Woodville Big Tree
Groot Boom
Knysna bos
Hoekville
Podocarpus Falcatus
Outeniqua Geelhout Kalander
In die Wildernis Nasionale Park aan die voetheuwels van die Outeniqua berge staan hierdie statige ou dame – die Woodville Groot boom. Een van die enkele groot ou geelhoutbome wat nog in die Knysna bos oorleef. Ouderdom ongeveer 800 jaar!
Hierdie reuse ou geelhoutboom is 33 meter hoog, met ñ 9 meter omtrek by die stam. Die kroonwydte 34 m waarin talle voëls al vir honderde jare in nes maak en baljaar.
Inheemse voëls, vlermuise, insekte, ape, bosvarke leef in harmonie met hierdie ou bosreuse saam, eet die vrugte en vind skuiling onder die digte blare-dak.
“Soos ñ koning het hy, die kalander, tussen die wit-els en die bergdaffraan, stinkhout, assegaai en hardepeer om hom verrys. So asof God hom baie, baie lank voor die ander daar moes geplant het. Sy wortels het hom soos reuse-arms in die grond geanker en bo, waar sy lyf meer son gekry het, het die vaal bas in droë repe van hom afgehang. Deur die yslike dwarstakke, hoër as hoog, het ñ laaste ster teen die voordag-blou van die hemel geblink.
Die oumansbaard in sy takke het soos yl groen hare spookagtig in die wind gewaai. Dit was ñ ontsaglike groot boom; waar hy uit die bosvloer opgestyg het, was sy lyf so dik soos vyf osse s’n daamgebondel.” Kringe in ñ Bos – Dalene Matthee.
BOS
Volg die byna 2 km sirkelroete na en van die Woodville Groot Boom en ervaar die wonder. Die stilte, die voëlgesang en kabbelende water onder die blare-dak. Hier en daar ñ boom gemerk sodat leke-oog die verskillende soorte kan raaksien.
Skoenlappers fladder vooruit en enige oomblik verwag jy om ñ feëtjie raak te sien.
Fyn-fyn blommetjies, digte groen tapyt en bome wat lank-lank uitstrek na die sonlig daarbo.
“And into the forest I go to lose my mind and find my soul.” John Muir.
GEELHOUT
Imheemse geelhoutbome was en is ñ baie gewilde en gesogte houtsoort.
Gewild vir meubels, dakbalke, vloerplanke, deure, vensterluike.
Die harde reguit stamme ideaal veral vir die maste van skepe.
Tans is die stadig-groeiende inheemse Geelhoutbome beskermde bome en mag glad nie gekap, gesaag of beskadig word nie.
Mens kan ook nie anders as om saam met Dalene Matthee te wonder nie….
” Ek woon naby die Bos.
Jy ry kilometers ver deur die plase, denneplantasies en kreupelhout en jy vra jou af:
Wat het van die oerbos geword wat hier gestaan het?
In 1886 was daar tussen vier- en vyfhonderd olifante in die bos -die mooistes in die wêreld.
In 1972 was daar twaalf oor.
Waar is hulle heen?
Wie het die uitroeiwerk gedoen, en waarom?”
Groot bome:
http://monument-sa.co.za/die-groot-boom-knysna-bos…/
Foto’s: Gys Ströh Snr ( Gysbertus Johannes Ströh) en Corney Ströh ) Desember 2023
Samesteller Kobie Ströh