Bloukransmonument – Tussen Colenso en Estcourt

Bloukransmoord

Moordspruit


16/17 Februarie 1838
Ter herinnering aan Groot Moord by Bloukransrivier, Moordspruit, Weenen, Doringkop, Rensburgspruit en omliggende area.

Een van die grootste nagmerries in die geskiedenis van Suid Afrika het 16/17 Februarie 1838 plaasgevind by Moordspruit en Bloukrans. Burgers het rustig verspreid van mekaar in hulle waens gewag vir die terugkeer van Piet Retief en sy manne wat met Dingaan gaan onderhandel het vir grond om hulle te vestig. Hulle is onverhoeds oorval deur duisende Zoeloes en voor die voet bloedig vermoor.

Na die moord op Piet Retief en sy manne het Dingaan en sy raadgewers ‘n erger slagting voorberei. Een van hulle het gesê: “Nou moet ons die wyfievoël en die kinders op die nes gaan vang.” Kort daarna het baie Zoeloesoldate verdwyn in die rigting waaruit die Boere gekom het.

Die les wat die trekkers in 1836 geleer het( Liebenbergmoord) toe die Matebele hulle aangeval het, was vergete. Weer was die meeste onbesorg en sonder laer. Die soeke na weiveld en brandhout het veroorsaak dat hulle Retief se waarskuwing om bymekaar te bly, verontagsaam het. Verste weg na die ooste was die Maritz- en Retief-trekke, versprei langs die Bloukrans- en Boesmansrivier, takke van die Tugela. Maritz, wat die vrede nie vertrou het nie, het die mense vergeefs bymekaar probeer hou.

Dit was donkermaan die nag van 16 op 17 Februarie 1838 toe duisende Zoeloes aanvalle op verskeie staanplekke begin doen het. ‘n Paar families wie se waens oorkant die Boesmansrivier gestaan het, is oorrompel en uitgemoor, maar by die Bezuidenhouts het die honde geblaf.

Daniel, Wynand Bezuidenhout se oudste seun, het opgestaan om te gaan kyk. Hy het ongeveer 300 tree van die waens af gevorder, toe hy besef dat die honde nie teen roofdiere veg nie, maar deur asgaaie doodgesteek word. Hy het geskree om sy mense te waarsku, maar toe hy terughardloop om sy geweer te kry, het ander Zoeloes reeds die waens bereik en kon hy die doodsworsteling van sy mense hoor.

Net sy veertienjarige broertjie Hans, wat die waarskuwende krete gehoor het, het betyds ‘n perd gevang en met sy kruisbande as toom en teuels weggejaag. Daniel, hoewel swaar gewond, het gesinne langs die Bloukransrivier en elders gewaarsku.

Oral was nou geweerskote te hore. Eers het baie gedink dis vreugdeskote by Retief se tuiskoms. Gou het die aanhoudende geskiet agterdog gewek en het die eerste vlugtelinge die nuwe somber vermoedens bevestig. Langs spruite en riviere, in ruigtes en koppies, het klein klompies teen die oormag geveg. Plek-plek is inderhaas laer getrek. By Sarel Cilliers was daar te min waens daarvoor en het die vroue en kinders die beboste klowe ingevlug. Cilliers het saam met vyf man die laer van Gert Barends gered en van laer tot laer gegaan om mense te waarsku.

Orals het mans opgesaal en na die gevaarlikste en mees bedreigde punte gejaag. Dikwels was hulle reeds te laat. Hier en daar het ‘n handjievol tog weerstand gebied. Verskeie heldedade is verrig. Teresa Viglione, vrou van ‘n Italiaanse smous, het op haar perd gespring, laers in die omtrek gewaarsku en gewonde kinders in haar tent verpleeg. Op ‘n koppie was ‘n groep Van Rensburgs omring deur ongeveer 1500 Zoeloes.

Een van hulle het geroep dat hulle lood en kruit byna gedaan is, maar dit geluk hulle ook om te beduie waar nuwe voorraad gevind kon word. Dit kon alleen met doodgevaar bereik word, maar een van die jong manne, Marthinus Oosthuizen, het sonder aarseling ‘n pad deur die Zoeloes oopgeveg, die kruit en lood gevind, en met die hulp van ‘n paar ander die nuwe voorraad veilig op die koppie gebring.

Daarmee kon hulle die aanvallers op die vlug jaag. Sarel Cilliers en ‘n paar man het ‘n klomp aanvallers te perd gestorm en op die vlug gejaag. Hierna het Maritz en ander bygekom. Ou mans, kinders, vroue, dogters het almal gehelp om die Zoeloes terug te dryf. Dit was nie lank nie of hulle was op pad terug na Zoeloeland. Johanna van der Merwe en Catherine Prinsloo is albei swaar gewond gevind, maar beide het oorleef al het hul lewenslank die letsels van die aanval gedra.
Meer as 530 mense is vermoor. Ongeveer 185 kinders, 65 vrouens, 40 mans en 250 volk wat saamgetrek het.

Laat 'n boodskap