereik die vloot Kaap van Storms en die Haerlem en die Oliphant anker in Tafelbaai om vars water in te neem en vir ‘n jagtog op soek na vleis.

‘n Sterk suidooster steek op en die Haerlem is in die moeilikheid. Ten spyte van die bemanning se pogings strand die skip in omgewing van Bloubergstrand. Die bemanning kon hulleself red asook ‘n groot deel van die vrag. Die bemanning het vir ‘n paar dae lank onder baie moeilike en onaangename omstandighede gewerk om met behulp van ‘n tou tussen die wrak en die strand en ‘n klein bootjie meeste van die vrag aan wal te bring.

SKIPBREUKELINGE

Die Kaptein besluit om saam met die retoervloot verder te reis. Hy laat Onderkoopman Jansz (Leendert Janszen) en 60 bemanningslede agter om die vrag op te pas totdat die retoetvloot terugkeer.

Die skipbreukelinge werk hard om soveel moontlik van vrag te red en begin dadelik om ‘n skuiling tussen die duine te bou as beskerming teen wilde diere en teen die inboorlinge en ook met die oog op die komende Kaapse winter. Hulle bou ‘n vierkantige skuiling van hout, klip en klei. hierdie fortjie noem hulle Sandenburg. Die kosbare vrag word ook hier beskerm.

Die skipbreukelinge steek die oorblyfsels van de wrak aan die brand en begin dadelik hulle inrig vir die onbekende omstandighede. Hulle jag, vang vis en ruil vee van die KhoiKhoi en bou goeie verhouding op met die plaaslike inboorlinge. Hulle gaan selfs na Robbeneiland waar hulle pikkewyneiers versamel.

Tuingereedskap en saad was deel van die vrag en die manne begin om groente te plant. Die groente groei goed, sodanig dat hulle aan ‘n skip vol siekes vars kool, rape, waatlemoene, pampoene ens kon voorsien en sodoende ‘n hele paar lewens kon red.

TERUG NA NEDERLAND

Meer as ‘n jaar later 3 April 1648 pik die retoervloot hulle weer op om saam terug te neem na Nederland. Die VOIC amptenaar (koopman) , Jan van Riebeeck, was op een van die skepe.

JANSZ SE VERSLAG

Jansz skryf ‘n joernaal/rapport aan die Here XVII waarin hy verslag lewer oor die omstandighede en hulle ervarings aan die Kaap. Hy beveel aan dat die Kaap as verversingspos ingerig moet word vir verbygaande skepe want vleis en vis is volop, groente en vrugte groei maklik en welig, inheemse bevolking kan gekersten word en siekes op skepe kan daar verpleeg word.

Jansz breek die mite van mensvreters aan die Kaap finaal en verduidelik dat dit moontlik is om ‘n goeie verhouding met die inboorlinge te bou. Hulle is aanvanklik agterdogtig ontvang, maar later vreedsaam en vriendelik behandel en selfs in die Hottentotte se krale vriendelik ontvang. Solank die inboorlinge regverdig behandel word en hulle vee aangekoop word en so nou en dan hulle magies volgemaak word, is daar geen gevare nie. Dit is besoekende skepe wat met geweld vee van inboorlinge wou afneem wat aangeval word.

JAN VAN RIEBEECK VERVERSINGSPOS

Desember 1651 word Jan van Riebeeck amptelik aangewys om verversingspos aan die Kaap te kom vestig.

OORBLYFSELS VAN DIE HAERLEM

Huidig word daar nog voortdurend gesoek na die presiese ligging van die wrak en stukke wat soms uitspoel op die strand laat die hoop opvlam dat daar wel oorblyfsels gevind sal word.

Bron: Internet

Inligting versamel: Kobie Ströh

Maak 'n opvolg-bydrae