Vredefort / Huis op die Servituut – Fort / Kluisenaar Andries Petrus Hendricks / Grafsteen

Die Huis op die Servituut –

Vredefort Kommunikasie

Gesinsafdeling: Laaste rusplek van Vredefort se boggelrug-boer

Marie Cloete

Vredefort in die Suid-Vrystaat, wêreldbekend as gevolg van die Vredefort-koepel wat daar voorkom, huisves nóg ’n toeriste-trekpleister: Die praalgraf van ’n boer wie se lewe én dood die dorp laat gons het.

Die klein, plattelandse dorpie Vredefort lê in die streek wat algemeen bekend staan as die Riemland, sowat 15 km

suid van Parys. Dit het bekendheid verwerf as die plek waar die grootste en oudste impakkrater ter wêreld, naamlik die Vredefort-koepel, besigtig kan word.

Minder bekend is egter die feit dat dit ook die laaste rusplek van ’n enigmatiese boer van dié omgewing is.

Andries Petrus Hendricks, gebore op 3 Oktober 1910, is deur die Sotho-bevolking die bynaam Majaraposo (vrylik vertaal “die man wat die possak dra”) gegee vanweë sy boggelrug. Ondanks dié gebrek was hy ’n mooi man met ’n weglê-snor.

Daar is nie veel oor Andries se vroeë jare bekend nie, afgesien van die feit dat hy en sy ouer broer as jong manne hul ouerhuis verlaat het om hul eie potjie te krap. Hul bestemming was die Sperrgebiet, die verbode woestynkus van die destydse Suidwes-Afrika. Stories van diamante wat op die strand opgetel kon word, het waarskynlik ook húl ore bereik.

Hulle is dié onherbergsame gebied met ’n donkiekar in waar hulle byna omgekom het. Vier maande later het hulle egter as ryk manne teruggekeer.

Andries het daarna ’n plaas in die distrik Vredefort gekoop. As hy skatte vergader het, het hy nie daaroor gepraat nie. Weens sy fisieke gebrek was hy ’n eenkant-mens met min vriende. Tog het hy in die huwelik getree, maar dié verbintenis was van korte duur. Die opinie was dat sy suinigheid sy vrou genoop het om hom te verlaat. Sy moes glo water met ’n emmer na die huis aandra en Andries het glo geweier om die kragopwekker saans te laat loop sodat sy radio kon luister.

Die enkele mense wat met hom bevriend was, het erken dat hy hardvogtig, suinig, skuins beneuk en selfs liefdeloos kon wees.

Hy was ook openlik rassisties en het aan sy familie gesê dat as hy eendag in die hemel kom en anderkleuriges daar aantref, hy net daar sou omdraai. Hy het ook voorspel dat hy deur anderskleuriges om die lewe gebring sou word. Nogtans het hy ’n swart vrou as huishulp in diens geneem.

Mense wat hom nie geken het nie, was onder die indruk dat Andries brandarm was. Hy is deur dorpenaars opgemerk waar hy ysterpale en ander benodigdhede met groot moeite agterop ’n fiets na sy plaas vervoer het. Diegene wat hom geken het, het geglo dit was omdat hy te suinig was om brandstof vir sy bakkie te koop.

Andries was bekend as ’n hardwerkende man, maar het algaande meer eksentriek geword en ’n kluisenaarsbestaan gevoer. In sy sestigerjare wou hy vir hom ’n verskansing bou wat beskerming sou bied as hy aangeval sou word. Dit het by hom ’n obsessie geraak.

VOORWAARDElik verkoop

Hy het sy plaas verkoop op voorwaarde dat hy tyd gegun sou word om dié skansplek klaar te bou voordat hy die plaas ontruim. Hy het slegs ’n smal strook servituut vir dié doel behou. Ná registrasie was dit ook bekend as die kleinste opgemete plasie in die Vrystaat.

Die “fort”, soos dit later bekend sou staan, het sy naam gestand gedoen: ’n Onaansienlike, ontoeganklike sementstruktuur wat uit drie vlakke bestaan het.

Daar was net een ingang na die fort – deur die garage. Andries het selfs gepoog om ’n deel van die vloer te laat draai. Die idee was dat hy ’n sirkelvormige basis ontwerp waarop hy sy bakkie sou trek. Dié basis sou dan, met behulp van ’n wenteltoestel, 180º kon draai sodat hy weer kon uitry. Só sou hy vinniger kon wegkom as hy skielik oorval sou word. Ná vele mislukkings het hy dié voorneme laat vaar.

Hy het immer ’n yslike bos sleutels en ’n laphoed gedra. Mense wat hom wél besoek het, het geweet hy is nie tuis nie wanneer ’n slot buite aan die garagedeur gepryk het.

Andries het op die grondvlak van die fort gewoon. Om op die tweede vlak te kom, moes hy ’n leer gebruik om deur ’n luik in die plafon te klim. Sodra hy bo was, is die leer agter hom opgetrek sodat niemand hom kon volg nie. Op dié vlak het Andries sy arsenaal vuurwapens en ammunisie gebêre. Skietgate is teen die buitenste mure aangebring vanwaar hy op die “vyand” sou terugvuur.

Vanaf dié vlak is die plafon gebruik om op die boonste vlak te kom. Dié opening is met ’n kluisdeur verseël en die laaste vlak was bloot ’n balkon wat as uitkykpos sou dien.

Die mense wat Andries besoek het, se verhale was dikwels weersprekend.

Almal was dit egter eens dat hy ’n opgaarder van formaat was. Kook-, bak- en vries-toestelle wat met elektrisiteit, gas, steenkool of paraffien gewerk het, het oral teen die mure gestaan. Die meeste daarvan is nooit gebruik nie. Groot hoeveelhede blikkies- en ander nie-bederfbare kos is opgegaar sodat hy selfversorgend sou wees wanneer hy aangeval sou word.

Die spens was die bêreplek van ’n yslike kragopwekker wat hy van ’n hospitaal gekry het. Hy het dikwels gespog dat dit groot genoeg was om die hele Vredefort van krag te voorsien.

Andries het banke met agterdog bejeën en sy geld, asook ’n muntversameling, oraloor weggesteek en toegesluit, vandaar die groot bos sleutels. Gerugte het ook die ronde gedoen dat hy kiste, wat goue ponde bevat het, onder sy bed gehou en ander waardevolle artikels in die mure ingesement het. Hy het vir water laat boor en toe eiehandig ’n rioolput buite gebou. Dié put sou later ’n makabere opbergplek word.

Andries het naamlik besluit om ’n kamer agter die fort te laat bou vir sy huishulp wat vir meer as 30 jaar vir hom gewerk het. Sy is gevra om ’n paar werkers te kry om met dié bou- en messelwerk te help.

Wát daarna gebeur het, sal net Andries en sy aanvallers weet. Sy huishulp het twee van haar familielede na die fort gebring om die bouwerk te bespreek. Daarna wou hulle ’n byl by hom leen om hout vir ’n vuur te kap. Andries het vir hulle ’n byl gegee, maar is vermoedelik met die omdraaislag daarmee aangeval. Sy lyk is in die rioolput gegooi.

Die volgende paar dae het mense sy bakkie oral opgemerk waar dit op plaaspaaie in die omgewing beweeg het, maar niemand het hom ooit self gesien nie. Teen dié tyd was sy aanvallers reeds besig om die plek te stroop en sy besittings te verkoop.

Een oggend het ’n vriend by die fort opgedaag, net betyds om Andries se bakkie te sien wegry. Die slot was nie aan die buitedeur nie en hy het ’n sak het eenkant gesien lê. Binne-in was Andries se bloedbevlekte hoed.

Andries het dus gesterf soos hy voorspel het. Sy lyk het vermoedelik bykans ’n week lank in die put gelê saam met ’n yslike, swart slang wat dit as sy slaapplek uitgesoek het.

Sy huishulp en haar seuns is aangekeer. Hulle is verhoor en al drie is later ter dood veroordeel.

Andries se muntversameling was ongeskonde. ’n Vriend het die plek opgespoor waar hy dit versteek het. Sy dogter, toe nog ’n klein meisietjie, onthou hoe hulle ’n tafeldoek gebruik het om die geld in bymekaar te skraap en na Andries se prokureur te neem.

BOEDELGELD vir grafsteen

Die bepalings van Andries se testament was ondubbelsinnig: Sy besittings moes verkoop en ál die geld vir sy grafsteen gebruik word. Die grafskrif en sy uitleg is vooraf bepaal. Net genoeg geld moes uitgehou word om weekliks blomme op sy graf te sit.

’n Vendusie is gehou wat volgens gerugte deur die ganse Vredefort bygewoon is.

Die fort sélf is eers verkoop waarna ál Andries se ander besittings opgeveil is. Los goedere is in bondels verkoop. Iemand het vensterrame en hout gekoop en later beweer dat hy ’n geweer tussen die bondels hout gekry het. Andries se bed en matras is aan ’n vrou verkoop wat later vertel het dat sy baie geld in die matras gevind het.

Saam met die opbrengs van die vendusie was daar soveel geld uit die boedel be­skikbaar dat die beste marmer uit Italië vir Andries se grafsteen ingevoer is. ’n Lewensgrootte figuur met ’n papierrol en lammetjie op sy een arm het op ’n hoë basis gestaan. ’n Halfsirkel van ses pilare het dit omring. ’n Metaalplaat het die beeld se voetstuk omring waarop die volgende in reliëfwerk uitgebeeld is: 3-10-1910 Andries Petrus Hendricks 12-5-1981. Gone and forgotten – nes hy dit in sy testament bepaal het.

In 2009 het vandale die graf van Majaraposa geskend. Die beeld se kop en een hand is afgekap en van die kleiner beelde is gebreek en rondgestrooi. Die graf was reeds lank sonder enige blomme, waarskynlik omdat die geld daarvoor opgebruik was. Drie seuns uit die blanke gemeenskap is vir die grafskending gevonnis.’n Mens kan net wonder wat Andries van dit alles sou sê.

Andries se grafbeeld, asook ander beskadigde grafte in die omgewing, is later deur ’n vrou op Vredefort en ’n grafsteenmaker herstel. Die begraafplaas en sy graf is ook later omhein.

Bron: Malan, Riaan. My traitor’s heart.

Marie Cloete is ’n vryskutjoernalis wat op Stellenbosch woon.

Bladsy 98 – 99

Fotos en inligting Mariette Else Pieterse: Desember 2018

Mariette Else Pieterse Oom Andries het ook met elke sementblok wat hy gegooi het die datum en sy voorletters daarop uitgekrap. Die oudste een wat ek gekry het was by die hek – 24-4-62 AH. Ek het die plek 10 jaar terug gekoop op n veiling. (2018)

Fotos Gy Ströh snr Februarie 2019

Grafsteen:

3.10.1910 Andries Petrus Hendricks

12.5.1981 Gone and Forgotten.”

Maak 'n opvolg-bydrae