Groot Trek 1836 – 1838
Verbeel jou dit is 1838.
Verbeel jou jy is ‘n trekkerkind daar in die Kaap.
Pappa sê julle gaan trek. Diep, diep die binneland in.
Daar is geen paaie nie. Daar is nie ‘n brug oor die riviere nie.
Daar is nie winkels nie. Daar is nie huise nie.
Daar is leeus, slange en krokodille in die riviere.
Daar is baie gevare op die trekpad.
Orals word afskeid geneem. Familie word gegroet. Vriende word gegroet. Hulle sal mekaar seker nooit weer sien nie.
Alles word gepak en op ‘n wa gelaai. Wat nie op die wa pas nie, moet agterbly.
Stap nou stadig al met die paadjies langs.
Elke paadjie is ‘n ander trekleier se roete. Elke leier met sy klomp mense met hulle waens en osse.
Almal het nie saamgetrek nie.
Almal het nie gelyk getrek nie.
Almal wou nie in dieselfde rigting trek nie. Party wou Transvaal toe, ander wou Natal toe.
Eers kom al die trekke bymekaar by Thaba Nchu.
Nou kan jy kies watter trekleier se paadjie jy wil volg.
Louis Trichardt het eerste getrek. Sommer ver noord tot daar by Lourenco Marques waar hy dood is aan malaria.
Hendrik Potgieter het ook noord getrek, maar hy moes eers by Vegkop gaan veg teen die Matabeles.
Kyk of jy die Liebenbergkoppie kan sien?
Weet jy wat het daar gebeur? Hoeveel kinders is daar ontvoer?
Jy kan ook Piet Retief of Piet Uys se roete hier oor die Drakensberge volg.
Op die pad sal jy die Kaalvoetvrou en Kerkenberg sien.
So klein entjie verder is daar ook ‘n paadjie deur die Drakensberge waar Gerrit Maritz deur is to in Natal. Daar by Sooilaer het hy ook baie siek geword en gesterf.
Jy sal ook by Bloukrans verby loop. Weet jy wat het daar gebeur? Iets baie hartseer.
Piet Uys se roete eindig by Italeni, hy is daar vermoor, hy en sy seuntjie.
Piet Retief se roete loop tot by Dingaan se kraal. Daar is hy en 100 mans ook vermoor.
Kyk mooi of jy Bloedrivier kan sien.
Hier het die trekkers die Zoeloes kon oorwin.
Die trekkers het ‘n Gelofte afgelê dat as God hulle help, sal hulle daardie dag as ‘n Dankdag (soos ‘n Sondag) vier.
Hulle sal ‘n Geloftekerk ook bou in hierdie nuwe land.
Hulle sal vir hulle kinders vertel dat hulle ook 16 Desember as Geloftedag moet onthou.
Ons noem dit Geloftedag.
16 Desember elke jaar vier ons nog steeds Geloftedag. Onthou jy elke jaar 16 Desember dat God die trekkers gehelp het?
Gaan kyk of jy die Geloftekerkie kan sien. Die trekkers het so ‘n kerk op Pietermaritzburg gebou.
Lekker stap.
Lekker leer van ons land se ryk geskiedenis.
LOUIS TRICHARDT
“Sussie, hierdie Voortrekkermonument is darem mooi en so groot.
Ons het vandag darem al baie hier geleer.
Weet jy ooit wat is ń Voortrekker ?”
“Natuurlik weet ek Boetie!
Die Voortrekkers was ń groot klomp Afrikaanse mense wat daar in die Kaap gebly het.
Hulle het al hulle goed op ossewaens gelaai en diep die woeste land van Afrika ingetrek.
Hulle het sommer so in ń ossewa gebly vir langer as 3 jaar.
Hulle het met ń wa en osse oor die berge en deur riviere getrek.”
“Jy is reg sussie.
Wat is vir jou die mooiste hier?
Vir my is dit die beelde hier op die hoeke van die groot monument die mooiste.”
“Boetie, vir my is die groot marmerfriese binne wat geskiedenis vertel die mooiste van alles.
Daar is darem baie trappies om boontoe te klim en ek was baie bang om af te kyk.”
“Bangbroek.
Jy moes van bo af onder toe gekyk het. Daar onder is ń sarkofaag met die woorde op : ONS VIR JOU SUID-AFRIKA.
Dit laat mens sommer trots voel.
So trots om Afrikaans te kan praat
Maar kom, Pappa-hulle wag al vir ons.
Ons gaan nou kyk na die trekroetes.
KYK DAAR!
Daar is ń bordjie wat sê “Begin”
Kom, kom! Loop vinniger!”
“Boetie, hierdie is nou interessant.
Kyk hier is ń groot kaart wat wys waarheen het die Voortrekkers orals getrek.
Ek wonder of dit vir die kinders ook so lekker was om te trek soos dit nou vir ons is om hier te kan loop.
Kyk hier is paadjies!”
“Wag Sussie wag.
Daar kom Grootoupa sukkel-sukkel met sy kierie aangeloop.
Hy sal seker vir ons meer kan vertel van die Groot Trek.”
GROOTOUPA
“Ja my liefste agterkleinkinders.
Ek onthou alles nog baie goed al was ek maar ń baie klein seuntjie.
Ek onthou…
Die opgewondenheid van ons kinders.
Ons kon nie wag om te trek nie.
Die grootmense was so ongelukkig en ontevrede daar in die Kaap.
Dit was baie onveilig daar.
Die Xhosas, ja, ja, klap julle tonge so, XHOSAS!
Die Xhosas het kort kort hulle vee op die plase gesteel en sommer die boere aangeval en vermoor.
Die Engelse regering in die Kaap het niks gedoen om die boere te help nie en die boere mog nie hulleself verdedig het nie. Toe besluit die boere, dan pak ons op en trek oor die Oranjerivier, die binneland in.
Onthou, die boere het al baie keer daar in die binneland gaan jag en die land verken. Hulle het geweet dit is ‘n woeste wêreld met baie gevare.
Groepe sou saamtrek met ń ervare trekleier wat voor sal trek en beste roete sal uitsoek.
Onthou daar was nie paaie nie.
Hulle het goed voorberei en mooi ingepak. Daar gaan nie winkels en plekke of dorpe wees om iets te koop nie.
Alles moes hulle saamvat en mooi pak om alles in te kry.
Maar kom staan hier onder die boom dat oupa gou vir julle vertel van al die trekke anders gaan julle niks verstaan wat hier langs die Monument aangaan nie.”
LOUIS TRICHARDT
LOUIS TRICHARDT
Die eerste groep mense wat vertrek het uit die Kaap was Oom Louis Trichardt.
1834 het hy en 7 ander gesinne vanaf Tsomo tussen die Stormberge en Wit WitKeirivier daar uit die Kaapkolonie vertrek.
Vroeg 1835 het hy en sy groepie mense oor die Oranjerivier getrek, die binneland in.
By die Vaalrivier het Oom Lang Hans van Rensburg se trek by hom aangesluit.
Lang Hans was ń jagter en het baie olifante vir hulle tande geskiet.
Hy wou sy olifanttande in Lourenço Marques gaan verkoop en verruil.
Oom Louis Trichardt wou ook ver noord trek. Sommer ver weg van Engelse in die Kaap af.
Die 2 groepe trekkers het toe saamgetrek tot by by die Soutpansberge.
Daar gekom het Oom Louis Trichardt besluit om eers daar vir Oom Hendrik Potgieter te wag.
Oom Hendrik en ń paar manne is vroeër by hulle veby om met die Portugese mense in die Noorde te gaan gesels.
Oom Hendrik wou by die Portugese mense gaan uitvind of hulle trekkers die hawe Lourenço Marques mag gebruik.
Oom Lang Hans was haastig om in die hawe te kom om sy olifanttande te verkoop en hy wou nie wag vir Oom Hendrik Potgieter nie.
By die Strydpoort berge skei die 2 groepe toe . Oom Lang Hans trek vooruit oor die Lebomboberge tot by die Limpoporivier in Mosambiek en Oom Louis Trichardt bly eers agter.
ń Groep wrede Zoeloes wat rondgeswerf het, het Oom Lang Hans en sy trek oorval en hulle almal doodgemaak.
Oom Louis Trichardt se mense het ondertussen daar by die Soutpansberge vir hulle huisies van hout en gras gebou, bietjie geplant en gesaai.
Hulle het tot ń skooltjie daar gebou van hout en riete.
Daar het hulle langer as ń jaar vir Oom Hendrik Potgieter gewag om terug te kom. Ongelukkig het alles het begin skaars raak: groente, koffie, suiker, klere, lap, naalde, gare en goedjies wat hulle elke dag nodig gekry het.
Oom Louis besluit om nie langer te wag nie.
Hulle moet verder trek .
Dit was ń baie moeilike tog met baie probleme.
Bo-oor die Lebomboberge.
Leeuwêreld.
Hulle moes bosse uitkap, klippe wegrol en klippe pak om pad te maak.
Hulle vee was deur tstsevlieë gesteek en baie van hulle diere het gevrek.
Toe trek hulle die malariagebied in. Malariamuskiete steek die mense en kort voor lank begin die mense baie siek word. Hulle kry ń baie hoë koors en een na die ander een sterf die trekkers so op die pad.
13 April 1838 bereik net 26 van die 53 mense Lourenço Marques.
Oom Louis en sy vrou is ook bitter siek.
Die Portugese mense is baie gaaf en probeer hard om al die siekes te help.
Ongelukkig sterf Oom Louis Trichardt en sy vrou ook daar.
Net ń paar van Oom Louis Trichardt se mense word gesond en bly lewe.
ń Jaar later, 1839, reis die paar oorlewendes met ń Britse skip terug na Port Natal waar hulle weer by die Voortrekkers in Natal aansluit.
Vandag is daar in Maputo Mosambiek wat vroeër Lourenço Marques genoem was ń pragtige monument vir Oom Louis Trichardt en die dapper mense wat saam met hom was.
Kyk bietjie of julle dit kan sien aan die einde van Louis Trichardt se roete.
Stap julle gou die roete van Oom Louis Trichardt, dan wag ek net hier vir julle.
Dan sal ek julle vertel van ons eie trek.
Ons het mos saam met Oom Hendrik Potgieter getrek.
Kyk mooi of julle die mooi Louis Trichardt Monument kan kry.
Trap versigtig, moet nie van die paadjie afdwaal nie.
Ek wag net hier vir julle!
HENDRIK POTGIETER
Kom kinders kom ons stap stadig aan op hierdie paadjie terwyl ek julle van ons eie trek vertel:
“Ek was deel van Oom Hendrik Potgieter se trek.
Ons en Oom Hendrik Potgieter het uit Tarka getrek in 1836, amper 2 jaar na Oom Louis Trichardt.
Ons was baie mense, seker so 60 families. Omtrent 200 mense.
Ons kinders was baie opgewonde en het uitgesien na die trekkery.
Al ons klere en speelgoed ingepak.
Maar gou het ons agtergekom dit gaan nie so maklik wees nie.
Almal moes hard werk en saamwerk om al die beeste en skape wat moes saamloop veilig en bymekaar te hou.
Die osse moes mooi versorg word want hulle het die waens gesleep..
Die waens moes mooi opgepas word want dit is ons huise nou en alles wat ons het is op die waens gelaai.
Elke dag moet ingespan en uitgespan word.
Ossewa wiele moes reggemaak word.
Kos moes gemaak word.
Al ons kinders moes help werk.
En ons het stadig gevorder want die diere kan nie so vinnig aangejaag word nie.”
*****
“Die eerste groot probleem was al by die Grootrivier. Die rivier was vol en ons moes vlotte van hout bou om die waens en kleinvee en mense almal oor die rivier te roei. Die arme beeste en osse moes maar self oorswem.
Ons het getrek tot by Blesberg. Kyk hier is die bordjie Tha Nchu. Ons het dit die Blesberg genoem want die kaal deel aan bokant van die berg het alte veel na ń bleskop gelyk.
Hier kon die trekkers bietjie uitspan en rus.
Kaptein Moroka en die Barolongs het hier gewoon. Ons trekkers en die Barolong mense het goed met mekaar klaargekom.
Hier het Oom Sarel Cilliers ook by ons aangesluit.
Die mense het hier vergadering gehou en besluit om nog verder weg te trek.
Party waens het daar by Winburg uitgespan.
As julle mooi kyk na al die paadjies sal julle sien al die trekke het hier bymekaar gekom. Nie almal gelyk nie maar so een na die ander.
Oom Potgieter en ń paar manne het toe die trek hier gelos en eers vooruit gegaan om die verre noorde te gaan verken en om na oom Louis Trichardt te gaan soek. Ons moes bymekaar bly en wag vir hulle om terug te kom voor ons verder kon trek.
Natuurlik het Oom Potgieter lank weggebly want dit is gevaarlike leeuwêreld en gevaarlike stamme het daar gewoon en die roete was moeilik.
Die trekkers het stadig begin noordwaarts trek en verspreid uitmekaar gaan woon.
Weiding vir die diere het skaars geraak en nuwe weiveld is gesoek.
Party van die trekkers het sowaar oor die Vaalrivier in getrek en in Matabele gebied gaan jag.
Silkaats, hoof van die Matabeles het nie daarvan gehou dat die trekkers so in sy gebied inkom nie en hy stuur toe sy manne om hulle te gaan doodmaak.
Hulle val toe die Liebenberggesin aan wat daar langs die Vaalrivier teen ń koppie uitgespan het.
Die hele Liebenberg familie word net daar vermoor, 25 mense deurboor met assegaaie.
Drie kindertjies was ook ontvoer, ons het gaan soek na hulle, maar kon hulle nooit weer vind nie. “
“Kyk Oupa, daar is Liebenbergkoppie! Is dit die ontvoerde kinders.
Ek wonder wat het van daardie kindertjies geword?”
“Ons was te laat om te keer. Toe ons saam met Oom Hendrik Potgieter terugkom na ons verkenningstog , loop ons ons toe vas in die Matabeles.
Gelukkig kon ons betyds daar langs die Vaalrivier laer trek.
Dit was ń groot geveg.
Die eerste maal wat ek teen Matabekes moes veg.
Ek het geveg vir my lewe.
Almal het gehelp, mans, vrouens en kinders.
Dit was vreeslik.
Ek was so bly toe die Matabeles uiteindelik vlug.”
“Het hulle weer gekom om aan te val, Oupa? “
“Ja, my kinders. Kyk hier is Vegkop.
Hier het hulle ons weer kom aanval.
Oom Hendrik Potgieter het die waens hier in ń groot sirkel laat trek, mens noem dit ń laer. Tussen die waens moes ons doringtakke pak en die waens aanmekaar vasmaak.
Binne-in die laer het hy ń paar waens getrek vir ons kinders en vrouens om in te skuil.
Die Matabeles was duisende en ons net 40 mans.
Ons diere was buite die laer. Die Matabeles het sommer ons diere begin slag en sommer die vleis so rou geëet. Sommer stukke vleis uitgekap terwyl hulle nog lewe.
Dit was vreeslik!”
“Oupa. Regtig? Ek kan nie glo Oupa het so iets beleef nie.
Hoe het julle daar uitgekom?”
” Ons het gebid kinders. Oom Sarel Cilliers het ernstig gebid en ons aangemoedig.
Almal het dapper geveg.
Vrouens het help skiet.
Kinders het gewere gelaai.
Onthou dit was moeilik om die ou gewere te laai met kruit en lappies en loodballetjies.
Van die Matabeles het die waens uit die kring probeer pluk.
Ander het onderdeur die waens deurgekruip, maar die vrouens het sommer hulle met byle gekap en teruggejaag.
Na ń ruk het die Matabeles ons gelos en gevlug.
Twee van ons manne dood, 14 gewond.
450 Matabeles dood.”
“Gelukkig kon julle wen.”
“Ons het gewen ja, maar die prys was hoog.
Ons was in groot moeilikheid.
Die Matabeles het al ons diere alles saamgevat.
Ons het nie kos gehad nie. Die klein kindertjies kon nie melk kry nie.
Ons was honger.
Tot ons trekdiere , die osse, was gevat, ons kon nie verder trek nie.”
“Oupa, wat gebeur toe met julle?”
” Daar by Thaba Nchu waar ons netnou was, het Kaptein Moroka en die Barolongs gebly. Hulle was vriendelike en vredeliewende mense. Kaptein Moroka en die ander trekkers daar by Blesberg het vir ons kos en osse gestuur en ons gehelp om terug te trek Thaba Nchu toe. Toe ons daar kom, was Oom Gerrit Maritz se trek ook al daar.
Daar het die manne ń nuwe regering gekies: Oom Maritz was Voorsitter en ons trekleier Oom Hendrik Potgieter was die hoofkommandant.
Die eerste ding wat hulle saam gedoen het, was om die Matabeles te gaan straf.
Ek kon nie saamgaan nie, moes liewer by die vrouens bly om hulle op te pas.
Die strafkommando het die Matabeles verras en hulle het gou-gou gevlug.
Oom Hendrik het darem 7000 beeste teruggekry.”
“Het Oom Hendrik toe daar by Thaba Nchu gebly? “
“Ja vir eers. Ons het ń nuwe dorp Winburg daar aangelê.
Oom Hendrik was nie gerus nie. Hy was bang die Matabeles kom weer.
Hy wou hulle ń deeglike les leer.
Piet Retief en Piet Uys se trekke het ook toe daar aangekom.”
“Oupa het almal toe saam gegaan om die Matabeles weg te dryf?”
“Ongelukkig nie, my kinders.
Dit is hartseer.
Daar het ń stryery ontstaan.
Oom Hendrik wou die Matabeles finaal gaan straf het en dan in Transvaal gebly het waar dit nou veilig is.
Oom Piet Retief wou Natal toe gaan. Hy wou by Dingaan gaan grond koop vir plase.
Hy wou nie glo Dingaan is so wreed en skelm nie. Toe verkies die mense vir Piet Retief as goewerneur en Gerrit Maritz as Voorsitter. Hulle trek toe weg Natal toe. Die Drakensberge oor.”
“Toe straf hulle nie die Matabeles verder nie? “
” Nee, nee. Oom Hendrik Potgieter het saam met Oom Piet Uys die Matabeles gaan aanval in hulle eie stat.
Ek kon saamgaan, maar dit was vreeslik.
Die Matabeles het vir ons gewag en het vir 9 dae geveg voor hulle hulle stat aan die brand gesteek het en gevlug het.
Die ergste bang wat ek in my lewe nog ooit was, was toe die Matabeles met ons vegosse aangeval het. Hulle het osse se horings skerpgemaak en hulle geleer om aan te val. Met daardie skerp horings kon hulle ons deurboor.
Gelukkig het die geraas van die gewere en die reuk van bloed hulle so mal gemaak dat hulle begin rondstamp het en mekaar en die Matabeles vertrap.
Ek kry nou nog nagmerries daarvan.”
“Oupa ons kinders is gelukkig hier in Suid-Afrika.
Ons weet nie eers hoe swaar het julle gekry nie.”
“Ons het toe saam met Oom Hendrik Potgieter getrek tot hier in die Transvaal. Hier het ons begin boer, hard gewerk, huise en dorpe gebou. Skole en kerke.
Oom Hendrik Potgieter en Oom Piet Uys het later weer die Trekkers in Natal gaan help toe Dingaan hulle leiers almal vermoor het en oom Gerrit Maritz doodgegaan hey van koorssiekte.
Ek kon nie saamgaan nie. Ons moes bly en die vrouens en kinders oppas en die werk doen.
Maar dit is ń storie vir ander dag.
Oupa is nou moeg.
Stap julle gou die roete hier oor die Drakensberge.
Oppas vir skeeftrap.
Gaan loer daar by Dingaan se hut in en soek die Geloftekerk. Daar moet julle vir God dankie sê vir ons mooi land en dapper mense. “
PIET RETIEF
PIET RETIEF
“Boetie Pieter, dit is darem lekker hier by Blesberg.
Al ons maats en vriende wat vooruit getrek het is hier.
Almal veilig oor die berge en deur die riviere.
Lyk my almal het gesukkel om deur die groot Oranjerivier te kom.”
“Sussie Magdalena dit is lekker om weer ons vriende te sien. Gelukkig dat die trekkers ooreengekom het dat ons mekaar eers hier by Thaba Nchu ontmoet.
Ja, om met ossewaens en beeste en skape deur die Oranjerivier te kom, is nie maklik nie en baie gevaarlik.”
“Hoekom het ons nou eers hier aangekom? Hoekom het ons later eers getrek?
Party boere het dan al verlede jaar getrek.”
“Jy weet mos Sussie.
Pappa Piet Retief hou van orde en reëls. Hy het eers al sy sake daar in Grahamstad mooi afgehandel en ook eers ń manifes opgestel met redes waarom ons boere wegtrek uit die Kaapkolonie.
Die Britse owerhede moet duidelik weet hoe swaar ons daar op die Oosgrens gekry het en hoe gevaarlik die aanhoudende aanvalle van die Xhosas is.”
“Boetie Pieter, gaan ons nou hier bly?
Die mense stry ook maar lekker hier onder mekaar. Die veld is kaalgevreet met al die diere hier, hulle beeste en skape loop deurmekaar en brandhout is nou ook baie skaars. Nou raak die mense ongelukkig en haastig om verder te trek.
Hoekom het Oom Hendrik Potgieter se mense daar eenkant gaan staan met hulle waens?”
“Sussie Magdalena, Oom Potgieter se mense is mos aangeval deur Silkaats se Matabeles. Baie mense is sommer net vermoor daar langs die Vaalrivier. Toe het Silkaats en sy Matabeles die trekkers daar by Vegkop aangeval.
Gelukkig het die trekkers gewen.
Oom Hendrik wil nou vir Silkaats gaan straf.”
“Maar Boetie, oom Hendrik Potgieter en Gerrit Maritz het dan nou net teruggekom nadat hulle Silkaats gaan straf het. Is dit nie genoeg nie?”
“Ek weet Magdalena, maar verstaan nou.
Oom Hendrik wil die Matabeles heeltemal terugjaag vanwaar hulle gekom het anders gaan ons nooit veilig wees nie.
Die Matabeles moet ń les geleer word.
Mens val nie sommer net mense aan nie.
Oom Hendrik wil hê ons Trekkers moet in die Transvaal gaan bly.
Daar is grasvlaktes met baie wild
Ons sal maklik daar weer kan begin boer.”
” Boetie, dit lyk my die meeste mense wil liewer Natal toe trek.”
“Dit is waar. Dit is juis hoekom hulle volksvergadering gister hier gehou het en gestem het.”
“O ja. Pappa Piet Retief is mos verkies as goewerneur.
Ek is so trots op my pa.”
“Ja kan jy glo? Goewerneur Piet Retief. Leier in ń nuwe land
Pappa is mos ń vredemaker. Hy wil saamwerk met die swart stamme. Ons moet kan saamleef en saamwerk in ons nuwe land.
Pappa sê, ons kan nie wetteloos wees en elkeen maak soos hy wil nie.
Daar moet leiers wees en mense moet luister na wat leiers sê en met mekaar praat as hulle nie almal saamsten nie.”
“Pappa sê ons gaan Natal toe trek. Die manne wat Natal gaan verken het, sê dit is pragtig daar.
Goeie grond, sterk riviere, goeie reënval, vrugbare grond. Ons sal met vee daar kan boer en ook plant.”
“Ja Sussie, daar is ook ń hawe, Port Natal. Die een deel van Natal is leeg en onbewoon.
Net die Zoeloes daar in Zoeloeland is ń gevaar, maar pappa sê hy sal met hul leier Dingaan praat en onderhandel om daar te kan boer.
Dingaan lhet juis laat weet dat hy graag wil gesels oor ons grond daar wi koop “
**
“Boetie Pieter kyk!
Daar is die Drakensberge.
Dit is reuse berge.
Natal lê anderkant die berge.
Hoe gaan ons daaroor kom met al die ossewaens?.”
“Sussie Magdalena, moet nie bekommerd wees nie.
Pappa het klaar manne vooruit gestuur om ń roete te kry. Ons sal die wildspaadjies volg. Wild kies altyd die maklikste roete oor die berg. Ons gaan met die Oliviershoekpas op tot by Kerkenberg en dan weer af met Retiefspas”
“Pieter, hoekom moet ons hier by Kerkenberg wag?
Kan ons nie maar af trek nie?”
“Nee, pappa het gesê ons moet hier wag.
Hy vat eers Dingaan se beeste vir hom terug.
Dingaan het vir Pappa gesê hy sal die grond tussen die Tugela en Umzimvuburivier, tussen die Drakensberge en die see vir ons gee as Pappa sy beeste wat Sekonyela gesteel het, gaan haal en teruggee.
Pappa het klaar die beeste gaan haal by Sekoneyla en more ry hy terug na Dingaan toe.
Ons kan aftrek van die berg af, maar moet bymekaar bly.”
“”””
“Sussie Deborah, wat maak jy met die groen verf?
” Magdalena, ek het Pappa Piet Retief se naam hier op die rots geverf. Dit is mos sy verjaarsdag vandag. “
“Wanneer kom hulle terug? Hulle is al lankal weg.”
“Enige dag nou Magdalenatjie.
Dit is jammer die mense luister nie mooi nie.
Pappa het gesê ons moet bymekaar bly
Nou trek hulle al daar ver langs die Bloukransrivier.
Pappa Piet Retief gaan kwaad wees as hy terugkom.”
*****
” Pappa. Dankie dat Pappa my saamgebring het hier na Dingaan se stad Ungundlovo toe.
Die stat verstom my. Hier woon duisende Zoeloes. Kyk die groot troppe beeste.”
“Pieter, jy is darem nou al ń groot seun. Ek is so trots op jou.
Jy moet leer hoe om te onderhandel
Dingaan is ń groot leier van baie mense kyk hoe staan die wagte om hom om hom op te pas.”
“Pappa ons moet versigtig wees.
Die Sendeling Owen wat op die koppie daar oorkant bly sê ons versigtig wees. Dingaan kan nie regtig vertrou word nie.
Hy probeer al jare lank om die.wrede Zoeloes te leer van God.”
“Wees gerus my seun.
Ons is darem ń 100 man hier.
Dingaan het klaar geteken. Ons kan maar in Natal in trek. “
“Pappa, Koning Dingaan is darem baie vreemd.
Hy is baie vriendelik en spog lekker met al sy soldate. Hulle is goed afgerig.
Sies, hulle bier en suurmelk smaak sleg
Die vleis wat die vrouens aandra is darem lekker.
Ek hou van die skyngevegte en danse wat hulle vir ons doen.”
“Pieter, hulle doen regtig moeite om ons tuis te laat voel met al die kos en musiek en danse.
Ons gaan nou nou terug. Ons mense wag al lank vir ons.”
“Gelukkig het Digaan klaar geteken.
Ons perde is klaar opgesaal.
Nou net ons wapens gaan haal as ons hier klaar is en dan ry ons terug.
Dit voel nogal vreemd om so sonder ons gewere te wees.”
“Ja Pieter. Dit is Dingaan se reël.
Almal hier in die kraal moet ongewapen wees.
Kyk die Zoeloes is ook sonder assegaaie.”
“Pappa Piet. Wat gaan nou aan?
Wat skree Dingaan?
Kyk Papp, hule ruk orals assegaaie uit. Dit is begrawe onder die grond !
NEE pappa NEE, hulle val ons aan!”
“VEG manne VEG!
Waarheen sleep hulle ons nou?”
“O nee, pappa!
Hulle maak ons manne dan nou almal dood.
Pappa, nee, Pappa.
Ons kan nie keer nie.
Ek hoop mamma hulle is veilig daar in die laer by Kerkenberg….”
GERRIT MARITZ
“Mathinus, gaan julle regtig wegtrek?
Gaan julle ook die Kaapkolonie verlaat?”
” Ja Aletta, ons Oosthuizen familie gaan saam met Oom Gerrit Maritz trek.
Ons gaan die grootste groep trekkers wees wat nog uit die Kaap is.
Oom Gerrit Maritz is ń slim sterk man.
Hy is baie gelowig.
Hy is ń goeie leier. Almal vra altyd sy raad omdat hy so ń goeie raadgewer is.”
” Marthinus, my hart is baie seer.
Ons Rudolphs bly in Graaff-Reinet agter. Pappa sê hy gaan nie die gevaarlike wildernis intrek nie. Ek gaan jou nooit weer sien nie.”
“Aletta, jy weet ek is baie lief vir jou, maar ons is nog te jonk. Ons moet saam met ons ouers gaan.
My hart is ook baie seer.
Kyk daar kom Oom Gerrit se blou waens aan. Dit lyk darem spoggerig so met die kaptente op.
Mens kan sien hy is die beste wabouer in die Kaap.
Totsiens, my maatjie. Pas jouself mooi op.”
“Vaarwel Marthinus. Ek sal jou nooit vergeet nie.”.
*****
Thaba Nchu:
“Marthinus, hoekom is jy so eenkant en hoekom hang jou skouers so?
My pa Gerrit Maritz sê jy wil net werk en werk”
“Deborah, my hart is bitter seer. My meisie moes agterbly in Graaff-Reinet. Haar ouers wou nie trek nie. Ek gaan haar nooit weer sien nie.”
“Marthinus, ek sal jou probeer troos.
Kom die volksvergadering gaan nou begin. Die eerste volksvergadering in ons nuwe land.
Die trekkers het mos afgespreek om eers hier by Blesberg bymekaar te kom.
Pappa Gerrit Maritz sê sê hy gaan as Voorsitter verkies word en Oom Hendrik Potgieter as Kommandant Generaal. “
” Ja, Deborah, dit is darem erg wat Oom Hendrik Potgieter se mense oorgekom het toe hy die noorde gaan verken het.
Die Matabeles het sommer die hele Liebenberg-gesin vermoor daar by Liebenbergkoppie.
By Vegkop kon hulle darem die Matabeles wen, maar al hulle diere is gesteel.
Gelukkig kon die trekkers hier en Marokka, die leier van die Barolongs hulle gaan help het en hulle waens vir hulle teruggesleep het tot hier by Blesberg.”
“Pappa sê hy gaan saam met Oom Hendrik Potgieter om die Matabels te gaan straf.
Silkaats moet ń les geleer word. Hy moet die trekkers uitlos.”
*****
Winburg:
“Marthinus is julle terug? Dankie tog julle is veilig terug.
“Deborah, ons het Silkaats heeltemal verras en hom sommer vinnig laat vlug.
Ons het 7000 beeste teruggekry.
Ongelukkig stry die manne nou oor die beeste.
Oom Hendrik Potgieter wil alles hê, hy sê dit is hulle beeste wat die Matabeles gevat het.
Jou pa sê ons moet deel. Ons het dan alles net hier gelos en eers gaan help met die strafkommando.”
“Ja, dit is jammer ons kan nie saamstaan en saamstem nie.
Kyk hoeveel nuwe trekkers het hier aangekom. Oom Piet Retief en meeste trekkers wil Natal toe gaan.
Oom Hendrik Potgieter is kwaad, hy wil nie Natal toe gaan nie. Die Zoeloes daar is gevaarlik.Hy wil hê ons moet in Transvaal gaan vestig. Die Matabeles weet nou hulle moet ons uitlos!
Hulle gaan maar weer volksvergadering hiet hou.”
“Gerrit Maritz wil ook Natal toe.
Hy wil ook net eers help om Silkaats heeltemal terug te jaag na sy eie land toe. Dan sal die trekkers nooit weer las van hom kry nie.”
*****
Marthinus, het jy gehoor Silkaats se mag is nou heeltemal gebreek. Die Matabeles is verstrooi en verdryf terug noorde toe.”
“Ek het gehoor. Hulle het verwoed geveg. Hulle het tot die trekkers aangeval met beeste wat se horings skerp gemaak is.
Dit was skrikwekkend.
Gelukkig het die geraas van die gewere en die reuk van van bloed die beeste skoon mal van angs gemaak. Hulle het so wild geraak dat hulle hulle eie mense vertrap het.
Die manne stry al weer oor die beeste wat hulle teruggebring het.
Ons trek nou self verder
Suikerbosrand toe. Daarna Natal toe.”
*****
Natal
“Hierdie Drakensberge is ń moeilike reeks om oor te steek.
Die De Beerspas is ń uitdaging.
Maar kyk, daar lê Natal.
Nou wag ons vir Oom Piet Retief om terug te kom van Dingaan af.
Jou pa sê dit is ń fout om Dingaan te vertrou.
Oom Piet Retief moes nie so baie mans saamgeneem het nie.
Dit verswak ons getalle as daar moeilikheid kom.
Ons moet laer trek en bymekaar bly.
Oom Piet Retief se mense beweeg te ver weg van mekaar af. “
“Marthinus, het jy geweet die Rudolphs is ook hier. Hulle het saam met Piet Retief getrek.
Hulle het ook besluit om te trek.
Jou nooientjie, Aletta is hier!”
**
Bloukrans
“Aletta, dankie tog julle is veilig.
Die Zoeloes het honderde van ons vermoor daar by Bloukrans.
Ek is jammer, maar julle leier Piet Retief en almal saam met hom is ook vermoor.”
” Marthinus, ek kan nie glo ons loop mekaar weer raak nie.
Ek het gedink ons sien mekaar nooit weer nie.”
“Aletta. Ek gaan jou nie weer verloor nie.
Ons gaan trou sodra almal hier veilig is.
Ons moet net eers help. Hier is nou so baie weduwees en weeskinders. Ons vee is geroof, ons waens is verbrand. Ons het kos en lewensmiddele dringend nodig.
Oom Gerrit Maritz sê ons moet saai en plant, ons het kos nodig.
Ons moet laer trek hier by die kleinTugela rivier en bymekaar bly.
Ons moet sooie om laers gooi, sommer dubbel sooie. Die Zoeloes is nog nie klaar nie.
Oom Gerrit gaan Port Natal toe om hulp te soek.”
*****
“Wat nou Marthinus?
Ons strafkommando moes by Italeni vlug.
Die Zoeloes het die manee daar in ‘n hinderlaag ingelei.
Oom Piet Uys is daar vermoor.
Die mense spot Oom Hendrik Potgieter en sê die strafkommando het vlugkommando geword. Nou trek hy en sy mense terug oor die Drakensberge.
Oom Piet Retief is vermoor.
Oom Gerrit Maritz is baie siek. Hy is sterwend.
Ons kry swaar.
Ons het nie meer ń leier nie.
Wat gaan nou van ons word?
Die Zoeloes gaan ons almal vermoor.”
“Aletta, moet nie bekommerd wees nie.
Oom Gerrit Maritz het voor hy dood is reeds ñ boodskap aan Andries Pretorius gestuur en hulp gevra.
Andries Pretorius is ń sterk leier en dapper vegter.
Hy en sy manne is reeds oppad.
Hy het laat weet ons moet solank paar dapper manne uitkies.
Ons moet die waens regkry, gewere regkry, ammunisie regkry en solank veghekke maak wat ons aan die waens kan vasmaak.
Ons sal Dingaan en sy moord impi’s moet stuit.”
PIET UYS
Dirkie Uys
“Pappa Piet, wanneee gaan ons trek?
Al my maatjies is reeds weg oor die Caledonrivier.”
“Hokaai, Dirkie, nie so haastig nie
Ons is nou net terug van 6de Grensoolog.
Die Xhosas raak darem nou te astrant. Ons het amper al ons besittings verloor.”
“Ek weet Pappa.
Daardie ongeskikte Britse amptenaar wou sommer vir mamma in hegtenis neem.
Hy kan bly wees Pappa was nie hier nie.
Pa sou hom reggesien het.”
“Ja knapie.
Kom help pak hier.
Alles moet op die wa gepak word.
Julle gaan nog hard werk voor ons kan trek.”
“Ek gee nie om nie. Dit gaan lekker wees.
ń Groot avontuur.
Waarheen gaan ons trek?”
Seun, ons gaan Natal toe.
Ek het mos reeds daar in Natal die wëreld gaan verken en met die Zoeloe Koning Dingaan gesels om te hoor of ons daar grond kan koop.
Natal is ń mooi land. Groen en vrugbaar met baie water.
Ons gaan suksesvol daar boer. Ver weg van Xhosas en van Britte.”
“Pappa, hoekom het Thomas Phillips vir oupa Koos ń Bybel gegee daar by Grahamstad. Hulle is dan Engelse.”
“Dirkie, dit ń afskeidsgeskenk en wys wat se goeie vriendskap daar tussen ons boere en die Britse Setlaars in die Oos-Kaap is.”
*****
Thaba Nchu:
Pappa hier is darem baie waens by Thaba Nchu.
Meeste mense maak reg om Natal toe te trek.
Hoekom trek ons dan nie nou saam nie?”
“Watwou, Dirkie. Ek het mos reeds met Dingaan gaan gesels.
Nou kies die mense hier vir Oom Piet Retief as goewerneur vir die nuwe land. Hy was nog nie eers in Natal nie. Hy ken nie die land nie.
Hy en sy nuwe regering wil nou die klomp trekkers in Natal inlei.
Nee wat, ek gaan eers saam met Oom Hendrik Potgieter om die Matabeles ń lessie gaan leer.
Hulle kan nie die trekkers sommer so aanval nie. Ons sal mos nooit veilig in Transvaal kan woon as hulle so maak nie.
Ons gaan Silkaats en die Matabeles se stat afbrand en hulle sommer terugjaag waarvandaan hul gekom het.
Sommer Oom Hendrik-hulle se gesteelde beeste ook terugkry.”
” Pappa, wees net versigtig. Die Matabeles is gevaarlike en goeie vegters.
Weet Pappa, vandag het oupa en ń paar ander van ons groep ń klip langs die Modderrivier opgerig. Hulle sê dit is die Uys-klip. Ons wil eendag terugkom hiernatoe en hier kom bly.”
*****
Winburg:
“Pappa wat gaan aan? Hoekom huil mense so? Julle is dan veilig terug. Die Matabeles is terug na hulle eie land
Ons het baie beeste teruggekry.”
“Dirkie, daar is groot moeilikheid in Natal. Oom Piet Retief is vermoor.
Die Zoeoes het 500 mense daar by Bloukrans en Moordspruit vermoor.
Ons moet gaan help
Pak gou jou goedjies. Saal op. Ons klompie manne gaan help.
Oom Hendrik Potgieter is ook al op pad om te gaan help.
Mamma hulle gaan net hier bly met die waens en vee.
Net ons manne gaan help.”
*****
Natal:
“Pappa, gelukkig het Oom Gerrit Maritz sy mense gou laat laer trek.
Die Zoeloes bly aanval.
Jammer Oom Gerrit is so siek. Die koors het hom so swak gemaak.”
” Ja dit is jammer.
Maar ons gaan nou vir Dingaan straf.
Ons gaan die gesteelde beeste hier ook terughaal.
Ek en Oom Hendrik Potgieter gaan elkeen sy eie groep mamne lei.
Ons gaan daardie skelm Dingaan in sy eie land straf.
Hy gaan leer soos die Matabeles moes leer. “
*Pappa, kan ek saamgaan?
“Dirkie, natuurlik kan jy saamgaan.
Jy is nog jonk,. maar ń goeie ruiter en jy kan goed skiet.
Kry jou geweer en ammunisie net mooi reg.”
*****
Italeni
“Pappa, kyk. Daar sit die Zoeloes rustig en rook. Ons moet aanval! Oom Hendrik en Pappa moet saam aanval.”
*Manne, ons val aan.
Kyk daar vlug hulle holderstebolder.
Kom, kom! Ons moet hul inhaal.”
“Pappa, oppas daar is nog ń groep Zoeloes. Hulle het tussen die bosse weggekruip. Ons is gekul.”
“O nee. Dit is ń hinderlaag. Ons is vasgekeer.
Waar is Hendrik Potgieter se manne?
Vlug en veg manne. Breek uit!
Vlug Dirkie vlug!
Red jouself!”
“Kom perdjie, spring oor die diep sloot. Jy moet ons vandag red.
Waar is my pappa ?
O nee. Daar is hy. Hy is gewond.
ń Assegaai het hom getref. Hy bloei vreeslik.
Daar val Pappa van sy perd af.
Hy is te swak om te vlug.
Pappa skree vir die manne om hom daar te los en te vlug. Hulle vlug.
O nee, pappa.
Ek kom terug. Ek kom help. Kom perdjie, kom ons moet Pappa gaan help.
Vat so jou Zoeloe.
Nog een, nog een, Pappa, hulle val!
Nou is my ammunisie op.
Eina! So assegaai brand waar hy jou tref! Kyk, Pappa, kyk die hoe mooi is die son. Hoor hoe sing die voëltjies.
Kyk hoe mooi is Natal… Mamma ek en Pappa is gelukkig bymekaar. Moet nie huil nie.”
ANDRIES PRETORIUS
“Pappa, hoekom is ons nou so haastig?
Ons het dan eers alles rustig daar op Graaff-Reinet afgehandel voor ons begin trek het.
Pappa sê hoeka mens moet dinge mooi bedink voor mens inspring en begin werk.”
“Ek weet Marthinus Wessel.
Ons moet altyd verstandig wees en eers mooi beplan.
Maar nou moet ons vinnig trek.
Ek los ons mense en hulle waens eers hier by die Modderrivier.
Ons sal hulle later kom haal.
Ons moet eers gaan help in Natal.
Daar is groot nood in Natal.
Piet Retief, die trekkers de leier en 100 van sy manne is deur die verraderlike Dingaan doodgemaak.
Die Zoeloes het die Trekkers by Bloukransrivier aangeval en sowat 500 mense daar doodgemaak.
Tydens ń strafekspedisie is Piet Uys, ń ander trekleier, by Italeni in ń hinderlaag gelei en ook doodgemaak.
Die Zoeloes bly aanval, hulle is baie astrant.
Hulle steek die veld en die waens aan die brand.
Hulle steel al die trekdiere en vee.
Gerrit Maritz is siek, baie siek, hy het boodskappers gestuur en ons hulp gevra.
So ons klompie manne is haastig op pad om die Trekkers daar in Natal te gaan help.
Onthou om ons kanon ook te saam te bring.
Ons gaan hom nodig kry.”
“Pappa, dan is die Trekkers daar in Natal nou mos sonder ń leier.”
“Ja, Marthinus. Dit gaan baie sleg met hulle daar
Hendrik Potgieter het ook teruggetrek met sy waens oor die Drakensberge. Hy gaan hom nou in die Transvaal vestig.
Hy wou juis nie Natal toe nie trek trek weens die Zoeloe gevaar.
Gelukkig is Karel Landman daar. Hy het solank die leiding op hom geneem om al die trekkers bymekaar te hou daar in die Sooilaer van Maritz.”
“Pappa, ons is net 60 man.
Gaan ons die mas kan opkom?”
“Natuurlik seun. Ons is 60 dapper man.
Ek het solank ook ń boodskapper vooruit gestuur en gesê hulle moet solank begin voorberei.
Dapper mans moet gekies word om Dingaan te gaan aanval.
Waens moet deeglik nagegaan word sodat alles reg is as ons daar kom.
Ons gaan die Zoeloes daar in Zoeloeland moet gaan aanval, anders gaan ons Trekkers nooit veilig in Natal wees nie.
Díe keer vat ons waens saam om ń laer te kan vorm en ons vat ook genoeg voorrade saam.
Wapens moet solank skoongemaak en heelgemaak word.
Koeëls en ammunisie moet genoeg wees.
Hulle moet ook solank veghekke maak wat aan die wawiele vasgemaak kan word. Geen Zoeloe moet onderdeur ń wa kan kruip nie.
Ons moet goed voorberei wees
Dingaan is ń gevaarlike vyand
Hy het duisende Zoeloes in sy mag.
Hulle is dapper en goed opgelei, elke een toegerus met ń werpassegaai wat hy vêr kan gooi en ook ń steekassegaai waarmee hy goed kan veg.
Hierdie Zoeloekrygers hardloop kaalvoet, stil en vinnig, vir dae lank.
As hulle na ń strooptog terugkom by Dingaan se kraal en hulle assegaaie is nie nat van bloed nie, sê Dingaan hulle is lafaarde en laat hulle sommer net daar doodmaak.
Hulle is bekend daarvoor dat hulle so beeshoring vorm en dan omsingel hulle die vyand.
Ons sal moet baie versigtig wees. Natal se bosse is ruig en bied baie skuilplek.
Nou kom manne, laat ons aanstoot.
Ons mense wag.
Hulle het hulp nodig.”
“Party manne daar wil oppak en vlug, hulle kry te swaar, maar die vroue staan vas.
Hulle sê hulle sal liewer kaalvoet oor die Drakensberge trek as om terug te gaan.”
*****
“Geluk Kommandant-Generaal Andries Pretorius .
Ons is trots op ons nuwe leier.”
“Dankie manne vir die vertroue in my.
Onthou net dissipline en samewerking is van uiterste belang
Ek verwag absolute gehoorsaamheid van elke een van julle 470 man.
Hou julle oë oop vir enige tekens van Zoeloes
Die patrollies wat vooruit ry, moet uiters waaksaam wees.
Ons beweeg nou al hoe nader na Ungungundlovu, Dingaan se stat.
Die Zoeloes mag ons nie verras nie.
Mag God ons help!
Sarel Celliers het ons mos reeds ń Gelofte laat aflê daar by wasbank. As God ons help sal ons hierdie dag as ń Dankdag vir altyd vier en ons sal ń kerk oprig tot Sy eer. Ons sal dit aan ons kinders vertel en hulle weer aan hulle kinders sodat ons God se volk kan bly.”
****
“Kommandant-Generaal , die Zoeloes is op pad. Duisende van hulle. Die Zoeloe spioene hou ons al paar dae lank dop.”
“Kom manne, ons moet dadelik laer trek. Hier is ń ideale plek.
Die slote en watergate hier sal ń stormloop moeilik maak
Hier tussen die sloot en die Ngomerivier en die diep seekoeigat trek ons die waens in so ń halfmaanvorm.
Waens dig teenmekaar.
Veghekke stewig vasmaak tussen die voorwiele en agterwiele.
Die Zoeloes sal ons net van een kant af kan aanval.
Maak al die perde en osse binne in die laer deeglik vas.
Pak hopies kruit en ammunisie reg
Kry Grietjie, ons kanon, ook reg.
Bid manne bid.
Sarel, laat ons weer ons Gelofte aan God herhaal.”
“Kommandant-Generaal Andries. Die Zoeloes gaan ons vannag aanval.
Die mis is dig en ons kruit gaan nat word.
Die lanterns wat daar buite die laer aan die sweepstokke hang, lyk spokerig.
Waar is die Zoeloes? Ons kan niks sien nie.”
“Manne die dag breek. Wees gereed vir ń stormloop. Wag op my bevel voor julle skiet.
Absolute gehoorsaamheid! Wees gereed.”
“Die mis lig!
Kyk die Zoeloes!
Almal sit op hule hurke hier om ons.
Tot daar ver teen die rante sit hulle.
Hoeveel is hulle ?
Ons is nie eers 500 man nie.”
“My vriend, minstens 15 000 krygers.
Daar storm hulle. Wag vir Kommandant se bevel.
Daar is die skoot, skiet!”
“Hulle storm weer en weer!
Die kruitdamp lyk al soos ń wolk.
Hulle val oor hulle eie dooies, maar storm keer op keer.”
“Kyk Kommandant. Hulle probeer deur Ngome rivier en deur die diep sloot kom.
Hulle staan glad op mekaar se skouers.”
“Skiet manne. Skiet akkuraat. Hou die diere daar vas dat hulle nie uitbreek nie.”
“Kyk, die rivier is al rooi van die bloed.
Kommandant, hulle vlug.”
“Skuif die een wa. Maak oop die hekke. Op julle perde. Jaag uit. Ons moet hulle jaag.”
*****
“Dapper manne, vandag het ons ń wonderwerk beleef.
Dank God.
3000 Zoeloes lê hier dood.
Van ons manne net 3 gewond
Bring elkeen ń klip. Hierdie klipstapel wat ons hier pak sal ons herinner aan ons Gelofte.”
** **
“Daar is Ungundlovu, Dingaan se stat.
Alles is afgebrand.
Dingaan het gevlug.”
“Kommandant, daar is Moordkoppie ook. Daar waar Dingaan vir Piet Retief en sy manne vermoor het.
Ons het hulle beendere daar gekry. Ons kon hulle aan hulle klere herken.
Kyk hier, Piet Retief se bladsak!
Binne in is nog steeds die koopbrief wat Dingaan onderteken het.
Ons het Natal gekoop.
Ons kan nou hier bly.
Ons kan plase uitmeet en begin boer.
Ons het die land met baie bloed gekoop.
Ons moet ń kerk gaan bou.
Ons moet ons mense van ons Gelofte gaan vertel.”