Die vreemde vreemde verhaal van Adolf Soltke ( arriveer 1884 in Delagoabaai)
En die geboorteplek van Jock of the Bushveld (No 70 op kaart)
Kruger Nasionale Park
S 25 11.741 E 31 19.690
Die vreemde roerende verhaal van Adolf Soltke is neergepen in Sir Percy Fitzpatrick se boek: Outspan, gepubliseer in 1897.
Fitzpatric was ‘n skrywer, politikus, myner, jagter, transportryer en sy vele avonture het hy neergeskryf, o.a. ook in die boek Jock of the Bushveld (1907).
Percy Fitzpatrick het in 1882 besluit om sy fortuin te gaan soek in die goudvelde van Pelgrimsrus, met min sukses. Hy het toe by ‘n groep transportryers aangesluit en het van toe af gereelde togte onderneem tussen Lydenburg, Barberton en Delagoabaai.
Met die ontdekking van goud op Lydenburg het duisende fortuinsoekers op die dorpie en omgewing toegesak, elkeen met hoop en drome van daardie groot rykdom wat hy gaan vind. Daar het toe ‘n geweldige behoefte na basiese dinge soos voedsel, drank, wapens, toerusting ens ontstaan en sodoende het die transportrybedryf ontwikkel met geharde transportryers wat te midde van groot gevare, ontberings en opofferinge dapper hulle waens met ware voortgedryf het. Gewoonlik plat waens wat deur tot 24 osse getrek is deur bosse en roofdierwêreld. Hierdie transportryers was bekend vir hulle dapperheid en was maar ‘n ruwe klomie saam.
Dit was op een van hierdie togte vanaf Delagoabaai na Lydenburg wat die vreemde verhaal ontvou het;
Een skemeraand in ‘n baie warm stowwerige Laeveld, het twee transportryers vooruit geloop om uit te kyk vir ‘n bokkie om te skiet vir die pot toe hulle skielik iets baie vreemds en ongewoonds gewaar het. ‘n Man het onder die yl blare van ‘n doringboom op ‘n geel reistas gesit en lees in ‘n boek. Heeltemal alleen, netjies geklee, met selfs ‘n hardebolkuil op sy kop. Hy het ‘n ou sambreel van swart sy oor sy kop gehou. Hy het ewe hoflik opgestaan toe hy die manne gewaar, sy kuilehoed gelig terwyl hy plek hou in sy boek met sy vinger en vriendelik met ‘n breë glimlag in Engels gegroet met ‘n swaar Duitse aksent.. Dit was ‘n jong man ongeveer 23 jaar oud, duidelik ‘n vreemdeling in hierdie area. Vinnig het hulle uitgevra en te wete gekom dat hy te voet op pad was na die goudvelde as prospekteerder. Hy wou aanvanklik saam met ‘n wa reis, maar aangesien daar nie een beskikbaar was nie, het hy maar die pad te voet aangedurf, menende dat die stappery hom goed sal voorberei vir die delwery en hom sterker sal maak. Hy het net gesit en wag vir sy “boy” om terug te keer want die het omgedraai om iets te gaan haal wat hy vergeet het op hulle vorige staanplek.
In sy gebroke Engels het hy vriendelik gesels en die twee transportryers het verstom geluister en besef hier is ‘n goedgelowige eerlike mens , totaal onvoorbereid oor wat vir hom wag. Ernstig oor sy toekoms op die delwerye.
Die groot groep met die waens het verby gekom en die jong Duiter het gretig verneem of hulle dalk sy “boy” op die pad gewaar het. Die 2 manne het op die gemaklikste wa gespring nadat die vreemde man hulle hoflik hoed in die hand gegroet het en bedank het vir die inligting wat hulle aan hom gegee het.
So ent weg het die transportryers onder mekaar begin redekawel oor die vreemde man, gaan hulle hom nou sowaar net daar aan sy lot oorlaat? Dit is duidelik dat sy “boy” , sy draer, beslis nie gaan terugkeer nie, want hy is weg met alles, kos en komberse en selfs geld wat die jong Duitser vir hom gegee het om sy dokumente reg te kry wat hy glo vergeet het. Duidelik is die enigste besitting wat hy by hom gehad het, die geel reistas. Hy gaan verseker verdwaal op soek na kos en water en sal beslis in die bosse sterf.
Die besluit word geneem om hom te gaan haal en die 2 manne stap terug na die jong man toe. Daar vind hulle hom voor ‘n vuurtjie waar hy verwoed die rook probeer wegwaai wat na sy kant toe trek. Sy gesig het heeltemal opgehelder toe hy hulle sien en dadelik hulp aangebied om te help soek as hulle iets vergeet het. Van sy “boy” nog steeds geen teken al is hy reeds meer as 10 ure gelede weg. Hy die jong man sowaar net daar gelaat met niks om te eet nie. Die jong man verseker hulle dat hy nie honger is nie en dat hongerte hom ook goed sal voorberei vir die delwerye. Hy vertel hulle dat sy “boy” ‘n baie goeie “boy” is wat goed Engels kan praat en dat hy moes teruggaan om sy paspoort te kry anders gaan die polisie hom vang, inteendeel hy dink die polisie het hom klaar gevang al het hy vir hom ‘n pond gegee om ‘n nuwe kaart te kry. Die “boy” sal sy kleingeld ook terugbring, daarvan is hy oortuig. Vir die manne is dit duidelik dat hy sy “boy” nooit weer sal sien nie.
Nadat die 2 transportmanne hom verseker het dat dit beslis beter sal wees as hy op die waens vir sy “boy “ sal wag en dat die draer hom beslis weer sal kan opspoor,stem hy in om saam met die waens verder te gaan en tel dadelik sy swaar geel reistas op wat met groot wit letters gemerk was ADOLF SOLTKE. Alhoewel die waens en osse maar stadig beweeg, is dit moeilik om so ‘n trek te voet in te haal en dit was al in omgewing van middernag wat hulle moeg en gedaan die uitspanplek bereik het. Ten spyte van die 8 myl vinnige stap met die swaar geel tas, was jong Soltke nog steeds die vriendelike ordentlike jong man sondere enige klagtes.
Die jong Duitser word geredelik aanvaar in die groep alhoewel hy dikwels die slagoffer van poetse en tergery van die geharde manne was, iets wat hy sonder enige kwade gevoelens aanvaar het. Hy het letterlik alles kinderlik geglo wat aan hom vertel is. Hy was nie dom nie, maar het net eenvoudig nie kwaad in iets of iemand gesien nie en tog was hy dapper. Een aand het een van die grapmakers op die trek hom voorgelê in ‘n donga en na ‘n geritsel in die bosse ‘n vreesaanjaende brul laat hoor. Soltke het kalm ‘n lang rewolwer te voorskyn gebring(niemand het geweet hy beskik oor so iets nie) , rustig oorgehaal en 6 skote in die bos ingeskiet tot groot histerie van die grapmaker. Die grapmaker is vir maande lank daarna nie gesien het nie en die storie sou nog baie lank tot sy skande oorvertel word. Toe Soltke die ware storie van die leeu vertel word, was hy vir baie lank stil en teruggetrokke, want hy kon nie verstaan wat die man se motief was nie en kon ook nie dink hoe hy anders kon optree in die situasie nie.
Die gekskeerdery met Soltke het meestal platgeval en soms die manne met ‘n skudgevoel gelaat, so byna asof jy ‘n kind wou terg. Slegs een voorval het tot ‘n onaangename insident gelei. Saam met die transporttrek was daar ‘n aangename, stil jong man Robbie McKay waarvan almal gehou het. Soltke het sy pyp verlê en gedink dat Robbie dit weggesteek het en hy het Robbie gevra om die pyp terug te gee. Robbie het dit ontken en Soltke wat aanvaar het dat dit weereens ‘n poets was het vir Robbie gesê: , “I saw you taking it, you—” en ‘n skelwoord gebruik wat hy op die trek gehoor het en duidelik nie die betekenis van verstaan het nie en wat nie sommer teenoor ‘n witman gebruik word nie. Robbie se skotse bloed het opgevlam en hy het Soltke ‘n stewige regter haakhou teen die kaak gegee. Almal was verstom en verslae, meeste van almal Soltke wat spierwit aan Robbie gevra het: “Robbie, what haf I say? I do not understand”. Hy het bleek en seergemaak net daar omgedraai en gaan slaap en dae lank daarna in stilte gesit en peins. Robbie het ure nadat hy Soltke om verskoning gaan vra het opgemerk: “By God! he is white, is Soltké—white all through.”
Soltke kon ook siter speel, Droomklanke met ‘n uitdrukking van heimwee en hartseer op sy gesig, iets wat al die manne stil laat lê en luister het in die lig van die vuurtjie en self stil ingedagte gelaat het.
Soltke was gretig om te leer en het sy waarnemings sorgvuldig in ‘n dagboek neergeskryf. Hy het die gewoontes en kenmerke van verskeie voëls sorgvuldig neergeskryf. Hy het selfs geleer skiet en probeer om van die voëls op te stop met baie onwelriekende resultate. Hierdie pogings van hom het hy orals gebêre tot onsteltenis as die reuk van verrotting te erg raak. Die manne het hom gou Professor begin noem. Hy het die geskiedenis van die area en die herinneringe van die manne op die roete ook aangeteken, selfs ‘n lys gemaak van plante en diere en hulle waarde hetsy medisinaal of moontlike voedselbron. Nogtans het hy nooit sy ideaal om prospekteerder te word vergeet nie en het dikwels die moeilikste en ongemaklikste keuse gemaak om homself voor te berei, soos bv om die knopperigste deel te kies as slaapplek. Sy intense belangstelling en aanhoudende vrae het soms die manne in versoeking gelei om gek te skeer en interessante verduidelikings aan Soltke gegee wat van alle waarheid ontbloot is.
Een Sondag oggend verby Skipberg met Pretoriuskop in die verte, nadat Soltke soos gewoonlik as getroue Room Katoliek eerbiedig sy gebede onder ‘n nabygeleë boom gedoen het, het hy ‘n onskadelike duisendpoot raakgesien, duidelik die eerste een in sy lewe. Op navraag is hy meegedeel dat hy nou die gevaarlikste gifstigste reptiel nog raakgeloop het, “that well-known and most ferocious of reptiles, the viper.” en deur loop van ontbyt is hy deeglik ingelig oor die kenmerke van die gevaarlike reptiel. Ywerig en opgewonde het hy na ontbyt dadelik in sy dagboek begin skryf. Alles getrou in Engels want hy wil die taal ten volle bemeester voor hy die delwerye bereik.
“Joodge!” he called, “Joodge, how vos dot wiper shpell?”
Key dictated calmly:
“W-h-y-p-e-r, whyper,” and Soltké with infinite pains put it down. But we heard him a moment later from his place in the tent of the waggon murmuring:
“Lieber Himmel! dot vos un oogly name.”
Soltke was nog besig om te skryf toe daar die mooiste kleurvolste troupand verby gevlieg het en in die nabye boom gaan sit het. Soltke het pen en papier neergegooi en uiters opgewonde gemaan dat almal doodstil moet staan en sy geweer gegryp om die voël te skiet en van die wa afgespring. Almal het na die voël gekyk toe die dubbelskoot van die dubbelloop haelgeweer donderend afgaan en verwonderd gesien dat die voël roerloos bly sit. Doodse stilte toe hulle omdraai en ‘n doodsbleek Soltke stadig sien vooroor kantel terwyl hy ‘n erg verminkte regterbeen vashou.
Die manne het die stil Soltke na die beste van hulle vermoë probeer gemaklik maak en Donald Mackay het onmiddelik vertrek om ‘n dokter te gaan soek. Groot kommer want almal het geweet dit sal meer as 2 dae duur as hy so gelukkig sou wees om ‘n dokter op te spoor. Verder het hulle hom maar net versorg en gekyk hoe die lewe stadig uit hom gly. Soltke het so nou en dan water gevra, gesug, maar nooit ooit gekla of ‘n teken van die pyn wat hy ervaar getoon nie sy blou oë blouer as ooit, dapper en vol kinderlike vertroue.
Gedurende die tweede nag hoor hulle die voetstappe van ‘n perd naderkom. Groot vreugde toe hulle Donald gewaar wat die perd gelei het terwyl hy ‘n man balanseer op die perd met sy stuttende arm. Wanhoop toe hulle merk wie die man is, Doc Monroe, ‘n stuurs en brutale kwaksalwer apteker en ‘n volslae dronkaard. Oor sy bekwaamheid het ‘n groot vraagteken gehang. Hy was smoordronk. Donald het vertel dat hy iemand gestuur het na die distriksgeneesheer en toe vir Doc Monroe op sy perd gelaai het vir tydelike hulp en gehoop het die 40 myl reis sou hom nugter maak maar tot sy skok agtergekom het dat hy tydens die reis steeds skelm gedrink het. Die manne het tevergeefs alles probeer om hom nugter te kry, sop, koffie maar hy het alles geweier en net Whisky gevra, iets wat hulle hom beslis nie kon gee nie want dit sou die laaste kans wat hulle het om Soltke te red laat verlore gaan. Monroe het vir ure lank stuurs op die wa gelê en geweier om enigsins te help as hy nie whiskey kry nie. Een van die manne het sy humeur verloor en gesê dat hy Monroe eerder in die hel sal sien as om hom drank te gee waarop Monroe toe antwoord: “Then I’ll see your friend dead and rotten before I stir a hand to help him”. Daarna het hulle alles probeer om hom te oorreed om te help, gepleit, gesmeek, selfs drank en geld gegee, maar hy het geweier om te help. Daar was niks ander meer om te doen as om biddend te wag vir die dokter nie. Deur die loop van die dag het Monroe waansinnig geword, gegrom soos ‘n dier en begin blaf. Heeltemal deurmekaar van die drank ontrekking. Skielik weer bewerig tot sy sinne gekom, weer angsbevange begin skree en lag en uiters geweldadig begin raak. Die manne het geen ander keuse gehad as om hom te oorrompel en onder ‘n boom ‘n entjie weg by die spruit te gaan vasbind nie.
Deur dit alles het Soltke kalm en rustig gebly. Teen die aand het hy tot groot kommer van die manne vir die eerste keer rustig begin praat oor sy huis en sy verlede en van iets wat hom gepla het en van die brandende pyn in sy been en lyf. Teen die aand het hy sy gebede boek gevra en later gevra om met Robbie te praat.
Teen 10 uur die aand het die opgewekte klein doktertjie te perd aangekom en ten spyte van sy uitputting dadelik aan die werk gespring en die versplinterde been geamputeer. Alles het goed verloop en Soltke het salig onder die invloed van morfien aan die slaap geraak en almal het verlig hulleself in komberse toegerol vir ‘n weverdiende rus.
Hulle het skaars geslaap toe die dokter saggies roep en hulle in kennis stel dat Soltke dood is. Hy het net opgehou lewe. Homself uitgesug het die dokter gesë, soos ‘n moeë kind net aan die slaap geraak. Hy het gesterf van gangrene, iets wat die dokter in die swak lig nie kon sien nie anders sou hy die operasie nie gedoen het nie. 27 Oktober 1884 het hulle Adolf Soltke naby die pad onder ‘n groot doringboom begrawe, die boom waar hy sy laaste gebede gedoen het. Die bas van die boom so paar voet afgetrek om as grafsteen te dien.
Die dokter moes dadelik weer die 70 myl terug aandurf om terug te keer om hopelik die volgende pasient te red.
Doc Monroe het op een of ander manier losgekom en verdwyn, ‘n baie goeie ding op daardie stadium.
Die manne het begin oppak om verder te trek en die oop dagboek op die wa opgetel. Die laaste inskrywing: “The most verushius of reptile is the Whuy-per—”. Groot stilte en hartseer heers onder die manne.
Daardie aand om middernag terwyl almal reeds toegerol lê, praat Robbie eers vir die eerste maal. Hartseer vertel hy dat Soltke hom om verskoning gevra het oor die woorde wat hy aan hom gesê het met die pyp episode en met gebroke stem vertel hy:
“And he said, too, that we had all been too good to him, and that he had played it low on us; and that he—he hoped the good God would pardon him the greatest crime of all. And he said that I must give his Prayer-Book and his zither,” (Robbie continued in a lower and reverent tone) “to—to his child—his little boy.”
Verbasing want niemand het geweet dat hy ‘n seuntjie gehad het nie.
“Where is his wife?” “Dead!” said Robbie. “I—I didn’t know he was married.” Robbie’s look was a prayer for mercy, as he answered: “He wasn’t!”
‘n Paar maande later, 4 April 1885 het Fitzpatrik tydens ‘n ander trek van Lydenburg af op dieselfde plek uitgespan. Hier op dieselfde plek het sy vriend Percy se hond, Jess, kleintjies gekry. Die lelikste kleinste enetjie in die werpsel was Jock, die latere beroemde hond Jock of the Bushveld, wat aan Fitzpatrick gegee is.
Alhoewel die gebeure deur Sir Percy F opgeteken was kon niemand later jare die presiese plek aanwys nie. Eers in 1983 het die senior veldwagter Thys Mostert en ‘n span spoorsnyers die hele roete van die ou transportpad afgebaken. Naby Samarholespruit naby Skipberg het hulle die graf van ‘n Europese persoon ontdek. ‘n Ondersoek na die oorskot en en artikels wat gevind is, het bevestig dat dit die graf is van Adolf Soltke wat laat in 1884 in Delagoabaai aangekom het.
Bron: Geskiedkundige Terreine van die Kruger Nasionale Park. Ron Hopkins
Outspan : Fitzpatrick
Jock of the Bushveld : Fitzpatrick
Wikipedia/ Internet/ eggsa
Fotos geneem: 2018 Gys Ströh