Gereformeerde Kerk
Matlabas
8 Junie 1918
Gereformeerde Kerk Matlabas is een van die oudste gemeentes in die Bosveld, gestig 8 Junie 1918.
Die gemeente is gestig onder ń groot tambotieboom op die plaas Geelhoutbos wat aan Herculus Erasmus behoort het.
Die naam Matlabas is afkomstig van die Matlabasrivier wat ontspring in die diep klowe van die Kransberge en wat vloei tot in die Krokodilrivier. Matlabas beteken ” moeder van die sand”.
Hierdie lidmate was aanvanklik deel van die Gereformeerde Kerk Krokodilrivier, ń wye uitgestrekte gemeente met Soutpansdrif naby Brits as sentrum.
Lidmate het in groepe elke 3 maande Soutpansdrif toe getrek met hulle tentwaens vir nagmaalgeleenthede. Dan is daar op die Kerkplein uitgespan. So ń tog het ongeveer 2 weke geduur.
Die behoefte aan ń eie gemeente was groot en lei tot die stigting van die Gereformeerde Kerk Matlabas.
Kerkgebou
Sowat 40 km noord van Thabazimbi, aan die voet van die Kransberge troon hierdie monumentale kerkgebou bo die Bosveld uit, ń landmerk.
Piet Erasmus het 10 morg grond geskenk op Groenrivier om die kerkgebou op te rig.
Die argitek Pieter Dykstra.9 Julie 1932 is hierdie besonderse gebou on gebruik geneem.
Die lidmate onderneem om 1/20 van hulle inkomste aan kerk te gee.
Die gemeente Krokodilrivier skenk die preekstoel wat per ossewa hierheen gebring is
Pastorie
Die hitte, die moeilik begaanbare sandpaaie en wydverspreide lidmate veroorsaak dat buitedienste gehou word en die kerkgebou word meestal net met Nagmaalsdienste gebruik, sowat 4 maal per jaar.
Die besluit word geneem dat ń eie leraar wat self bediening behartig en wat te midde in die gemeente woon noodsaaklik is om kerkbesoek te verbeter en kerkgebou meer dikwels te gebruik.
Die gemeente beroep selfstandig ń eie leraar en bou ń nuwe pastorie op Groenvlei, neffens die kerkgebou. (1958).
Die pastorie op Thabazimbi wat in gebruik was, skenk die Gemeente Matlabas aan Gereformeerde Kerk Thabazimbi wat afgestig het in 1953.
Die Kerkgebou en pastorie is met groot opoffering van die lidmate gebou.
Huidig is daar minder as 100 gemeentelede oor en word daar deur getroue lidmate geveg om die voorbestaan van hierdie unieke gemeente.
Die Tambotieboom is nog ongeskonde in die Marikele wildreservaat.
Tydens die eeufeesvieringe is die volgende tydens ons besoek neergepen:”
; Gereformeerde Kerk MatlabasBoom in Marikele Park waar gemeente gestig is;100 jaar vieringe;
Saterdag 9 Junie 2018
ñ Koelerige bosveld oggend. Lang rooigevlekte teerpad strek uit tussen die ruie bosveld bosse. Die Bosveld lyk mooi, groen, en orals soek bokkies die sonnetjie op en hardloop erdvarke stertjie in die lug langs die pad. Voor ons die afdraaipad gewaar, sien ons dit..ñ wit toring loer oor die bosse.
Onbeskryflik…ñ spierwit monument in die hartjie van die Bosveld…die Gereformeerde Kerk Matlabas.
Koffiepotte en blikke beskuit wag ons in.
Ons ken niemand nie, maar tog, voel of ons almal ken.
Hartlike ontvangs vol bederfies. Kinders speel op ossewa.
Hier is mense, opregte mense.
Groot groep ( ongeveer 150 mense) vertrek in stoet na die Tambotieboom in die reservaat waar die gemeente 100 jaar gelede gestig is. Lekker dik sand verg nogal vernuf, veral die driffie met die groot spoelklippe. Pragtige Kransberge. Onder die tambotieboom dien lusernbale as kerkbanke. Gewapende wagte vir beskerming, leeuspore en olifantmis om ons.
Wat ñ belewenis! Hartlike psalmgesang weerklink oor bosse. ñ Gevoel van grootsheid, nederigheid, dankbaarheid, respek vir voorouers wat hier gesit het en kerk gestig het te midde van bittere swaarkry. ( o.a. Grootoupa en ouma Roos en Grootoupa en ouma Van Deventer).
Die besef.. kerk is nie ñ gebou nie.
Dapper doppervoorouers wat hier in digte bosse ñ lewe kom uitkap het. Dopperbeginsels die bosse ingedra het. Stel hulle vertroue op God, stig ñ kerk, ñ gemeente onder ñ boom. Gereelde byeenkomste onder die boom al neem dit meeste lidmate 3 tot 8 dae om met ñ wa die tambotieboom te bereik.
Terug by pragtige Matlabas kerkgebou word ñ nuwe gedenkplaat onthul en die kapsule agter die vorige gedenkplaat wat jare en jare gelede daar toegemessel is se inhoud bewonder.
Gereformeerde Kerk Matlabas100 jaar
Sondag 10 Junie 2018: Erediens by Gereformeerde Kerk Matlabas. Ter viering van hulle 100 jarige bestaan.
Met afwagting betree ons die pragtige spierwit kerkgebou langs die Matlabas rivier in die hartjie van die Bosveld.
Eerste indrukke. Stemmige gewyde atmosfeer, kerk stampvol glimlaggende gesigte.
Ongelooflike klank van die traporrel wat meesterlik gespeel word.
Skielik word orrel stil en klink mansstemme op. Ouderlinge en diakens in konsistorie sing hartlik ñ psalm. Deure gaan oop en links kom oudelinge en regs diakens in hulle donker pakke weerskante van die preekstoel in en neem hulle plekke voor in in die dwarsbanke. Ou herinneringe begin roer, veranderinge het so geleidelik gekom, ons het vergeet. Predikant op die besonderse mooi hoë houtpreekstoel dra onmiddelik gesag uit, gesag van God se Woord wat nou verkondig gaan word. Preek wat tref. Psalms wat staande uit volle bors gesingword. Manne staan tydens gebed. Seënbede word gesing vir lidmate ouer as 70 wat verjaar.Ons was in ñ Dopperkerk. Soos geleer as kinders deur ouers en grootouers.
Juigend maar treurend soos teksvers sê.
Juigend want 100 jaar word gevier, einddoel Hiernamaals.
Treurend want van 1000 lidmate eens op ñ tyd en mense wat 3 tot 8 dae per wa gereis het om erediens en nagmaal by te woon het lidmaat getal tot 80 geval.
Hoop vir die toekoms want vertroue is op God.
Mag die geluid van Psalms wat uit volle bors gesing word weerklink oor die Bosveld, nou en vir altyd.
Seën vir hierdie hartlike gasvrye gemeente.
Hoogtepunt van besoek toe twee niggies- naamgenote, Levina Catharina Magrietha Van Deventer ( Huyser en Haarhoff) voor preekstoel gaan staan waar hulle gedoop is in 1927 en 1934
.”Vir my is hierdie Gereformeerde Kerk Matlabas baie besonders. Aan moederskant was beide stelle Grootouers betrokke by stigting van Gereformeerde Kerk Matlabas en my moeder (1934-2019) en ander familielede was dooplidmate hier in Matlabas.
Foto: (Gereformeerde kerk Matlabas: Twee Levina Catharina Magrietha van Deventer’s waar beide gedoop is in 1927 en 1934.