PERDE IN ONS GESKIEDENIS

PERDE IN ONS GESKIEDENIS

Perde is bekend vir hullle krag, spoed, ratsheid, uithouvermoë, lojaliteit, sagte geaardheid, hardheid en dapperheid.

Feitlik elke volk en elke nasie het op sy eie manier van perde gebruik gemaak.

Beskawing en handel sou nooit sonder die perd so vinnig kon versprei het nie.

Die vroeëre beskawings het almal tekens dat hulle perde besit, geteel en gebruik het.

Die nasies wat nie perde gehad het nie het meestal agterlik gebly.

‘n Beroemde skrywer, John Trotwood Moore, het geskrywe dat oral waar die mens sy voetspore gelaat het in die lang opdraand van barbarisme na beskawing, sal ons vind dat die spoor van die perdehoef langs die mens se voetspoor lê.

Die beeld van ñ man te perd het die simbool van mag geword.

Die Boer se liefde vir sy perd is alom bekend.

PERDE EN DIE MENS

Die ou grotmense van die Steentydperk het die perd gejag vir sy vleis en in opgrawings word hope perdebene gevind wat kaalgeëet is.

Die Ariese volke wat die grasvlaktes noord van die Kaspiese see bewoon het, was die eerste mense wat die perd getem het. Hulle het die perd as trekdier gebruik, veral vir oorlogswaens.

Geleidelik het die perd gewild geraak as saaldier.

Ongelukkig vir die perd het sy uitsonderlike eienskappe hom uitstekend geskik gemaak het vir oorlogvoering.

Gedurende die 17de en 18de eeu is perde in groepe gebruik as aanvalsmag tydens oorlog. In die 20ste eeu word perde in guerilla-oorlogvoering gebruik deur individue.

DIE PERD IN DONKER AFRIKA

Ten spyte van die gewildheid en gebruik van perde in Europa en Asië, die gerugte van ivoor, goud en koper in Zimbabwe en in die Koningin van Skeba se myne en die talryke wilde diere wat gebruik kon word in die Romeinse arena spele, het sentraal en suidelike Afrika ontoeganklik vir perde gebly vir eeue lank.

Die gevreesde perdesiekte het die vervoer van perde van die noorde na die suide van Afrika onmoontlik gemaak.

Epidemies van perdesiektes het keer op keer uitgebreek en honderde perde het gevrek. Lord Randolph Churchill, vader van Winston Churchill, het in 1891 SA en Rhodesië besoek. Hy het beskrywe dat die pad tussen Tuli en Fort Victoria letterlik besaai was met die karkasse van dooie perde en muile.

Perde wat die gevreesde perdesiekte gehad het en oorleef het, was beskou as “gesout” en was kosbaar vir sy eienaar.

Niemand het geweet wat hierdie perdesiekte veroorsaak het nie. Vir baie jare was geglo dat dou op die gras die oorsaak van perdesiekte was. Eers in 1944 is vasgestel dat ‘n nagtelike muggie die draer van die siekte is.

EERSTE PERDE IN SUID-AFRIKA

Voor die koms van blankes na die Kaap in 1652 was perde heeltemal onbekend in suidelike Afrika.

Die Hottentotte het glad nie perde geken nie.

Die dodelike siekte perdesiekte was waarskynlik hiervoor verantwoordelik.

Jan van Riebeeck stap April 1652 aan wal met sowat 100 manne met die doel om ‘n verversingspos hier aan die suidpunt van Afrika te stig, ‘n reuse taak.

1653 stuur die VOC op versoek van Jan van Riebeeck perde uit Java na die Kaap om die werk te help ligter maak. Slegs 3 perde het hierdie seereis oorleef. Aanvanklik was Jan van Riebeeck baie teleurgrsteld oor hierdie klein en ligte perde, maar spoedig besef dat hulle geharde diere was en goeie werkers. Hierdie perde was van Arabiese en Mongoolse oorsprong en van die ras bekend as Suidoos-Asiatiese ponies.

Jan van Riebeeck se ryperd, Rode Vos, was die eerste ryperd in SA.

Teen 1662 was daar reeds 42 perde aan die Kaap.

Perde is veral gebruik om houtstompe nader te sleep wat dan gebruik is vir bouwerk, vir vuurmaak om die steenoonde aan die brand te hou en vir huishoudelike gebruik.

Perde is gebruik vir verkenning sodat die omgewing leer ken kon word en vinniger beweeg kon word.

Die perde is ook gebruik vir die veiligheid van inwoners van die Fort as rydiere vir bewakers, beskermers en selfs agtervolgers van kwaaddoeners.

Perde was baie waardevol en hulle rol in die vestiging van ‘n nedersetting in die Kaap was onontbeerlik.

Die Kompanjie voer in 1689 Persiese stoetperde in omrede inteling klein perdjies, maar tog taai en geharde perdjies, tot gevolg gehad het.

Hierdie was so ‘n reuse sukses dat daar reeds 928 perde in die Kaapkolonie was teen die begin van die 18de eeu.

Selfs die uitbreek van ‘n perdesiekte-epidemie in 1719 toe sowat 1700 perde gevrek het, het die aanteel nie gestuit nie.

Selfs in 1769 kon perde uitgevoer word Indië toe vir die Britse leër. Britse Offisiere uit Indië wat hulle verloftye in die Kaap deurgebring het, het besef dat hierdie Kaapse perde gehard is en bestand is teen hitte wat hulle uiters geskik gemaak het vir die toestande in Indië.

Bekendste telers destyds aan die Kaap was die Van Reenens, Cloetes , Myburghs en Van Breda’s en die bekendste stoetery was díe van Martin Melck van Kersefontein aan die Bergrivier, Hopetown-distrik . Hulle het met Arabiese perde begin en later hulle stoet verbeter deur Engelse perde in te teel.

BEKENDE PERDE IN DIE GESKIEDENIS VAN SUID-AFRIKA

Die bekendse is sekerlik die verhaal van Wolraad Woltemade en sy perd. 1 Junie 1773 het hy en sy dapper perd wat ‘n sterk swemmer was die see in geswem toe die De Jonge Thomas gesink het en hulle het 14 manne gered voordat hy en sy perd ook verdrink het.

1838 by Bloedrivier het Sarel Cilliers en sy manne te perd deur ‘n opening in die laer gejaag om die Zoeloes uit te lok en om deur die impi’s te bars sodat hulle die Zoeloes van agter af kon aanval.

1842

Dick King se jaagtog Grahamstad toe. Die Boere van die Trekkerrepubliek bots met die Britte naby Port Natal. Andries Pretorius en die Boere beleer die Britse kamp. Kaptein TC Smith besef dat hulle hulp nodig het. Hy stuur ‘n boodskapper Grahamstad toe om versterkings aan te vra. Dick King, ‘n knap ruiter en ervare sterk perd, die saalperd Somerset, pak hierdie moordende en gevaarlike rit aan. Somerset was ‘n ” Scietpaard “, ‘n perd wat nie verboureerd in ‘n geveg sou word nie. Hierdie perd was die eiendom van ‘n boer, Jan Hofmeyer, en was deur Andries Pretorius gery by Bloedrivier en by Congella. ‘n Griekwa het Somerset by Congella gesteel en aan die Engelse verkoop. Dick King lê hierdie rit van 960km in 10 dae af. Die sukses van sy sending lei tot die anneksasie van Natal. Die Boere keer terug binneland toe en stig die Republieke van Oranje-Vrystaat en Transvaal. Somerset sterf van uitputting net na hulle aankoms in Grahamstad. Hy het hierdie moordende rit nie oorleef nie

Sarel Cilliers se perd Kroon, waarskynlik waar Kroonstad sy naam van verkry het.

Marhinus Oosthuizen en sy perd wat dapper deur die Zoeloe-impi’s gejaag het om kruit vir die vasgekeerde Van Rensburg-Familie op ‘n koppie te vat waar hulle vasgekeer was.

Teresa Viglione, die Italiaanse vrou wat die nag van die Bloukransmoorde te perd gejaag het om die Trekkers te waarsku teen die Zoeloes se aanvalle.

DIE ROL VAN DIE PERD IN SUID-AFRIKA

Die eerste jare van ons geskiedenis was stormagtig. Grensoorloë, voortdurende diefstal, rooftagte en aanvalle, rondtrek agter weiding aan en die bewerking van grond maak die lewe bitter moeilik. Hier het die geharde perde ’n groot rol gespeel.

Tydens die Groot Trek was perde onontbeerlik. Terwyl die osse die swaargelaaide waens gesleep het, het die mans te perd vooruit verken. Hulle was ook te perd baie bedrewe jagters. Die perde was onbeslaan want op die grasagtige hoogland was dit nie nie nodig nie. Die Trekkers se perde was goed-afgerig, gehoorsaam, dapper, vlugvoetig en kon in vlug omgeruk word. Daar was ‘n sterk vertroue tussen ruiter en perd. Die Trekker kon in die ry sy geweer laai terwyl die teuels net losweg oor die ruiter se arm gehaak was. Die perd is geleer om by sy ruiter te bly, sou dìe dalk afval. Die Trekker het sy knieë styf teen die saal vasgedruk terwyl hy laai, so kon hy dadelik voel as sy perd om een of ander rede sou swenk.

Die ruiters kon afspring, op een knie hurk, korrel en skiet met teuels gehak oor die arm. Dan spring hulle weer op hulle perde en laai die outydse gewere in volle vaart. Hulle kon op volle galop die perd omruk, afspring en skiet. Die perde was gewoond aan skote en die fluit van koeëls. Die ou Sannas was swaar en lomp met groot ou koeëls. As die sneller getrek word het ‘n ontploffing gevolg, ‘n bol rook het uitgekom en die geweer het hard teen die ruiter se skouer geskop. Die Boerperde kon die gedruis van gevegte goed weerstaan en Trekkers kon uitstekend uit die saal skiet. Te perd kon hulle vinnig nader aan die vyand beweeg en weer vinnig wegjaag.

Die perd het ‘n groot rol in die alledaagse lewe van die Boere gespeel. Hulle was veral gebruik as rydiere en as handperde om voorraad saam te dra. Die perdekarretjie het ‘n algemene vervoermiddel geraak.

Perde en perdekarre van alle soorte is gebruik vir inkopies, kerk, vee weiding toe aanjaag, algemene plaaswerk en ook vir sport en ontspanning. Perde het jongmense danse toe vervoer, vir kuiers en vir lekker piekniektye gesorg.

Perde en die opsitkers was sinoniem. Met ‘n spoggerige vryersperd het die jong man by die meisie opgedaag. Dink aan die ou Volksliedjie:

“Ek het ‘n perd, ‘n blink vosperd en ‘n splinternuwe saal

en ek klim op my perd, my blinkvosperd

en ek kom om jou te haal…”

Die Bruidskoets was getrek deur spoggerige perde met volstruisvere op hulle koppe.

By spoggerige Begrafnisse was swart perde met swart pluime gewild.

Tydens Staatsgeleenthede is van spoggerige perde gebruik gemaak. President Paul Kruger se pragtige koets is vergesel van 10 perderuiters van die staatsartillerie voor die koets, 10 ruiters agter en twee aan die sye, een elk weerskante van die koets.

Die Boer was afhanklik van sy perd en het ‘n groot liefde vir ‘n perd gehad, veral vir ‘n mooi perd.

Perde was vernuftig ingebreek en afgerig. Roskam en borsel was ‘n liefdestaak.

Transportry was ‘n noodsaaklikheid om voorrade aan te ry. Met die ontdekking van goud is die swaar myntoerusting per wa vervoer en die perde wat hulle vergesel het, het hulle meer beweeglik gemaak.

Boodskappe en nuus is aanvanklik per perd afgelewer.

Op die posroete van die Kaap tot in die Transvaal is eers van berede posmanne gebruik gemaak. Later is van poskoetse gebruik gemaak met fikse geharde koetsperde vooraan. Hierdie poskoetse het dag na dag die hitte, koue en storms trotseer. Stof, modder en vol riviere groot struikelblokke. Weerlig het bv. in 1880 ‘n poskoets met 6 perde raakgeslaan, 4 perde is doodgeslaan. Wilde diere, veral leeus, was ‘n groot bedreiging vie perde.

Sommige poskoetse was groot, veral dìe na die diamantvelde by Kimberley en die goudvelde by Barberton en kon 12 mense binne vervoer met nog 6 bo-op. Elke 12 tot 24 km was stalle vir uitspan en inspan van vars perde. Die drywer het sy beuel geblaas as hy naby ‘n halte gekom het sodat alles reg kan wees en geen tyd gemors word nie.

Polisiemanne het perde nodig gehad om misdadigers en veediewe agterna te sit en te vang , patrollies te doen en om wet en orde te handhaaf.

Veral op die platteland het dokters van saalperde gebruik gemaak want die paaie was swak en plase was afgeleë. Later het hulle van eenperd-karre gebruik gemaak

Die wetsberoep was ook afhanklik van perde om hulle pligte uit te voer. Die Rondgaande Hof het die wet na die platteland gebring en regters en advokate het per perdekar gereis.

ANGLO-BOEREOORLOG EN DIE PERD

Met behulp van perde en boodskappers kon kommando’s verstommend vinnig opgeroep word. Perde is op plase opgekommandeer.

Die Boer, sy roer en sy perd was onafskeidbaar. Saam het hul deur vol riviere geswem, teen kranse afgespring en dikwels moes die Boer staatmaak op sy perd se vernuf.

Die Anglo-Boereoorlog was ‘n oorlog van perderuiters. Die Britte het op voetsoldate staatgemaak wat ondoeltreffend in die groot afstande en ruimtes van Suid-Afrika was. Die Britse ruitery het net die voetsoldate bygestaan. Brittanje het gou hulle groot fout besef en duisende perde ingevoer vanaf Australië, Kanada en Engeland.

Die laaste 18 maande van die oorlog was ‘n guerrilla-oorlog. Christiaan de Wet op Fleur, ‘n taai en vlugvoetige wit Arabier, wat aanval en vlug. Die stormloop verras en saai verwarring. De la Rey op sy Basoeto-ponie, Bokkie, ‘n gespanne intelligente perd, beter as ‘n waghond en wat vinnig gevaar kon ruik.

Dit was ‘n groot probleem om perde te beslaan by gebrek aan hoefysters en spykers. Die perde se pote was seer. Twee vindingryke burgers het begin om hoefysters maak van enige stuk staal of yster wat hul in die hande kon kry en spykers gemaak van telegraafdrade.

Die Boere het soms in die hitte van die stryd van hulle perde afgeval. Ruiterlose perde wat hardloop op soek na base was nie ‘n vreemde gesig nie. Vriend en vyand se perde het deurmekaar geraak. Dikwels het ‘n Burger met een perd in ‘n geveg ingegaan en met ‘n ander een uitgegaan. Na ‘n geveg het hulle weer hulle eie perde gesoek. Dit was ‘n ongeskrewe reël van kommandolewe om ‘n perd aan sy eienaar terug te gee.

Duisende perde het tydens die ABO gesterf. Uit ‘n totaal van 520 000 perde en 50 000 muile sterf 350 000 Britse perde. Aan Boerekant sterf 150 000 perde. Die beroemde boereperd bykans uitgeroei. In Port Elizabeth is ‘n Perdemonument opgerig vir hierdie onskuldige slagoffers.

Tydens die ABO was dit ‘n algemene gesig om ‘n groot man te sien huil daar langs sy troue sterwende dier. Die band tussen tussen ruiter en perd was baie heg

Roland Schikkerling, ‘n vlugtende burger vertel: “Teen ongeveer die middaguur eis die noodlot van my ‘n gyselaar in die vorm van my troue ou Ramkat, wat teen die genadelose behandeling protesteer deur te vrek … Ek het nog altyd so gehoop dat ek eendag in staat sou wees om aan hierdie edele, moedige dier my skuld te betaal. En hier gaan hy dood. Ek het op ‘n rotsblok tussen die suikerbos gesit en gehuil oor my jongste smart. Ek het dikwels gestaan tussen die wanordelik-verstrooide lyke van gesneuwelde mense, wie se oorlog dit is, sonder dat ek die pynlike meegevoel ervaar het wat ek nou voel vir hierdie dier, wie se oorlog dit nie is nie.

Die skaarste aan hoefyster het ons verplig om hulle van die dooie perde te verwyder. Hoe kan ek die ruwe stukke gesmede yster verwyder van hierdie dier wie se liggaam gemaak was van die suiwerste staal, en sy hart van suiwerste goud?”

Dit was die liefde van die Boer vir sy perd!

PERDE NA DIE OORLOG

Die daaglikse lewe het voortgegaan. Met swaarkry is weer begin om op te bou.

Bokkie het saam met De la Rey aan parades aan deelgeneem. Perderesies vind plaas. Die plaaslewe word voortgesit.

1914 breek die Eerste Wêreldoorlog uit. Die Boere woon onder onder die gehate juk van die Engelse. Die Smuts-Botha regering bied hulp aan Engeland. ‘n Deel van die Burgers kom in opstand, Die Rebellie.

Volskaalse botsings vind plaas tussen regeringsmagte en rebelle. Die rebelle wou by Duits-Wes uitkom.

Dit is die laaste groot gevegte waaraan perde deelgeneem het. Die Kalahari-woestyn moet gekruis word, rowwe terrein. warm somertyd met droogte wat water krities skaars maak. Mens en perd kry bitter swaar met regeringstroepe kort op hulle hakke. Die perde verswak kommerwekkend. Vegtend, 240 km in 5dae, volhard hulle. Dikwels lei hulle die perde om hulle te spaar. 600 man teen 10 000 soldate met ‘n nuwe strydwa.. die motorkar..

Die einde van rebellie breek aan. Hulle is gewen deur die uiterste omstandighede en die motor.

Die dae van die perd in oorlogvoering is getel, die enjin het hom vervang.

Perde is eers nog gebruik om busse in stede te trek, maar die motorenjin het oorgeneem en beroepe soos wamaker, seilmaker, hoefsmid en stasie-eienaars verdwyn mettertyd saam met die perd.

PERDE TANS

Perde word nou meestal net vir sport en ontspanning gebruik. By Perdewedrenne is groot geld betrokke. Perdry-klubs ontstaan waar perde gery word vir plesier of vir kompetisies soos Perdespringkompetisies.

Winston Churchill het die verdwyning van die perd as een van die grootste verliese van ons moderne tyd bestempel. Vandag is dit net ‘n klein groepie mense wat nog perde ken en met hulle kan werk.

Bron: In die Saal. Stories oor perde. Deur Pets Marais

Foto’s: Internet. Facebook. In die Saal, Pets Marais.

Bydrae deur Kobie Ströh

Maak 'n opvolg-bydrae