Brandfort / NG Kerk Brandfort Moedergemeente / Vrouemonument / Groot Trek Gedenkstene / Grafte / Brandfort Konsentrasiekamp / NG Kerk Brandfort-Oos / Brandfort Trinity Methodists Church

Brandfort

NG Kerk Brandfort Moedergemeente

Vrouemonument

Groot Trek Gedenkstene

Grafte

Brandfort Konsentrasiekamp

NG Kerk Brandfort-Oos

Brandfort Trinity Methodists Church

BRANDFORT

Brandfort is aangelê in 1866 op die plaas Keerom.

Keerom was die plaas van Jacobus van Zyl, ń Voortrekker van Prins Albert.

Van Zyl het hom hier kom vestig na die moord op Piet Retief.

Die dorp is geproklameer in 1874.

Na ń besoek van die President van die Vrystaat, Pres Johannes Brand, is besluit om die dorp na hom te vernoem.

Tydens die ABO was Brandfort vir ń tydjie die hoofstad van die Vrystaat.

NG GEMEENTE BRANDFORT

Die moedergemeente van die NG Kerk in Brandfort is gestig in 1875, die 20ste gemeente in die Vrystaat.

Met die stigting was daar reeds ń kerkgeboutjie met ń plat dak van riet en klei met “luggaten onder het plafond.”

Die eerste predikant was ds EAJ di Toit wat gemeente bedien het van 1879 tot 1894.

Die nuwe kerk, ontwerp deur die Vrystaat se eerste argitek ,Richard Wocke, is in 1885 gebou, vergroot in 1907 en nog steeds in gebruik.

Voor die kerkgebou is ń paar gedenkstene, ń Vrouemonument en grafte van predikante.

VROUEMONUMENT BRANDFORT

Die eerste Vrouemonument, die Engel Monument, in die Vrystaat is hier voor die NG Kerk Brandfort onthul 15 Desember 1906 in opdrag van die gemeente.

Dit is opgerig om die boervroue en kinders wat hier in Brandfort Konsentrasiekamp gesterf het in herinnering te hou.

Die monument bestaan uit ń spierwit marmer engel, gesteun deur ń kruis wat op ń trapvormige voetstuk staan.

Die hoofinskripsie voor lees:Voor Vrijheid en voor Recht. Ter gedachtenis aan de afgestorwene in het Brandfort Vrouwen Kamp te Keerom gedurende de Anglo-Boeren Oorlog. 1899-1902. Aan teenoorgestelde kant die inskripsie: Deze Gedenksteen word opgericht 15den December 1906 door de gemeente van Brandfort, Vrienden en Bloedverwanten met de innige oortuiging dat er nimmer te vergeefs is geleden, noch gestreden.Aan sykante: “Uw bitter lijden, sterven en uwe tranen mogen, kunnen en zullen nooit tot in het verste Nageslacht vergeten worden.” En”Zoo ik uw vergeet, zoo vergete mijn rechterhand zichzelwe. Uw Kruis hebt gij gedragen, uw Kroon reeds ontvangen.”

GROOT TREK 1838-1938

Tydens die Simboliese Ossewatrek 1938 is waspore en klipstapels en gedenkstene voor die Brandfort NG Moedergemeente opgerig ter herinnering aan die Voortrekker setlaars wat hierdie dorp gevestig het.

GRAFTE

Ook voor Brandfort NG Moedergemeente is die grafte van predikante oa.die 6de leraar Ds Pienaar 1926 tot 1930 wat na slegs 3 jaar in die gemeente op 47 jarige ouderdom in Bloemfontein Hospitaal gesterf het. Ook Ds. Olivier, die 7de leraar van die gemeente wat gemeente bedien het van 1931 tot 1944.

NG GEMEENTE BRANDFORT-OOS

1951 het die NG Gemeente Brandfort in 2 gedeel en ń nuwe gemeente gevorm NG Brandfort-Oos.

Die hoeksteen van NG gemeente Brandfort-Oos is in 1953 gelê, die bou-aannemer was FP van Heeden.

Vir my persoonlik is hierdie kerk interessant aangesien my skoonpa Markus Wynand Kilian Ströh een van die kerkbouers was en sy spesiale taak was om die kerktoring te bou.

BRANDFORT TRINITY METHODIST CHURCH

Die kerkgebou is in die Majwemasweu Township geleë. Die hoeksteen is gelê in 1925. Díe kerkgebou het die tydelike kerk vervang wat sedert 1908 in gebruik was. Voor die gebou is ń gedenksteen opgerig tydens die 75 jarige bestaan se feesvieringe met die name en dienstye van leraars op.

BRANDFORT KONSENTRASIE KAMP

Hierdie kamp is ook die Dwyer kamp genoem omdat Kaptein Dwyer, ń Ier, die vrouens en kinders simpatiek gesind was.

Januarie 1901 was hier reeds 200 mense, hoofsaaklik uit Bultfontein en Hoopstad.

Hulle het verspreid in die dorp gewoon in waens en het nie rantsoene ontvang nie want hulle was meestal selfonderhoudend.

Die Britte was aanvanklik huiwerig om hulle in kampe te forseer want hulle het hulle nie as gevangenes beskou nie. ñ Situasie wat gou verander het.

Augustus 1901 was almal verskuif na tente toe in die kamp.

Die mediese offisier rapporteer dat hy bekommerd is oor die gesondheid van die mense in die kampe aangesien ń paar kinders diarree gehad het. Die vroue slaap op die grond met min beskerming en hy was bekommerd dat hulle siek sal word, veral in nat weer. Hy versoek dat sinkhutte met houtvloere opgerig moet word en matrasse voorsien moes word. Ongelukkig weens finansiële probleme kon daar nie aan sy versoek voldoen word nie. Komberse is net voorsien in absoluut noodsaaklike gevalle en elke vrou het 15 pond hooi ontvang om self vir hulle matrasse te maak.

Aanvanklik het vrouens hulle eie diere gehad en melk was beskikbaar, maar die voer het so ñ groot probleem geword dat hulle die vee moes verkoop aan die kamp administrasie.

Die kamp het gegroei en groot getalle vrouens en kinders is sonder enige vooraf reëlings na kamp gestuur. Die tente is te min, die kamp is oorbewoon, nuwe aankomelinge is in ń swak toestand na maande lank wat hul vlugtend in die veldwas, kinders is dikwels geklee in velle. Sommige van die nuwe aankomelinge is reeds siek, meeste ly aan ń ernstige ooginfeksie. 9 Augustus arriveer bv 3000 vroue en kinders met net 25 tente beskikbaar.

Die gesondheid in die kamp versleg .Voeding was ń probleem. Die boere is gewoond aan ń dieet met volop groente en vrugte en nou in die kamp kry hul geen daarvan. Die vleis wat hul kry is te min, van swak gehalte en dikwels oneetbaar.

Probleme en swak samewerking onder bestuur van die kamp dra by tot haglike omstandighede.

Volgens Dr Pratt Yule wat die toestand in Brandfort Kamp kom ondersoek is die kamp netjies al is die tente verweer, die toilette is netjies en die water uit boorgate is wel goed.

Ongelukkig is die mediese sorg swak en vuil.

Net soos in Bethulie se kamp is die mediese verbruik van alkohol geweldig hoog en al lyk dit of alle pasiënte met wyn en brandewyn behandel word blyk dit dat dokter en verpleegsters die grootste verbruikers is.

Die vuil dorp, Brandfort, dra by tot hierdie slegte situasie. Oop waterkanale, loslopende diere, diere wat sommer orals geslag word en swak sanitasie besoedel die water.

Masels breek uit in die dorpie en die kampowerhede probeer om die kamp te isoleer. Ongelukkig word 100 mense uit die dorp gestuur na die kamp toe en dagpasse vir sommige vrouens uitgereik.

Oktober 1901 breek ń maselepidemie in die kamp uit en lei tot groot sterftesyfers.

Kindersterftes onder 15 jaar in Brandfort kamp was minstens 1021. Bo 15 jaar sowat 242. Volgens sommige bronne Totaal: 1263 sterftes, ander weer 1550 sterftes.

Brandfort Kamp was die laaste kamp wat gesluit is.

ń Weeshuis is in Brandfort begin om voorsiening te maak vir die baie weeskinders wat agtergelaat is.

September 1902 was daar nog meer as 2000 inwoners, veral bywoners en weduwees, wat nie ń ander heenkome gehad het nie.

Die laaste weeskinders het in 1903 die kamp verlaat.

Maart 1903 was daar nog steeds 343 mense in die kamp waarvan 7 blind was en die res oud en gebroke en daar moes vir hulle huise gevind word.

ń Tragiese deel van die Afrikaner geskiedenis het hom hier in Brandfort afgespeel.

Bronne: Internet

Fotos:Gys Ströh snr Desember 2020

Maak 'n opvolg-bydrae