VRYHEIDSMONUMENT
VEREENIGING
KRAAL
Julie 2021 het die FAK Vaaldriehoek Kultuurnetwerk en die Vrystaat Kultuurnetwerk saamgespan en ‘n kraal gebou aan die voet van die Vryheidsmonument in Vereeniging.
Deon van de Watt, ‘n Vrystaatse boer vanuit die Tweelingdistrik het sandsteenpale geskenk wat op sy plaas as hoekpale gebruik was. Hierdie sandsteen pilare is kenmerkend in die Vrystaat.
Die sandsteenpilare is in die vorm van ‘n kraal opgerig en doringdraad is tussen-in gespan.
Dit herinner aan tye van groot swaarkry, nood, saamstaan en selfdoen.
Sandsteen pale
Soos monumente staan hierdie sandsteen pale om ons te herinner aan die pioniers wat hierdie land kom mak maak het.
Die sansteen pilare van die Vrystaat en Karoo getuig van harde werk, deursettingsvermoë en ondernemingsgees van ons voorgeslagte.
Die kunstige manier waarop hulle met klip gewerk het, sal jare lank nog bly staan.
In die laat 1800’s was houtpale nie maklik verkrygbaar nie.
Om grenslyne van plase af te merk is lang klippe stewig geplant as landmerk.
Sandsteen is met beitel bewerk tot die beitel se kop later sampioenkop geslaan is.
Kilometer lange sandsteen pilare is geplant om grensdrade tussen plase te anker.
Sandsteen pilare is gebruik as hoekpale, ankerpale, vir heinings, plaashekke te anker en selfs geboue se hoekpale.
Hierdie is kunswerke wat bewaar moet word en ons herinner aan hardwerkende voorgeslagte.
Pos deur Dawie Fourie. Facebook. Junie 2022.
Hierdie hoekpale of liewers klippale kan ook as monumente gesien word vir hoe dit gebruik was gedurende die boereoorlog.
Gedurende die boereoorlog van 1899 tot 1902 is hierdie pale vir’n rukkie deur die boeremagte gebruik as ‘n kommunikasie lyn.
Die storie word goed beskryf in die boek “With Steyn and De Wet” geskryf deur Philip Pienaar (Destyds deel van die Transvaal Kommunikasie Diens).
Die betrokke hoofstuk is gemerk as “Lindley to Heilbron”
Daar word ook in ander boeke melding hiervan gemaak.
Hier meld ek nou slegs ‘n paar feite wat uit hierdie boeke gekom het.
Destyds is klippale gebruik instede van staal of hout.
Die destydse Vrystaat republiek was ook een van die eerstes wat destyds wetgewing ingestel het en lyndrade ‘n verpligting gemaak het.
Dus, as jy die pad neem tussen Heilbron en Lindley was daar behoorlike lyndrade gewees.
Volgens Pienaar was materiaal skaars en daar is besluit om die klippale te gebruik.
Die boonste lyn is gebruik as ‘n kommunikasie lyn. Waar daar hekke was, is ‘n sloot gegrou en die lyn is onder die loopvlakte van die hek geplaas. Behalwe dat die kommunikasie lyn suksesvol was, het die Britte ook klaarblyklik nie agtergekom dat dit ‘n kommunikasielyn is nie. Daar was ook boere wat die lyne met agterdog bekyk het, veral by die onderskeie hekke en het onwetend hierdie lyne uitgehaal en vernietig wat later weer herstel moes word.
Op hierdie roete, tussen Heilbron en Lindley is daar nog steeds baie van hierdie klippale langs die pad en dit word steeds gebruik vir die lyndrade.
Die boek, sowel as baie ander, kan gratis afgelaai word by “Project Gutenburg”
Foto’s Dawie Fourie: