Mynhope / Witwatersrand / Johannesburg / Goudstad

Mynhope

Witwatersrand

Johannesburg

Goudstad

Kenmerkend van Johannesburg is die wolkekrabbers en goudgeel mynhope.

Mensgemaakte berge in en rondom die stad.

Hope geel en wit sand, die goue uitskot diep uit die aarde se ingewande wat getuig van ñ Suid-Afrika ryk aan minerale.

Mynbou wat ñ belangrike en integrale deel van hierdie digbevolkste deel van SA vorm, die ontginning van Transvaal Goud.

Alhoewel hierdie mynhope verbode speelplek was en is , was dit ñ groot uitdaging vir elke seun en vir avontuurlustiges. Op ñ stuk karton of sinkplaat is met groot spoed teen so ñ mynhoop afgegly. Die gevaar van insak of toeval onder die sand het die adrenalien deur die are laat pomp.

WAT IS MYNHOPE?

Mynhope is in werklikheid stortingsterreine.

Metale word van erts onttrek. Die erts word gebreek, met chemikalië behandel om die metale op te los. Die chemiese stof word geskei, die metaal herwin en afvalmateriaal soos gebreekte erts en chemiese stowwe word dan iewers gestort. Die goud word gesmelt en gegiet in metaalsteen-vorm.

Die afvalmateriaal kan nie teruggeplaas word in die myne nie, want dit is meestal nog steeds werkende myne. Dit word dan in groot damme of op stortingsterreine gegooi. Afvalmateriaal bestaan gewoonlik uit ñ mengsel van water, opgeloste chemikalië en fyn deeltjies of stof, slik.

Die slik of slyk droog uit en vorm dan ñ laag stof.

1 ton gouderts produseer net 1 of 2 gram goud.

In Johannesburg is die afvalmateriaal aanvanklik in damme gepomp. Die slik het uitgedroog en ñ holte in die middel gevorm, laer as die kante. Die kante het uitgestoot en so het die mynhope opwaarts en sywaarts gegroei. Later is die afvalmateriaal met koekepanne opgetrek en bo-op gegooi. Die hope het groter en groter gegroei.

NADELE EN GEVARE VAN MYNHOPE .

Die mynhope het die omgewing vermink en ontsier.

Die materiaal waaruit die slyk bestaan is fyn gemaal. As die water verdamp bly fyn deeltjies agter wat deur die wind opgewaai word, veral in die droë Augustus en September maande.

Die mense en mynwerkers het hulle naby die myne gevestig waar hulle werk en die stof is vir hulle ñ groot probleem.

Nie net is hulle huise en meubels vuil en stofbedek nie, maar ook die plante het ñ fyn stoflagie oor. Die lugbesoedeling dra ook by tot die kweekhuiseffek.

Rondom en in Johannesburg was ongeveer 200 mynhope wat meer as 6 biljoen ton afval bevat. Hierdie afval kan tot 20 verskillende giftige stowwe bevat soos aluminium, arseen, koper, yster, lood, sink, sianied en arseen.

Hierdie giftige stowwe beland in strome en besoedel die strome en grondwater wat drinkwater vergiftig.

Die stof op die mynhope bevat groot hoeveelhede radio-aktiewe uraan.

Vir elke ton goud wat in die Witwatersrand gemyn is, is daar tussen 10 en 100 ton uraan gemyn. Meeste uraan is as afvalproduk gestort afhangende van die markprys.

Daar word beteken dat daar ongeveer 600 000 metrieke ton radio-aktiewe uraan in en om Johannesburg is, die hoogste ter wêreld.

Die goue geel kleur van die mynhope dui juis op ñ groot hoeveelheid uraan terwyl yster ñ rooi kleur gee, koper ñ groen kleur en sulphur wit.

Die inwoners naby die mynhope vrees die wind want die stof wat opwaai kan enige iets bevat ban koper en lood tot arseen en sianied.

Hierdie stof veroorsaak ernstige en dodelike asemhalingsprobleme soos asma, tering en longkanker, velirritasies en oogontstekings. Drinkwater en oop kos kan ook besmet word.

Die chemiese stowwe besoedel ook die grond. In Diepkloof Soweto is die grond suur, met ñ ph van 2,67, suurder as asyn. Mens en dier leef op hierdie grond en kinders speel kaalvoet in die sand.

MAATREËLS EN PLANNE OM PROBLEME TE BEKAMP

Pogings om die stof te beheer is oa. die natspuit van mynhope, nette oor mynhope span en om gras en bome op en teen die mynhope aan te plant. Dit is ñ moelike proses want die chemiese stowwe in die grond maak dit moeilik vir plante om te groei. Spesiale grassoorte en baie aandag is nodig.

Die gras bekamp ook die erosie en wegspoel van die sand wat die chemiese stowwe laat opeindig im die strome en grondwater.

WAT GEBEUR NOU MET JOHANNESBURG SE MYNHOPE

Johannesburg se mynhope is besig om een vir een te verdwyn.

Die ontginnings prosesse wat 100 jaar gelede gebruik was om die goud te ontgin, was nie baie doeltreffend nie. Daar is nog baie goud in die mynhope en met nuwe metodes word die goud nou onttrek en die mynhope word stukkie vir stukkie weggewerk. Ongelukkig veroorsaak hierdie wegwerk van mynhope weer ñ nuwe stofprobleem. Die nuwe afvalmateriaal word dan verder van woongebiede af gestort.

Van die sand word ook gebruik om bakstene mee te vetvaardig.

Die ideaal sou wees om die afvalmateriaal weer terug te plaas in van die ongeveer 600 uitgediende myne. Dit sal die vorming van sinkgate ook verminder. Ongelukkig ñ duur en moeilike proses. Die ou historiese myne is veral ñ probleem want niemand kan meer verantwoordelikheid daarvoor aanvaar nie.

Weens ñ gebrek aan kennis destyds en die wonings wat ver weg was van die myne af, was daar nooit kommer oor die gevare van die mynhope nie. Ongelukkig het die gevare en nadelige gevolge al hoe duideliker geword.

Van hierdie hope geskiedenis oftewel geskiedkundige hope gaan moontlik niks meer oor ñ paar jaar oor wees nie.

90 jaar het spierwit en goue mynhope Main Reef Road omsoom en Johannesburg gekenmerk. Bakens op die horison.

Binnekort sal slegs herinneringe oorbly. Herinneringe aan ñ bloeitydperk lank gelede.

BRONNE Bronberger

Guardian & Home. Heritage Portal.

FOTO’S Geleen vanaf Internet

Samesteller Kobie Ströh Vaaldriehoek Kultuurnetwerk

Maak 'n opvolg-bydrae