Pos deur Daniel Lotter Facebook 2023
DIE GRUSAME DOOD VAN ‘n VOORTREKKERHELD Hans Dons de Lange
Op 26 Maart 1861, vind die teregstelling van ‘n interessante historiese figuur plaas onder omstandighede wat vandag nog ‘n mens se nekhare laat rys. Dit was ‘n insident wat destyds die gemoedere baie hoog laat loop het en tot laat in die 20e eeu ‘n politieke invloed op die denke van die mense van hierdie land gehad het…en tog, vandag grootliks vergete is.
Groot Trek en Bloedrivier
Onder die Voortrekkerleiers ken ons almal vir Retief, Maritz, Potgieter, Trichardt, Uys en Pretorius. Hans de Lange is minder bekend, maar tog ‘n man wat ‘n groot rol gespeel het. Met sy indrukwekkende lengte, basuinende stem en rooi gelaatskleur omring van ‘n woeste baard van fyn gemmerkleur hare (wat hom die bynaam Hans Dons besorg) is hy ‘n imposante kêrel – met ‘n legendariese kort humeur. De Lange is in Desember 1799 gebore in Grahamstad se kontrei. Hy was ‘n na-trekker, nie een van die eerstes nie. Hans Dons en sy vrou, Katriena, met hulle drie seuns en drie dogters en ‘n hele klompie bure en bediendes steek die Grootrivier eers in 1837 oor – die eerste waar ons met hom kennis maak is wanneer hy by Gert Maritz se trek aansluit en sy aankoms opgeteken word in die Dgaboek van eerw Erasmus Smit.
Hiervandaan word Hans Dons die voorste verkenner en word opgeteken as een van die dapperste vegters by Bloedrivier. Met die vestiging van die Voortrekkerepubliek word hy die Boereregering se gesant by die nuwe Zoeloekoning, Mpande. Hy vestig hom op die plaas Valschefontein, baie naby aan waar Newcastle vandag staan en byna sigafstand van die berg Majuba, wat in later jare so ‘n enorme rol in ons geskiedenis sou speel.
Britse anneksasie 1842
Met die Britse anneksasie van Natal in 1842 ruk die buurmense op na Valschefontein om Hans Dons se raad te vra. Dis eenvoudig, besluit hulle, hulle onderhandel met koning Mpande en die stuk grond waar hulle boer verklaar hulle tot ‘n onafhanklike Republiek – die Republiek van die Kliprivier. Die traktaat met Mpande bepaal dat daardie gronde nooit vervreem mag word of oorgedra word aan “vreemde wit owerhede” nie – bedoelende: Britse gesag. Die Klipriviergronde word op 7 Januarie 1847 gekoop van Mpande vir die bedrag van £1000. Die koopbrief dra Hans Dons en Andries Spies se handtekeninge. Dis eintlik ‘n futiele poging – die besettingsproklamasie van 1842 het reeds bepaal dat die hele Republiek Natalia en Zoeloeland onder Britse gesag sal kom.
Hans Dons en die plaaswerker
Teen Desember 1860 is Hans Dons amper 61 jaar oud. Hy is ‘n beneukste stuk mens wat redelik haastig is met sy sambok as hy nie sy sin kry nie. Op Valschefontein is daar ‘n hele paar werkers, onder meer ‘n baie trotse Zoeloeman met die naam van Nkatwja en ‘n vrou, vermoedelik van Mosambiekse herkoms omdat sy later as “Portugese Fingo” beskryf word. Haar naam is Annette en sy werk in die kombuis.
Op ‘n oggend kom sy by Hans Dons aan met ‘n klagte. Nkatjwa het die vorige nag by haar hut ingebreek en haar onsedelik aangerand. Hans Dons is dadelik woedend en hy laat Nkatjwa roep. Dié is éérs kwaad. Hy verklaar dat hy ‘n bloedsuiwer Zoeloe is en hom nie sal verneder om aan “’n hond” soos dié vrou te raak nie. Hy is onskuldig. Daar volg ‘n warm woordewisseling tussen Hans Dons en Nkatjwa en kort voor lank ruk Hans sy sambok uit.
“Voor jy my slaan,” sê Nkatjwa, “laat my na die Veldkornet bring sodat hy my storie kan aanhoor.”
Hans Dons gee dadelik sy voorman, Jacob, wat nog saam met die Trek uit die ou Kolonie gekom het, opdrag om met nog ‘n man vir Nkatjwa vas te bind en te begin aanstap na die plaas van Veldkornet Stretch naby Buffelspoort. Hy kom agterna te perd.
Tot hierdie dag is dit nie duidelik wat presies daar gebeur het nie, maar uit ou hofrekords en argiefstukke kan ‘n mens die storie naastenby so aanmekaarsit: ongeveer 2 myl van die Veldkornet se plaas af ry Hans Dons die stapgeselskap van agter af in. Daar ontstaan weer ‘n argument tussen hom en Nkatjwa en hy gee Jacob en die ander man opdrag om solank verder te stap. Dié twee is ongemaklik oor die kwessie en Jacob loop net ‘n entjie voordat hy agter ‘n rotsblok skuiling soek om te sien wat nou gebeur. Volgens hom het Hans Dons weer sy sambok uitgehaal, Nkatjwa het, met die hande steeds vasgebind, omgespring om te hardloop en skaars 10 tree gevorder voordat Hans Dons hom van agter af doodskiet.
Hans Dons pak ‘n paar bosse oor die Zoeloe se liggaam en ry verder na die Veldkornet om te rapporteer dat hy ‘n Zoeloe werknemer van hom wou kom aangee vir verkragting, maar dat die man weggeloop het. Jacob se gewete pla hom egter en hy loop na die Veldkornet om die storie te vertel. Dit is 1 Desember 1860 – ‘n week voor Hans Dons se 61e verjaardag. Hy word aangekla van moord.
Hans Dons se verhoor en vonnis
Die verhoor begin op 8 Januarie 1861 in die hofsaaltjie op Ladysmith. Ondertussen doen ‘n petisie die rondte onder Hans Dons se bure en heelwat van die Engelse inwoners in die kontrei wat versoek dat die saak laat vaar word. Die Britse resident is egter vasbeslote – hy wil nie moeilikheid met die Zoeloekoning hê nie en die slagoffer was een van sy onderdane. Die voorsittende beampte is regter Lushington Phillips. Vir die Kroon vervolg advokaat die Natalse Prokureur Generaal, MH Galwey en vir die verdediging tree ‘n regsman van Pietermaritzburg, Krogh, namens Hans Dons op.
Of dit Hans Dons se teenwoordigheid in die hofsaal was wat vir Jacob ontsenu het weet ons nie, maar hy is die Kroon se hoofgetuie en nou verskil sy weergawe van sy aanvanklike verklaring. Nie veel nie, maar genoeg vir Krogh om hom redelik ongeloofwaardig te laat lyk. Krogh voer aan dat Hans Dons homself verdedig het en dat die voorval nie beplande moord was nie. Hy vra vir kwytskelding. Volgens die regstelsel van die tyd word Hans Dons nie toegelaat om self te getuig nie.
Op 20 Februarie kom die uitspraak. Die jurie, wat bestaan uit ‘n paar van Hans Dons se bure en ook van die Engelse inwoners in die kontrei bevind hom skuldig aan moord, maar doen ‘n ernstige pleitdooi om versagting. Regter Phillips wil niks daarvan weet nie. Hy veroordeel Hans Dons tot die galg.
Nou het die owerhede in Port Natal ‘n probleem – hulle het nie ‘n laksman nie. Hulle kry een – ‘n verloopte matroos wat sê dat hy in sy dae op see ‘n paar muiters opgehang het. Hy weet hoe om dit te doen. Hans Dons sit ondertussen op Ladysmith in die tronk. En die galg word solank gebou.
Die laksman se probleem is dat hy nie ‘n geskikte tou het nie en nie een enkele handelaar in Natal is bereid om ‘n tou aan hom te verkoop nie. Die enigste toumaker in Natal is Symons van Pietermaritzburg (Symonsstraat en Ropestraat dra vandag nog sy naam en dié van sy onderneming) en dié weier summier om ‘n tou te vorsien. Die laksman besluit derhalwe om sy eie tou te vleg van gras. Dis ‘n resep vir ‘n ramp en hy weet dit. Daarom hou hy ‘n bondel osrieme ook byderhand.
Die teregstelling vind plaas op 26 Maart 1861 en dit word bepaal dat dit tussen 6 en 11 voormiddag moet geskied. In die kontrei loop die gevoelens so hoog dat ‘n klompie Cape Mounted Rifles van Grahamstad af gestuur word om die vrede te bewaar. Die Balju van Natal laat weet dat hy (geriefliksonthalwe) daardie oggend ‘n erge loopmaag het, maar dat die Hoofkonstabel van Ladysmith namens hom daar sal wees. Dié laat weet dat dit nie sy werk is nie en gevolglik is daar niemand van die owerheid teenwoordig nie.
Op die laaste oomblik stel die laksman die teregstelling met ‘n uur uit omdat hy die tou nog ‘n bietjie sterker wil vleg, hy het nie besef Hans Dons is so ‘n groot man nie. Dit is ‘n groteske spektakel. Skaars het die valdeur van die galg onder Hans Dons oopgegaan, of die tou breek! Nou klink ‘n koor van protes uit die skare op. “Laat hom loop!” Die laksman is egter van plan om sy gasie te verdien en hy draai vinnig ‘n nuwe tou van osrieme. Te verwagte is dit ‘n grusame teregstelling met die Voortrekkerleier wat vir ‘n hele paar minute nog aan die tou worstel voordat hy uiteindelik sterf….en net daar op die teregstellingsplek begrawe word.
In latere jare is daar ‘n monument opgerig wat vandag nog daar by Watersmeet in die distrik van Ladysmith staan. In 1938 skryf Anna de Villiers ‘n roman “Die wit kraai” wat grootliks handel oor die gebeure. Hans Dons de Lange se teregstelling het tot gevolg gehad dat die distrikte van die ou Kliprivierrepubliek tot laat in die 20e eeu nog erg Nasionalisties ingestel was en tydens die Boereoorlog eerder gemene saak gemaak het met die Transvalers as met die Britse Koloniale Owerheid. Opvallend genoeg was daar ook ‘n hele paar van die Engelssprekende inwoners van die kontrei wat die wapen teen Brittanje opgeneem het. Volgens hulle was die regspleging in Hans Dons se saak darem té ontoegeeflik.
Vandag word daar min gepraat oor die roemlose en grusame einde van een van die helde van die Groot Trek, omdat min mense besef watter geweldige invloed dit per slot van rekening gehad het op die verloop van die geskiedenis van Natal en die hele Suid-Afrika na 1860.