2 Februarie 1659 Eerste wyn in die Kaap gepars / Jan van Riebeeck

2 Februarie 1659

EERSTE WYN IN KAAP GEPARS

John Roderick :

1659.

Jan van Riebeeck skryf op hierdie dag ( 2 Febr 1659) in sy dagboek dat die eerste wyn in die Kaap gepars was.

Hierdie druiwe was maar 2 jaar tevore aangeplant en het in daardie stadium ongeveer 14 liter wyn gelewer.

Hy beskryf die druiwe as die Muscadel-tipe en noem ook dat die Spaanse tipe nog groen is, maar dat die die trosse mooi vertoon.

Absolute baanbrekerswerk.

Bydrae deur Hendrik Strydom aan eggsa

Kommandeur Jan Anthonisz van Riebeeck het reeds op 13 Mei 1652 ‘n groot hoeveelheid van ‘n verskeidenheid sade en plante bestel wat hy aan die Kaap wou aanplant en toets, o.a. ook wingerd-stokke “wat goed behoort te aard op die heuwelhange soos in Spanje en Frankryk” Dit was egter eers op 22 Julie 1655 dat die jag “Leeuwin” die eerste wingerdstokkies na Tafelbaai gebring het. Dit is laat Augustus en vroeg September 1655 in die Kompanjiestuin geplant. Die eerste soorte wat geplant is, was muskadel, Fransdruiwe(Spaanse Palomino), Hanepoot (Muscat d’ Alexandrie). Die koloniste het groot sukses behaal met die eerste eksperimentele aanplantings.

Op die 2de Februarie 1659 kon die Kommandeur met trots aanteken: “Gode sy dank, vandag is vir die eerste keer van nuwe vars Kaapse druiwe mos getap.” Die eerste oes was maar skraps: slegs ‘n paar liter van meestal van muskadel en ronde wit druiwe met ‘n lekker geur en smaak – heel waarskynlik Chinin blanc. Hierdie dag, 264jaar gelede, was die geboortedag van die SA wynbedryf.

Die maak van wyn het waarskynlik in die Midde-Ooste ontstaan, êrens tussen die Kaukasusgebergte en die Middellandse See. Daarvandaan het dit versprei na China in die ooste en na Fenicië, Palestina, Griekeland, Frankryk, Duitsland, en Brittanje in die mistige Weste.

Die plek wat wyn in die beskawing beklee het, blyk duidelik uit die kleitablette van Babelonië en die klassieke geskrifte van die antieke beskawings van die Grieke en Romeine en selfs die Bybel. Hierdie ou beskawings het wyn beskou as’n gawe van die gode en was ‘n onafskeidbare metgesel van die mens. Gode soos Dionysus, Bachus, Osiris en al die gode van Olympus het die kelk gelig. Interesant dat die eerste wonderwerk van Jesus Christus was die verandering van water na wyn (Joh. 4:46). Prediker 9:7: drink jou wyn met ‘n vrolike hart. 1 Tim. 5:23: Gebruik ‘n bietjie wyn vir die maag en herhaaldelike ongesteldhede.

Toe feitlik alle kultuur tydens die Donker Eeue met vernietiging bedreig is, het die monnike by kloos-ters wingerde aangeplant, in stand gehou en die wynmaakkuns lewend gehou. Die deurlopende aanwesigheid van wyn as metgesel van die beskawing, kan beskou word as die verrykende element wat dit voorsien in ‘n behoefte in die mens se samestelling. Die welsyn van liggaam en gees het wyn geroep, veral in gemeenskap met sy medemens. Die genieting van wyn was nog nooit iets om alleen te beoefen nie. Die geskiedenis van wyn toon dat dit lei tot hoogstaande sosiale genot, geluk en vreugde.

As hierdie dinge nie deurentyd ‘n bydrae tot die mens se ontwikkeling gelewer het nie, sou die produk van die wynstok dalk heel aan die begin al sy einde in asyn gevind het.

Laat ons ‘n glasie klink, wyn drink en vrolik wees ! Lank leef die SA wynbedryf !

Bronnelys: Albertyn, CF: Ensiklopedie van die Wêreld; Boëseken, AJ: Onder Suidersterre; Bosman & Thom: Daghregister van Jan Anthonisz van Riebeeck III; Botha, L: Lekker verjaar SA wyn !, Landbou-weekblad, 8 Desember, 2022; Faber, T: Picturesque Winelands; Gilliomee & Mbhenga: Nuwe Geskiedenis van SA; KWV: Onthaal met Kaapse Wyne; McWhirter, A: Illustrated Encyclopedia of Essential Knowledge; Potgieter, DJ: SESA; Saunders, C: Illustrated History of SA.

Foto: https://www.benguelacove.co.uk

Maak 'n opvolg-bydrae