Jalalpor General DealerVolg die pad uit Parys Vrystaat na PotchefstroomNet na brug aan Transvaalkant van Vaalrivier Noord WesSedert 1929Hier vind ons ‘n plekkie wat herinner aan vervloë dae. Tye van lank gelede. Nostalgie as ons dink aan die ou ou plaaswinkeltjie: Kardoesies vol klipharde suiglekkertjies wat ons ons ‘n naam genoem het wat vandag nie geuiter mag word nie ( ……blits pasella), suurklontjies, Wilsontoffies. ‘n Tiekie se sweeties in ‘n groot papierkardoes. Die smaak, die reuk, die kreunende rakke roep herinneringe van lank gelede op. In hierdie winkeltjie vind jy iets van alles, soos oupa altyd gesêhet: “ Van ‘n hout woer-woer tot ‘n guava”.Agter die toonbank spreek die vriendelikste winkelier jou in Afrikaans toe: Baboo Jalalpor soos die omgewing hom ken, maar sy eintlike naam is Moosa Yacoob. Die oorspronklike van van die familie is Yacoob, maar die plaaslike volksmond het dit verander na Jalalpor.Hierdie winkel is al dekades in die Yacoob Familie, 3 geslagte. oorgedra van Oupa na seun, na kleinseun.Baboo se oupa Moosa het in April 1929 die winkel oorgekoop en hy en ‘n vennoot het stilletjies begin handel dryf want sy handelslisensie het hy eers in 1930 verkry. Sy seun Malie het skool in Standerd 9 op 18 jarige ouderdom verlaat om sy siek pa te help in hulle twee winkels en in 1954 die Parys winkel oorgekoop en oorgeneem. Baboo, sy kleinseun, volg in hulle voetspore en werk vanaf 1987 vir 10 jaar saam met sy pa in die winkel en koop weer die winkel oor vanaf sy pa in 1997. In die winkel is nog steeds ‘n kas van oupa met so paar ou herinneringe in.Die naam van Jalalpor se algemene handelaars winkel het ‘n baie interessante oorsprong.M. Jalalpor AlgemeneHandelaarM. staan vir oorspronklike naam van Oupa: MoosaJalalpor/Jalalpur is die area in Indië waarvandaan Oupa Moosa sowel as Ouma gekom het. Hulle was aanvanklik op Broederstroom gevestig en het mekaar daar ontmoet.(Ouma was reeds voor oupa al daar). Die Jalalporfamilie het sulke diep spore in Broederstroom area getrap dat daar selfs ‘n Jalalporstraat in Hartebeespoort is. Die ligging van Jalalpor se algemene handelaar het ‘n baie interessante geskiedenis.In die laat 19de en vroeë 20ste eeu het ‘n klein groepie Asiërs geïmmigreer uit Indië na Suid-Afrika. Meeste het hulle gaan vestig in Natal as kontrakwerkers op die suikerrietplase. Latere groepies Indiërs het ingekom in die land met kapitaal in hulle besit en hulle het hulleself as handelaars op die platteland gevestig, soos bv enkeles in die Potchefstroomdistrik.Van die eerste handelaars wat hulle gevestig het, was die Jalalpor familie wat hulle eie onderneming naby Parys bedryf het. Aanvanklik het hulle in die ou lokasie in Maherrystraat in Potchefstroom gewoon, maar gou besef hulle verskil in so baie opsigte heeltemal van die inheemse bevolking en ‘n woonhuis by hulle onderneming buite Parys gebou om in te woon. Hulle het ook ‘n winkel in Maherrystraat bedryf, ook ‘n Algemene Handelaar. Hulle het vir ‘n aantal jare beide winkels bedryf, Parys sowel as Potchefstroom maar het Maherrystraat se winkel gesluit toe die lisensie verval het (1969-1973 toe Wet op Apartheid die woongebied in Potchefstroom as blanke gebied verklaar het) en net aangegaan met Parys se winkel. Dit was maar ook moeilik om die twee winkels te bedryf. Volgens die Vrystaatse Ordonansie no 18 van 1884 was hulle as “coloureds” geklassifiseer. Elke streek het natuurlik sy eie wette en reëlings oor Indiërhandelaars gehad.Vrystaatse Ordonansie no 1 van 1885 verbied Asiërs om handel te dryf in die Vrystaat en alle bestaande huurkontrakte is gekanselleer. Die destydse Vrystaatse regering het die Indiërs as ‘n bedreiging vir die blanke handelaars gesien. Die Indiërs is ook verbied om in die Vrystaat te woon of oor te slaap, hulle mag slegs deur Vrystaat gereis het. Dit het natuurlik tot die ou ou grappie gelei:” Wat is die vinnigste ding in SA op 2 wiele? ‘n Indiër op ‘n fiets deur die Vrystaat.”Maar soos Baboo spottenderwys opgemerk het tydens ‘n onderhoud met Beeld 2016 “’n Boer maak ‘n plan, maar die Indiër het al klaar ‘n plan”Wet no 3 1885 van die ZAR het wel Indiërs toegelaat om in die Transvaal te woon en handel te dryf, maar slegs in gebiede aan hul toegewys.Die ZAR het ‘n beleid gevolg van afsonderlike woongebiede en handelsgebiede aan die Indiërs.Die Jalalpors het toe ‘n ooreenkoms met Paul Kruger gaan beding dat hulle uit die Vrystaat sou bly en in ruil daarvoor kon hulle op Transvaalse dorpe handel dryf. Hulle kon winkels op munisipale grond oprig en huurgeld aan die Munisipaliteit betaal. 1914 is die brug oor die Vaalrivier gebou en ‘n winkeltjie net aan die Transvaalkant van die betonbrug deur vermoedelik ‘n blanke sakeman gebou en begin . Die winkel en sy aangrensende woning, is digby die Grens van die Vrystaat, vlak by die dorpie Parys, maklik vir inwoners om gou buite grense van Vrystaat hulle inkopies te gaan doen. ‘n Netjiese strategiese plan vir ‘n uistekende ligging wat gou deur Oupa Jalalpor raakgesien is. . Hierdie stukkie grond het hy gehuur by blanke eienaars.Hier langs die Vaalrivier het die Jalalpors hulle gevestig, Hulle kinders is hier gebore en geslag na geslag die winkel bedryf.Vandag kan hulle vrylik beweeg oor die brug in en uit die Vrystaat sonder enige permit en daar vertoef. Maar nou staar ander uitdagings die familie in die oë. Die gebrek aan voete wat die winkel besoek en ondersteun, die swak ekonomie, verminderde boere, verarmde mense, die besoedeling van die Vaalrivier ens. Selfs onlangs in 2018 het ‘n kar deur die winkel se muur gebars en groot skade veroorsaak.As jy in Parys se omgewing is, gaan maak ‘n draai in hierdie kleurvolle winkel waar jy in die vriendelikste vlot Afrikaans ontvang word en koop ‘n yskoue koeldrank of sommer soos ons ‘n paraffien lantern. Tuis steek ons die lantern aan die brand en dink met heimwee aan tye verby.Hierdie winkeltjie moet voortbestaan. Oupa : Moosa Yacoob/Jalalpor ? – 1962Pa: Malie Yacoob/Jalalpor 1930-2014Kleinseun: Moosa Yacoob/ Baboo Jalalpor ? Bronne: Rural & Urban ExplorationPlattelandse liefdesdorp : Nuuskierige agie Sunday 4 November 2012Beeld 20 Februarie 2016. Pieter Steyn en Alet Pretorius. Netwerk 24NWU Hoofstuk 7 Kultuurverskeidenheid: GroepsverhoudingeInternet. Storie en 1 foto: Pieter SteynOnderhoud: Baboo Jalalpor self.Fotos: Gys(Snr) November 2019
Related Posts
20/02/2024
0
PARYS / MANDJIE-FABRIEK
23/01/2024
0