30 Januarie 1915
Die Vrede van Upington
Dokument van oorgawe word geteken deur die Rebellieleiers en die Uniemagte(troue Britse onderdane).
1913. Eerste Wêreldoorlog breek aan, Brittanje kom in staat van oorlog teen Duitsland en Brits-Suid-Afrika word betrek.
Manie Maritz, majoor in die Unie-Verdedigingsmag kry opdrag om Duits-Suidwes vir Brittanje verower en dit lei tot sy verset en bedanking, iets wat herhaaldelik uitgestel is.
Maritz kom met die Duitsers ooreen dat hy hulle nie sou aanval nie en hulle sal wapens en ammunisie aan die rebelle voorsien.
Samesprekings en protesvergaderings word op verskeie plekke in land gehou en rebelle begin saamtrek.
1914 breek die Rebellie uit.
12 jaar na die ABO pak die Bittereinders mekaar aan. Aan die een kant die Regeringsmagte (lojale Britse onderdane van Brits-Suid-Afrika) van Louis Botha (premier) en Jan Smuts (minister van verdediging). Aan die ander kant die Rebelle onder leiding van o.a. Christiaan de Wet, Manie Maritz, Beyers, Kemp en Genl de la Rey wat per ongeluk in Langlaagte doodgeskiet word in ñ padblokkade.
Die rebelle se hoofdoel is om SA te bevry van Britse oorheersing en ń onafhanklike staat te stig.
Broer teen broer word wapens opgeneem en dorpe in Vrystaat soos Koppies, Heilbron word beset.
Die tydperk word gekenmerk deur verraad en bloedige onderdrukking van opstand deur Regeringsmagte wat stadig die oorhand oor rebelle kry in Transvaal en die Vrystaat.
Maritz en Kemp veg verbete maar 24 Januarie 1915 word beide se magte verslaan by Upington.
30 Januarie 1915 kom die leiers in ń tent vir vredesonderhandelings bymekaar.
Die Dokument van oorgawe (Die Vrede van Upington)word onderteken.”Die Boeropstand is verby. Sy Majesteit se lojale onderdane het as oorwinnaars uit die stryd getree.
Die statistiek lui so: Die regering het 32 000 man teen ń koste van 5.1 miljoen pond ingespan om 11 000 rebelle hok te slaan. Aan regeringskant het 132 soldate die hoogste offer gebring en 242 is gewond. Ongeveer 190 rebelle het gesneuwel en tussen 300 en 350 is gewond.”
Rebelspoor, JL Bothma 424.
Die rebelle dien hulle straf in verskeie tronke in land uit.
Bron:Rebelspoor. L J. Bothma.
Fotos: Internet.
Rebelspoor. Louis Bothma se Facebookinskrywing:
REBELSPOOR.DIE BITTEREINDE: Die Vrede van Vereeniging 31 Mei 1902 soos die geskiedenisboeke dit wil hê, of die Vrede van Upington 30 Januarie 1915 waarvan ons nooit geleer het nie…?Op hierdie dag, 30 Januarie 1915, vind die vredessamesprekings tussen die rebelleleiers en die Uniemagte (troue Britse onderdane) in ‘n tent tussen Upington en die plaas Christiana plaas. Wat alles in hierdie stadium deur generaal Jan Kemp se gedagtes gaan, is ‘n verborgenheid wat niemand ooit sal weet nie. Die feite spreek egter vanself. Byna 13 jaar gelede, einde Mei 1902, het Kemp ook só in ‘n tent gesit soos nou. Maritz was nie daar nie, maar Christiaan de Wet was daar om die woord te voer namens hom en al die ander wat wou voortveg. Teenoor hulle was daar Botha en Smuts wat gepleit het dat die stryd gestaak en die Britse vredesvoorstelle aanvaar moes word. Alleen kon die Vrystaters, die Kaapse rebelle, Kemp en die Wes-Transvalers, Beyers en ander wat soos De Wet gevoel het, nie die stryd voortsit nie. Hulle moes uiteindelik die knie buig. Nou moet Kemp wéér die knie buig, hierdie keer voor Maritz wat geen sin meer sien in die voortsetting van ‘n verlore stryd nie. Hy en Maritz is nou die bittereinders teenoor Van Deventer en sy offisiere – Sy Majesteit, die Britse koning, se troue onderdane. Soos in Mei 1902 toe hy een van nét ses Boereoffisiere was wat teen die Britse vredevoorstelle gestem het, is Kemp nou ook weer die bittereinder der bittereinders. Of Kemp in hierdie veelbewoë tyd rondom Upington aan die Slag van Rooiwal op 11 April 1902 dink, is nêrens opgeteken nie. Op dié dag, terwyl De la Rey reeds by vredesonderhandelinge betrokke was, het Kemp, teen laasgenoemde se instruksies in, ‘n aanval met 800 man oor ‘n kaal vlakte op ‘n Britse mag van 3 000 man gedoen. Sy kommando is nie alleen verslaan nie, maar swaar verliese toegedien. Die onverskrokke kommandant F.J. Potgieter van Wolmaransstad is slegs 70 meter van die Britse stellings af doodgeskiet. Die Slag van Rooiwal aan die einde van die Anglo-Boereoorlog en die Slag van Upington aan die einde van die Rebellie, die dood van Potgieter en die dood van Stadler, het een gemene deler: Jan Christoffel Greyling Kemp.Van Deventer probeer vir oulaas om Maritz sover te kry om die Duitse kanonne en die Pom-poms aan hom oor te gee. Maritz is baie beslis: “Nee, generaal, as jy hulle wil hê, kan ek jou nie keer nie, maar dan moet jy my los en ek sal by hulle gaan staan, en as julle my platskiet dan kan julle hulle vat.” Van Deventer, wat tydens die Anglo-Boereoorlog saam met Maritz in die Kaapkolonie geveg het, ken Maritz baie goed en laat die saak net daar. Hiermee is die onderhandelinge afgeloop en kan almal weer die tent binnekom. Daar word “gesels, ‘n glasie bier gedrink en gerook”. Is dit wéér soos 31 Mei 1902: “We are good friends now…”??
###### REBELSPOOR Louis Bothma DIE VREDE VAN UPINGTON (WAARVAN ONS NIE GELEER HET NIE)Na die vredesonderhandelinge in die tent, vertrek die vier rebelleleiers saam met Van Deventer na Upington. ‘n Paar kilometer buite die dorp word hulle geblinddoek. In Van Deventer se hoofkwartier word die blinddoeke afgehaal en ‘n “dokument van oorgawe” opgestel wat albei partye onderteken. Dié dokument, gedateer 30 Januarie 1915, is egter maar net ‘n kriptiese notule van die samesprekings wat vroeër die dag in die tent “halfweg tussen Upington en Christiana” plaasgevind het. Die res van die dokument is bloot ‘n opsomming van Van Deventer se beloftes en word só afgesluit: “Generaals Maritz, Kemp, Bezuidenhout en Kommandant De Villiers sê dat hulle hul kommando’s onvoorwaardelik sal oorgee. Generaals Kemp en Bezuidenhout sê hulle sal met ongeveer 530 man oorgee. Generaal Maritz sê hy sal met tussen 300 en 400 man oorgee.”Maritz, Kemp en Bezuidenhout (maar nie Piet “Mof” de Villiers nie) onderteken die dokument. Van Deventer teken as “Opperbevelhebber van die Suidelike Mag en verteenwoordiger van die Unieregering.“Ná die ondertekening van die “dokument van oorgawe” bring die rebelleleiers die nag (30/31 Januarie 1915) in Upington deur. Om middernag kom Van Deventer na Maritz toe. Smuts het sopas met hom oor die telefoon gepraat en gevra om die volgende aan Maritz oor te dra. Smuts gee hom een van drie keuses: Hy aanvaar weer sy betrekking as offisier in die Unieverdedigingsmag; óf hy verlaat die land; óf hy lê die wapen neer en ontvang sy straf.“Wat dink julle van my? Is ek slegter as ‘n hond wat tot sy uitbraaksel terugkeer? Hoe dink julle waarvoor het ek geveg? Noudat ek verloor het om weer om te spring en my betrekking terug te neem? Hoe kan jy soiets van my verwag? Daar sit die ander generaals en die burgers in die tronk, en ek sou my posisie terugneem? Jy kan vir generaal Smuts sê, ek kan hom die versekering gee, dit sal die grootste dag van my lewe wees as ek onder hom kan veg soos in die Engelse oorlog, maar onder vandag se omstandighede val daar nie aan te denke nie,” sê ‘n omgekrapte Maritz aan Van Deventer.Maar dit is nog nie Maritz se laaste woorde aan Van Deventer nie…