Paul Kruger / Waterkloof / Rustenburg / Boer

Waterkloof

Rustenburg

Paul Kruger plaas en woning

(Paul Kruger Lodge)

PAUL KRUGER

Grootouers: Stephanus Johannes Kruger en Margaretha Steenkamp

Ouers : Casper Johan Hendrik Kruger en Elsje Francina Steyn

Op die plaas Bulhoek, noord van Zoutpansdrift aan die Suurberge is STEPHANUS JOHANNES PAULUS KRUGER gebore 10 Oktober 1825.

Paul se familie was veeboere en het dikwels rondgetrek, veral in droogtetye.

In Paul se eerste 10 jare maak hy as veewagter deegliks kennis met die veldlewe en die vrye natuur en gevare van wilde diere en onverwagse aanvalle.

Paul was ñ sterk seun wat goed kon hardloop en swem en hy was ook ñ uitstekende perderuiter.

Geleentheid vir skoolgaan was daar nie.

Hy het sy opvoeding en onderwys van sy ouers ontvang en sy vernaamste leerboek was die Bybel.

Hy het ñ intieme kennis van die Skrif gehad wat sy rigsnoer dwarsdeur sy lewe was.

Die enigste “formele” onderrig wat hy ontvang het was die onderrig wat hy by Tielman Roos tydens die Groot Trek vir sowat 3 maande lank gekry het.

Paul Kruger se moeder sterf toe hy 8 jaar oud was, een van 6 weeskinders, almal onder 14 jarige ouderdom.

Paul se pa trou weer in 1834 met Heiletje Lavina E du Plessis.

1835 verlaat die Kruger-gesin die Kaapkolonie as deel van die Hendrik Potgieter Trekgeselskap.

Hulle trek dieper die binneland in en die jong seun Paul Kruger is binne die laer tydens die Slag van Vegkop.

Nadat Piet Retief en sy manne Natal toe is, het baie ander Trekkers hulle gevolg, so ook Casper Kruger en sy familie.

Die Kruger-gesin se laer spring die Bloukransmoorde vry en kry danksy vroegtydige waarskuwing dit reg om die Zoeloes af te weer.

Die jong 12 jarige Paul is te jonk om teen die Zoeloes op trek vir die Slag van Bloedrivier.

Desember 1838 het die Potgieter geselskap, waaronder die Krugers ook was, oor die Vaalrivier getrek en hulle by die Mooirivier gaan vestig waar die dorp Potchefstroom later ontstaan het.

WATERKLOOF

Die Kruger familie trek tot aan die Magaliesberge waar vader Casper Kruger hom toe vestig.

Ondertussen het die jonge Paul Kruger 16 jaar oud geword, ñ taai sterk jong man. Hy kry die reg, soos ander lede van die gemeenskap, om as onafhanklike burger vir homself 2 plase uit te soek, een vir woning en landboudoeleindes en een vir weiding.

Sy weidingsplaas was Saulspoort.

Op een van hierdie plase, nl. Waterkloof, distrik Rustenburg, vestig hy hom in 1841. Hierdie plaas het in die Magaliesberge ingestrek en ook die plaas Baviaanskrans ingesluit. Na die ABO het Baviaanskrans die eiendom geword van Kolonel Chamney ( eks Indiese Weermag). Tans vorm Baviaanskrans deel van die Rustenburg Natuurreservaat.

Hier het hy vir byna 30 jaar feitlik ononderbroke gewoon.

1842 is die jong Paul Kruger getroud met Maria du Plessis.

In 1845 het hy en sy vrou vir ñ kort tydjie na Lydenburg-Ohrigstad-area verhuis om saam met sy vader en ander familielede te help om ñ nedersetting daar te te vestig, maar nog dieselfde jaar teruggekeer. Koors en veesiektes het hom gou laat terugkeer.

Kort na hulle terugkoms, 1846, sterf Maria en hulle baba weens ñ vreemde koorssiekte, waarskynlik malaria.

Sy buitengewone karaktertrekke en eienskappe lei daartoe dat hy verkies word as Assistent-veldkornet in 1845 en later veldkornet in sy wyk, Rustenburg.

1847 trou hy n 2de keer (21 jarige oudsrdom) met Gezina Susanna Frederika Wilhelmina du Plessis en vir 54 jaar het sy aan sy sy gebly en hom ondersteun en versorg.

Uit hierdie huwelik is 9 seuns en 7 dogters gebore, maar teen 1902 was nog net 3 seuns en 5 dogters lewendig.

1853 begin Paul Kruger ñ skool op Waterkloof.

Op die plaas Waterkloof is nog tekens van toe Paul Kruger daar gewoon het.

Tekens van ñ watervoor uit die Waterkloofspruit. oorblyfsels van klipheinings bo-op Magaliesberg wat waarskynlik vir ñ perdekamp gebruik is en ñ plaaskerkhoffie waar sy eerste vrou begrawe is.

Reuse ou bome wat meer as ñ 100 jaar oud is strek uit oor die ou opstal. Die ou huisie steeds daar wat waarskynlik deel vorm van die ou oorspronklike woonhuisie.

BOEKENHOUTFONTEIN

Tussen Maart 1873 en Oktober 1874 het hy Waterkloof verlaat en op een van sy ander plase, Boekenhoutfontein noord van Rustenburg, gaan woon.

PAUL KRUGER AS BOER

Buiten Waterkloof en Boekenhoutfontein het Paul Kruger ook nog ñ paar ander plase besit.

Hy was nooit n voltydse hoogs suksesvolle boer nie, verskeie struikelblokke het sy lewe moeilik gemaak.

Die Magaliesberge was nie geskik vir skaapboerdery nie, die vernaamste bedryf wat die Krugers geken het as grensboere, en hulle moes hier leer om met grootvee boer.

Jag en strafekspedisies teen opstandige en misdadige stamme het hom dikwels van sy boerdery af weggehou.

Landsake, konflik en dwarstrekkery onder die burgers het ook veroorsaak dat hy nie behoorlike aandag aan su boerdery kon gee nie.

Alhoewel die Krugers eenvoudig gelewe het met geringe lewensbehoeftes, moes Paul Kruger sorg vir sy groot familie wat groot druk op hom geplaas het.

25 Januarie 1866 antwoord hy as volg op ñ versoek van die Uitvoerende Raad om ñ vergadering by te woon:

” dat al my perde dood is; my vrugte lê onder die bome en verrot; die longsiekte het onder my beeste uitgebreek en ek word deur skuldeisers aangemaan.”

Paul Kruger se ideale vir sy land en volk was groot en sy optrede het getuig van moed en geloof.

Onder moeilike omstandighede was hy vir sy volk ñ anker en ñ steun en al was sy opvattinge en oortuigings soms baie eng, het hy en die eenvoudige burgers van die Transvaal as boere mekaar meestal verstaan en respekteer.

Bron:

Paul Kruger Dr JI Rademeyer

Rustenburg at war Lionel Wulgsohn

Foto’s: Gys Stroh snr Okt 2023. ( Gysbertus Johannes Ströh )

Nicky Jansen van Vuuren van Chilli PicNic Okt 2023

Maak 'n opvolg-bydrae