Paul Kruger Beeld / Rustenburg / Groot Trek / Stadsaal / Padpredikant

Rustenburg

Paul Kruger Beeld

Groot Trek

Munisipale kantore

Padpredikant

RUSTENBURG OU STADSAAL

Die eerste Stadsaal van Rustenburg is in 1931 in ‘n brand verwoes. Gelukkig was daar reeds versekering uitgeneem op die gebou (voor die eerste premie betaalbaar was) en kon daar spoedig weer ‘n Stadsaal gebou word.

Die nuwe stadsaal was vinnig gebou, in minder as ‘n jaar voltooi, 1932 – 1933, en was groter en mooier as die oorspronklike.

PRESIDENT PAUL KRUGER BEELD

Voor die Ou Rustenburg Stadsaal pryk die beeld van Paul Kruger.

Ontwerp deur die Franse Beeldhouer, Jean Georges Archard. November 1900 het Archard het Pres Paul Kruger in Parys in ‘n hotel besoek en hy was so beïndruk met hierdie “groot” figuur en die tragedie van sy ballingskap dat hy ‘n beeld van hom gemaak het. Sy eie besluit, geen opdrag daarvoor gekry nie.

Hierdie beeld het 18 jaar in sy ateljee in Parys gestaan voor dit in 1919 ontdek is deur Dr Frans Engelenburg. Generaal Louis Botha en Jan Smuts is so beïndruk deur hierdie treffende beeld dat hulle namens die regering die beeld aankoop. Die beeld word in brons gegiet en 1920 na SA gebring. In Pretoria word dit aanvanklik by die Uniegebou bewaar terwyl daar oor ‘n geskikte plek besluit word.

Die beeld is te klein vir Kerkplein, maar te groot vir die Ou Raadsaal.

Die aanbeveling is dat die beeld aan Rustenburg geskenk word. Rustenburg, waar Paul Kruger dekades gewoon en gewerk het. Sy plaas Boekenhoutfontein buite Rustenburg is tans ‘n museum.

RUSTENBURG ONTHULLING

16 Desember 1921 word die beeld in Rustenburg onthul deur Jan Smuts. Sy woorde: “Ek hoop dat die lewe van hierdie man ons tot voorbeeld sal strek tot in die laaste nageslag.”

Die beeld van ‘n sittende President Paul Kruger op ‘n hoë voetstuk van so 3 meter hoog. ‘n Gebroke man, peinsend. Die figuur daarop meer as 2 meter hoog.

Peinsend sit hy in ‘n armstoel, droefheid op sy gesig, neergeslane oë. Paul Kruger in ballingskap, geboë en gebroke.

Oorspronklik was daar ‘n Bybel op sy skoot, maar die is geruime tyd reeds deur vandale verwyder.

Op die granietvoetstuk staan die eenvoudige woorde:

PAUL KRUGER

1825-1904

Teen die kant die Romeinse letters PAVL KRVGER , oorspronklik brons letters gewees.

Die Kruger beeld daar voor die stadsaal was al meer as een keer slagoffer van vandalisme.

GROOT TREK

WASPORE

Voor Pres Paul Kruger se beeld lê die waspore en hoefspore uitgetrap in sement gedurende die Simboliese Ossewtrek 1938 toe die waens Rustenburg besoek het. Die gedenksteen herinner aan hierdie besoek.

Ook 1949 tydens die Fakkelloop met inwyding van die Voortrekkermonument het die Rapportryers hier ‘n gedenksteen opgerig.

Hierdie is herhaal 1988 met die 150-jarige herdenking van die Groot Trek.

PADPREDIKANT

Neffens die rustige beeld van Oom Paul, op die besige straathoek is ‘n interessante padpredikant aangebring. Dit dui die rigting en afstand na van die vernaamste stede aan.

Bronne: Internet. Rustenburg Geskiedenis.

Foto’s: Internet. Facebook. Gys Ströh snr Junie 2023

Samesteller: Kobie Ströh

Maak 'n opvolg-bydrae