31 Mei 1902
Vrede van Vereeniging
Vredesmonument
Vereeniging
Skrywe deur Willie Spies:”In Vereeniging staan ‘n beeld van ‘n platgeslane, gewonde man met ‘n vrye gees wat uit die gewonde liggaam ontsnap.
Onder die beeld staan die woorde, “gewond maar onoorwonne”.
Die beeld gedenk die Vredesverdrag van Vereeniging wat 31 Mei 1902 onderteken is.
Die ondertekeningseremonie het plaasgevind in die Melrose Huis in Pretoria, maar die onderhandelinge tussen Boer en Brit oor die vredesluiting het in Vereeniging plaasgevind.
Sestig afgevaardigdes van Boerekommando’s van oral oor die twee republieke moes besin oor die voorwaardes vir vredesluiting.
Die vredesvoorstel is gedebatteer en aan die Britse regering gestuur.
Die Britse regering het ‘n paar dae later die vredesvoorstel, soos gewysig, teruggestuur met die boodskap dat die twee Boererepublieke dit of moet aanvaar of die oorlog word voortgesit.
Die sestig verwese afgevaardigdes van die twee Boererepublieke moes oor die finale voorstel stem en dit is met 54 stemme teen 6 aanvaar.
Alle vegtende Boere van beide republieke moes hulself oorgee.
Hulle wapens sou gekonfiskeer word.
Elke burger moes lojaliteit teenoor die Britse Kroon sweer.
‘n Algemene amnestie (met uitsondering van 3 persone wat vir moord aangekla is, Salmon van As, Barend Celliers en Josef Muller) sou geld en die doodstraf sou nie opgelê word vir gevange Kaapse Rebelle nie.
Salmon van As / Fusillering / ABO / Ou Tronk / Kloof Begraafplaas / Heidelberg / 23 Junie 1902
Die gebruik van Nederlands sou in skole en geregshowe toegelaat word.
Selfregering sou uiteindelik aan die twee republieke toegeken word, maar die vredesdokument het nie bepaal presies wanneer nie.
‘n Totale bedrag van £3,000,000 sou aan die Boere betaal word vir heropbou van hulle plase.
Eiendomsregte van die Boere sou gerespekteer word.
Geen grondbelasting sou geld nie en slegs geregistreerde privaat wapens sou toegelaat word.
Daarmee was die oorlog van byna drie jaar verby en kon die oorlogsmoeë bittereinders terugkeer na hulle verwoeste plase.
Vir meeste was die oorlog ook die einde van plaaslewe, waarmee hulle so bekend was.
In die twee dekades na die Anglo-Boere-oorlog sou die verslane en verarmde Boere ‘n grootskaalse bevolkingsverskuiwing na die stede en spesifiek die Witwatersrand se myndorpe ondergaan.”Uittreksel uit rubriek geskryf vir Beeld en Volksblad van 27 Mei 2022
VREDESMONUMENT in Vereeniging
Vredesmonument/Vryheidsmonument Vereeniging is ryk aan simboliek.
Op die plein voor Vereeniging Burgersentrum
1902: ‘n Donker oomblik in die geskiedenis van die Boerevolk het aangebreek…Ten einde die vernedering van die dapper bittereinders te simboliseer het dr. HF Verwoerd op 10 Oktober 1961 die onthulling van ’n Vredesmonument op Duncanville, Vereeniging waargeneem.
Die monument van blou graniet en vlekvrye staal gedenk die vredesberaad wat Mei 1902 tydens die ABO in Vereeniging plaasgevind het.
Die Gedenkteken bestaan uit ’n hoë voetstuk waarop ’n sterwende boerekryger lê wat met staal in die hart verwond is.
Uit die wond in sy hart verrys ‘n figuur van vlekvrye staal wat triomfantlik hemelwaarts omhoog strek.
Slegs buitelyne van die figuur is gebruik om ‘n gees van staal aan te dui. Dit is simbolies van die Afrikaner gemeenskap wat na die oorlog opnuut verrys het.
Voor op die voetstuk is ‘n samestelling van ‘n geweer, ‘n leë bandolier en die hoed van’n kryger, simbolies van die wapens wat 1902 neergelê is, opgehang om die idee van vrede te gee maar terselfdertyd vorm dit ‘n krans van rou oor die verlies van boere se onafhanklikheid.
Aan weerskante van die voetstuk is die reliëf van beide die Republieke uitgebeitel.
Die enigste woorde op die Vredesmonument is: GEWOND – MAAR ONOORWONNE
GEWOND versinnebeeld die verslaendheid van die Boerevolk nadat dit op 31 Mei 1902 die onafhanklikheid van die twee Republieke moes prysgee. Gewond dui op die diepe verslaentheid van die Afrikanervolk – maar nie oorwin nie dui daarop dat die volk weer sal opstaan. ‘n Geestelike eenheid het onder die Afrikaner volk ontstaan
In die woorde MAAR ONOORWONNE lê opgesluit die onverstaanbare geloof en lewenskrag wat tot die weer opstaan en voorspoed van die Afrikanervolk gelei het.
Die idee van Dood en herrys, Wanhoop en geloof, Saamgevat in die beeld.
Die beeld is gemaak deur Coert Steynberg.
Opgerig in Vereeniging omdat die vredes samesprekinge daar plaasgevind het.
Aanvanklik opgerig in ñ park in Duncanville langs Ou Johannesburg weg, maar later verskuif na die Burgersentrum, toegesluit agter palisades. Ou inwoners van omgewing beweer die verskuiwing is gedoen omdat soveel selfmoorde plaasgevind het langs die beeld se voetstuk.