Durbanville Plein
Simboliese Ossewatrek
9 Augustus 1938
Die Simboliese Ossewatrek vanaf die Kaap tot in Transvaal word gereël om die Eeufees van die Groot Trek te herdenk, 1838-1938
Verskeie ossewaens trek kruis en dwars deur die land om by soveel moontlik dorpe en historiese terreine aan te doen.
Duisende mense het die waens ingewag en orals op die roetes is feesgevier. Klein monumentjies en veral klipstapels is orals op die pad opgerig. Party het goed behoue gebly.
Die Simboliese Ossewatrek begin 8 Augustus 1938 by Jan van Riebeeck se standbeeld.
Massas mense is daar teenwoordig toe die osse die langpad aandurf.
Een van die eerste punte waar aangedoen word is die waterpunt of uitspanplek op die plaas wat Pampoenkraal genoem was.(Vandag Durbanville)
Dit was ñ belangrike waterpunt vir mens en dier op die handelsroete oftewel wa-pad na die binneland. Die waterpunt was gevoed deur ñ fontein. Die Kuilsrivier ontspring nie ver van hierdie uitspanplek nie en het hier deur gevloei. Tans word die water met ñ voor deur hierdie historiese terrein gelei.
Hierdie uitspanplek is op die geskiedkundige kruispad na die Kaap, die kus, die Swartland en die Boland.
Die eerste waens bereik Durbanville (waterpunt) reeds al op 9 Augustus.
Op die terrein word ñ graniet monumentjie opgerig om hierdie historiese geleentheid te onthou.
Die historiese uitspanplek word die Durbanville plein genoem of Durbanville / Pampoenkraal Heritage Square.
Die stad Kaapstad het die plein opgeknap en ook kleurvolle osse daar geplaas.
Die terrein word netjies onderhou, maar kommer heers oor skade wat klouterende kinders moontlik kan veroorsaak.
Ongelukkig is daar nie bordjies wat die geskiedkundige inligting beskryf nie.
Die monumentjie wat tydens die Simboliese Ossewatrek opgerig is, is nog in ñ goeie toestand. Die inskripsie net moeilik leesbaar.
Lees meer:
https://monument-sa.co.za/simboliese-ossewatrek-groot…
Bronne: Exploring Durbanville. Heritage Portal: Walking tour of historic Durbanville. Dankie Roché Walker Petersen vir ekstra inligting.
Foto’s: Dankie Levina Vermeulen November 2024



