Bloukransmoord
Moordspruit
Bloukransmonument
16/17 Februarie 1838
Ter herinnering aan Groot Moord by Bloukransrivier, Moordspruit, Weenen, Doringkop, Rensburgspruit en omliggende area.
Monument is opgerig in 1895 en ingewy deur Generaal Piet Joubert. Van die slagoffers is in ‘n massagraf onder die monument begrawe.
Een van die grootste nagmerries in die geskiedenis van Suid Afrika het 16/17 Februarie 1838 plaasgevind by Moordspruit en Bloukrans. Burgers het rustig verspreid van mekaar in hulle waens gewag vir die terugkeer van Piet Retief en sy manne wat met Dingaan gaan onderhandel het vir grond om hulle te vestig. Hulle is onverhoeds oorval deur duisende Zoeloes en voor die voet bloedig vermoor.
Na die moord op Piet Retief en sy manne het Dingaan en sy raadgewers ‘n erger slagting voorberei. Een van hulle het gesê: “Nou moet ons die wyfievoël en die kinders op die nes gaan vang.” Kort daarna het baie Zoeloesoldate verdwyn in die rigting waaruit die Boere gekom het.
Die les wat die trekkers in 1836 geleer het( Liebenbergmoord) toe die Matebele hulle aangeval het, was vergete. Weer was die meeste onbesorg en sonder laer. Die soeke na weiveld en brandhout het veroorsaak dat hulle Retief se waarskuwing om bymekaar te bly, verontagsaam het. Verste weg na die ooste was die Maritz- en Retief-trekke, versprei langs die Bloukrans- en Boesmansrivier, takke van die Tugela. Maritz, wat die vrede nie vertrou het nie, het die mense vergeefs bymekaar probeer hou.
Dit was donkermaan die nag van 16 op 17 Februarie 1838 toe duisende Zoeloes aanvalle op verskeie staanplekke begin doen het. ‘n Paar families wie se waens oorkant die Boesmansrivier gestaan het, is oorrompel en uitgemoor, maar by die Bezuidenhouts het die honde geblaf.
Daniel, Wynand Bezuidenhout se oudste seun, het opgestaan om te gaan kyk. Hy het ongeveer 300 tree van die waens af gevorder, toe hy besef dat die honde nie teen roofdiere veg nie, maar deur asgaaie doodgesteek word. Hy het geskree om sy mense te waarsku, maar toe hy terughardloop om sy geweer te kry, het ander Zoeloes reeds die waens bereik en kon hy die doodsworsteling van sy mense hoor.
Net sy veertienjarige broertjie Hans, wat die waarskuwende krete gehoor het, het betyds ‘n perd gevang en met sy kruisbande as toom en teuels weggejaag. Daniel, hoewel swaar gewond, het gesinne langs die Bloukransrivier en elders gewaarsku.
Oral was nou geweerskote te hore. Eers het baie gedink dis vreugdeskote by Retief se tuiskoms. Gou het die aanhoudende geskiet agterdog gewek en het die eerste vlugtelinge die nuwe somber vermoedens bevestig. Langs spruite en riviere, in ruigtes en koppies, het klein klompies teen die oormag geveg. Plek-plek is inderhaas laer getrek. By Sarel Cilliers was daar te min waens daarvoor en het die vroue en kinders die beboste klowe ingevlug. Cilliers het saam met vyf man die laer van Gert Barends gered en van laer tot laer gegaan om mense te waarsku.
Orals het mans opgesaal en na die gevaarlikste en mees bedreigde punte gejaag. Dikwels was hulle reeds te laat. Hier en daar het ‘n handjievol tog weerstand gebied. Verskeie heldedade is verrig. Teresa Viglione, vrou van ‘n Italiaanse smous, het op haar perd gespring, laers in die omtrek gewaarsku en gewonde kinders in haar tent verpleeg. Op ‘n koppie was ‘n groep Van Rensburgs omring deur ongeveer 1500 Zoeloes.
Een van hulle het geroep dat hulle lood en kruit byna gedaan is, maar dit geluk hulle ook om te beduie waar nuwe voorraad gevind kon word. Dit kon alleen met doodgevaar bereik word, maar een van die jong manne, Marthinus Oosthuizen, het sonder aarseling ‘n pad deur die Zoeloes oopgeveg, die kruit en lood gevind, en met die hulp van ‘n paar ander die nuwe voorraad veilig op die koppie gebring.
Daarmee kon hulle die aanvallers op die vlug jaag. Sarel Cilliers en ‘n paar man het ‘n klomp aanvallers te perd gestorm en op die vlug gejaag. Hierna het Maritz en ander bygekom. Ou mans, kinders, vroue, dogters het almal gehelp om die Zoeloes terug te dryf. Dit was nie lank nie of hulle was op pad terug na Zoeloeland. Johanna van der Merwe en Catherine Prinsloo is albei swaar gewond gevind, maar beide het oorleef al het hul lewenslank die letsels van die aanval gedra.
Meer as 530 mense is vermoor. Ongeveer 185 kinders, 65 vrouens, 40 mans en 250 volk wat saamgetrek het.
Pos deur John Roderick 17.02.2021. Facebook
Saterdag 17 Februarie 1838. Die Bloukraans Moorde.
Uit die dagboek van eerwaarde Erasmus Smit. “Hedennacht de droevigste nacht en tegenwoodige dag van onze lange reis.In de vroege morgen werden we onverwacht opgewekt met ń waar alarm: dat de “…..” vijandig zijn aangevallen op’t kleine legerkamp van W. Bezuidenhout en B. Liebenberg, en allles vermoord en verbrand hebben. Drie wiite en twee zwartse mannen zijn’t met de vlucht ontkomen; waarvan D. Bezuidenhout met 3 assegaaiwonden gekwest is. Spoedig trokken onze wagens, en de wagens die in onze nabijheid gelegerd waren, in ń driedubbelen legerkring, om de vijand af te wacten.God verhoede zijn aanval op onze lagers ! “” En dit is misshien mijn laaste dag van’t schriven van mijn Joernaal. “
Veertig mans, ses en vyftig vroue, honderd vyf en tagtig kinders en net oor die tweehonderd “bediendes” was gedurende die nag van die Groot Moorde vermoor. Letterlik en figuurlik; van die hond tot die kat, die ou-man, tot die jonge moeder, die suigeling tot die volwassene was in een nag om die lewe gebring. Die families van die Liebenberg’s, Rossouw’s, Bezuidenhout’s, Bothas, Smits, Breytenbach’s, Engelbrecht’s, Greyling’s, Robert’s, eintlik te veel om hier te noem was die eerste om oorval te word.Families het verspreid gestaan vanaf die Tugela na Colenso na Willowgrange se kant toe. Meerderheid het al langs die Bloukraans rivier, Klein Moordspruit (Umlaasspruit) en die Grootmoordspruit (Qabango) gestaan.
Gert Maritz was ongetwyfeld die beste voorbereid van al die Voortrekker groepe. Zaailager, soms ook Saai-laer, net buite Estcourt was die beste voorbereid en kon hul man staan. Verskeie heldedade, waaronder byvoorbeeld die van Teresa Viglione, en Marthinus Oosthuizen asook die van Daniel Bezuidenhout is opgeteken en aan ons nagelaat. Oor Daniel Bezuidenhout en sy kleiner boetie het ek by geleentheid reeds geskryf.
Vergun my egter om vandag te deel wat J. Bird in “Anals of Natal 1495-1845” oor Daniel Bezuidenhout geskryf het.Laat my egter ook reg uit die staanspoor noem dat Bird onderhoude met Voortrekkers wat fisies daar was, gehad het wat sy werk met ander woorde ń primere bron maak.
Wat volg is my eie vertaling. Die Liebenberg’s was eerste om uitgemoor te word. Adriaan J. Rossouw was daarna tesame met sy vrou en 4 kinders vermoor. Twee kinders was die dag erg gewond, maar lewend gevind. Elizabeth Johanna Rossouw het 16 steekwonde gehad en het op die 17de te sterwe gekom. Adriaan Johannes Rossouw, het 32 assegaaie steek wonde gehad en, het ook gelewe. Hy is later op 18-jarige ouderdom aan van sy wonde dood. Daarna was Roelof Botha, my swaer aangeval. Ek myself het die honde met ń ding hoor baklei. Nadere ondersoek het getoon dat die honde met die Zoeloes aan’t veg was. Ek het na die waens geskree, maar dit was te laat. Ek het my weg deur 3 rye swartes tot by die waens oop gebaklei. Onderweg het ek my pa hoor uitroep en sê “My God”, en toe was dit stil. My swaer Roelof het 3 skote geskiet voor hy gelem was. Kort daarna het ek my eerste steekwond op die skouers deur gekry. Ek was ook in die heupbeen, linker knieg en enkel gesteek. Op ń kol was ek tussen die beeste waar ek asem geskep het en geluister het. Alles was stil behalwe vir die geluid van tente wat geskeur word, waens wat gebreek word, en honde en ander diere wat doodgesteek word. Niks was gespaar nie, nie eers ń hoender of ń kat nie.Van my mense wat gesterf het was my ma, Elizabeth, my skoonma Anna, my suster Sussana en haar kind Elizabeth omtrent vyf maande oud, my ander susters, Maria, Rachel en Cornelia. Dan was daar ook my klein broer Hendrik, my dogter Anna wat elf maande oud was. Ook natuurlik my vrou wat in die wa was met ons baba wat drie dae oud was. Die volgende dag was my vrou gevind met haar bortse afgesny en die baba daarop neer gesit. My broer Petrus, wat veertien jaar oud was, het in ń tent geslaap. Toe ek so skreeu dat die aanvallers hier is dag hy dat die skape weg hardloop. Hy het opgespring en ń steekhou gekry, maar darem bly lewe. Hy het die volgende dag by Doornkop aangekom. Ek persoonlik het al langs die Blaauwkrantz rivier op gehardloop en verskeie families gewaarsku. Heel eerste was die familie van Sybrand van Dyk. Dit was toe omtrent 2 uur die oggend. Volgende was die Scheepers familie waar net vroue en kinders was. Die mans was almal saam met Retief vermoor. Daarna was ek by Hans Roets, Petrus van Vooren, en Karl Geer. Daarna het die dag begin breek. Ons was ń hele klomp wat te voet na Doornkop gevlug het. Bogenoemde vertelling deur Bezuidenhout gaan verder deur gebeure en verhale wat die nag en die dag beskryf.
In die Voortrekkermonument Pretoria word ‘n bebloede kappie uitgestal. Die kappie kom uit die nag van verskrikking, die nag van die Groot moorde : 17 Februarie 1838.