NG Kerk Rustenburg / Paul Kruger / Derdepoort Gedenknaald

NG Kerk Rustenburg

STIGTING

NG Gemeente Rustenburg is die tweede oudste gemeente in die ou Transvaal.

Gestig in 1850 deur mense wat met waagmoed en groot geloof hulle hier in die woeste en gevaarlike deel van SA , agter die Magaliesberge, kom vestig het.

Periodiek het leraars van die NG Kerk uit die Kaapkolonie die lang en moeilike pad aangedurf om hierdie gemeente te besoek.

Die eerste kerkdiens was reeds 1848 op Hekpoort, die plaas van Kommandant Gert Kruge gehou.

Aanvanklik was hulle ‘n wyk van die Gemeente Mooirivier (Potchefstroom), maar dit was moeilik en ver vir gemeentelede om kerkverrigtinge daar by te woon. Januarie 1850 is besluit om Magaliesberge as selfstandige gemeente te stig.

EERSTE GEBOU: BITTERE STRYD

Oktober 1850 het Ds Andrew Murray die eerste gebou op Rustenburg ingewy.

Die gemeente Rustenburg het toe in bittere stryd verkeer.

1885 breek die gemeente weg van NG Kerk Kaapland om verder bekend te staan as die Nederduits Hervormde of Gereformeerde Gemeente.

Groot skeuring en stryd volg en na ‘n Hooggeregshof uitspraak moet hulle alle kerkeiendom, kerkplein en die kerkgebou daarop aan die Nederduits Hervormde Kerk oorhandig.

Die Gemeente moes van vooraf begin, arm, vernederd met letterlik niks.

Julie 1895 verlaat die gemeente met vele trane hul kerkgebou vir oulaas.

Die gemeentelede was bitter, opstandig en platgeslaan, maar het in geloof saamgestaan.

1895 vergader die gemeente en hulle leraar ds. JC Hefer waarsku die gemeentelede teen geweld en lafhartigheid. Hy stel dit dat die enigste weg vorentoe God se Weg is. ñ Weg van stilte, kalmte, bedaardheid, erns, manlikheid, beslistheid en afhanklikheid van God.

Die vergadering besluit om die Hooggeregshof se uitspraak te aanvaar en om dadelik te begin met die bou van ‘n kerk en pastorie. Die fondse moet ingesamel word, hulle is arm, maar vry.

Openbare oproep om hulp word gevra, en geld begin instroom.

‘n Kommissie slaag in hulle onderhandelinge met die ZAR en bekom 4 erwe aan ñ plein in die dorp Rustenburg vir die bou van ‘n kerk rn pastorie, ‘n voorskot van 1000 pond wat in 5 jaar terugbetaal moet word en nog 4 stukke grond wat hulle later verkoop het om hulle kerkskuld te help betaal.

RUSTENBURG NG KERK Gemeente staan op.

Die Gemeente besluit om dadelik ‘n erf te koop en ‘n pastorie daar op te rig en om dan later ‘n kerk op die 4 erwe te laat bou.

Buiten die armoede was daar nog groot struikelblokke in die pad van hierdie gemeente.

1896 breek Runderpes uit en verwoes groot dele van hulle vee, veral in die weste was bykans geen vee oor nie.

1897 tref ‘n Malaria Epidemie Rustenburg en omgewing.

Moeilike tye vir hierdie hoopvolle strydende gemeente.

1897 besoek Prof NJ Hofmeyer Rustenburg en neem 6 preekdienste van Vrydag tot Sondag waar in ‘n groot tent wat behoort aan die Verenigde kerk.

Die laaste diens Sondagaand is stampvol, die tent kon 800 persone huisves. Die preekstoel ‘n negosiekis.

Die dringende behoefte aan ‘n plek van aanbidding is duidelik.

Die aanvanklike plan was om ñ tent aan te koop vir eredienste, maar op ‘n vergadering word besluit om liewer dadelik ‘n sinkhuis (“een yzeren huis dadelyk te laten oprigten”.

Diaken Dawid vd Merwe stel ‘n erf daarvoor beskikbaar mits die gebou later aan hom verkoop sal word vir die bedrag wat dit die kerk gekos het om dit op te rig.

1898 is begin met die bouwerk aan die nuwe kerk op die 4 erwe. 23 April word die hoeksteen gelê met groot feesvreugde deur Kommandant Generaal Piet Joubert, visepresident van die ZAR.

Die hoeksteen was van sandsteen en het vinnig verweer. ‘n Nuwe hoeksteen met dieselfde bewoording is later in 1935 onthul.

Die bouwerk vorder stadig maar seker. Fondasieklippe, bakstene en boumateriaal word met ossewaens aangery. Harde en moeisame werk.

Teen die tweede helfte van 1899 is die bouwerk voltooi en reëlings word getref en predikante genooi vir die inwyding van die kerk.

Oktober 1899 breek die ABO uit. Alle burgers word opgeroep om te gaan veg. Plase word alleen in hande van vrouens en kinders agtergelaat.

Later verwoes die Engelse troepe alles op die plase. Huise afgebrand, oeste vernietig, alle diere doodgemaak.

Maar die verslae gelowiges het nie gaan lê nie. Na die oorlog het hul letterlik weer uit die as en puinhope alles weer opgebou.

BRITSE HOSPITAAL

15 Mei 1900 beset die Britte onder bevel van Genl Robert Baden-Powel Rustenburg en hulle rig die pasvoltooide kerk in as ‘n militêre hospitaal.

Die banke moes plek maak vir sowat 50-60 beddens en gewonde offisiere en manskappe is met Britse ambulanswaens, getrek deur muile, hierheen vervoer.

‘n Operasiekamer is ingerig waar wonde behandel is, koeëls verwyder is, ledemate geamputeer is. Ook is ‘n apteek en kantore ingerig vir bevelvoerders. Tussen 10 en 20 verpleegsters was hier aan diens, aanvanklik 3 militêre geneeshere, maar later was 6 geneeshere hier werksaam.

Selfs gewonde boere is hier vepleeg, 6 burgers hier oorlede.

85 swaargewonde Britte sterf ook in hierdie hospitaal en word begrawe in die ou Rustenburg Begraafplaas.

Mei 1902 breek die einde van die oorlog aan die gemeente gaan voort met die finale afronding aan die gebou. Groot finansiële uitdagings, maar in geloof word dit aangepak.

September 1903 word die gebou feestelik ingebruik geneem.

RESTOURASIE VAN KERKGEBOU

1969 het die gemeente besluit om hulle pragtige kerkgebou te restoureer aangesien orals tekens van verval was en die algemene toestand van die gebou was sleg.

Dit was ‘n reuse taak wat hulle aangepak het.

Eers is al buitepleister afgekap en die hele gebou oorgepleister. Die dak is ook vervang.

Daarna is die binnewerk aangepak.

Lae gips is teen die plafon aangebring in 1950 ter wille van akoestiek. Dit het al begin val en moes heeltemal verwyder word. Die plafon is vervang met ‘n nuwe koepel plafon van houtstrokies.

Die orrel agter die preekstoel is verwyder en agter in die kerk op die galery geplaas.

Die gallery vloere is vervang.

Die orrelkamer en galery wat later aangebring is agter die preekstoel is afgebreek.

Die preekstoel is teruggeskuif na sy oorspronklike posisie.

Die preekstoel is ook gerestoreer na oorspronklike vorm.

Al die houtpanele en pilare in die kerk se verf moes verwyder word.

Nuwe bykomende banke en ‘n nagmaaltafel moes gemaak word.

Die ou oorspronklike silwer doopbak is in ‘n nuwe doopvont ingebou.

Die ou oorspronklike olielampe en kroonkandelaar wat in die kerk was kon nie opgespoor word nie. Volgens ‘n foto wat tydens die ABO in die hospitaal geneem was, is kandelare en muurligte toe spesiaal gemaak.

Die solder bokant die pastorie is verwyder en die oorspronklike plafon kan in die konsistorie gesien word.

Gedurende die naweek van 1-3 Augustus 1975 is die historiese gerestoreerde kerkgebou met groot feestelikheid weer in gebruik geneem

Ds AP Beetge se woorde by hierdie geleentheid:

“Ons wil hierdie kerkgebou bewaar as ‘n historiese erfstuk en ‘n geestelike kultuurskap vir ons nageslag, met die bede dat dit ook vir hulle sal dien tot ‘n plek van aanbidding en ontmoeting met God, tot geestelike versterking en tot opbouing van hulle geloof. “

GEDENKNAALD VOOR KERK

1920 is ‘n graniet gedenknaald voor die kerk opgerig ter nagedagtenis aan 29 onskuldige inwoners van Rustenburg wat by Derdepoort en omgewing, aan die grens van Betsjoeanaland, vermoor is 14 November 1899. ‘n Groep wrede veglustige manne uit Betsjoeanaland het danksy Britse toedien met vuurwapens, assegaaie en knopkieries die mense wat werksaam was by Derdepoort wreed aangeval en vermoor.

http://monument-sa.co.za/moord-op-derdepoort-khayaseput…/

Samesteller: Kobie Ströh

Bron: Ons Erfenis is vir ons mooi Ned. Geref. Kerk Rustenburg Ds APS Beetge.

Foto’s: Ons Erfenis is vir ons mooi NG Kerk Rustenburg

Gys Ströh snr Junie 2023.

Maak 'n opvolg-bydrae