Seweweekspoort / Pas/ Laiingsburg

Bydrae deur Hennie van Deventer

SEWEWEEKSPOORT: IDEAAL OM VAN ALLES WEG TE KOM

Slinger-slinger deur die ruuste van ruwe rotse kies die klipperige grondpad koers van die sendingstasie Zoar se kant op die bekende R62-roete tot by Laingsburg op die N1. Die oggendson bak uit ‘n blouselblou lug op die asemrowende rotsformasies .

Dit is die indrukwekkende Seweweekspoort wat jou deur die Klein Swartberge vat van die Klein Karoo na die Groot Karoo op ongetwyfeld een van die skilderagtigste roetes in Suid-Afrika wat jy sonder ‘n 4 x 4 kan aandurf.

Die Swartbergpas in die Groot Swartberge is ‘n beroemder pas wat die toeriste in groot getalle lok. Hierdie kleinboet in die Klein Swartberge het nie daardie verstommende haarnaald-draaie nie, maar kan as ‘n stuk aangrypende natuurskoon amper in dieselfde asem genoem word. Hy verdien ‘n groter reputasie.

So glo hierdie berg-bewonderaar ná ‘n kennismaking met die Poort vandeesweek nadat ek voorheen telkens by daardie padbord op die R62 verby is Oudtshoorn toe sonder om af te draai. Hoe bly is ek nie dat ek op my oudag myself die ervaring gegun het nie.

Die Poort is 17 km lank en bereik op 1 018 meter sy hoogste punt. Dit is nie net ru, breed en bonkig nie, maar ook hemelhoog.

Die pad kruis die Seweweekspoort rivier (ook genoem Huisrivier), ‘n tak van die Gamkarivier, nie minder nie as 30 keer. Pas op om daar te gaan ry as dit reën of goed gereën het.

‘n Merkwaardige stukkie geskiedenis is dat in die 1850’s met behulp van gevangene-arbeid begin is om die pad langs die rivierloop te bou. Ná weinig vordering is die taak in 1860 aan AG de Smidt, swaer van Thomas Baine, opgedra. Die pad is in November 1862 voltooi en is ná ‘n eeu en ‘n half steeds in gebruik, veral deur toeriste.

Waar kom die vreemde naam vandaan? Een teorie is dat dit genoem is na eerw. Louis Zerwick van die Berlynse Sendinggenootskap. In die volksmond het Zerwickspoort deur die jare heen Seweweekspoort geword, want die bevolking het die seweweeksvaring geken.

Maak 'n opvolg-bydrae