Boekenhoutfontein / Rustenburg / Paul Kruger se Bidplek

Boekenhoutfontein

Rustenburg

Paul Kruger se bidplek

BOEKENHOUTFONTEIN

Tussen Maart 1873 en Oktober 1874 verlaat Paul Kruger sy plaas Waterkloof en gaan vestig hy hom op een van sy ander plase Boekenhoutfontein, noord van Rustenburg.

Hier woon hy ongeveer 10 jaar voordat hy in 1881 in ñ huis in Kerkstraat Pretoria gaan woon het. As staatsman moes hy hom nou permanent in Pretoria gevestig het. Hierdie huis in Kerkstraat was gerieflik, naby die regeringsgeboue en reg oorkant die Gereformeerde Kerkgebou.

Daar het President Paul Kruger en sy vrou Gezina hulle spesiale stoele gehad en die 2 wat rustig oor die straat kerk toe stap, was ñ bekende gesig.

Pres Paul Kruger het ook dikwels tydens sy verblyf in Pretoria teruggekeer na Boekenhoutfontein.

DIEP GELOWIG

Die jong seun Paul Kruger het sy opvoeding en onderwys van sy ouers ontvang.

Sy enigste leerboek was Die Bybel en hy het ñ deeglike kennis van die Bybel gehad.

Die Bybel was deurgaans sy steunpilaar en rigsnoer deur sy lewe wat gekenmerk was deur vele gevare en struikelblokke.

Paul Kruger het by die aanwysing van die Driemanskap verklaar dat hy ook in staatsake die Woord van God as rigsnoer sou neem en dat dit ook die fondament van die Staat sou wees, iets waarby hy konsekwent sou gehou het.

Die kerk, die staat en die skool was vir Paul Kruger nie 3 afsonderlike begrippe nie, hy het eweveel aan elkeen aandag probeer gee. Sy hele beleid en lewensbeskouing was gegrond op die beginsels van God en Sy Woord.

Hy was ñ voorstander van geregtigheid en vryheid.

Hy het egter geen losbandigheid en bandeloosheid geduld nie.

Hy was streng godsdienstig, maar tog verdraagsaam teenoor andersdenkendes.

BIDPLEK

Op Boekenhoutfontein, net bokant die ou Pioniershuisie , teen die rantjie op is die klippe waar Paul Kruger hom dikwels gaan afsonder het.

Klippe soos ñ stoel gepak.

Hier tussen die klippe het hy daagliks knielend gebid om hulp en krag en leiding.

1957 is by hierdie spesiale bidplek van Paul Kruger, ñ vrome Godsman, ñ gedenksteen opgerig.

Herinner ons aan sy intieme verhouding met God en ook aan van sy laaste woorde:

” Maar die Here sal ons help. Aan die einde sal ons oorwin. Ek kan nie sê hoe en wanneer nie, maar dit staan vir my vas: ons sal oorwin. God is onse krag…ons sal wen.”

Uit Paul Kruger, van die Wieg tot die Graf deur Prof CJ Uys:

“By sy Elims bons ñ trotse hart; by sy Maras val ñ traan; by sy graf word Gods plan met Suid-Afrika openbaar. Net soos in die geval van Moses, is dit hom nie gegun om sy ideale verwesenlik te sien nie; eers na sy dood sou dit gebeur. Soos Job moes hy eensaam deur diep dale gaan; hy is beproef en getoets, gelouter en geweeg, maar nie te lig gevind nie. Bevriende moondhede het hom in die steek gelaat en het selfs met sy Godsvertroue die draak gesteek, maar hy het volhard. Tans pluk die nageslag die vrugte van sy geloof en geniet die erfenis wat hy nagelaat het.”

Bronne:

Paul Kruger Dr JI Rademeyer

Rustenburg at War Lionel Wolfsohn

Foto’s.Gys Ströh snr Okt 2023.( Gysbertus Johannes Ströh )

Nicky Jansen van Vuuren van Chilli PicNic Okt 2023

Samesteller Kobie Ströh Vaaldriehoek Kultuurnetwerk

Maak 'n opvolg-bydrae