Standerton
Konsentrasiekamp Begraafplaas
Ouma kom huis toe
15 Junie 2019
Beeld van Ouma Swart en een van haar kinders opgerig.
Die beeld van Ouma Swart begroet jou as jy by Konsentrasiekamp Begraafplaas se hek instap. Die ouma wat 8 kinders hier begrawe het in minder as 2 weke.
Magrietha Swart van Roodekrans
Johanna. 12 jaar. 17.9.1901
Antonie. 1 jaar. 20.9.1901
Cornelis. 6 jaar. 29.9.1901
Willem. 10 jaar. 29.9.1901
Jacob J. 3 jaar. 30.9.1901
Jacob N. 3 jaar. 30.9.1901
Gerhardus. 14 jaar. 30.9.1901
Heleje. 15. jaar. 5.10.1901
Standerton se Konsentrasiekamp
Standerton se Konsentrasiekamp is opgerig Desember 1900 op beide oewers van die Vaalrivier. Dit was een van die haglikste moordkampe tydens die ABO. Groot verwarring het hier geheers met groot getalle vrouens en kinders wat hierheen gedwing is en daagliks ingestroom het.. Meeste is geen geleentheid gegun om iets saam te bring nie, so meeste was sonder besittings, klere en beddegoed. Bitter min of geen rekord is gehou van aankoms van vroue en kinders. Geen naamlyste. Behuising was te min, oorvol, swak en onvoldoende. By gebrek aan tente is sooihutte opgerig vir party gesinne. Meer as een derde moes op kaal grond slaap sonder enige beddegoed.
Die grond was turfgrond en tydens somer nat en modderig. In die winter was dit ysig koud langs die rivier.
Net ń handjievol kinders kon hierdie kamp oorleef. Te min kos, swak kos, geen groente en vrugte, vrot vleis, geen seep, gebrekkige sanitasie, gebrek aan geneesmiddels en ń harde klimaat het sy tol geëis.
Siektes soos masels het verwoesting gesaai en ingewandskoors was ń epidemie. Die rivier was erg besoedel en dooie diere het in water gelê en rivier besmet. Die dorpie Standerton was ook erg vuil en het bygedra tot besmetting van rivier.
Februarie 1901 was daar ongeveer 1342 inwoners in kamp, Sept 1901 3329, Nov 1901 3033 en Januarie 1902 ongeveer 3454. Oktober 1901 het minstens 240 inwoners van kamp gesterf. Amptelike syfers : totale sterftes was 716 waarvan 609 onder 15 was, maar rekordhouding was gebrekkig en getalle is beslis veel meer.
Die Projek Ouma kom huis toe.
Daar is begin met groot pogings om hierdie erg verwaardloosde Konsentrasiekamp Begraafplaas te herstel en skoon te maak om sodoende respek te betoon vir die lyding en ellende hier ervaar. Meer as 100 olienhoutboompies is aangeplant. Ouma Swart se gedenksteen is verskuif vanaf die rivier na die Begraafplaas toe waar haar 8 kinders begrawe is.
Beeld
Die kunstenaar Jaco van Niekerk het ń beeld gemaak van hierdie dapper Ouma Swart wat te voet met haar kinders aangejaag is Konsentrasiekamp toe. Hier het sy 8 kinders begrawe. Die oorsaak van hulle dood word slegs as Siekte aangedui. Waarskynlik agv ingewandskoors wat ń epidemie was in hierdie kamp. Sy het soveel smart en lyding ervaar, maar het dapper na die ABO voortgebeur en weer 2 kinders in lewe gebring en ń vol lewe gelei.
Simboliek van beelde
Tipiese kleredrag van daardie tyd. Ouma kyk vanonder haar kappie vorentoe, die toekoms in. Die smart en leed duidelik vasgevang in haar gesig. Die oë aangrypend.
Die seun kyk na die kindergraffies. Die gesigsuitdrukking vertel baie.
Ma en seun kyk in verskillende rigtings want hier skei hulle paadjies.
Die beelde is deur Jaco van Niekerk geskep en gegiet (cold cast bronze). Die beelde is nie blink gepoleer nie om ń swart, somber depressiewe stemming te skep.
Onthulling
Rudie Rousseau was die koördineerder en het selfs 40 kg sand gaan skep by die oorspronklike konsentrasiekamp terrein en dit is met resin in die voetstuk ingemeng.
Die beeld is 15 Junie 2019 vroeg die oggend in die kapel geplaas. Dit was ń mistige troostelose wintersoggend met temp van -1°. Helpers was diep onder die indruk van hoe moeilik die omstandighede in die kamp moes gewees het. Die beeld in die mis het letterlik soos die dood gelyk, die swart verbrande veld om begraafplaas het onuitwisbare herinneringe gelaat.
Die beeld is onthul deur Johan Swart, een van Ouma Swart se kleinkinders. Oor die beeld was die Vierkleur Vlag gedrapeer waaronder die Boere geveg het tydens die ABO.
Die kunstenaar beplan om die ander 7 kinders se beelde ook te maak wat dan rondom kapel tussen die koepels gespasiëer sal word.
Jaco Niekerk (en Rudie Rousseau) bedank die volgende persone wat gehelp het: Rudie Rousseau koördineerder, Rona en Fransie Celliers wat kom help het om beelde betyds te voltooi, Andries Botes wat beelde gratis vervoer het(Paardekraal se beeld ook), Andries wat ook blommetjies verskaf het om op grafte te plaas en die geld daarvan agterna geskenk het, Stanley Norman Norris van Orde van die Boshoec vir hulp met logistiek (ook by Paardekraal), Jannie Kasselman, Rian Pienaar en Mariaan English vir al die reëlings, Rian en sy vennoot wat die 900 kg gedenksteen op eie kostes verskuif het, al die Bitterereinders vir hulp en deelname en Rudie Rousseau vir Dvd van konsentrasiekampe en onthulling van Beeld.
Fotos 2019 Gys Ströh snr ( Gysbertus Johannes Ströh) Rudie Rousseau