Saartjie Baartman Hankey Oos-Kaap

Wie was Saartjie Baartman?

Wat was so besonders aan Saartjie Baartman dat strate en distrikte na haar vernoem is?

Waarom is haar opvallende liggaamsbou so bekend, maar nie haar gesig nie?

Sara(h) Bartman of soos sy bekend geraak het: Saartjie Baartman

Afkoms: ‘n Khoi-vrou

Gebore: 1789 in die Gamtoosvallei, Kamdebodistrik.

Kinderjare/Tienerjare:

Haar pa is deur Boesmans doodgemaak toe hy besig was om vee aan te jaag.

Saartjie het grootgeword op ‘n setlaarsplaas. Sy het opgegroei in die tradisionele Khoi gebruike en het tot haar dood ‘n bandjie van skilpaddop gedra wat haar ma aan haar gegee het.

Jongmeisie: ‘n Vryswarte, Peter Cesars, oorreed haar om Kaap toe te verhuis.

Saartjie werk vir 2 jaar daar as wasvrou en skoonmaker, later as vroedvrou en verpleegster.

Sy woon by Hendrik Cesars, Peter se broer, net buite Kaapstad. Sy bly net langs die slawekwartiere .

Daar is bewyse dat sy twee kinders gehad het, beide dood as babas.

Saartjie was in ‘n verhouding met ‘n arm Hollandse soldaat, Hendrik van Jong, maar die verhouding loop dood toe sy regiment die Kaap verlaat het.

Engeland:

Saartjie ontmoet ‘n Skotse dokter (skeepdokter), Dokter William Dunlop, wat in die slawelosies gewerk het en wat sy inkomste aangevul het deur aan Britse “Skoumeesters” diere te voorsien vir hulle vertonings. Hy oorreed haar dat sy ‘n fortuin kan verdien in Engeland deur haar opvallende “Hottentot”-kenmerke in die openbaar te vertoon. Engeland het ‘n lang tradisie gehad van “frats’-vertonings waar reuse en dwergies gereeld ten toon gestel is.

Saartjie dring daarop aan dat Henrik Cesars moet saamgaan en 1810 vertrek hulle na Engeland.

Hottentot-Venus:

In Engeland tree Saartjie op onder die naam Hottentot-Venus.

Sy word as ‘n rariteit en ‘n frats beskou en reis saam met kermisse en reisende vertonings die hele land deur.

Wanneer sy nie deel van ‘n vertoning was nie is sy soos ‘n wilde dier in ‘n hok uitgestal.

Saartjie woon saam met Dr Dunlop, Hendrik Cesars en 2 Afrika kinders in een van die duurste dele van Londen en tree gereeld in die Piccadilly in Londen op.

Hofsaak:

In Engeland begin ‘n groot veldtog teen slawerny en Saartjie se saak word in die hof aangehoor.

Saartjie getuig dat sy Afrika uit vrye wil verlaat het en hoegenaamd nie teen haar wil gedwing word om op te tree nie. Sy is heeltemal tevrede met haar situasie en het daarop gewys dat die helfte van die opbrengs aan haar uitbetaal word en dat sy self 2 diensmeisies in haar diens het. Sy speel self die rol van ‘n wilde dier as deel van haar vertoning. Sy wil nie terugkeer na haar familie toe nie.

Hierdie hofsaak het daartoe gelei dat haar gewildheid gegroei het en mense het 2 sjielings betaal om haar te sien en selfs meer om aan haar te raak.

Doop:

Saartjie is op 1 Desember 1811 gedoop in Manchester Cathedral en bewyse is gevind dat sy dieselfde dag getroud is.

Frankryk:

Einde 1814 neem ‘n Franse entrepeneur , Henry Taylor, haar Parys toe. Daar verkoop hy haar aan ‘n dieretemmer, Reaux, wat haar 15 maande lank in die Palais Royal uitgestal het.

Hier word sy letterlik as ‘n slaaf behandel .

Sy word soos ‘n dier behandel en uitgestal in ‘n hok langs ‘n hok met baba renosters.

Sy is byna naak en moet opdragte van die dieretemmer soos sit, staan in sekere posisie, ens. uitvoer.

Tydens sessies moes sy ontklee, maar het geweier om naak op te tree en het altyd ‘n klein voorskoot-tipe bedekking gedra volgens haar kulturele agtergrond. Sy het geweier om die voorskoot te verwyder, selfs al is sy geld aangebied daarvoor.

“In belang van die Wetenskap”:

Reaux het Saartjie uitgeleen aan geneeshere en wetenskaplikes wat haar “In belang van die Wetenskap” ondersoek het. Daar word selfs naakskilderye van haar gemaak.

Dood:

In Frankryk voer Saartjie ‘n misrabele bestaan en verval in alkoholisme en prostitusie.

Op 26-jarige ouderdom , 29 Desember 1815 , sterf Saartjie Baartman aan ‘n “inflammatoriese en eruptiewe siekte”.

Lyk word ontleed:

Na haar dood is haar liggaam deeglik ontleed “in belang van die Wetenskap” deur ‘n toonaangewende anatonoom, Baron Georges Cuvier, kanselier van die Universiteit van Parys.

Hy het eers ‘n wasafgietsel van haar liggaam gemaak en toe die liggaam ontleed. Haar genitalieë en haar brein het hy verwyder en in glasflesse geplaas om te bewaar.

Hy het Saartjie se skelet weer aanmekaar gesit en dit saam met die glasflesse in ‘n museum in Parys uitgestal.

Parys Museum:

In sy verslag beskryf Cuvier Saartjie as ‘n intelligente vrou met ‘n uitstekende geheue, vlot in verskei e tale, ‘n lewendige persoonlikheid , soepel en kundig in haar tradisionele danse.

Nogtans laat hy haar liggaamsdele uitstal in ‘n museum in Parys, Frankryk. Die uitstalling is eers in 1974 uit die oog verwyder, maar tog later in 1994 weer in ‘n uitstalling ten toon gestel.

Saartjie kom huis toe:

1995 versoek Cecil le Fleur namens die Griekwas die SA Regering om in te gryp om haar oorskot terug te bring SA toe. Na intensiewe onderhandelings oorhandig die Franse Regering in 2002 amptelik Saartjie se oorskot aan die SA Ambassade in Parys.

Die Franse Minister van Navorsing, Roger-Gerard Schwarzenberg, sê in sy toespraak:” Frankryk wil Saartjie Baartman wat as ‘n vrou verwyder is en as Afrikaan uitgebuit is, se waardigheid teruggee”.

In Suid-Afrika:

Saartjie Baartman se oorskot is in ‘n kis, bedek met die SA vlag die lughawe binnegestoot, 6 Khoisan-kinders weerskante van die kis. Sy word op seremoniële wyse ontvang

.Laaste rusplek:

Op Vrouedag, 9 Augustus 2002, is Saartjie se oorskot te ruste gelê aan die oewers van die Gamtoosvallei naby Hankey, Oos-Kaap, haar geboorteplek.

Ongelukkig het vandale al reeds hier toegeslaan en die gedenksteen met verf betakel en is daar steeds vele omstredighede oor die ontwikkeling van die Sarah Bartman Sentrum.

Onsekerhede:

Daar is baie vrae en onsekerhede oor die lewe en dood van Saartjie Baartman. Is sy uit vrye wil weg of gedwonge? Was sy ‘n slagoffer van slawerny? Wat was oorsaak van haar dood? Nietemin kan ons met sekerheid sê dat sy diep verneder is as vrou, in lewe en in sterwe.

Wat was so anders aan Saartjie Baartman se liggaam wat haar so gewild gemaak het?

Saartjie het opvallende lggaamskenmerke gehad, waarvan haar uiters prominente agterstewe sekerlik die bekendste was. Die Wetenskaplikes was egter gefassineerd deur die sogenaamde “Hottentot-ras”. Dit was veral Saartjie se genitalieë, die labia wat as besonder lank beskou was en afgehang het om die sogenaamde “Hottentot-voorskoot” of “tablier” (ook bekend as “Gordyn van skaamte”) te vorm wat wetenskaplikes bestudeer het.

Verskoning:

Verskoning word gevra vir die gebruik van die woord “ Hottentot”. Dit moes in konteks van die artikel en tye gebruik word. Die woord word vandag as skeldnaam beskou.

Bronne: Internet. Wikipedia. Suid-Afrika Raar maar Waar deur Rob Marsh

Maak 'n opvolg-bydrae