16 Junie / Konsentrasiekampdag / Jeugdag

16 Junie

Jeugdag

Merkwaardig wat se invloed hierdie datum op talle kinderlewens gehad het in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

16.6.1976 het Hector Pieterson(Soweto opstand) ń simbool geword vir stryd teen apartheid waartydens sowat 600 mense hulle lewens verloor het.

KONSENTRASIEKAMPE ABO

16 Junie 1900 vaardig Lord Roberts ń proklamasie uit wat die Britse ” Verskroeide Aarde” beleid amptelik verklaar. Dit was ń poging om die Boere Krygers se moed te breek.

Hierdie beleid van plaashuise afbrand en voedselvoorrade vernietig, is intens deur Kitchener uitgevoer. Minstens 30 000 wonings is afgebrand, duisende vee afgemaai en gesaaides is vernietig. Voor die oorlog was daar in Transvaal ongeveer 1 miljoen beeste, 200 000 perde en 1, 5 miljoen skape. Na die oorlog ongeveer 200 000 beeste, 50 000 perde en 400 000 skape oor.

Uit ń geskatte totale bevolking in Tvl en OVS van 270 000 was daar meer as 34 000 srerftes in die kampe. Meer as 24 000 kinders sterf. Gemiddeld 43 kinders en 15 vrouens sterf in kampe per dag.

Aan einde van 1901 was daar byna geen kind onder 2 jaar oor nie, ook nie bejaardes nie.

ń Hele generasie uitgewis, hele gesinne dood. Volksmoord.

Na die ABO was daar 20 000 weeskinders.

Konsentrasiekampe is aanvanklik opgerig vir beskerming van die wapen-neerlêers (hensoppers) en hulle gesinne.

Soos plaaswonings vernietig is, is duisende vroue en kinders en bejaardes gevange geneem en gedwing na oorvol konsentrasiekampe. Groot ontberings is ervaar op pad na kampe: In wind en weer op treintrokke, ossewaens en honderde kilometers te voet.

Vroue en kinders het in haglike omstandighede in die kampe gewoon. Besmette water, swak voeding, te min kos, vrot vleis, geen vars groente en vrugte, tekort aan brandhout, geen seep, geen wasgeriewe, onvoldoende sanitasie, tente wat geen beskerming bied teen koue, hitte, sneeu, hael, wind, weerlig was hulle omstandighede.

Voeg hierby onbekwame kampbestuurders, misbruik van vroue en jong dogters en ook onvoldoende en twyfelagtige mediese sorg en ń teelaarde vir siektes ontstaan wat lei tot groot sterftes.

Sir Henry Campbell-Bannerman het in die Britse Parlement gesê: ” It is an offence against civilization, as a military mistake and as a political disaster.”

Boonop het Lord Milner doelbewus omstandighede uitgebuit om kinders deur onderwys te verengels. Onderrigtaal in kampe was engels al was meeste onderwysers Afrikaanssprekend. Suid-Afrikaanse geskiedenis was ongewens en in Aardrykskunde is kinders geleer hoe klein en onbenullig Tvl en OVS op die aardbol is teenoor die Groot magtige Britse Ryk. Die ouers is gepaai met die toegewing dat godsdiensonderrig in Hollands mag wees. Die resultaat was dat kinders in engels gespeel het, sport in engels beoefen het en engelse liedjies gesing het.

Na die ABO was die Boerevolk getraumatiseerd.

Twee republieke is ekonomies vernietig, militêr oorgegee, wapens neergelê, ekonomies verarm, geen politieke mag, kultureel bedreig.

Die Boere het teruggekeer na grafte en afgebrande wonings. Uit die ashope deur selfplanne en selfdoen het hul weer opgestaan.

TC Pienaar skryf in 1904: ” Die volk was moedeloos omring deur duisternis ; nêrens was daar ń straal van hoop meer nie. Maar in die as van verbrande wonings het die vuur nog gesmeul; in die hart van die nasie het die wil om weer op te staan, nog flou gepols”.

Saamgevat deur K. Ströh

Maak 'n opvolg-bydrae