Arbeidsgenot /Arbeitsgenot
CJ Langenhoven
Oudtshoorn
Wes-Kaap
Arbeidsgenot
Jan van Riebeeckstraat 217 (Voorheen Western Road, verander naam 1952)
Die tuiste van C J Langenhoven, regsgeleerde, koerantredakteur, skrywer, digter, Die Vader van Afrikaans. (Sagmoedige Neelsie).
Sekerlik is C J Langenhoven die bekendste vir die skryf van “Die Stem van Suid-Afrika”.
Arbeidsgenot, die tuiste van die Langenhoven gesin 1903 tot 1950.
Arbeidsgenot is ń eenvoudige huisie met ń rooi dak en wit geverfde hout kantwerk, teenstrydig met die groot verepaleise van daardie tydperk. Hierdie huis is as Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar, die inhoud word met sorg bewaar en die huis en tuin nog soos Vroutjie dit nagelaat het. Elke vertrek vertel iets van Langenhoven as mens en sy werke. Die sitkamer is klein en die eetkamer gerieflik groot. Langenhoven se woorde:In die sitkamer ontvang jy jou vyande. In die eetkamer jou vriende.
Die houtwerk in die huis is sy eie handewerk.
Op die twee hekke het hy die woorde Arbeits en Genot uitgekerf.
In die gang is muurpapier wat Langenhoven self ontwerp het volgens sy persepsie van Herrie se vel.
In hierdie huis skryf Langenhoven kosbare stories soos díe van Herrie en die Tremspoor (1925).
In die tuin pryk ń akkurate sonwyser wat hy opgerig het.
Langenhoven en Vroutjie altwee herbegrawe in die tuin.
CJ Langenhoven
Vader van Afrikaans
12 Augustus 1873: Cornelis Jakob Langenhoven gebore te Hoeksteen Ladismith
1895: Behaal BA graad te Stellenbosch
1897: Trou met Magdalena Maria Hugo (Vroutjie) te Ladismith. Sy was ń weduwee Van Velden met 4 kinders uit vorige huwelik.
1898: Die huis Woodbine Oudtshoorn word gebou deur Hans Andreas Bernhardt en August Hoest, sakemanne van Oudtshoorn. Huis tans bekend as Arbeidsgenot.
1901: Langenhoven toegelaat as prokureur
1901: Langenhoven se enigste kind word gebore. Margaritha Rachel Engela, genoem Engela.
1903: Langenhoven trek in Woodbine in en vernoem huis as Arbeidsgenot.
1918: Langenhoven skryf Die Stem van Suid-Afrika.
1926: Skryf die Vlaglied
15 Julie 1932: Langenhoven oorlede
1950: Vroutjie oorlede en bemaak huis en inhoud aan die Afrikanervolk van SA.
21 April 1955: Arbeidsgenot vir die publiek oopgestel.
1989: Arbeidsgenot gerestoureer
1999: Arbeidsgenot omskep in ń lewende museum
30 Maart 2003: Stoflike oorskot van Langenhoven en Vroutjie word op Arbeidsgenot herbegrawe.
15 Julie 2003: Grafte word onthul as Monument.
CJ Langenhoven met sy sterk persoonlilheid, geniale vlymskerp brein, kunstenaarstemperament, strawwe roker, soms strawwe drinker laat vir Afrikaans ń skat agter.
Sy spreuke welbekend:
Spreuke van Langenhoven.
Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.
Fotos: Internet. Gys Ströh snr Desember 2019.
Poskaart: 1960’s
Inligting: Internet
Fotos: Facebook
Gys Ströh snr Desember 2019
5 Mei 1925
Wetsontwerp van Senator Langenhoven word deur die Unieparlement aanvaar:
AFRIKAANS AS VOLWAARDIGE TAAL
“Katjiepieringdag”
Pos deur Daniel Lötter
Reg langs die trappies wat lei na die voorstoep van Arbeidsgenot staan ‘n katjiepieringstruik. Toe ek in 1997 verkies is tot die Arbeidsgenotkomitee, was dit ‘n besondere droë jaar in die Klein Karoo en die katjiepieringstruik het baie swaar gekry. In die voortuin staan die bekende bamboesbos wat Langenhoven daar geplant het sodat hy vlagstokke kon sny vir die opvoering van “Die pad van Suid-Afrika”. Die roostuin is ook bekend uit Vroutjie se leeftyd en so ook die prieel wat ons in die jare 90 herbou en weer met druiwestokke beplant het. Maar die katjiepieringstruik was half toevallig.
As daar een mens by Arbeidsgenot was met ‘n brandende passie vir die bewaring van die plek, was dit ou Poek – ons tuinier wat vir baie jare daar gewerk het. Ek gaan kry toe ‘n handvol voedingstof en ‘n pak Engelse sout en ek sê: “Poekie, pamperlang dan tog die ou katjiepiering so ‘n bietjie. Dit ruik so lekker in die somermaande op die stoep as hy blom.”
Ek was later bly dat ons dit gedoen het, want ek het jare daarna eers uitgevind waarom daardie katjiepiering daar staan. Dit was in ‘n optekening van die formidabele dr Nell van Heerden, wat saam met Miemie Rothman (MER) en Sarah Goldblatt deel was van ‘n invloedryke groep vroue wat Langenhoven aangespoor het in sy geveg vir die erkenning van ons lieflike taal as amptelike taal, dat ek die storie van die katjiepiering ontdek het.
Op die 5e Mei 1925, 97 jaar gelede, word daar gestem in die Unieparlement oor die wetsontwerp van senator Langenhoven. Dit was die maak-of-breek-dag wat sou bepaal of Afrikaans sy plek sou inneem in die gallery van wêreldtale, of vir ewig net ‘n dialek van Nederlands sou wees. Daardie middag wag vier vroue by die Afrikanerkoffiehuis in Loopstraat vir Neelsie om middagete saam te geniet. Dit is Nell van Heerden, MER, Vroutjie en tant Saartjie.
Toe Langenhoven by die deur instap sit almal hulle eetgerei neer en kyk afwagtend na hom.
“Ons het ons taal,” is sy eenvoudige woorde waarmee hy hierdie ontsaglike gebeurtenis aankondig.
Daardie selfde middag gaan Neelsie en Vroutjie na die Tuine vir hulle gereelde middagwandeling. Hulle staan albei verwonderd oor wat daardie oggend gebeur het – die geboorte van ‘n ware taal. En daar in die Tuine pluk Vroutjie die middag ‘n paar steggies van ‘n katjiepieringboom wat sy ‘n paar dae later voor die stoep van Arbeidsgenot plant.
As jy weer by Arbeidsgenot kom, vertoef ‘n oomblik by ons katjiepieringboom. Die reuk van katjiepieringblomme is vandag nog vir my besonders, omdat dit vir my die reuk van die geboorte van die taal waarin ek dink, skryf, praat en bid is. En daarom is 5 Mei altyd vir my “katjiepieringdag.”
Dankie CJ Langenhoven. So baie, baie dankie.
Dankie Daniel Lötter vir hierdie kosbare brokkie inligting.