1 Maart 1510
Dom Francisco D’Almeida en 65 van sy manne sterf in ñ botsing met die inheemse bevolking aan die suidpunt van Afrika.
SEEROETE OM DIE KAAP: DOM/N FRANCISCO D’ALMEIDA 1510
WAAROM WAS DIE SEEROETE OM DIE SUIDPUNT VAN AFRIKA SO ‘n GEVREESDE ROETE?
(Eggsa – Bydrae deur Kobie Ströh)
Daar was verskeie hindernisse in die pad van ‘n vaart om die suidpunt van Afrika.
Die altyd-sigbare Poolster waarvolgens die breedtegraad op see bepaal is, verdwyn suid van die ewenaar. Dit het gemaak dat roete en ligging moeilik bepaal kon word in die onbekende suidelike Halfrond.
Portugal het ‘n gunstige ligging gehad ten opsigte van die vind van ‘n ander handelsroete na die ooste. Daarvoor was die Potugese Ryk voortdurend in stryd om uit te brei.
Die Kaap die Goeie Hoop was eerste deur die Portugese seevaarder, Bartolomeus Dias, in 1488 omgevaar, wat dit die “Kaap van Storms” (Cabo das Tormentas) genoem het.
BARTOLOMEUS DIAS
Bartolomeus Dias,’n gesiene edelman aan die Portugese hof het met twee skepe van omtrent vyftig ton elk en ‘n voorraadskip die vaart na die suide aangepak. Hy het al langs die Afrika kus gevaar, verder suid as sy voorgangers. Die opdrag van Koning Johan II van Portugal was om op ‘n ontdekkingstog te gaan met die oog op toekomstige handel.
Dias het naby aan die kus gehou en aan die kape en baaie op weg het hy name gegee. Hy het verskeie plekke langs die kus suid van die Kongo-mond besoek en selfs ‘n klipkruis opgerig.
‘n Sterk wind wat dae lank geduur het, het sy skepe ver suid gedryf en geen land was meer in sig nie. ‘n Ooswaartse vaar het geen land opgelewer nie, en die rigting is toe verander noordwaarts. Sodoende het hulle weer die Afrika-kus gevind . By ‘n baai (Huidige Mosselbaai) is vars water gevind.
‘n Aantal Portugese het aan wal gegaan, maar later, toe die Portugese besig was om water in te neem, is hulle deur die inboorlinge met klippe bestook. Dias moes op die inboorlinge skiet en een inboorling is so gedood.
Dias moes op aandrang van sy bemanning omdraai en terugvaar, aangesien hulle reeds uitgeput was van die stryd teen see en storms en skeerbuik het hulle verder verswak.
Hulle het egter ver genoeg gevaar om te kan besef dat ‘n seeweg na Indië om Afrika moontlik is.
In April 1488 het Dias ‘n kaap ontdek waaraan hy die naam Kaap van Storms gegee het as herinnering aan die stormagtige weer wat hulle daar moes trotseer het. Later het Koning Johan II die naam verander na Kaap van Goeie Hoop omdat Dias se ontdekkings goeie hoop vir ‘n seeweg na Indië gegee het. Dit sou egter nog jare duur voor hierdie seereis eers voltooi kon word.
VASCO DA GAMA
1497 het Vasco da Gama die roete aangepak om verdere verkenning te doen.
November 1497 het die Portugese St. Helenabaai binnegevaar, waar hulle ‘n week vertoef het om herstelwerk aan hulle skepe en seile te verrig en om brandhout, voedsel en water in te neem. Hier het hulle ook met die inboorlinge kennis gemaak en soos in die geval met Dias het dit op ‘n botsing uitgeloop. Da Gama en van sy manskappe is verwond.
Op 22 November het die vloot verby die Kaap die Goeie Hoop geseil en drie dae later in die baai van São Brás (Mosselbaai) anker gegooi. Hier is die voorradeskip opgebreek en sy vrag op die ander skepe oorgelaai. Ook hier is met die inboorlinge kennis gemaak en ‘n bietjie ruilhandel het plaasgevind. Die vriendelikheid van die Khoikhoi (inboorlinge) het egter weldra omgeswaai toe die Portugese water ingeneem het. ‘n Klipkruis wat Da Gama in die baai opgerig het, is gou deur die inboorlinge verniel.
Op Da Gama se verdere reis het hy kennis gemaak met Portugal se ou godsdiensvyande, die Mohammedane. Die stryd begin tussen die Portugese en die Arabiere wat monopolie oor die handel in die Indiese Oseaan en sy kusgebiede gehad het. Dit was vir die Portugese ‘n voortsetting van die langdurige stryd wat die Christene en Moslems gevoer het.
Da Gama het ondanks die vyandskap van die Arabiere, nuttige verkenningswerk aan die Afrikaanse ooskus verrig. Sy hooftaak as verkenning was geslaagd.
Na ‘n afwesigheid van twee jaar kon hy na sy vaderland terug te keer. Daar was slegs twee van die oorspronklike vier skepe oor en gedurende die reis het omtrent twee-derdes van sy manskappe gesterf, meeste weens skeurbuik.
HINDERNISSE EN VRESE
Gedurende hierdie eeu van Portugese heerskappy is geen poging aangewend om in Suidelike Afrika ‘n nedersetting te stig nie. Suidelike Afrika was vir die Portugese ‘n lastige hindernis wat die seeverkeer met Indië verleng en gevaarlik gemaak het.
Van die hindernisse was:
Die maande lank wat op see deurgebring moes word.
Muitery op en van skepe.
Siektes, veral die gevreesde skeerbuik.
Storms en windstiltes. Veral die kus van Afrika met sy gevaarlike storms, winde en seestrome het die Potugese afgeskrik.
Die inheemse bevolking was onvoorspelbaar en gevaarlik en volgens die Portugese te arm vir handeldryf. Die vyandige inboorlinge het vrees ingeboesem en die Portugese het hulle as barbaars beskou, mense met wie daar nie handel gedryf kon word nie.
Die suidpunt met sy gevreesde rotsagtige kuslyn was nie verniet die Kaap van Storms genoem nie, die oorsaak van menige gestrande skepe.
Die natuurlike onherbergsaamheid van die land, die skaarste aan natuurlike hawens, woestyne en hoë bergreekse wat die kus van die binneland afgesluit het en die gebrek aan bevaarbare binnelandse waterweë was alles hindernisse vir die skeepsvaart.
Nogtans was dit noodsaaklik vir skepe om aan te doen vir vars water en om moontlik kosvoorraad aan vul.
Mosambiek en ander plekke soos St Helenabaai was was veiliger en daar kon skepe eerder voorsien word van water, vars vleis, vrugte en groente.
Ander Europese nasies het egter toenemend aan aan wal gegaan aan die suidpunt van Afrika op soek na vars water en voedsel vir die matrose tot daar in 1652 ‘n Halfwegstasie in die Kaap ingerig is.
DOM/N FRANCISCO D’ALMEIDA
Don Francisco D’Almeida (c. 1450 Lissabon – 1 Maart 1510 Suidelike Afrika) was ‘n Portugese edelman, soldaat en otdekkingsreisiger.
Hy het homself onderskei met groot suksesse en dapperheid , veral in die oorlog teen die More (Moslem-inwoners wat in dele van Suid-Frankryk en Noord-Afrika ) gewoon het.
1509 was D’Almeoda die eerste Portugees wat Bombaai bereik het.
Sy suksesse was direk die oorsaak daarvan dat die Ottomans en Egiptenare die Indiese Oseaan verlaat het . Die gevolg was dat die Portugese die handel in die Indiese Oseaan vir meer as 100 jaar oorheers het tot hierdie heerskappy in die 17de eeu deur die Hollanders en Engelse beëindig is.
1505 tot 1509 dien D’Almeida as die Onderkoning van die Portugese State van Indië.
November 1509 vertrek hy terug na sy Vaderland ( Portugal ) toe. Sy opvolger, Affonso d’Albuquerque, sou die pos as onderkoning oorneem. Hy pak die terugtog met ‘n vloot van 3 skepe, die Garcia, Belèm and Santa Cruz, aan.
Februarie 1510 gooi hulle anker in die baai wat later as Tafelbaai bekend sou geraak het. Hier het hulle suksesvol handel gedryf met die inheemse bevolking (die Goringhaiqua / KhoiKhoi / Hottentotte) en hulle watervate opgevul.
Verskillende en uiteenloende verslae beskryf wat volgende gebeur het:
‘n Groep van 12 van die bemanning het die inheemse mense na hulle kraal toe vergesel.
Een verklaring lui dat die inheemse mense van die bemanning se goed soos o.a. messe gesteel het en ‘n rusie het uitgebreek tussen die Portugese en die KhoiKhoi.
Volgens ‘n ander verslag het die soldate blykbaar van die inboorlinge se vee gesteel sonder om daarvoor te betaal.
Die moontlikheid dat die inboorlinge gevrees het dat die Portugese daar ‘n fort sou oprig en hulle kosbare water sou oorneem is ook nie uitgesluit nie.
Op hulle terugtog na die strand is hulle egter aangeval en moes hulle vir hulle lewens vlug voor die KhoiKhoi mense. Hulle het bebloed en beseer die veiligheid van hulle skepe bereik.
Aan boord van die BELEM was Don Francisco D’Almeida gewees. Die bemanning smeek die onwillige D’Almeida om as vergelding teen hierdie vernedering en die aanranding op te tree.
Hy besluit om op te tree in ‘n vergeldings-aksie en om hulle te gaan straf.
1 Maart 1510 keer hy en sowat 150 man, sy beste manne, terug strand toe, gewapen met swaard, lans en kruisboog.
Die krale/statte was ‘n bietjie verder op as die plek waar die skepe geanker was en om die afstand te voet te verkort, het die bote /skuite langs die kus tot digby die krale gevaar.
Hulle het daar aan wal gestap en die onderkoning, Don Francisco, het aan sy skipper, Diogo d’Unhos, bevel gegee om daar met die skuite te wag en om nie van die plek af weg te gaan nie.
Hy laat 2 van sy kapteins, Kaptein Pedro and Kaptein Jorge Barreto toe om terug te keer na die KhoiKhoi se stat toe. Hulle roof toe ‘n klomp vee en gryp selfs ‘n paar kinders.
Die woedende Hottentotte (KhoiKhoi) was ongeveer 170 man sterk en val die soldate aan met klipppe en assegaaie terwyl hulle die beeste as bewegende skilde gebruik. Die soldate se wapens was nutteloos en so sonder skild kon hulle niks teen die akkurate gooi van die KhoiKhoiso wat so tussen hule beeste skuil uitrig nie. Van die gewondes is deur die beeste vertrap. Die soldate moes desperaat op vlug slaan.
Hulle val vegtend terug tot hulle uitgeput kom op die plek waar die bote moes gewag het, maar die bote was nie daar nie. Diogo het ondertussen opgemerk dat die see onstuimig raak en dat daar ‘n storm aan die opsteek is. Hy het die bote/skuite ter wille van veiligheid verskuif tot naby die skepe.
Die uitgeputte en paniekerige soldate was total magteloos en kon in die dik laag seesand nie vinnig genoeg wegvlug voor die ratse kaalvoet KhoiKhoi-manne nie.
Van die soldate het in die water ingevlug terwyl ander met die buit probeer wegkom het.
Van die dapperstes het tevergeefs die onderkoning probeer beskerm, maar hy en 65 man, insluitende 11 van sy offisiere word daar op die strand doodgegooi met klippe en stokke (assegaaie), hulle koppe word met groot klippe verbrysel.
Die gewondes is na die skepe toe geneem en laterhet Jorge de Mello en van die manne teruggekeer om die dooies daar op die kus te begrawe .
Die skepe het anker gelig en teruggekeer Portugal toe waar hulle die ontstellende gebeure bekend gemaak het.
Die dood van die onderkoning, Don Fransisco, het ‘n groot opskudding in Portugal veroorsaak en die land was in rou gedompel.
Hierdie tragiese gebeurtenis het ‘n groot invloed op Porugal se handel in Suidelike Afrika gehad en dit feitlik tot stilstand gebring.
Bronne en Foto’s: Afrikanergeskiedenis .Wikipedia
Die dood van Francisco d’Almeida. UP University of Pretoria


