Riemland Museum / Joodse Sinagoge / Heilbron

Riemland Museum

Joodse Sinagoge Heilbron

JOODSE SINAGOGE

Die Joodse gemeenskap het ń groot rol gespeel in die ontwikkeling van Heilbron.

Die Jode was sakemanne, winkeleienaars, bakkers, aptekers, slaghuiseienaars, kleremakers, eienaars van fietswinkel, motorhawe, meule ens, en selfs boere.

1902 was die eerste Jood wat hier gevestig het Mnr Imber, ń suksesvolle sakeman.

Die Joodse gemeenskap het so gegroei dat hulle in 1912 die hoeksteen van ń eie Joodse Sinagoge in Heilbron gelê het.

Die fondasie is gebou uit blouklip wat aangery is met ń wa en osse.

Die eerste Rabbi was Rabbi Taylor, opgevolg deur Rabbi Kaplan wat meer as 25 jaar hier rabbi was.

1929 was hier byna 50 Joodse families in Heilbron.

Ongelukkig agv ontvolking van die platteland verlaat heelwat Joodse gesinne die dorp en vestig hul in stede.

Teen 1974 was hier slegs 5 gesinne en 1986 net 1 gesin oor.

Die laaste Jood in Heilbron, mev Osry, is in 1990 oorlede.

1971 is die laaste Hoogmis (Hoogdiens) hier in die Joodse Singoge gehou.

Daarna is die meubels geskenk aan die Joodse Gemeente op Delmas.

Die gebou is geskenk aan die Heilbron Munisipaliteit vir die vestiging van ń museum.

RIEMLANDMUSEUM

1986 is die Riemlandmuseum in die Joodse Sinagoge se gebou geopen.

Onder die bekwame hande van Mev Quarta Pretorius het die museum gedy en bewaarplek geword vir talle historiese skatte. Ongelukkig na haar aftrede word die museum agv regstellende aksie in onbekwame en onbetroubare hande gelaat en verval en verwaardlosing tree in.

Na groot gestoei en samesprekinge gee die munisipaliteit die museum terug aan die gemeenskap en vrywilligers (o.a. Quarta Pretorius) spring dadelik in om die museum te red en herstel.(2002).

Die Riemland Museum word weer opgebou as gemeenskapsmuseum en 2006 word die museum feestelik heropen met uitstallings, demonstrasies en tradisionele geregte.

Die museum beeld die Geskiedenis van Heilbron uit, Geskiedenis van die Riemland, die Joodse Invloed, Slag van Vegkop en die Voortrekkers, ABO, besonderse mense van Heilbron en ook die suksesvolle besighede van Heilbron. Riemland Museum op Heilbron is verseker die moeite werd om te besoek.

Interessant:

GROOTSTE JAGTOG

1860 Die grootste jagtog in die geskiedenis van Suid-Afrika(Bydrae vir eggsa deur Kobie Ströh)

Julie tot September 1860 het Prins Alfred, 2de oudste seun van Koningin Victoria, Suid-Afrika amptelik besoek.

Tydens hierdie besoek het die grootste jagtog in die geskiedenis van SA op skandalige wyse plaasgevind.

Alfred Ernest Albert (gebore Windsor Kasteel 6 Aug 1844 – sterf te Schloss Rosenau Coburg 30 Julie 1900), die Hertog van Saxe-Coburg en Gotha (1893-1900), Hertog van Edenburg (1866+), was die tweede troonopvolger na sy ouer broer Edward voor hy later verder afgeskuif het in die rangorde na die geboorte van sy broer se kinders.

Prins Alfred se noemnaam was Affie en reeds op 12 jarige ouderdom ,1856, sluit hy by die Royal Navy aan.

1858 ( op 14 jaar) dien hy as “Midshipsman” op die fregat HMS Euryalus. 1867 was hy die Kaptein van HMS Galatea. 1860 vier hy sy 16de verjaarsdag in Port Elizabeth en besoek tydens hierdie amptelike reis die Kaapkolonie, Oos-Kaap, Natal en die Vrystaat.

Hierdie besoek lok groot belangstelling uit, orals word hy hartlik ontvang en onthaal om lojaliteit aan die Engelse Koningin te wys.

Voor sy reis na SA leer hy eers basiese fotografie aan en hy bring ook ‘n dubbel stereoskopiese bokskamera en ander fotografiese toerusting saam.

Prins Alfred was ‘n uitstekende skuts en ‘n kranige jagter en tydens sy reis kry hy verskeie jaggeleenthede.

Jag was as ‘n sport beskou, veral onder die hoë stand.

Dryfjag was dikwels toegepas waar honde en helpers wild aangejaag het in die rigting van jagters.

Tydens Prins Alfred se besoek aan die Vrystaat het ‘n welgestelde boer, Andrew Hudson Bain, op sy plaas Hartebeeste-Hoek, wes van Bloemfontein, gereël vir ‘n reuse jagtog. Hy laat ongeveer 1000 Barolongs as drywers optree en dryf tussen 20 000 en 30 000 stuks vee aan na ‘n klein area waar die jagters o.a. Prins Alfred skuil.

Geen Europese prins het nog ooit so baie en so ‘n groot verskeidenheid wild in SA gesien nie en niemand sal ooit weer so ‘n gesig aanskou nie.

Blouwildebeeste, Burchell-sebras, kwaggas, volstruise, blesbokke, springbokke en hartebees word aangejaag. Verskeie aandrywers word in die malende menigte doodgeskop of doodgetrap.

Duisende diere word afgemaai in ‘n bloedbad, minstens 5000 stuks wild, die presiese hoeveelheid sal niemand ooit met sekerheid weet nie. Talle diere is gekwes.

Volgens ooggetuies was die jagters later so bloedbesmeer dat hulle meer na slagters as jagters gelyk het.

Die slagting was so erg, dit kon tot in Bloemfontein waargeneem word.

Prins Alfred se nalatenskap in SA: Prins Alfred Hamlet, dorpie in die Wes-Kaap

Prins Alfred Pas, gebou deur Andrew Giddes Bain en sy seun Thomas

Prins Alfredstraat in dorpe soos Pietermaritzburg, Queenstown, Grahamstad, Durban en Caledon

Prince Alfred Hotel in Simonstad, gebou in 1802, herbenoem na Prins Alfred, Hertog van Edenburg.

Prins Alfred sterf Julie 1900 in sy somertuiste Schloss Rosenau Coburg aan keelkanker.

Bronne: Internet Wikipedia, Afrikanergeskiedenis.co.za, History of the Cape Colony GM ThealRiemland Museum, Heilbron

Fotos: Internet en Gys Stroh Junie 2021

BRON: Internet. Riemland Museum

Foto’s: Gys Ströh snr Junie 2021

Maak 'n opvolg-bydrae