1956: Bergville Daggaoorlog
(Bydrae deur Kobie Ströh)
OORSPRONG / AGTERGROND
Die gebruik van Cannabis is van die vroegste jare al bekend. Cannabis is na Afrika gebring deur die vroeë Arabiese-, of Indiese handelaars. Reeds in 1609 het Friar João dos Santos die gebruik van dagga in Afrika aangemeld (dwarsdeur Kaffraria, Ethiopië, Khoi-Khoi in Kaap). Dit was volgens hom ‘n inheemse plant, genoem “bangue”. Hy beskryf die plant en ook hoe die blare fyn gemaal word en dan geëet word met ‘n bietjie water. Hy noem ook dat persone wat dit geëet het, optree soos dronk mense.
Van die belangrikste bewyse van vroeë daggaverbruik in Suidelike Afrika is die datering van daggapype. Verskeie daggapype is gevind in die vroeë swart nedersettings in Zimbabwe, Gauteng en die Vrystaat. Bewyse is ook gevind dat Klipdagga of ook genoem, Rooidagga of Wildedagga gerook is.
DAGGA IN SUID-AFRIKA
Met Jan van Riebeeck se aankoms in 1652 was die gebruik van dagga deur die inheemse Khoisan reeds gevestig. Die word “dagga” is ‘n Afrikaanse term wat gebruik word om na Cannabis te verwys. Dit is afkomstig van die Khoi-Khoi woord “dacha”. Die eerste gebruik van die woord dagga ( dacha) is in Jan van Riebeeck se dagboek in 1658.
Dagga was algemeen gebruik onder die tradisionele Afrika bevolking. Die Basotho’s het dagga tradisioneel gebruik om kindergeboortes te vergemaklik. Die VOC het later die Kaapse Setlaars verbied om dagga te kweek in ‘n poging om die hoofaandeel in die mark te behou. Dit was egter onsuksesvol aangesien die plante reeds wild gegroei het. Die verbod is in 1700 opgehef.
Dagga was deel van Suid-Afrika se mense se kultuur (wit en swart ) en is deur almal op verskeie maniere gebruik. Gedurende die Groot Trek is dagga as medisyne gebruik. Daar is ou Afrikaner- resepte opgeteken wat dagga as bestanddeel in tee en in kos gebruik. In 1889 is sakke dagga te koop in die Cape Times geadverteer. 1860 is arbeiders vanaf Indië na Natal gebring, hoofsaaklik as werkers in die suikerrietplantasies. Hulle het ook die gebruik van dagga saamgebring wat goed ingeskakel het by die reeds bestaande Afrika gebruik.
‘n Negatiewe gevoel het begin groei teenoor die gebruik van dagga, veral by regeerders en ‘n deel van die populasie. 1870 word die gebruik van dagga verbied en dagga word beskryf as ‘n “noxious weed”, ‘n skadelike onkruid.1922 word die besit en gebruik van dagga gekriminaliseer. Sedert 1922 is dagga in Suid-Afrika beskou as ‘n gevaarlike dwelm, onwettig om te besit en om te gebruik.
AANLOOP TOT DAGGAOORLOG 1956
1952 word nuwe wetgewing teen onwettige Cannabis planters in Suid-Afrika aanvaar. Die fokus het nou verskuif van die daggaverbruiker na die kweker. Doelgerig word geteiken op die voorsiening en verspreiding van dagga, distrikte waar die Cannabis geplant word en die verspreiding van daar af.
Daar sal voortaan swaarder strawwe en boetes vir besit en gebruik van dagga opgelê word, tradisionele leiers sal verantwoordelik gehou word en vervolg word indien dagga in hulle gebiede gekweek word. Mobiele Polisie patrollies sal na groei areas gestuur word en verspreidingsroetes sal gepatrolleer word.
Dit was die gevolg van sterk internasionale druk aangesien daar duidelike bewyse was dat daar ‘n verband is tussen Suid-Afrika en die wêreldwye verspreiding van Cannabis. Suid-Afrika het na die Tweede Wêreldoorlog een van die hoofverskaffers van onwettige Cannabis in die wêreld geword.
1953 het VSA rekords getoon dat oor ‘n tydperk van 6 jaar in 46 lande se beslagleggings op Cannabis, Suid-Afrika verantwoordelik was vir tussen 50 – 76% se voorraad (1,4 miljoen kg).
DIE DAGGA OORLOG 1956
Polisie patrollies het ‘n moeilike taak gehad aangesien die areas waar die dagga gekweek was berglandskap is wat moeilik begaanbaar is en die inwoners het ‘n puik vroeë waarskuwingstelsel van dromme, fluit en horings-blaas gehad. Die taak van die patrollies was hoofsaaklik om oeste en plante te vernietig en om die verspreiding van dagga te bekamp.
1956 het ‘n klein groepie polisiemanne ‘n besonders groot plantasie van Cannabis in die Drakensberg voetheuwels, Bergville omgewing gevind. Hulle het dadelik teruggekeer basis toe en versterkings aangevra aangesien hulle die vyandigheid van die plaaslike bevolking aangevoel het. Hulle het gevrees dat plaaslike inwoners, Zoeloes, hulle sou verset daarteen as hulle oes vernietig word.
Vir die plaaslike inwoners was die dagga ‘n bron van inkomste, noodsaaklik om te oorleef. Hulle wou hulle inkomste beskerm. Die inwoners was bewus daarvan dat die polisie sou terugkeer . Hulle het ‘n tradisionele heler, ‘n sangoma, geraadpleeg en toe saam besluit om weerstand te bied en hulle oes te verdedig as die polisie terugkeer.
Die Cannabis planters berei toe voor vir ‘n geveg en stel ‘n hinderlaag op vir die terugkerende polisiemanne.
Soos te wagte het die polisie met versterkings daar opgedaag met die uitdruklike opdrag dat die Cannabis landerye vernietig moes word. Die polisiemanne het onbewustelik reg in die hinderlaag ingeloop. ‘n Kort bloedige geveg het gevolg. ‘n Onbekende aantal inwoners het hulle lewens verloor en 5 polisiemanne is wreedaardig vermoor met ‘n duidelike boodskap: Bly weg uit Bergville/ Winterton area!
Die skuldiges het vinnig in die bosse en in die berge verdwyn. ‘n Grootskaalse soektog na die skuldiges is geloods. Die stamhoof het die skuldiges wel later oorgegee en hulle is verhoor. Daar is bewerings dat die manne oorgegee het nadat die polisie ‘n klompie kinders gevange geneem het.
In die daarop volgende hofsaak is 22 van die manne ter dood veroordeel vir die moord op die polisiemanne, meeste is van die Mdluli en Hlongwane stamme / familie. Hulle is gehang in die Pretoria Sentrale Gevangenis op 21 Maart 1957. Interessant, huidig word 21 Maart in S.A. as Menseregtedag gevier. Hulle liggame is later terugbesorg aan hulle families.
Die name van die wat die doodsvonnis gekry het, is :
Mantongomane Mdluli , Ndobolo Mdluli , Nhlozana Mdluli , Bhobholwana Mdluli, Mantweshu Mdluli , Mbulali Mdluli, Mandolozane Ndaba , Xhegu Mbatha , Mhambawodwa Mdladla, Mganda Mdladla, Nhlangwini Hlongwane , Ndolomane Hlongwane, Nhlansi Hlongwane, Babalane Hlongwane, Mdlayedwa Hlongwane, Kamu Hlongwane, Mgqolobane Dlamini , Thela Dlamini, Magangeni Kubheka, Jubhela Mahlobo , Mshudeki Mthembu en Nsingizi Khumalo.
Twee van die gevangenes Mzoshwa Mdhluli en Mhlupeki Hlongwane was altwee verban uit die Bergville distrik en die Ngoba Lokasie vir hulle aandeel aan die moorde op die polisiemanne.
HUIDIG 2021
Daar was voortdurend druk in S.A. op die owerhede en toenemende versoeke is gerig vir die vrystelling van dagga vir mediese gebruik en godsdienstige praktyke (Rastafariërs).
2004 het Interpol verklaar dat S.A. die 4de grootste produsent van Cannabis ter wêreld is.
2018 is die verbod op die plant van dagga opgehef en privaatgebruik gedekriminaliseer. Verkoop en handeldryf van dagga is nog steeds verbode.
MBOSA ( Marijuane Board of SA) het aangevra vir erkenning aan die 22 dapper Zoeloe vegters wat ter dood veroordeel is na die Bergville Daggaoorlog en versoek dat ‘n gedenkplaat vir hulle opgerig word.
Bronne en Fotos: Internet:
SAhistory.org.za,
Sensi.seeds,
Mail Guardian Dec 1995,
Historia Vol no 1,
Bergville Stories,
Cannabis Africa April 15 2021