DIE TRAGIESE VERHAAL VAN ANNA RABIE (GEBORE KNOETZE).
(Bydrae deur Kobie Ströh)
ANNA KNOETZE
13 November 1810 is Gerrit KNOETZE en Anna Maria Buitendach se dogtertjie op Graaff-Reinet gebore. Sy word vernoem na haar ma, Anna Maria , en word gedoop in die ou kerkie op die plek waar die Ou Kerk van Graaff-Reinet vandag staan.
Anna Maria Knoetze was van kleins af ‘n besonderse pragtige swartkopdogtertjie en as tiener was sy reeds bekend vir haar uitsonderlike skoonheid. Daar is ‘n beskrywing nagelaat van Anna se fynbesnede gelaatstrekke, haar swart ogies, spierwit tandjies en pragtige lang swart hare. Haar perdebylyfie in hoepelrokkies geklee.
Anna was bewus van haar eie skoonheid en Anna het mooi klere begeer, iets wat haar arm pa nie vir haar kon gee nie. So maak sy toe ‘n plan om self geld te verdien. Sy gebruik haar skoonheid om ‘n beroep te beoefen wat so oud soos die berge is en spoedig was haar huis die “kuierplek” van baie mans, getroud en ongetroud. Anna was nie baie gewild onder die vrouens nie.
JACOB RABIE
Jacob Rabie is in 1806 in die Kambebo gebore, hy aanbid die grond waarop Anna loop en begin haar die hof te maak. Hy is ‘n ryk boer, geld was nog altyd vir Anna baie aanloklik en ten spyte daarvan dat sy hom nie liefhet nie, gee sy hom die jawoord.
Junie 1829 bevestig Ds Andrew Murray vir Jacob en Anna in die huwelik in die strooidakkerkie in Graaff-Reinet. Die egpaar Rabie vestig hulle in ‘n huisie in Cradockstraat.
Jacob was ‘n besige hardwerkende man met baie plase en moes dikwels op die plase oornag. Anna het nie alleen gebly nie, in die huisie het dit jolig gegaan as Jacob uithuisig was. Jacob was salig onbewus van wat aangegaan het en nie die gerugte geglo nie. Selfs toe sy ouer broer, Jan Bastiaan, hom ingelig het , het hy dit nog steeds nie geglo nie. So het dit vir jare lank aangegaan.
Die huwelik het kinderloos gebly.
Jan het sy broer weereens gaan waarsku dat ‘n wewenaar, Johannes Liebenberg, vader van 3 jong dogtertjies, gereeld by Anna kuier. Die verhouding tussen Anna en die boggelrug Johannes blyk ernstig te wees.
POGING OM JACOB TE VERGIFTIG
Anna vergesel Jacob na een van sy plase. Jacob is die enigste een wat brandewyn drink. Sarah Koen, bywonersvrou wat in die plaashuis woon, waarsku Jacob om nie van die brandewyn te drink nie, want sy het gesien dat Anna iets daarin gooi, vermoedelik gif.
Die bottel brandewyn is dorp toe geneem en die inhoud ontleed. Arseen is in die brandewyn gevind. Anna ontken dat sy dit gedoen het en siende dat dit haar woord teen Sarah se woord was, sonder enige bewyse, kon die saak nie verder gevoer word nie.
Jacob was egter nou op sy hoede.
OWERSPEL
Jacob keer onverwags terug vanaf een van sy plaasbesoeke en betrap sy vrou op heterdaad in die arms van die wewenaar Johannes Liebenberg.
Jacob verlaat sy huis en gaan woon by sy broer, Jan Sebastiaan. Jacob se aansoek om skeiding tussen tafel en bed, op grond van owerspel, word in Maart 1814 deur die hof toegestaan.
Anna koop ‘n huisie regoor Jan Sebastiaan se huisie (Cradockstraat 145). Sy neem ‘n bejaarde man, Thomas Bentley, as loseerder in om haar inkomste aan te vul. Die huisie is eenvoudig. Die voordeur gee toegang tot die voorkamer. Regs is Bentley se kamer. Anna se kamer met die groot venster is links, met ‘n steenmuur tussen haar kamer en die kombuis. Hoog teen hierdie muur is ‘n baie klein venstertjie. Beide vensters in Anna se kamer kon net vanuit die slaapkamer oopgemaak word.
JOHANNES LIEBENBERG
Johannes Liebenberg word nou ‘n gereelde besoeker by Anna. Die twee was smoorverlief en wou trou, maar nie voordat hulle Jacob se rykdom kon inpalm nie. Daar moes dus ‘n plan gemaak word om Jacob te oorreed om ‘n nuwe testament op te stel en om dan van hom ontslae te raak. As ryk weduwee kon sy dan met Johannes trou.
9 Desember 1841 skryf Anna ‘n briefie aan Jacob en nooi hom om na haar huisie toe te kom. In haar kenmerkende handskrif, buitengewone klein lettertjies wat agteroor teenaan mekaar lê skryf sy: “ Liewe eggenoot, wees so goed en kom vanaand 7-uur na my huis. Daar is iets waaroor ek met jou wil praat. Ek verwag jou! – A. M.Rabie.” Anna se plan is om Jacob op haar gewone verleidelike manier te verlei en om hom te oorreed om weer by haar te kom woon. Nadat Bentley die briefie afgelewer het, weier Jacob om die aand te gaan, maar gaan tog met ‘n paar vriende die volgende dag na Anna se huis. Anna se poging was wel suksesvol, want nadat hulle ‘n tydjie lank alleen weg was, keer hulle terug na die vriende toe, handjies liefdevol inmekaar gevleg.
Jacob Rabie trek weer by Anna in.
Anna gaan doen navraag by Jacob se prokureur, Sam Oertel, om uit te vind of sy Jacob se enigste erfgenaam is.
Anna gaan ook na die groot skurk in die dorp, Jan Coetzee, en sê dat sy hom goed sal betaal as hy vir Jacob uit die weg sou ruim.
JACOB RABIE STERF
Dinsdagaand 4 Januarie 1842 eet die Rabies vroeg. Bentley gaan lê in sy kamer en lees. Om 9-uur gaan slaap Anna en Jacob na ‘n glasie wyn.
Halftwaalf knal een pistoolskoot. Bentley hoor die skoot, maar reageer nie, hy dink dit is ‘n skoot wat in die straat afgevuur is.
Na sowat 8 minute kom Anna, geklee in ‘n lang wit nagrok, na Bentley se kamer en sê hy moet kom kyk, Jacob het homself geskiet. Hy gaan na Anna se kamer en sien Jacob is dood. Hy gaan roep die bure oorkant die straat. Vir al die bure is dit duidelik dat Jacob dood is. Hulle trek die slaapkamer se deur toe en laat alles in die die huisie onaangeraak. Die vrederegter, Mnr Hendrik Enslin, word onmiddelik in kennis gestel.
VREDEREGTER EN BAASSPEURDER VAN GRAAFF-REINET, HENDRIK ENSLIN
Om presies middernag daag die vrederegter, Hendrik Enslin, op die toneel op. Vetlampies is oral aangesteek en sowat 20 bure staan op die stoep en gesels. Die slaapkamer is helder verlig. Jacob lê op die regterkant van die bed, heeltemal op die kant.
Bokant sy regteroog is die koeëlwond. Sy hande netjies gekruis op sy bors. Op sy bors lê ‘n pistool met die loop in die rigting waar die koeël Jacob se kop getref het. Hendrik herken die pistool as Jacob se pistool. Hy merk ook op dat die pistool nie onlangs afgevuur is nie. Op die kopkussing, aan die kant van die venstertjie is ‘n kruitstreep. Dit is duidelik dat iemand op die linkerkant van die bed gelê het. Op die kussing en laken links van die liggaam is bloedspatsels.
Die distriksgeneesheer, Dr George Krebs, bevestig dat ‘n koeël Jacob se brein deurboor het. Dit kon onmoontlik afgevuur wees deur die pistool op Jacob se bors. Hy oorhandig die koeël aan Hendrik. Op die koeël is skraapmerkies. Hendrik meet die afstand van die venstertjie tot waar die koeël die kop binnegedring het, presies 21 duim.
In die kombuis, reg onder die venstertjie op die vloer van grond is ‘n merk, ‘n sirkel. Die groot skottel wat op die tafel staan se rand pas presies op die sirkel.
Dalk het iemand daarop gestaan in die kombuisie en vir Jacob deur die klein venstertjie geskiet. Dit sal dan verklaar hoe die koeël so skuins deur Jacob se kop geskiet is.
HENDRIK ONDERVRA ANNA
Anna sê dat sy op die linkerkant van die bed gelê en reeds geslaap het. Hoekom is daar dan bloedspatsels op die kussing en laken en Anna se nagrok is spierwit skoon met geen bloedspatsels?
Anna verklaar dat sy die kamerdeur self gesluit het, die groot venster sowel as die klein venstertjie toegemaak het en ingehaak het soos elke aand voor hulle gaan slaap het.
Sy skrik en bars in trane uit toe Hendrik aan haar wys dat die klein venstertjie dan oop is. Volgens haar het sy seker die aand vergeet om die venstertjie toe te maak.
HENDRIK WARM OP DIE SPOOR
Met dagbreek is Hendrik weer by Anna se huisie en vind baie eienaardige spore naby die agterdeur. Dit is nie skoenspore nie, maar ook nie kaalvoetspore nie. Hy volg die spore wat duidelik sigbaar is. Die persoon het gehardloop, kort-kort stilgestaan en ook omgekyk. Die spore lei duidelik tot by die voordeur van Johannes Liebenberg.
Johannes is nie tuis nie en vlugtig deursoek vrederegter Hendrik Enslin die huis. In ‘n velsakkie vind hy 3 koeëls. Dit is dieselfde soort as waarmee Jacob geskiet is en op die koeëls is eienaardige krapmerkies.
Martha, Johannes Liebenberg se dogter, getuig dat haar pa na aandete met klere en skoene aan op sy bed gaan lê het. Hy het twee keer opgestaan en uitgegaan, die eerste keer vinnig teruggekom, maar die tweede keer weet sy nie, want sy het gaan slaap.
Die huiswerker, Hanna getuig dat sy en die tuinvolk ook vroeg gaan slaap het. Sy getuig dat die 2 manne , Simon en Salmon, die middag vir Johannes gehelp het om loodkoeëls te vorm. Die koeëls was te skurf na Johannes se mening en hy het aan hulle elkeen 3 koeëls gegee om met ‘n klip glad te skuur.
Die plaaslike winkelier , CG Osche, getuig dat Johannes ‘n paar dae terug ‘n pistool kom koop het . Hy het ook gevra of die pistool ‘n mens kan doodskiet en of dit taamlik ver kan skiet. Die vorige dag het Johannes weer kom vra of die pistool iemand sal kan dood. Johannes het ook lood gekoop en ‘n koeëlvorm geleen. Ook getuig hy dat dit vir hom vreemd was dat Anna Rabie in die winkel ingestap het terwyl Johannes daar was, ‘n paar woorde met Johannes gesels het en weer uit is sonder om iets te koop.
VREDEREGTER HENDRIK KONFRONTEER JOHANNES LIEBENBERG
Johannes ontken dat hy by Anna se huis was. Hy ontken ook dat hy ‘n vuurwapen besit.
Hendrik neem Johannes Liebenberg na die spore toe en laat hom met sy kouse aan langs die spore trap. Dit stem presies ooreen, albei kouse se hakke en tone is stukkend. Dit laat vreemde spore in die grond.
Martha, Johannes se dogter , gaan wys waar is Johannes se pistool gebêre, ook die lood en die koeëlvorm.
Johannes verander gou sy storie en vertel dat hy en sy dogter, Elizabeth, teiken gaan skiet het langs die rivier. Hy het 2 skote na ‘n plank gevuur, die plank het hy agterna gebruik om mee vuur te maak.
Hendrik wys Johannes daar op dat hy 6 koeëls laat glad skuur het. Twee is in die plank geskiet, 3 is in die velsakkie. Waar is die 6de koeël ?
Johannes word gearresteer vir die moord op Jacob Rabie.
ANNA RABIE VERDAGTE
Hendrik vind in een van Johannes se baadjiesakke liefdesbriewe aan Johannes gerig. Alhoewel die briewe nie onderteken is nie, is dit duidelik Anna se kenmerkende handskrif.
Die huiswerker vertel ook dat Johannes aan haar ‘n botteltjie donkerrooi medisyne gegee het om vir Anna te gee, met opdrag dat Jacob dit nie mag gesien het nie.
Anna ontken dat sy enige briewe geskryf het en beweer ook dat daar laventel in die botteltjie was wat sy opgebruik het en sy weet glo ook nie waar die leë botteltjie was nie.
Ongelukkig vir Anna het een van die buurvrouens die oggend gesien dat Anna ‘n botteltjie in die tuin begrawe het en gaan wys die plek uit waar die botteltjie toe gevind word.
Dr Krebs getuig dat Johannes by hom ‘n slaapdrankie kom vra het omdat hy so sleg slaap. Dit was laudenium, ‘n soort opium, donkerrooi kleur. Dr Krebs bevestig dat die opgegraafde botteltjie dieselfde botteltjie is.
Anna word gearresteer as medepligtige aan die moord op Jacob Rabie.
DIE ONDERSOEK EN VONNIS
Voorlopige ondersoek begin 13 Januarie 1842 en die saak word na die Rondgaande Hof verwys.
10 Mei begin die sitting van die Rondgaande Hof onder Regter Kekewich , 27 mense in die jurie, groepe van 9. Niemand getuig ten gunste van die beskuldigdes nie.
Vrydag 13 Mei 1842 word albei skuldig bevind aan moord, geen versagtende omstandighede nie. Doodsvonnis vie beide word gevel.
Beide antwoord dat hulle onskuldig is.
JOHANNES MAAK ‘n SKULBEKENTENIS IN DIE TRONK
Na ‘n paar dae laat roep Johannes die magistraat WC van Ryneveld en lê ‘n verklaring af:
“Daardie noodlottige Dinsdagaand het ek vier loodkoeëls en die pistool wat ek Osche gekoop het, geneem en na die Rabies se huis gestap. Onder die groot peerboom het ek gewag. Anna het die teken gegee. Ek het haar gevolg. Sy het my na die slaapkamer gebring. Jacob het diep geslaap. Sy het gesê: “ Daar lê die hond – skiet hom dood.”
Ek het gehuiwer. Ek het nie kans gesien om ‘n mens so koelbloedig en onskuldig dood te skiet nie. Anna het kwaad geword en gesê: “ Johannes as jy nie nou skiet nie, neem ek die pistool uit jou hand en skiet jou daarmee. “ Ek het bang geword en kombuis toe gegaan. Anna het in die slaapkamer gebly. Sy het die venstertjie oopgemaak en met ‘n kort vetkersie gelig. Ek het die pistool deur die venstertjie gehou en die skoot afgevuur. Ek het nie op die omgekeerde skottel gestaan soos beweer is nie. Anna het die skottel waarskynlik vroeër die aand onder die venstertjie geplaas, daarop gestaan en deur die venstertjie gekyk. Ek het voorgestel dat sy die oorledene se pistool op sy bors plaas sodat dit na selfmoord kon lyk.”
Anna het ook skuld beken as medepligtige.
VONNIS WORD GEVEL
8 Julie 1842 is die dag van teregstelling.
Die ganse Graaff-Reinet is in rep en roer. ‘n Feestelike atmosfeer heers, mense het selfs piekniekmandjies gepak vir die gebeurtenis. Reeds van vroeg af het mense sitplekke ingeneem. Sommige op die dakke van geboue, ander selfs in boomtoppe.
Die veroordeeldes word op ‘n ossewa vervoer na die plek waar openbare teregstellings gwoonlik plaasvind. Die ossewa is met swart lanfer gedrapeer en 8 pikswart osse trek die wa. Op die wa is 2 swart doodskiste.
Die steeds beeldskone Anna sit op die voorste doodskis, Johannes op die tweede doodskis.
Doodkalm stap beide na die galg. Anna se lelike sakrok word om haar enkels vasgebind sodat haar rok nie opwaai as die galg se valplank onder haar inval nie. Sy wuif vir oulaas die mense toe.
Die vonnis word voltrek.
GRAFTE
Van owerheidsweë is opdrag ontvang dat Anna en Johannes selfs na die dood geskei moet wees. Hulle mag nie naby mekaar begrawe word nie.
Johannes Liebenberg is by die noordelike uitgang van Graaff-Reinet begrawe.
Anna is by die suidelike uitgang van die dorp begrawe.
DIE TRAGIESE VERHAAL VAN ANNA RABIE EN JOHANNES LIEBENBERG
Anna Rabie was mooi. Ja, baie mooi. Maar Anna Rabie was nie slim genoeg vir die perfekte misdaad nie.
Anna Rabie het alleen gestaan, alleen en eenkant begrawe. Di e gereelde besoekers aan haar huisie het saam met die menigte toeskouers gesing en gejuig
Anna Rabie was waarskynlik die eerste blanke vrou wat in Suid-Afrika tereggestel is.
Johannes het in die tronk 2 figure uit ‘n skaapbeentjie gesny, ‘n man en ‘n vrou. Die vrou met haar arm om die man se skouers. Hy gee hierdie netjies gekerfde beentjie aan die tronkbewaarder, Deysel, met die woorde: “ Neem dit, en hou dit in bewaring. Laat dit na jou dood van geslag tot geslag gaan sodat dit altyd vir almal as waarskuwing kan dien van wat kan gebeur wanneer ‘n man met ‘n ander man se vrou deurmekaar raak. Ek het dit oorgekom en kyk wat vandag met my gebeur.” (Volgens die navorser is hierdie beentjie in die Graaff-Reinet Museum.)
Onwillekeurig wonder ek wat het van Johannes Liebenberg se 3 dogtertjies geword?
Kan Anna en Johannes se grafte vandag nog opgespoor word?
Bron: Anna Rabie; Suid-Afrika se eerste moordenares . Deur Johnnie Loock ( Uit Die Huisgenoot, 23 Maart 1962).