Die Grootste Trek sedert 1838 Die Groot Trek van Clarens na Udolpho. Mei 2022 Ossewa

Die Grootste Trek sedert 1838
Die Groot Trek van Clarens na Udolpho.

Mei 2022

Ryke geskiedenis
Vir jare lank het hierdie groepie ossewaens diens gedoen. Meestal as transportwaens.Gesinne en vragte vervoer. Ooggetuies van lief en leed, vreugde en hartseer van ń tydperk lank-lank gelede. Meer as ‘n 100 jaar gelede.

Elkle wa het ‘n gegraveerde plaatjie met die wamaker se naam daarop en die jaar waarin dit gebou is.

Clarens
‘n  Rusplekkie het hierdie ossewaens digby Clarens gevind. Met groot liefde deur die eienaar oor jare versamel. Hier word die waens sorgvuldig ingerig as slaapplekke. Dit bied ń  ervaring van ń leeftyd aan besoekers. Kom slaap in ń ossewa en ervaar hoe het ons voorouers geleef. Tye en omstandighede verander ongelukkig en skielik is die toekoms van hierdie kosbare erfenis in gevaar.

Die FAK het in 2022 die ossewaens vanaf die ossewa-kamp by Clarens na Udolpho geskuif. Sedertdien is die ossewaens wat eintlik transportwaens was, ‘n gewilde en unieke akkommodasiefasiliteit op Udolpho.

Die ossewa-kamp storie:
Ollie Esplin, wat die ossewa-kamp op Clarens bedryf het, vertel dat die kampstorie oorspronklik by sy skoonpa, Gerhard Wille, begin het. Hy was ‘n veteraan trekkerversamelaar wat soos wat hy rondgegaan het op plase, ossewaens aangekoop het waar hy ook al een sou teëkom.

In die laat tagtigerjare het hy op sy wildsplaas en saaiboerdery op die plaas Hoekfontein in die Ficksburg-distrik, begin om agt van die waens wat hy oor tyd bymekaar gemaak het, in ‘n laer te trek en te verhuur as akkommodasie. In die waens wat eintlik transportwaens is, kan tussen vier en agt persone slaap, en is daar selfs ’n “wittebrood-wa.”

Die waens het letterlik van oor die land gekom – een van hulle is een van net drie wat dateer uit die 1800’s wat nog bestaan, nadat meeste ossewaens tydens die Anglo Boere-oorlog aan die brand gesteek is.

Die res van die waens dateer meestal uit die vroeë 1900’s en word die waens in die kamp ook gelys in ‘n boek van prof. Erik Holm.

Die presiese datum waarop elke wa gebou is, die wa-maker se naam en die plek vanwaar die wa afkomstig is, is op elke wa gegrafeer en is sigbaar wanneer die wa se linkervoorwiel afgehaal word.

Die ossewa-kamp by Ficksburg was destyds so gewild dat Wille se skoonseun, Olie, wat ‘n avontuur toerisme onderneming in Clarens bedryf, in 2006/7 ‘n soortgelyke kamp daar begin het met agt waens. Toe Wille se plaas verkoop is, is die laaste waens ook na Clarens geskuif. Wille is in 2021 aan kanker oorlede. Hy was ‘n man wat ‘n passie gehad het vir die toerismebedryf en wat bekend was vir sy besondere gasvryheid.

Oor die jare was die ossewa-kamp by Clarens eweneens baie gewild, veral onder skoolgroepe en kampeerders.

Die Ossewaens is tans op Udolpho

Dit is sover bekend die grootste ossewa-kamp wat akkommodasiegeriewe bied en boonop ’n unieke kampervaring weens die historiese waarde daarvan. Vir kampeerders bied dit ‘n belewenis van in die natuur-wees met net die nodigste geriewe en maak jy hier kos in die veldkombuis.” (Liezl Scheepers Parys Gazette Feb 2024)



FAK
FAK sien die nood raak en ook ń geleentheid om hierdie waens te red en te bewaar.
Die wa-kamp word gekoop en die besluit word geneem om hierdie hele wa-kamp te verskuif na Udolpo, Kultuurplaas van die FAK, aan die walle van die Vaalrivier, digby Parys in die Vrystaat.

Reuse Taak
Met groot opgewondenheid word hierdie projek aangepak, maar toe tref die realiteit van die omvang van hierdie reuse taak.
ń Hele kamp moet opgebreek en verskuif word.
18 waens moet opgelaai word, sowat 300 km ver vervoer word en weer afgelaai word.
Baie hande en planne gaan nodig wees.
Sterk voertuie  en sleepwaens gaan nodig wees want so ń wa weeg ongeveer 2 ton.
Uiterste sorg sal nodig wees, want hierdie waens is oud en broos. Die hout kan so maklik breek.
Baie planne en dinkwerk en vooraf beplanning word  gedoen met Jan-Danie Malan, Leier van die Vrystaatse Kultuurnetwerk, aan die stuur.

Planne word beraam
Gou-gou raak sommer  ń hele klompie mense by hierdie projek betrokke.
Meer as 50 vrywilligers meld aan, sommige uit Vrystaat, sommige uit Vaaldriehoek, almal met ń wonderlike positiewe gesindheid.
Take word uitgedeel Trekleiers, Geestelike leiers,  Wadrywers, Touleiers, Laaimeesters, Handlangers, Kiekiemeesters, Fliekmeesters,  Sweepklappers, Kokke en selfs ń Vloekmeester wat die taal moet dophou.
Elke een kies ń Naam en Van van ń trekker of interessante  figuur uit die tyd van die Groot Trek en kry geleentheid om sy storie aan die ander te vertel.

Samewerking
Na weke se beplannning en meting en navorsing breek die groot naweek aan.
Vroeg-vroeg Vrydag daag die eerstes op, laat die aand die laastes.
Groot opgewondenheid, maar tog ook deeglik bewus van die groot verantwoordelikheid wat op hulle skouers rus.
‘n Moeilike en gevaarlike taak wag om al hierdie ossewaens veilig opgelaai en vervoer te kry.
Lekker kuier om ń kampvuur en heerlike potjiekos.
Almal slaap in die waens wat verskuif moet word. ń Bitter Koue nag.

Mannekrag en samewerking

Saterdag voor hanekraai begin die gewoel.


Vinnige ontbyt.
Vroeg oggend godsdiens.

Dan begin die oplaai van die ossewaens.
ń Moeilike taak. Brute mannekrag (en ook vrouekrag) is nodig om hierdie waens op sleepwaens te kry. Lang gras, nat van die dou, maak die taak nie makliker nie

Na ń besonderse nat reënseisoen het van die waens se wiele diep in die grond weggesak en word almal se krag tot die uiterste ingespan.  Party waens is onder bome ingeskuif en dit maak die poging nog moeiliker. Sleepvoertuie val vas en moet ook uitgestoot word.
Die opstoot en opsleep van die ossewaens op sleepwaens is ń tydrowende taak. Elke wa moet met uiterste versigtigheid stewig vasgemaak word  om te verseker dat niks skuif of breek of afval op die lang pad Udolpho toe.
Die oggend vlieg verby.

Twee uur die middag, klap die sweep, en die groot trek kan begin.

Gewapen elkeen met ń heerlike pakkie  padkos, vertrek een na die ander voertuig.

Die grootste trek sedert 1838 het begin

Koppe draai
Soos ń lang slang kom die konfooi ossewaens aan. Stadig en versigtig.
Koppe draai, ander motoriste is verstom. Wat ń gesig!
Hoendervleis mooi.
Kameras kliek, mense waai.
Orals langs die pad wag mense hierdie skouspel in, eenkeer- in -ń -leeftyd belewenis.

Die ossewaens volg die roete vanaf Clarens na Udolpho oor Bethlehem, Reitz, Petrus Steyn, Heilbron, Deneysville en Sasolburg.

Nuwe tuiste
Die rit was lank en spanningsvol, die son trek water, maar alles loop voorspoedig.
Sterk donker kom die eerste liggies om die draai. Stadig en versigtig draai die eerste wa by Udolpho in, gevolg deur die res.

ń Ongewone gesig.
Die waens het hul nuwe rusplek bereik.
Moeë en dankbare bestuurders bring die ossewaens veilig na hulle nuwe tuiste.
Welkom ossewaens op Udolpho, ń pragtige Kultuurplaas.
Hier sal laer getrek word. Die Van der Merwe Laer. Oornagverblyf in die toekoms.
Hier sal julle met waardigheid en respek bewaar word vir die nageslag.
Dankie Vader vir U Hand oor hierdie grootse projek.
Dit was ń voorreg om deel te kon wees van so ń belangrike projek.
Mag ons kinders en kleinkinders die kosbaarheid van hierdie ossewaens besef en aktief betrokke raak by die beskerming en bewaring van ons geskiedenis.
Mei 2022
FAK Vrystaat Kultuurnetwerk
FAK  Vaaldriehoek Kultuurnetwerk
(Kobie Ströh/ verteenwoordig Susanna Smit, vrou van geestelike leier Erasmus Smit 1838).

Maak 'n opvolg-bydrae