Kaapse Klopse Nuwejaar vieringe

Kaapse Klopse

Die optrede van die Kaapse Klopse is een van die mees skouspelagtigste gebeure in die Kaap.

Die geskiedenis hiervan strek terug tot in die tyd van slawerny. In die verlede was dit gebruik of tradisie om die slawe ‘n vakansiedag te gee op Nuwejaar om fees te vier op hulle eie manier.

Tydens slawerny het die slavinne wat vir hul meesteresse uitrustings gemaak het, al die afvalmateriaal gebruik en volgens die laslappiekonsep ’n kwilt daarvan gemaak. Hiermee is die veelkleurige uitrustings geskep wat die klopse op Tweede Nuwejaar gedra het. Vandag is dit ’n gesofistikeerde besigheid wat gepaard gaan met smaakvolle ontwerpe en waaraan ‘n hele jaar voorberei en geoefen word.

Die woord klopse is afgelei van die woord klubs in Nederlands. Die eerste karnaval is in 1907 gehou is en vir meer as ’n eeu is dit een van die Moederstad se vernaamste aantreklikhede oor die feesgety. Wanneer die Kaapse Klopse op Tweede Nuwejaar verskyn, word Kaapstad se strate omgetower na ’n skouspel so min.

Die oggend voor die optog kom die groepe by hul hoofkwartiere byeen (dikwels die agterplaas van die groepleier se huis) en dan word die laaste verstellings gemaak aan die uitrustings om te verseker dat almal netjies lyk.

Daarna word die gesigte geverf. Vroeër was hoofsaaklik ’n wasbare swart verf gebruik, maar deesdae is gesigverf ’n kuns op sy eie. Vir die oorsprong van die gesigverwery moet jy diep in die geskiedenis gaan delf. Volgens John Mason van die Departement Geskiedenis aan Virginia Universiteit in die VSA het die klopse sy ontstaan te danke aan ’n groep wit Amerikaners wat in die laat 1800’s die Christy’s Minstrels gestig het. Hulle het tradisionele liedjies van die slawe van Afrika-oorsprong gesing. Dit het so gewild geraak dat die groep deur Europa en na Suid-Afrika getoer het. Die lied “Daar kom die Alabama”verwys na die skip waarmee die groep hier aangekom het. Tydens hul musikale optredes is hul gesigte swart gesmeer om die gehoor te herinner dat hulle die slawe van Afrika naboots.

Die slawe in die Kaap het dadelik aanklank by die musiek van die minstrels gevind, en dit deel van hulle eie Nuwejaarsvieringe gemaak. Vir een dag in die jaar het die slawe ’n dag af gehad. Op Tweede Nuwejaar kon hulle ’n bietjie ontspan en sosiaal verkeer. Deur die geskiedenis was dit ’n geleentheid om die bordjies te verhang: wanneer die onderdruktes – net vir een dag – die gek kon skeer met hul onderdrukkers. Daarom dat hulle hul gesigte swart gesmeer het, sodat hulle onherkenbaar kon wees.

Nuwejaar is vakansietyd in die Kaap. Die Klopse se feesvieringe vind derhalwe in die strate plaas en het nog altyd gepaard gegaan met uitbundige musiek, sang en dans.

Dis ook ’n geleentheid om jongmense oor die verlede in te lig. So verseker jy dat die tradisie wat oor meer as 100 jaar strek, van geslag tot geslag oorgedra word.

In die Klopse-tradisie is almal gelyk en uit alle vlakke van die samelewing: Op Tweede Nuwejaar is almal daar: ma en pa, ouma en oupa, oom en antie, oud en jonk, van 2 tot 82 jaar. “In die klopse is jy net jy,” sê Victor Davids. “Ons is verteenwoordigend van alle vlakke van die samelewing. Meer inklusief kan jy nie kry nie.”

Die Kaapse Klopse Karnaval is ’n geleentheid wanneer die eertydse slawe en hedendaagse Kapenaars fees vier; hulle vier hul vryheid, maar ook hul reg om die vryheid wat so duur gekoop is, te geniet. Soos een van die groepe se banier lui: Freedom of Enjoyment. Om vry te wees én jou vryheid te geniet.

Dikwels is daar wrywing tussen die organiseerders van die Kaapse Klopse Karnaval en die stadsvaders – meestal oor kwessies watter roete die optog deur die stad moet volg. Vir die organiserende komitee is dit ononderhandelbaar dat die tradisionele roete van die afgelope 100 jaar gevolg word: dit begin in die Keisergracht (Distrik Ses), af in Darlingstraat verby die Kaapstadse stadsaal, links in Adderleystraat, regs op in Waalstraat tot by Roosstraat in die Bo-Kaap, en weer regs tot onder by die Waterkant. Tradisioneel is die Klopse-kompetisie in die Groenpuntstadion gehou (vandag die Kaapstad-sokkerstadion).

Ook die datum waarop toestemming verkry kan word om die strate in te vaar is dikwels ‘n brandpunt van bespreking.Die groot kostes van die uitrustings en die kostes van die musiekinstrumente word ook ‘n al hoe groter struikelblok.

Ons hoop dat hierdie ou ou tradisie met sy groot historiese lesse nog lank sal voortbestaan.

Maak 'n opvolg-bydrae