Danie Theron / Graf / Eikenhof / ABO / Danie Theron Monument / Fochville

Danie Theron

Graf

Eikenhof

ABO

Danie Theron Monument

ABO

Fochville area

DANIE THERON

Bobaasverkenner tydens die ABO

Daniël Johannes Stephanus Theron

Gebore 9 Mei 1872 – 5 September 1900

DANIE THERON EN HANNIE

Danie Theron was ń prokureur op Krugersdorp.

Danie was verloof aan Hannie Neethling. Die musikale Hannie het sang en musiek gestudeer.

Sy het gewoon by haar ouers op die plaas Eikenhof Kliprivier-area.

Hannie was die dogter van Christiaan Neethling (CL Neethling). Christiaan was oorspronklik vanaf Stellenbosch. Hy koop ń plaas langs die Kliprivier. Hy het ń sak akkers saamgebring en plant hierdie akkers wat welig begin groei. Vandaar die naam Eikenhof.

Die Neethling-familie het ń groot stuk grond hier besit, vandag bekend as Eikenhof. Op die plaas was ń klein familiebegraafplaas.

Christiaan Neethling het gedien as ń Volksraadslid vir die Heidelberg area.

Danie Theron, die jong prokureurtjie, het naweke met sy fiets Kliprivier toe gery om vir sy geliefde Hannie te gaan kuier.

HANNIE NEETHLING STERF

Een Saterdag, nadat jongmense lekker tennis

gespeel het, begin die 16-jarige Hannie sleg voel. Sy word skielik sieker en sieker.

ń Rukkie later begin haar ouer suster, 18 jaar oud, ook siek voel.

29 Augustus 1898, ń paar dae later sterf Hannie en kort daarna ook haar suster. Albei sterf agv longontsteking.

Vir Danie Theron was die dood van sy geliefde Hannie ń swaar slag.

Hannie en haar suster, Etta, word beide in die familiebegraafplaas op die plaas begrawe.

Danie plant sipresbome om Hannie se graf.

Hy besoek haar graf gereeld, selfs gedurende die ABO besoek hy die graf as hulle in omgewing is. Die Boere was baie aktief in hierdie omgewing besig met aanvalle ens.

Laat een nag, Augustus 1900, twee jaar na Hannie se dood, het Danie Theron aan Hannie se ouerhuis se venster geklop. Hy versoek haar ma om asseblief ń kransie te maak vir hom. Hy wil dit graag op Hannie se graf gaan plaas. Sy moet net die kransie aan die boom voor die huis hang. Die geliefkoosde ou akkerboom waaronder hy en Hannie dikwels gekuier het. Danie sal dit dan in nag daar kry en op haar graf gaan plaas as dit moontlik is.

Die kransie het daelank in die boom bly hang, Danie het nie opgedaag nie. Eers later sou die Neethlings die slegte tyding kry.

GATSRAND, FOCHVILLE SEPTEMBER 1900

Danie Theron en sy manne beplan om saam met Generaal Liebenberg ń Britse konvooi in ń hinderlaag voor te lê on Gatsrand area, naby huidige Fochville.

General Harts en sy konvooi is op pad Frederikstad toe om Generaal De Wet aan te val.

4 September 1900 neem Danie Theron en sy manne posisie in, soos beplan. Generaal Liebenbergkoppie en sy manne is nie op hulle pos nie. Die konvooi beweeg verby.

Danie Theron gaan teen die koppie uit om verkenning te doen en om vas te probeer stel waarom Liebenberg nie in afgespreekte posisie is nie.

Onverwags loop hy hom in ń klein groepie van 7 Britse verkenners vas. ñ Geveg ontstaan. Danie dood 3 en wond 4.

Ongelukkig trek die skote die groot konvooi se aandag en onmiddelik begin hulle die koppie bombardeer.

Danie beweeg van rots na rots en vuur die Britte, sodanig dat Britte oortuig is daar is ń hele groep Boere op die rantjie en hulle bombardeer hewig en storm nader.

ń Bom tref ń rots naby Danie en skrapnel tref hom in sy bors, sy skouer en sy kakebeen. Danie sterf. Britte begrawe hom daar in ń vlak graf.

DANIE THERON BEGRAWE OP EIKENHOF

5 September 1900 sterf die 28-jarige Danie Theron by Gatsrand, naby Fochville, sy oorskot word daar deur die Britte begrawe in ń vlak graf. Elf dae later grawe sy makkers hom op en begrawe hom op die plaas Elandsfontein, eienaar Wolfaardt.

Drie jaar later word hy herbegrawe op die plaas Eikenhof, Kliprivier, in die Neethling familiebegraafplaas. Eikenhof was die plaas van Christiaan Neethling, die vader van Hannie Neethling, Danie Theron se oorlede verloofde. Dit was Danie se wens dat hy eendag by sy geliefde Hannie begrawe moes word. Sy oorskot word deur sy burgers langs sy verloofde begrawe.

Die grafsteen treffend en uitstaande.

“NOG STEEDS VOERT HIJ HEN AAN.

DE JONGE STRIJDERS VAN ZOO MENIGEN SLAG

EN AAN DE SPITS DER HELDEN ZAL HIJ STAAN,

WANNEER VERRIJZEN ZAL DE LANG VERBEIDE DAG.

Generaal Louis Botha:” Hy was as soldaat gehoorsaam en trou, as offisier onverskrokke en bekwaam, as krygsman ń held.

Nooit het ek iemand ontmoet wat meer deurtastend te werk gegaan het, wat opgewekter ń moeilike taak volbring het nie, hetsy ad leier, as spioen, of as aanvoerder by ń aanval. Die woord ‘nee’ het Theron nie geken nie. Wat aan hom opgedra is, het hy gedoen. Transvaal het geen dapperder man opgelewer nie. “

https://www.facebook.com/groups/372725536482372/permalink/1428009467620635/

Bronne: Internet.

Ons vir jou Suid-Afrika deur FJN Harman

Oor berge en dale deur Jackie Grobler

Foto’s: Gys Ströh snr Mei 2021

Maak 'n opvolg-bydrae