Louw Wepener
Bethulie
Vrystaat
Louw Wepener
Louwrens Jacobus Wepener (Louw) is gebore 21 Julie 1812, die 4de seun van Frederik Jacobus Wepener en Johanna Maria Erasmus wat gevestig was op Graaff-Reinet.
Louw is getroud 1839 met Hester Susanna Nel. Hulle seun Frederik Daniël Jacobus Wepener is gebore November 1840 en sy moeder sterf Februarie 1841. Louw trou weer 1843 met weduwee Hilletje Maria van Aardt, weduwee Durand wat reeds 4 kinders gehad het. Uit hierdie 2de huwelik is 6 kinders gebore.
Louw Wepener was ń grensboer wat 1850 gewoon het op die plaas Die Nek tussen Aliwal Noord en Dordrecht.
Hy het deelgeneem aan die Kaapse Grensoorlog 1850-1851.
Januarie 1858 was Louw Wepener op Aliwal-Noord vir Nagmaal waar hy die terugtog van ń Basotho roofbende waarneem.
Hy het dadelik voorbereidings getref en hy en 2 van sy seuns het aangesluit by die Vrystaatse Kommando’s met wa, osse, gewere en ammunisie om die Basotho’s te stuit. Die Basotho’s was gedugte teenstanders, hulle vestings in die berge versterk en groot Basotho leërs het die Vrystaat binnegeval en baie plase verbrand en vee weggevoer.
Lewensverlies was groot. Sir George Grey het tussenbeide getree, Mosjesj die aanvoerder van die Basotho’s geforseer om vrede te sluit en grenslyne vasgestel. Ongelukkig was Mosjesj nie ń man vam sy woord nie en voor George Frey tuis was het hy al weer die ooreenkomste gebreek.
Dit was die eerste van 3 Basotho oorloë.
1. Die Senekal oorlog 1858
2. Die Seqiti oorlog 1865-1866
3. Die 3de Basotho Oorlog 1867-1868
Kommandant FP Senekal lei die Vrystaatse kommando’s in die 2 oorloë van 1858 en 1865.
Daar was maar altyd wrywing tussen die boere en die Basotho’s daar albei partye aanspraak gemaak het op die grond later bekend as die Vrystaat. Die Basotho’s was gedugte teenstanders, gewapend en onder leiding van Mosjesj (Mosjoejoe) het die Engelse sowel as die boere groot verliese gely.
1854 onderteken SF Senekal die Bloemfontein Konvensie as een van die afgevaardigdes van Winburg. Die Bloemfontein Konvensie word gesluit om die Oranje -Soewereiniteit as onafhanklik te verklaar. Engeland erken volle onafhanklikheid aan boere tussen die Oranjerivier en Vaalrivier.
Die Eerste Oorlog 1858
Die Basotho’s het maar voortdurend strooptogte op die grensplase en veeposte uitgevoer, maar na die onafhanklikheid van die Oranje Vrystaat het hulle rooftogte so manhaftig geword dat selfs Winburg en Bloemfontein bedreig was. Groot aantal plase is afgebrand en vee weggevoer. Die Vrystaatse Regering was verplig om oorlog teen Mosjesj en sy Basotho’s te verklaar(1858). Die Senekal Oorlog. Sir George Grey het tussenbeide getree, grenslyne bepaal en Mosjesj gedwing om vrede te sluit.
Na hierdie eerste oorlog het Louw Wepener besluit om ń Vrystaatse burger te word en 2 plase , Constansie en Moordenaarspoort, distrik Bethulie in 1862 gekoop.
Tweede oorlog: Die Groot Oolog 1863-1866
Die vrede het egter nie lank gehou nie toe begin roof en steel die Basotho’s weer en Mosjesj het openlik erken dat hy hom nie aan grenslyne steur nie. “Die Basotho’s het die Vrystaat op ń breedte van ongeveer 150 myl binnegestorm, huise afgebrand, vee in besit geneem en ongeveer dertig mense het hulle lewe daardeur verloor. Hulle het die land ingedring tot omtrent 20 myl oos van Bloemfontein en suid tot by Reddersburg…” p41 Louw Wepener deur FDJ Wepener.
Hierdie aanvalle het gelei tot die tweede oorlog teen die Basotho’s 1865-1866, die Groot Oorlog.
President Brand het die burgers van die Vrystaat in 3 dele gedeel: die noorde onder Kommandant Cornelius de Villiers, die weste onder Komm Jan Fick en die suide onder Komm Louw Wepener. Die burgers het Basotholand ingetrek en die Basotho’s in hulle verskansde skuilplekke in die berge aangeval met groot sukses. So ver as wat Louw Wepener en sy kommando Basotholand ingetrek het, het Louw Wepener die grond geproklameer vir die Vrystaat. Die Basotho’s het dieper die berge ingevlug.
Louw Wepener sterf
Komm Fick het ondertussen op eie aandrang as Kommandant-Generaal opgetree en bevel oorgeneem van die Vrystaatse magte. Hy gee opdrag dat Komm Louw Wepener en sy manne Thaba Bosigo, versterkte vesting van Mosjesj, op sy bevel moes bestorm. Fick talm egter om die aanval bevel te gee, besluit om aanval uit te stel en verander skielik weer van plan en gee opdrag om dadelik aan te val ten spyte van Louw Wepener se beswaar dat dit reeds laat is in die dag.
Louw Wepener sê vir sy manne: “Burgers dit is laat, maar ek het order gekry om die berg te neem. Die my liefhet, volg my.” Louw en sowat 300 man het die berg bestorm en verskeie is swaar gewond teen die hang uit.
Louw het eerste die krans uitgeklim en in ń skans geskuil. Hy en ń paar manne het gehardloop na ń 2de skans en toe ń 3de skans om plek te maak vir burgers wat volg. In die 3de skans is Louw dodelik gewond en die burgers het toe teruggeval en Louw se lyk het daar bly lê.
Verskeie burgers het hier in die berge gesneuwel. Eers nadat hulle Mosjesj en manne ń tyd lank op Thaba Bosigo vasgekeer het, het Mosjesj om vrede gevra. Mosjesj het 5 burgers aangehou as gyselaars terwyl onderhandelinge plaasgevind het. Een van hierdie vrywillige dapper gyselaars was Kommandant Frederik Senekal en Louw Wepener se seun FDJ Wepener.
Magistraat John Burnett van Aliwal-Noord het die dag na die geveg Thaba Bosigo besoek, glo ivm Britse belange, Louw Wepener se lyk gesien en aan Mosjesj se seun George opdrag gegee om Louw te begrawe sodat die familie die lyk kan kom haal nadat daar vrede gesluit is. Louw Wepener se lyk was oopgesny en John Burnett het aan George gevra waarom dit so was. George het geantwoord: “Koning Mosjesj se bevel was dat hulle die hart moes uithaal en dit braai en dat hulle aan elke jong Kaptein ń stukkie moes gee om te eet, sodat hulle ook kon so dapper word as hierdie man.” P 67 Louw Wepener deur FDJ Wepener.
Louw Wepener se seun FDJ Wepener (Dick) het tydens sy gyselaarskap die beendere van sy vader en Adam Raubenheimer wat saam begrawe was opgespoor en huis toe geneem en op die woonplaas Contansie begrawe.
Louw Wepener Monument
1938 word Louw Wepener en Adam Raubenheimer herbegrawe op die plek waar die monument aangebring is. Die monument is deur Coert Steynberg ontwerp. Die monument is op 31 Mei 1941 onthul.
ń Reliëfplaat teen die sy wys hoe die burgers Thaba Bosiu bestorm terwyl die Basotho’s van bo af die berg verdedig.
Derde Oorlog. Die Klein Oorloggie 1867
Ongelukkig het die vrede weer nie lank gehou nie of die Basotho’s verbreek weer die ooreenkoms en rooftogte begin weer. 1867 word ń boer, Jacobus Krynauw, vermoor en sy vee en goedere weggevoer en dit lei tot die Derde Basotho Oorlog, bekend as die Klein Oorloggie. Die Vrystaatse burgers het Mosjesj en sy Basotho’s heeltemal teruggedryf. “Toe Mosjesj gesien het dat die Boere hom uiteindelik vasgekeer het, het hy inderhaas na Sir Philip Wodehouse gestuur en aangebied om
ń Britse onderdaan te word….Sir Philip het tussenbei gekom en die Basoeto’s in Maart 1868 Britse onderdane verklaar en Basoetoland aan die Britse Ryk geannekseer.” Nota VII, Louw Wepener deur FDJ Wepener.
Na dit moes Vrystaatse burgers terugtrek en dit was hulle laaste oorlog teen die Basotho’s. Voortaan moes die Engelse hulle in toom hou, iets wat hulle baie moeite en onkostes en groot lewensverlies gekos het.
Tydens hierdie derde Basotho Oorlog sterf Kommandant Senekal 11 Februarie 1867 .
KS.
Bron: Wikipedia. Internet. Senekal History. SAmiltaryhistory.org. Louw Wepener deur FDJ
Wepener. Bethulie…onvoltooid, Trudie Venter.
Fotos: Gys Stöh snr. Des 2020
Adam Raubenheimer: ń 25 jarige vrywilliger wat saam met Louw Wepener dapper die berg bestorm het en saam met hom gesneuwel het. Hy was afkomstig uit Somerset-Wes distrik.
Mosjes se seun het Adam en Louw saam begrawe. Gelukkig kon Louw se seun sy pa se beendere uitken aan sy kopvorm en gebreekte of geslyte tand agv sy pyprokery (silwer pypsteel). Hy het beide se beendere saamgebring om begrawe te word. Die lyke het glo baie vinnig ontbind aangesien daar ‘n stroompie water deur die tydelike graf gestroom het.