DIE PANGAMAN

DIE PANGAMAN

Elias Xitavhudzi Phineas Tshitaundzi

Reeksmoordenaar: Minstens 16 moorde vanaf 1953 tot 1959

Min van die ouer garde sal ooit die gevreesde Pangaman vergeet.

Die vrees, die waaksaamheid en die waarskuwings oor en oor aan verliefde paartjies, vermy donker en verlate plekkies! Ahoewel hy meestal in Atteridgeville in Pretoria toegeslaan het, het die vrees landswyd geheers.

Nogtans, ten spyte van al die waarskuwings , het die Pangaman keer op keer toegeslaan.

Modus Operandi

Dieselfde wapen is elke keer gebruik, ‘n panga of ook genoem, ‘n machete. Hierdie gebruik van ‘n panga het gou aan hierdie aanvaller die naam, Die Pangaman , gegee.

Dieselfde manier of modus operandi is telkens gebruik. Op donker verlate plekkies waar paartjies stilgehou het, is liggies teen die motor gekrap of geskuur (met die panga). Sodra die man dan uitklim om te kyk wat die geluid veroorsaak, word sy arms en hande onverwags met die panga gekap. Die houe sny dadelik die spiere af wat dan die man hulpeloos laat. Daarna kon die pangaman ongestoord die vrou verkrag, hulle martel en beroof , dikwels vermoor en vinnig in die donkerte verdwyn. Die slagoffers was almal blank.

Dit het gou duidelik geword dat hierdie die werk van ‘n reeksmoordenaar was. Mense in Pretoria het in vrees gelewe. Aanvalle was altyd in die nag, in stikdonkerte en op verlate plekke. Meeste was verliefde paartjies wat vir privaatheid by plekke soos die Uniegebou, Fort klapperkop, Wonderboom of Fonteine geparkeer het of wat die uitsig oor Pretoria se liggies gesit en bewonder het.

Polisie Ondersoek

Die slagoffers kon die aanvaller duidelik beskryf en die polisie het ‘n identikit saamgestel. ‘n Donker swart man met ‘n ronde gesig en uitpeuloë. Baie arrogante optrede. Die polisie het lokvalle opgestel, alles vrugteloos.

Die polisie was radeloos, dit was asof die Pangaman reeds vooraf van al hulle bewegings en planne bewus was.

Hulle het hom selfs een dag opgemerk waar hy paartjies by die Fonteine in Pretoria met ‘n verkyker dopgehou het, maar hy was weereens te slinks en het vinnig verdwyn.

Die aanvalle het groot aandag in die pers gekry. Pretoria News het selfs ‘n beloning aangebied vir persone wat die Pangaman sou vang. Dit het die Polisie se taak nog moeiliker gemaak. Buiten die feit dat slagoffers uit vrees en skaamte nie altyd saak wou aanmeld nie, was daar ook nou amateurs wat self probeer het om die Pangaman in lokvalle in te lei.

Die pangaman het al hoe meer arrogant en astrant geword. Hy het selfs een aand nadat hy ‘n paartjie aangeval het, aangebied om hulle paneelwa aan die brand te stoot, toe die voertuig geweier het om aan gang te kom. Hy het hulle selfs daaraan herinner om die saak by die polisie aan te meld.

Leidraad

‘n Polisie-informant lig die polisie in dat hy en van sy medewerkers by die Verdedigingshoofkwartier ‘n vermoede het wie die pangaman moontlik kan wees. Daar het vroeër ‘n man by die Weermag gewerk, ene Phineas, wat baie dieselfde lyk as wat die identikit skets.

Die Polisie volg die leidraad op en na ’n soektog, spoor hulle vir Phineas op. Hy werk as skoonmaker by die S.A. Polisiehoofkantoor Wachthuis, Pretoria.

Gevang

Hy word in hegtenis geneem. Sy vingerafdrukke stem ooreen met dìe van die Pangaman. In sy besit is gesteelde goedere soos ‘n horlosie, penne, handsakke ens. wat van die slagoffers behoort het. Selfs ‘n voetafdruk stem ooreen. Tydens verskeie uitkenningsparades word hy positief uitgewys deur sy slagoffers.

In ‘n krat, tussen ou lappe versteek, vind hulle die panga, die vorm pas presies op die merke wat die panga op een van die slagoffers se rug gelaat het.

Die Pangaman is vas. Hy het minstens 29 aanklagte van moord, poging tot moord en ernstige aanrandings teen hom ; 16 moorde, 6 verkragtings, 11 van roof o.a.

Ten spyte van die skande en veral “geheime” verhoudings getuig 130 slagoffers teen hom. Baie van sy aanvalle was nie aangemeld nie, uit geheimhouding van ongeoorloofde verhoudings.

Verhoor

Tydens die verhoor word daar besef hoe slinks hy te werk gegaan het. As skoonmaker het hy tydsaam die vloere per hand gepolitoer. Dan kon hy afluister en op hoogte bly van die Polisie se volgende optrede soos lokvalle, vermomde Polisiemanne, selfs Rottweiler honde wat spesiaal opgelei was om enige iemand te verskeur wat ‘ n kar se deur van buite sou oopmaak, ens.

Die tragiese is dat Generaal Hendrik du Plooy, Kommissaris van die Polisie, eendag aangemeld het het dat saam met ‘n swart man in die hysbak by Wachthuis was. Die man het sterk na drank geruik en het na die Pangaman ,volgens die Polisie se Identikit , gelyk. Die Polisie het glad nie hierdie vermoede opgevolg nie aangesien die man daar werksaam was.

Dit blyk ook toe dat Phineas een van ‘n bende van 5 mans was wat gedurende die laat 1940’s paartjies in Pretoria aangeval het met knopkieries. Die Polisie het hierdie bende uitmekaar gedryf deur 1 te skiet in ‘n lokval en 2 te vang wat toe later gehang is nadat hulle aan verkragting skuldig bevind is,. Die oorblyende 2 het voortgegaan met hulle rooftogte. 1952 is een van die 2 gevang, verhoor en 12 jaar gevangenis straf opgelê. Die laaste een , Mafuta soos hy toe bekend was, het sy knopkierie vervang met ‘n handgemaakte, vlymskerp panga wat hy self gemaak het en waarmee hy sy moordtog alleen voortgesit het. Mafuta se identiteit as Phineas , die Pangaman, het tydens die hofsaak ten vore gekom.

Vonnis

Elias Xitavhudzi Phineas Tshitsaundzi het uiteindelik skuld erken. Mei 1960 word hy skuldig bevind en gevonnis tot die doodstraf. 14 November 1960 is hy in die Sentrale Gevangenis in Pretoria gehang. Die einde van ‘n skrikbewind in Pretoria.

Oorlewende slagoffers het lelike letsels en littekens lewenslank gedra waar die panga hulle gekap het, sommige het nooit weer die gebruik van hulle arms teruggekry nie.

Polisie Museum

In die Polisie museum in Pretoria was vir jare lank ‘n vreesaanjaende uitstalling van die Pangaman gewees. Ongelukkig het hierdie interessante museum in later jare gesluit.

Bronne: Facebook, Nagkantoor. The e-Nongqai vol 4 no3.1 , Nie-amptelike Polisiekoerant vir veterane.

Samesteller: Kobie Ströh

Maak 'n opvolg-bydrae