31 Mei 1902
Vrede van Vereeniging
Vredesmonument
Vereeniging
Skrywe deur Willie Spies:”In Vereeniging staan ‘n beeld van ‘n platgeslane, gewonde man met ‘n vrye gees wat uit die gewonde liggaam ontsnap.
Onder die beeld staan die woorde, “gewond maar onoorwonne”.
Die beeld gedenk die Vredesverdrag van Vereeniging wat 31 Mei 1902 onderteken is.
Die ondertekeningseremonie het plaasgevind in die Melrose Huis in Pretoria, maar die onderhandelinge tussen Boer en Brit oor die vredesluiting het in Vereeniging plaasgevind.
Sestig afgevaardigdes van Boerekommando’s van oral oor die twee republieke moes besin oor die voorwaardes vir vredesluiting.
Die vredesvoorstel is gedebatteer en aan die Britse regering gestuur.
Die Britse regering het ‘n paar dae later die vredesvoorstel, soos gewysig, teruggestuur met die boodskap dat die twee Boererepublieke dit of moet aanvaar of die oorlog word voortgesit.
Die sestig verwese afgevaardigdes van die twee Boererepublieke moes oor die finale voorstel stem en dit is met 54 stemme teen 6 aanvaar.
Alle vegtende Boere van beide republieke moes hulself oorgee.
Hulle wapens sou gekonfiskeer word.
Elke burger moes lojaliteit teenoor die Britse Kroon sweer.
‘n Algemene amnestie (met uitsondering van 3 persone wat vir moord aangekla is, Salmon van As, Barend Celliers en Josef Muller) sou geld en die doodstraf sou nie opgelê word vir gevange Kaapse Rebelle nie.
Salmon van As / Fusillering / ABO / Ou Tronk / Kloof Begraafplaas / Heidelberg / 23 Junie 1902
Die gebruik van Nederlands sou in skole en geregshowe toegelaat word.
Selfregering sou uiteindelik aan die twee republieke toegeken word, maar die vredesdokument het nie bepaal presies wanneer nie.
‘n Totale bedrag van £3,000,000 sou aan die Boere betaal word vir heropbou van hulle plase.
Eiendomsregte van die Boere sou gerespekteer word.
Geen grondbelasting sou geld nie en slegs geregistreerde privaat wapens sou toegelaat word.
Daarmee was die oorlog van byna drie jaar verby en kon die oorlogsmoeë bittereinders terugkeer na hulle verwoeste plase.
Vir meeste was die oorlog ook die einde van plaaslewe, waarmee hulle so bekend was.
In die twee dekades na die Anglo-Boere-oorlog sou die verslane en verarmde Boere ‘n grootskaalse bevolkingsverskuiwing na die stede en spesifiek die Witwatersrand se myndorpe ondergaan.”Uittreksel uit rubriek geskryf vir Beeld en Volksblad van 27 Mei 2022
VREDESMONUMENT in Vereeniging
Vredesmonument/Vryheidsmonument Vereeniging is ryk aan simboliek.
Op die plein voor Vereeniging Burgersentrum
1902: ‘n Donker oomblik in die geskiedenis van die Boerevolk het aangebreek…Ten einde die vernedering van die dapper bittereinders te simboliseer het dr. HF Verwoerd op 10 Oktober 1961 die onthulling van ’n Vredesmonument op Duncanville, Vereeniging waargeneem.
Die monument van blou graniet en vlekvrye staal gedenk die vredesberaad wat Mei 1902 tydens die ABO in Vereeniging plaasgevind het.
Die Gedenkteken bestaan uit ’n hoë voetstuk waarop ’n sterwende boerekryger lê wat met staal in die hart verwond is.
Uit die wond in sy hart verrys ‘n figuur van vlekvrye staal wat triomfantlik hemelwaarts omhoog strek.
Slegs buitelyne van die figuur is gebruik om ‘n gees van staal aan te dui. Dit is simbolies van die Afrikaner gemeenskap wat na die oorlog opnuut verrys het.
Voor op die voetstuk is ‘n samestelling van ‘n geweer, ‘n leë bandolier en die hoed van’n kryger, simbolies van die wapens wat 1902 neergelê is, opgehang om die idee van vrede te gee maar terselfdertyd vorm dit ‘n krans van rou oor die verlies van boere se onafhanklikheid.
Aan weerskante van die voetstuk is die reliëf van beide die Republieke uitgebeitel.
Die enigste woorde op die Vredesmonument is: GEWOND – MAAR ONOORWONNE
GEWOND versinnebeeld die verslaendheid van die Boerevolk nadat dit op 31 Mei 1902 die onafhanklikheid van die twee Republieke moes prysgee. Gewond dui op die diepe verslaentheid van die Afrikanervolk – maar nie oorwin nie dui daarop dat die volk weer sal opstaan. ‘n Geestelike eenheid het onder die Afrikaner volk ontstaan
In die woorde MAAR ONOORWONNE lê opgesluit die onverstaanbare geloof en lewenskrag wat tot die weer opstaan en voorspoed van die Afrikanervolk gelei het.
Die idee van Dood en herrys, Wanhoop en geloof, Saamgevat in die beeld.
Die beeld is gemaak deur Coert Steynberg.
Opgerig in Vereeniging omdat die vredes samesprekinge daar plaasgevind het.
Onthul 10 Oktober 1961 deur dr. H F Verwoerd.
Aanvanklik opgerig in ñ park in Duncanville langs Ou Johannesburg weg, maar later verskuif na die Burgersentrum, toegesluit agter palisades. (Ou inwoners van omgewing beweer die verskuiwing is gedoen omdat soveel selfmoorde plaasgevind het langs beeld se voetstuk.) Vandale het ook hier toegeslaan.
Lede van die Vaaldriehoek Kultuurnetwerk het paar jaar gelede ingespring om Die Vryheidsmonument se terrein op te knap en netjies te hou.
Gereeld word hierdie groot taak herhaal.
Die Voortrekkers hou jaarliks ñ indrukwekkende diens en inlywing by die Vryheidsmonument.
Elke jaar 31 Mei reël die FAK ñ Vryheidstoer vanaf Vereeniging tot in Pretoria en ñ kranslegging by die Vryheidsmonument.
Nuwer toevoegings is die SANDSTEENPILARE by die Vryheidsmonument .
KLEIN VOORTREKKER- MONUMENTJIE (Groot Trek, Simboliese Trek 1838 – 1938 en die Fakkelloop met Voortrekkermonument se inwyding ) wat verskuif is na die voet van die Vryheidsmonument.
COERT STEYNBERG
Plasing deur Hannes Steyn
7 Januarie 1905 – Geboortedag van die Suid-Afrikaanse kunstenaar, Coert Steynberg
Coert Steynberg was ‘n Suid-Afrikaanse beeldhouer en skilder, gebore op Hennopsrivier naby Pretoria op 7 Januarie 1905.
Hy het sy opleiding ontvang in Grahamstad en Londen.
Daar het hy ‘n diploma van die Associated Royal College of Arts verwerf en die August Spencer-trofee vir kapwerk verower.
Met sy eerste belangrike werk, die Diasbeeld uit klip gekap, wen Steynberg in 1932 die prysvraag vir ‘n standbeeld in die S.A.-huis in Londen.
Daarna het hy verskeie amptelike opdragte uitgevoer, w.o. die Louis Botha-ruiterstandbeeld aan die voet van die Uniegebou, die Bloedriviermonument in Natal, die Hugenotemonument in Franschhoek, die Sarel Celliersmonument op Kroonstad, die genl De Wetmonument in Bloemfontein, die Vrede van Vereenigingmonument en die Pretoriusgroep in Pretoria.
Vanaf 1947 het hy ook gewerk in geëmaljeerde yster, graniet, gebrandskilderde glas, plastiese materiaal, wonderklip, saamgesweiste draad, ens.
Uit die werk blyk Steynberg se fyn aanvoeling vir die noue verband tussen die aard van die onderwerp en dié van die materiaal, sy veelsydigheid en beheersing van die tegniek.
Onder sy beste werk is ook ‘n groot aantal borsbeelde.
Een van Steynberg se laaste werke is die borsbeeld van president Kruger wat by een van die ingange van die Krugerwildtuin staan.
Die J.G. Strijdommonument in Pretoria (die een wat deur die vloer geval het) is deur Steynberg en Danie de Jager ontwerp.
In 1951 het hy sy eerste uitstalling van persoonlike werk in enkele groot stede van Suid-Afrika gehou. Daarna het uitstallings gevolg in o.m. Londen.
Steynberg het deelgeneem aan die Internasionale Opeluguitstalling in Nederland, die Venesiese Biennale en die Rhodes-eeufeesuitstalling.
Steynberg was sekerlik een van Suid-Afrika se leidende beeldhouers.
Hy het ook baie portrette en landskappe geskilder.
Die erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is in 1953 aan hom toegeken.
In 1972 het hy ‘n eredoktoraat van die Universiteit van Pretoria ontvang.
Coert Steynberg het gesterf op 28 Julie 1982 (op 77) te Pretoria.