Rustenburg Kloof

Rustenburg Kloof

Rustenburg

Noordwes

Die dorp Rustenburg pryk aan die voet van die indrukwekkende Magaliesberge.

Die mees prominente kenmerk van hierdie area is die Rustenburg Kloof, ‘n groot spleet in die kranse, hoog teen die berg.

Hierdie kloof is duidelik sigbaar en is stille getuienis van jare se woelinge hier onder aan die voet van die kloof: Botsings tussen Afrika stamme, aankoms van eerste Trekkers, pioniers, Anglo-Boereoorlog, Italiaanse krygsgevangenes tydens WWII, rebellie, opstande, kerkstigting, bloeityd van boerdery en die voorspoed wat mynbou teweeg bring, ens.

Selfs die bekende kunstenaar JH Pierneef kon dit nie weerstaan om hierdie kloof, met sy massiewe rotsformasies keer op keer te skilder nie.

WATER UIT DIE KLOWE

Die oorvloed van water uit die klowe dwarsdeur die jaar het verseker ‘n groot rol gespeel in die vestiging van Rustenburg .

Talle fonteine voed die stroom onder in die kloof, die stroom word genoem die Dorpspruit.

Meeste van die fonteine ontspring in klowe op verskuiwings of prominente nate in die kwartsiet o.a. op Rietvallei, Donkerhoek, Buffelshoek en Modderfonein.

Uit die Eerste Kloof en die Tweede Kloof aan die oostekant van die Magaliesberg het sterk water gevloei, wat met watervore na die dorp gelei is om water aan dorpsinwoners te voorsien.

Die Veldkornet Paul Kruger het opdrag gekry (+-1851) om ‘n watervoor vanaf die Kloof na die nuwe dorp te laat aanlê. Met behulp van boere en plaaslike inwoners is ‘n dam of keerwal by die Kloof gebou om die water uit die 2 klowe op te dam en dan die oorloop in die Dorpswatervoor uit te keer. Die watervoor het reguit dorp toe geloop waar dit met sluise beheer was. Watererwe kon dan op vasgestelde tye water by die straatsluis afkeer vir eie gebruik. Streng beheer was uitgeoefen deur die Waterfiskaal.

DIE TWEE KLOWE

Eerste intrekkers in area ongeveer 1840. (Hendrik Ströh, Hendrik Potgieter, Paul Kruger)

1850 aanlê van die dorp Rustenburg.

Die swempoele van die Eerste en Tweede Klowe was ‘n gewilde afkoelplek veral vir jongmense.

Uittreksel uit Die Geskiedenis van Rustenburg ongeveer van 1840 tot 1940 deur N A Coetzee p. 208/209:

DIE TWEEDE KLOOF (p 208)

” Die TWEEDE KLOOF kon van ver oos gesien word, selfs van die Ou Dorp Rustenburg af, die water het met ‘n waterval na onder gekom, uit die Paradyskloof, wat ‘n nou diep skeur was en waarin die water van die opvanggebied en van die fonteine hoër op stadig afgespoel het.

Dit het verskillende swempoele gemaak vir die plesier van diegene wat dit so ver op die berg gewaag het.

Hierdie Tweede Kloof se rotsformasies het voorheen anders gelyk as vandag want op ‘n sekere Sondagmore in die jaar ongeveer 1922 het van die hoogste rotse aan die linkerkant (Suidekant) skielik afgetuimel met ‘n oorverdowende geluid saam met ‘n groot stofwolk, selfs van die dorp af kon die slag gehoor word.

Die pragtige poele en swemplekke onder is toegeval met groot rotsblokke en die rivierloop verder af is ook met die rotsblokke bestrooi.

(Kyk na meegaande ou foto’s van die ou en nuwe Tweede Kloof).

DIE EERSTE KLOOF (p 209)

Die EERSTE KLOOF kon nie van onder op die vlakte of Rustenburg gesien word nie, mens kom met die pad onder by die poele en dan gaan mens langs die water met verskillende poele en swemplekke op na regs om by die waterval van hierdie kloof uit te kom. Daar het die besoekers en jongmense ‘n voetpad teen die steilte aan die linkerkant van die waterval uitgetrap om by die BLOUGAT en verder by die GLYKLIP uit te kom.

BLOUGAT

Die Blougat was die beroemde swem- en duikplek van die jeug, met ‘n groot blou diepte wat die waaghalsige duikers van uit groot hoogtes bo op die totd opgevang het, ‘n ysingwekkende duiksprong wat liewers met die voete na onder gewaag moet word.

GLYKLIP

Die Glyklip was ongeveer 40 – 50 voet lank en daar kon met die skuinste daarmee afgeseil word op jou kale bas of op ‘n turksvyblaar wat vooraf van dorings skoongemaak is.

Die kwartsklip waaroor die water gevloei het, was geweldig glad en mens moes versigtig wees met die wegspring.

Die glyery het onder in ‘n poel water geëindig, groot genoeg om jou op te vang en te briek, want die glyery het al vinniger en vinniger gegaan, volgens die wette van die aarde.

Om nie skeef uit te gly en in die gruis langsaan te beland nie het die seuns ñ no. 10 gladdedraad gespan waaraan lossies vasgevat kan word as enigste stuur om rigting te hou.

Die Glyklip se water kon vanaf die dorp gesien word as die son reg sit vir die weerkaatsing. In geval die Glyklip gesien kan word het die jongmense geweet dat daar water is en dan was die Kloof toe gaan ‘n uitgemaakte saak op ñ Saterdag. Party het saamgegaan net vir die kyk, ander wat meer waaghalsig is, het die vertoning op die Glyklip af gegee en die duikery in die Blougat gewaag. Vandag nog is dit een van die vakansie-aantreklikhede van die Rustenburgse Kloof.”

RUSTENBURG KLOOF TANS

As daar vandag gepraat word van Rustenburg Kloof is meeste mense onder indruk dat dit die Vakansie oord en Karavaanpark is wat later hier gevestig is. Lieflike terrein goed toegerus en met staproetes in die Rustenburg Natuurreservaat.

Ongelukkig is verwaardlosing en onoordeelkundige benutting huidig ook al hier sigbaar.

Maar die KLOOF bly indrukwekkend en laat die besoeker nederig voel.

Bronne: Rustenburg Kloof. Geology of Rustenburg.

Die Geskiedenis van Rustenburg ongeveer van 1840 tot 1940 deur N.A. Coetzee. (Ook ou foto’s).

Foto’s: Gys Ströh snr Junie 2023.

Samesteller: Kobie Ströh 2023

Maak 'n opvolg-bydrae