OUMA BESKUIT en SIMBA CHIPS: Een groot familie! Gebore uit nood!
(Bydrae deur Kobie Ströh)
OUMA BESKUIT
Die Groot Depressie van die dertigerjare het die hele wêreld tot stilstand geruk.
Suid-Afrika het ook swaar gely en veral die platteland het bitter swaar gekry en verarm. Die nare gevolge van die Groot Depressie en die onweerswolke van ‘n Wêreldoorlog was orals sigbaar.
Die armoede en gebrek rondom hom het ‘n pastoor van die Apostoliese kerk in die dorpie Molteno in die Klein Karoo ( Oos-Kaap) aangegryp en in ‘n poging om die gemeenskap bietjie moed te gee, het hy die vrouens in sy gemeente bymekaar geroep.
Groot was hulle verbasing toe hy aan hulle elkeen ‘n halfkroon gee ( Waarde vandag ongeveer 25c). Hulle word weggestuur met die boodskap en die Bybelse opdrag van gaan woeker met jou talent.
Ouma Greyvensteyn ( Elizabeth Ann Greyvensteyn) het sommer dadelik aan die dink gegaan. Wat van haar besonderse lekker en gewilde beskuit bak en verkoop? Sy gebruik haar halfkroon om bestanddele te koop en keer terug na hul plaas, Friedenheim, net buite Molteno.
Op die plaas word die deeg gemeng, die houtstoof aangevuur en die eerste baksel beskuit word teruggeneem dorp toe om verkoop te word. ‘n Reuse sukses!
Dit spaar baie huisvrouens tyd en krag om self te bak en die spesiale bakkerstalent van Ouma Greyvenstein raak gou-gou bekend. Groot word die aanvraag, die bestellings stroom in. Eers word dit genoem, Thys se Beskuit (na Thys , Ouma Greyvenstein se geliefde man), later Uitspan Beskuit, maar uiteindelik word dit bemark onder die nou bekende naam “Ouma se Beskuit”.
Spoedig was die plaaskombuis en stoof te klein en Ouma Greyvenstein is genoop om mure uit te breek en ‘n groter oond aan te skaf.
Die besigheid groei en ‘n klein fabriek word langs die plaashuis opgerig (1941).
‘n Verwoestende brand in 1952 lê alles in puin, maar die Greyvensteins gaan nie in sak en as lê nie. Uit die puin verrys ‘n nuwe verbeterder fabriek.
Vandag nog, meer as 80 jaar verder , pronk Ouma Beskuit nog steeds op die winkelrakke.
Die visie en uithouvermoë van ‘n merkwaardige vrou, haar man se besigheidsvermoë en haar gesin se ondersteuning en hulp het diep spore in Suid-Afrika getrap.
Ouma Greyvensten, Suid-Afrika se bekendste en gewildste Bakker
SIMBA CHIPS SIMBA SKYFIES
Die groot sukses van Ouma Beskuit het die Greyvenstein familie met ‘n groot vraagstuk gelaat.
Hulle het groot hoeveelhede kapitaal tot hulle beskikking en dit stroom steeds in. Hoe moet hulle dit benut, hoe moet hulle uitbrei?
Hulle verskaf reeds werk en ‘n inkomste aan baie gesinne en verlig sodoende groot nood, maar sal graag nog ‘n groter bydrae wil lewer.
Ouma Greyvenstein stuur haar 3 seuns oorsee na kosfeeste om bietjie te gaan rondloer en moontlike nuwe idees raak te loop. (1950’s)
In Duitsland sien en proe Leo Greyvenstein die peuselhappie, “Potato crisp”, wat besig is om al hoe gewilder in Brttanje en Europa te word. Hy besef gou dat daar groot moontlikheid in hierdie lekkerny is en dat dit in Suid-Afrika‘n suksesvolle besigheid kan word. Die geheim lê in goeie gehalte aartappels en in die regte toerusting.
Met groot entoesiasme word Leo Greyvenstein se idee deur die Greyvenstein familie aangegryp en die bal dadelik aan die rol gesit om hierdie aartappelskyfies te begin bak. (1956)
Die groot vraagstuk was nou: Wat noem ons hierdie aartappelskyfies? Die naam “Ouma” is reeds eksklusief vir die beskuit.
Ouma Greyvenstein voel dat dit Leo se idee is en dat hierdie skyfies na hom vernoem moes word en stel die naam “Lion” voor. Ongelukkig is dit ‘n naam wat reeds in Suid-Afrika vir ‘n verskeidenheid produkte gebruik word , met “Lion’s Matches” seker die bekendste.
Die taal waarmee die plaasboere en die plaaswerkers (meestal uit Oos-Afrika) in daardie omgewing gekommunkeer het, was Swahili. Die Swahile woord vir Leeu, Leo, Lion is SIMBA. Die naam sal wees SIMBA.
Die gewilde Simba Chips, Simba Skyfies , betree die mark in Suid-Afrika in1956 en 1957, nog ‘n reuse sukses vanuit ‘n klein beskeie begin.
Alhoewel Simba nie die aartappelskyfie self uitgevind het nie, het hul wel die eerste gegeurde skyfies gemaak. In oorsese lande was die “potato Crisp” net in een geur bekend: Sout gegeur, die koper het gewoonlik sommer self sout oorgestrooi.
Vanaf die Simba Fabriek in Isando (gebou in 1957) het die geure Tamatiesous, Kaas en Uie en later Sout en Asyn die mark met ‘n storm getref en die hele bedryf wêreldwyd verander.
Vandag, meer as 60 jaar later, brul Leo se Simba nog steeds van bykans elke winkelrak af.
Ouma Beskuit en Simba Chips; Familie.
Wonderwerke vanuit die Depressiejare.
Bronne en foto’s : What’s behind a name? Reader’s Digest, Facebook, Internet