Springfontein Blokhuis Springfontein Konsentrasiekamp Beeldegroep Vrouemonument Vrystaat

Springfontein Blokhuis

Hierdie blokhuisie op ń koppie suid van Springfontein is sigbaar van die N1 af.

ń Metaalvlaggie met ń Britse vlaggie op wys die oorsprong van die blokhuis en ñ leertjie gebou oor die heining maak toegang maklik. Die blokhuis is op die plaas Prior Grange waar die eienaar Blackie de Swardt met groot sorg die blokhuis herbou het. Blackie het ń groot belangstelling in die ABO. Hy het die oorspronklike fondasie gevind en toe met die oorspronklike klippe die blokhuis herbou. Blackie het planne en fotos bestudeer by die Oorlogsmuseum en ń skietgat naby De Aar gebruik as voorbeeld van die Rice tipe blokhuis. Selfs die sinkdak is soos oorspronklike opgebou.

Skietgate is reg rondom blokhuis om ń fantastiese 360°uitsig te gee oor omgewing.

6 tot 7 soldate is in hierdie klein, beknopte huisie gehuisves met temperature wat wissel van yskoud tot vuurwarm gelang van seisoen. Soldate is na 3 maande afgelos deur ń nuwe span. Weens verveling het hul slange, spinnekoppe en akkedisse aangehou as troeteldiere.

Langs die trappe by die ingang is ñ klip met inskripsie “A Coy 1st Roy Ir Fus, Nov 1901” wat aandui dat A-Kompanjie van die First Royal Irish Fusiliers hier diens gedoen het.

ń Hele hoop geroeste blikkies (bully beef, stew en koekies -rantsoene ) lê hier langs die blokhuisie.

Binne die blokhuisie het Blackie blikkies, geweerdoppies en ander voorwerpe teen die dakbalke vasgespyker, sommige met datums en die naam van vervaardigers op.

Rede vir blokhuis

Springfontein was ń baie belangrike spoorwegaansluiting met hoofroete Johannesburg toe en aansluitings vanaf Bloemfontein, Port Elizabeth, Oos Lodon en ander Vrystaatse dorpies wat hier ontmoet het en moes beskerm word teen Boere aanvalle.

Springfontein was ook ń groot depot vir Britse soldate. ń Groot basiskamp op die Gibraltar heuwel oos van die spoorlyn is beskerm deur klipmure, wagposte, loopgrawe en blokhuise. Daar is baie fondasies van soorgelyke blokhuise in die area te vind. Hiervandaan is veldtogte geloods teen bv teen Genl Christiaan de Wet en ook later is Boere kommandos in Suid-Vrystaat van hier gejag.

Tussen Gibraltar heuwel en die spoorlyn was een van die grootste hospitale (Welsh Hospital) met 800 beddens, ñ veeartseny hospitaal met plek vir 400 perde asook ń depot vir vars perde vir die Britte. Hiervan het net ń vullishoop oorgebly (met baie gebreekte bierbottels).

Springfontein Konsentrasiekamp

Hierdie kamp wes van die spoorlyn het in Februarie 1901 ontstaan met 411 inwoners, oorspronklik beplan vir 500 inwoners. Meeste inwoners was bywoners, arbeiders of baie arm boervrouens en kinders wat bitter min besit het. Hulle is by kamp aangebring met slegs bietjie klere, meeste kaalvoet, dogtertjies in slooprokkies sonder onderklere. Emily Hobhouse het hierdie kamp besoek en haar beywer om lot van vroue en kinders te verlig. Onder streng beheer van William Gostling is kamp netjies en georden gehou maar die oop veld met weinig beskutting

teen windstorms en stofstorms het omstandighede haglik gemaak. Maart 1901 het die groot instroming begin en teen April 1901 was daar reeds 2300 inwoners. Water en tente was groot tekorte. Konsentrasiekamp is inderhaas by Bethulie ingerig om druk te verlig.

704 vroue en kinders is hier in Springfontein Konsentrasiekamp oorlede, veral tydens die strawwe winter van 1901. In die begraafplaas lê Boer en Brit langs mekaar, 700 vroue en kinders, 300 Britse soldate en eenkant 37 ongedoopte kinders. Ds. Sandrock wat die Boere bedien het, het geglo ongedooptes moet apart begrawe word.

Na die oorlog tot 1903 was hierdie ń hawe vir weeskinders en haweloses. Die hospitaal is omskep in ń weeshuis. Die kamp is gesluit Februarie 1903.

Beeldegroep

Die beeldegroep van die bedroefde vrou en haar kind aan die voet van die Vrouemonument het sy oorsprong hier in Springfontein. Emily Hobhouse het hier die ma gesien sit op ń trommel met haar siek kind se kop op haar knie. Daar was geen hulp of medisyne nie. Emily het probeer om medikasie te kry vanaf ń ander kamp, maar is meegedeel dat voorraad slegs vir sy eie kamp is. Toe die kind, haar enigste kind, stil sterf en die ma met ń spierwit gesig roerloos en traanloos die verte instaar terwyl vroue om haar huil en na die Hemel roep, het hierdie toneel ń blywende indruk op Emily gemaak. Sy het dit met Anton van Wouw bespreek en hy het hierdie tragiese deel van die Boervolk se geskiedenis meesterlik vasgelê in brons.

Bronne: Internet

Fotos: Gys Ströh snr. Januarie 2020.

Maak 'n opvolg-bydrae