Witkop Blokhuis Meyerton

Blokhuis

Witkop Blokhuis

26°28’23.88 S 28°4’13.04 E

Meyerton

WITKOP BLOKHUIS

Die Witkop Blokhuis is geleë langs die R59 Meyerton area, suid van Johannesburg. Dit is geleë naby die uitbreiding Daleside en Randvaal op die plaas Witkop. Dit is gebou op ń koppie met die doel om die spoorlyn in oop area te beskerm. Dit is die enigste blokhuis van die Vereeniging -Elandsfonteinlyn (huidig Germiston) wat oorgebly het en is in 1948 as Nasionale Monument verklaar.

Die Vereeniging -Elandsfontein lyn se blokhuise (bekend as die Rice patroon Blokhuise) was tussen 600 en 1000 meter uitmekaar en verbind met doringdraad. Hulle was sommige van sement , maar later is sink algemeen gebruik aangesien dit vinniger opgerig kon word, goedkoper was en die Boere se wapens minder was en sink kon goed genoeg beskerming bied. Elke blokhuis was binne bereik van geweervuur en Britse troepe sowel as SA swartes was in blokhuise ontpooi wat dan die area tussen die blokhuise dodelik gevaarlik gemaak het vir die Boere om te kruis.

Witkop blokhuis is gebou van klip (kwartsiet) en sement en het vanweë die koppie ń baie goeie uitsig oor die omliggende gebied. Gebou volgens ń ontwerp van Genl-Majoor Wood (bekend as die Wood-tipe Blokhuis). Tot 30 man het in die blokhuis gewoon en is toegerus met kos, water en ammunisie.

Witkop blokhuis is ń 3 verdieping gebou met ń sinkdak. Die grondvloer is gebruik as stoorarea, die 1ste vloer as leefarea en die 2de vloer as uitkykpunt. Die mure op grondvloer 900 mm dik, 600 mm 1ste vloer en 450 mm 2de vloer. Die mure is hoër gebou as die dak om sterkte te verleen. Buitemate 6,15 x 6,75 m.

Reënwater is met geute aan die binnekant van blokhuis gelei na watertenks op die grondvloer vir gebruik. Die watertenks is in droë maande opgevul deur waterkarre.

Toegang is met ń deur op die eerste vloer m.b.v. ń leer wat ook opgetrek kon word tydens ń aanval. Binne is ook met so ń leer opgeklim.

Op grondvloer is 2 skietgate en 3 in elke muur van die boonste verdiepings. Daar is geen vensters nie wat die blokhuis baie donker maak en die hitte binne moes ondraaglik gewees het in die somertyd.

Rondom was ook sandsakke gepak en ń loopgraaf gegrou asook doringdraad gespan om toegang tot die Blokhuis deur die Boere te verhoed.

Uitsonderlik aan Witkop blokhuis is die 2 bastions wat aan die voet van die Blokhuis gebou is. Elkeen toegerus met 2 skietgate. Dit is om die mure te beskerm teen aanvallers wat styf teen die muur sou skuil en dan nie sigbaar sou wees deur skietgate nie. Hierdie bastions is 1 meter hoog. Binnespasie 2,5 x 0,9 m elk. Binne in die bastion moes 1 man waghou, baie ongemaklik in so ń klein spasie.

Na die oprigting van die blokhuis het daar heen groot aksie tydens die ABO plaasgevind nie. Slegs ń paar skote tussen Boer en Brit.

Danie Theron en sy manne het wel voor die oprigting van die blokhuis ń trein hier by Kliprivier ontspoor en ammunisie gebuit.

Oos van die Witkop Blokhuis is sowat 450 grafte gevind, vermoedelik swartes wat ten tyde van die oorlog gesterf het.

Die Witkop blokhuis is in ń kommerwekkende toestand van verval. Vandale het reeds alle metaal wat vensters en deur beskerm het gestroop. Selfs die dak was gestroop maar is intussen vervang. Mure bars lelik agv uitgrawings en ontwikkeling rondom die blokhuis. Indien daar nie drasties en baie vinnig herstelwerk en bewaringswerk daar gedoen word nie, sal die blokhuis binnekort inmekaar stort en verdwyn.

Pogings was tot dusver onsuksesvol om betrokkenes soos huidige grondeienaars, munisipaliteite ens. aan boord te kry om hierdie besonderse struktuur te red en bewaar.

ALGEMEEN

BLOKHUISE

ń Blokhuis is ń fort wat vir verdediging gebruik is.

Die eerste blokhuise in SA reeds in 1795 tydens die eerste Britse Besetting in die Kaap gebou. Voorbeeld hiervan is die Kings Blockhouse en Queens Blockhouse teen Tafelberg.

Tydens die ABO is blokhuise op grootskaal deur Lord Kitchener en Lord Roberts opgerig om die beweging van die Boere te beperk. Na die val van Pretoria 5.6.1900 is die eerstes gebou om Pretoria te beskerm (uiteindelik sowat 85 rondom en in Pretoria). Verskeie blokhuislinies het vanaf Pretoria gestrek oa die noordwaartse lyn tot by Warmbad.

Na Maart 1901 is talle blokhuise opgerig. (Sowat 8000 oor 5920km).50 000 man was betrokke by die oprigting en bewaking asook 16 000 swart arbeiders.

Blokhuise is meestal opgerig onder leiding van die Royal Engineers.

Aanvanklik is skanse gebou en loopgrawe gegrou met weinig sukses. Die Boere het vinnig besef dat hulle die Britse opmars moet stuit en verbinding moet verbreek en het derhalwe spoorlyne begin vernietig en voorraadtreine geplunder. Dis Britte se antwoord daarop was blokhuise.

Twee blokhuislinies is opgerig, aanvanklik spoorweglinies om treinspore(Witkop blokhuis), stasies (Warmbad Blokhuis)en treinbrûe te beskerm , maar later veldlinies ( cross-country lines) om beweging van vinnig-bewegende groepies Boerevegters te beperk.

Die blokhuise was sowat 200 tree uitmekaar verbind met doringdraad en blikkies daaraan vasgemaak. Dubbeldraadheinings is ook gebruik, alarmgewere en selfs chemiese alarms waar chemiese stowwe in ń klein flessie ń knal veroorsaak het of ń fakkel aan die brand gesteek het as die draad geknip word.

Nogtans het Boereleiers soos genl.Christiaan de Wet en sy manne dit telkemale reggekry om deur die netwerk te glip.

Daar is van verskillende boumateriale gebruik gemaak om blokhuise te bou: sink, hout, klip ens. Baie meer sinkblokhuise is opgerig maar ongelukkig het min daarvan oorgebly en is slegs van die klipfondasies nog sigbaar waarop dit gebou was. Sommiges sirkelvormig, reghoekig, 8 kantig soos die Rice Blokhuise ens. Sommige met ringmuur of doringdraad om vir ekstra beskerming.Meeste blokhuise is na die ABO vernietig en is slegs op kaarte nog sigbaar of net ń hoop klippe het oorgebly.

Klipblokhuise

Klipblokhuise is op meer strategiese en kwesbare plekke gebou uit soliede klip en messelklei. Twee of 3 verdiepings hoog met bastions op boonste vloer waar masjiengeweer geplaas is. Skietgate in mure. Dak gewoonlik sink.

Saamgestel uit verskeie bronne deur Kobie Ströh oa. Pretoriana Des 2003, Wikipedia, DA Midvaal, Ensiklopedie van SA , Facebook, SA Military History, www.myvolk.co.za.

Fotos. Junie 2019 Gysbertus Johannes Ströh en Nicole du Toit. Pretoriana. Facebook.

Laat 'n boodskap