Vredefort / Polisiestasie / Poskantoor / Kerk / Simboliese Ossewatrek

Vredefort

Vrystaat

Vredefort is ń klein plattelandse dorpie binne in ń massiewe krater van ongeveer 300 km in deursnee.

Vredefort is naby die middelpunt van hierdie oudste en grootste impakkrater wat ook vernoem is na díe dorp;

Die Vredefort Koepel.

Hierdie area is as Wêrelderfenisgebied verklaar, in privaatbesit en lok toeriste en geoloë vanoor die hele wêreld.

Reeds in 1836 het die voorpunt van die Groot Trek (Potgieter en Celliers) hulle tydelik in die winter hier gevestig.

1838 het van die Voortrekkers hulle hier permanent gevestig.

Die dorp het ontstaan uit ń behoefte aan ń kerk, ń gemeente, aangesien die lang afstande na die naaste kerk dit vir die boere in die omgewing moeilik gemaak het om kerk by te woon.

Die dorp het al in 1876 op die plaas Vischgat ontstaan, maar is eers in 1881 as dorp erken na vele versoeke.

Teen 1881 was daar maw hier reeds ń nedersetting.

Vredefort is een jaar ouer as die buurdorp Parys.

Die eerste goud in die Vrystaat is ook hier ontdek en prospekteergate en verlate ou myne kan huidig nog gevind word.

Die naam van die dorp beteken fort van vrede of plek van vrede. Die naam is gekies nadat daar uiteindelik na groot twis tussen Transvaal en Vrystaat en tussen twee dorpe Parys en Vredefort ooreenstemmigheid bereik is.

Vredefort val in die groter Riemlandstreek, so genoem nav die volop wild wat in hierdie streek voorgekom het en die velle van diere is hier grootskaals tot riempies verwerk.

Tydens die ABO was hier ń groot konsentrasiekamp: Vroue en kinders is hirvandaan te voet na die konsentrasiekamp Vredefort Weg, Greenlands

Vredefort is ook bekend as die dorp van rebelle. Karel Geere, rebel van 1857 en ook later het die eerste botsing van die 1914 Rebellie in hierdie distrik plaasgevind.

Vredefort het ń bloeitydperk beleef toe die nasionale pad deur die dorp geloop het en Vredefort Hotel was ń belangrike baken, maar sedert die verskuiwing van die nasionale pad beleef Vredefort swaar tye .

Tans hou boerdery en toerisme Vredefort aan die gang.

Bekende persone:

Uit hierdie distrik kom 2 bekende persoonlikhede nl Ds Paul Roux en Christiaan de Wet.

De Wet het hom hier kom vestig in 1896 en het as inwoner van Vredefort toegetree tot die ABO.

Nasionale Gedenkwaardighede

Die onderstaande is tot nasionale gedenkwaardoghede verklaar:

Die Poskantoor in Oranjestraat (1904)

Die Polisiestasie op die hoek van Kerkstraat en Oranjestraat ( Met pragtige wapen ingekerf in sandsteen OVS Geduld en Moed)

Die oudste huis 1885 op die hoek van Markstraat en Charl Cilliers straat

NG Kerk Vredefort

Die afstand na die naaste dorp was baie groot en 1882 word die Vredefort gemeente afgestig vanaf Kroonstad gemeente.

Daar is onderhandel om ń kerk te bou op ń gedeelte van die plaas Vischgat.

28 Julie 1883 word die hoeksteen gelê.

Tydens die ABO het die Britte die hoeksteen uitgebreek op soek na waardevolle items wat moontlik agter die hoeksteen versteek sou wees.

Hulle het die kerk lelik beskadig, veral die preekstoel en die banke.

Die gevange vroue het ook noodgedwonge die hout van die banke gebruik as brandhout om kos te probeer maak.

Die Britte het die pastorie heeltemal afgebrand.

Teen 1903 is daar reeds begin met die herstel van die kerkgebou en die pastorie herbou.

1914 is besluit om ń nuwe kerkgebou op te rig, maar die Eerste Wêreldoorlog en daarna het die 1918 Griepepidemie die planne vertraag.

Die nuwe, pragtige sandsteen gebou is in 1923 ingewy.

Teen die oostelike muur kan die diep merke van Britse koeëls steeds gesien word, waarskuwingskote indien gevange vroue dalk sou poog om te ontsnap.

1938Simboliese ossewatrek.

1938 is die Groot Trek op feestelike wyse herdenk.

Ossewaens het vanaf die Kaap na Pretoria getrek vir die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument.

Orals is dorpies besoek en gedenkstene en klipstapels en monumentjies opgerig.

4 November 1938 het meer as 2000 mense in Vredefort die ossewaens, Andries Pretorius en Hendrik Potgieter, ingewag.

Die waens was reeds swaar gelaai met 95 600 briewe gepos in die wakiste vanoor die hele land.

ñ Hartbeeshuisie is spesiaal vir díe geleentheid opgerig.

Twee strate is herbenoem nl Voortrekkerstaat en Charl Cillierstraat.

ń Monument ryk aan simboliek is voor die NG Kerk Vredefort opgerig. Wawiele weerskante met ń klein ossewaentjie wat bo-op pryk. Sentrale punt met datum en inskrywing was die oorspronklike hoeksteen van die huidige kerksaal, destyds die enigste kerk. Die steen was tydens die ABO uitgebreek. Die huidige hoeksteen by die saal was net tydelik en amateuragtig gebeitel. 1938 het die hoeksteen weer ń ereplek verkry. KS

Bron: Internet. Kerkgeskiedenis

Fotos :Gys Ströh snr 2019

Maak 'n opvolg-bydrae