Outenikwa Bergpas / Outeniqua Power Van / & Tonnels

Treinrit

Outeniqua Power Van

7 Tonnels

Outeniqua Berge

4 Bergpasse

Outeniqua Bergpas

George

OUTENIQUA POWER VAN CC.

Kan daar ñ beter manier wees om die Outeniqua berge aan te pak in ñ ou treintjie al langs ñ historiese spoorlyn wat gebou is in 1908-1913?

1999 / 2000 het ñ oudskoolhoof van George South Primary, Nicol Marais, hierdie inisiatief begin. Hy het ou dienstrollies of inspeksietrollies vanaf Transnet aangekoop en toestemming verkry om die spoorlyne tussen George / Oudtshoorn en George /Mosselbaai te gebruik.

Hierdie ritte het deur die jare gewilder geword en uitgebrei.

Vele struikelblokke en hindernisse soos vloede, reënstorms, gure weer en brande het hulle al tot stilstand geruk, maar elke keer is herstelwerk gedoen, spore herstel en roetes aangepas om die honderde reisigers te vervoer.

2018 het ñ verwoestende brand sowat 4000 dwarslêers “sleepers” verbrand en vir 2 jaar was spoorlyn buite aksie en groot herstelwerk was nodig. Eers Des 2020 kon hierdie spoorlyn weer gebruik word.

Die Hartenbos Diaz Express het sedert 2014 kuslanges begin “stoom” en 2023 is hulle nou bekend as Powervan Mosselbaai.

George het die Powervan George en die Outeniqua Choo Tjoe.

POWERVAN GEORGE

Die vertrekpunt is die George Vervoermuseum.

Hier word ñ groot versameling stoomlokomotiewe en waens uitgestal.

Die Power Van met sy waentjie agter aan gehak kan so 20 mense vervoer.

ñ Gids vergesel elke groep en gee deurgaans interessante brokkies inligting deur.

Bekwame ervare drywer agter die stuur, in radioverbinding met beamptes in beheerkamer.

Die kragtige 6-silinder dieselenjin beur teen die hoogtes uit.

Die ou bekende klik-klak geluid bring en die fluit wat by oorgange waarskuwend blaas, bring heimwee.

Die rit volg die ou Treinpas “Railway Pass” tussen denneplantasies deur met George agter in die verte.

Soos die treintjie hoër en hoër klim word die uitsig al hoe meer asemrowend.

Steil rotwande langsaan, diep klowe, watervalle en fantastiese rotsformasies.

Die hoë spitse troon hoog bo die landskap uit.

Inheemse bome soos geelhout en stinkhout weerskante. Fynbos, mosse, varings en fyn blommetjies versier die berge en dan die groot verrassing…ñ protea, die Koningsprotea.

Onvergeetlike rit deur pik-pik donker tonnels en 4 passe van bo-af sigbaar.

Verstommende ingenieursvernuf.

Bo gekom, gaan die bestuurder na die agterkant, al die stoele draai om en daar stoot die Powervan die wa berg-af, die voorstes nou agter en die agterbankers nou voor.

Langs die roete word selfs stilgehou vir passasiers om uit te klim vir ñ vinnige piekniek of net rondstap en die uitsig bewonder.

RAILWAY PASS / TREINPAS

Hierdie historiese spoorlyn is in 1908 gebou deur 700 gevangenes met pik en graaf en die 34 km treinspoor is in 1913 voltooi.

Die spoorlyn het George en Oudshoorn verbind. 1908 is van George se kant af begin bou en 1911 van Oudtshoorn af. Altesame so 2500 mense het aan die projek gewerk.

Tonne dinamiet was nodig om die klipharde rotse (Tafelberg kwartsiet) weg te skiet om roete oor die Outeniqua berge begaanbaar te maak. Kontoere is gevolg, dele is uitgegrou of weggeskiet en ander weer opgevul om die gradiënt kleiner te maak en die roete makliker te maak vir stoomtreine.

Harde handewerk in intense hitte in somermaande en uiterste koue in wintermaande.

7 Tonnels van verskillende lengtes is deur die rots gemaak.

Die spoorlyn volg plek-plek die roete van die ou Montagu pas en kruis selfs die Montagu pas met ñ brug.

DIE TONNELS

Verstommende ingenieursvernuf en harde hande werk.

Varingklooftonnel 92 m

Power Tonnel 204 m

Tierklooftonnel 137 m

Cradock tonnel 209 m

Outeniqua tonnel 96 m

Montagu tonnel 60 m

Topping tonnel 119 m

DIE OU OSSEWA-PAS / WA-PAS / CRADOCKPAS

Die Outeniqua berge was ñ groot struikelblok en het baie gemeenskappe afgeslote gehou.

Moeisaam en te voet moes hierdie gevaarlike berge aangedurf word.

Hierdie pad oor die berg het as Duiwelskop pas bekend gestaan. Tiervallei se naam sprekend van die gevare wat langs die pad geskuil het.

Die eerste pas wat hier gebou was is die ou Voortrekkerpas, gebou vir die ossewaens om kortpad na die Langkloof se plase te kry.

George se landdros AG van Ketvel het magtiging verkry om hierdie pas te bou.

Wit bakens dui die pad aan.

Tans word dit as ñ wandelroete nog gebruik.

Hierdie pas was ñ moordende pas, baie styl met klipttappe of terasse van byna 4 voet hoog. Dubbel spanne osse was nodig om hierdie pas uit te trek en selde het ñ wa nie gebreek langs die pad nie. Ten minste 3 dae was nodig om net oor die pas te kom. Gewoonlik 10 dae geneem om met ñ vrag heen en weer te reis.

MONTAGU PAS

1844 is begin om ñ nuwe pas oor die Outeniqua berge te bou onder leiding van ñ Skotse ingenieur, Henry Fancourt White. Gevangenes is vir hierdie reuse taak gebruik.

Die pas is voltooi in 1847 en het die reistyd drasties verminder. Die tog met ñ ossewa na Oudshoorn, gelaai met soetpatats, kon nou in 5 dae onderneem word.

Montagu Pas is in 1972 ad Nasionale Monument verklaar. Die grondpad pas kan nog steeds gery word en loop plek-plek saam met die treinspoor.

OUTENIQUA PAS

Die groei van George en Oudshoorn en bedrywighede in omgewings en die toemame in gemotoriseerde verkeer het ñ nuwe verbeterde pas genoodsaak.

Pieter Agricola de Villiers, ingenieur, kry opdrag van Nasionale Padraad om ñ nuwe pas te bou. Hy het ook pad die Dutoitskloofpas voltooi.

1942 begin die bouwerk, eerste die woonkwartiere vir Italiaanse Krygsgevangenes. Die Italiaanse Krygsgevangenes van WWII is aanvanklik die bouers.

Die amptelike konstruksie werk begin in 1943. Die werk vorder baie stadig want die rotse is baie hard en net handearbeid is gebruik.

Kilometers soliede rots moes afgeskiet word en weer grbruik word om klowe op te vul.

Toe die Italianers na die oorlog terugkeer na hulle huise toe, is hulle vervang deur 170 swart arbeiders.

Toe die werk begin sloer, is daar meer en meer van moderne padbou-masjinerie gebruik gemaak.

20 September 1951 is hierdie 12,5 pas geopen deur die Minister van Vervoer, Paul Sauer.

Die steilste helling 1: 16 wat die pas maklik begaanbaar maak vir motors.

Later 1990’s is die pas verbeter, wye pad van 10 m wyd en op verskeie plekke is nou dubbelbane en stilhouplekke.

Al 4 hierdie passe het en speel nog steeds ñ belangrike rol.

Dit verbind George met die binneland, met Langkloof, Oudshoorn en Uniondale.

Gaan geniet die rit met die Powervan en bewonder die feetjiemooi plantegroei, ruwe rotse en besonderse ingenieursvernuf en versommende werk uit die verlede.

Bronne: George Powevan. Internet.

Foto’s: Gys Stroh Snr ( Gysbertus Johannes Ströh ) en Corney Ströh

Desember 2023

Samesteller Kobie Ströh

Maak 'n opvolg-bydrae