Korbeelhuise / Karoo

Korbeelhuise

Hantam Karoo

Hardemans-Karoo

Carnavon, Fraserburg. Williston…

HUISE MET STORIES

KORBEELHUISIES

Besoekers aan die Hantamkaroo sien dikwels hierdie vreemde huisies raak.

Ronde kliphuisies of kliprondawels wat soos byekorwe lyk. Dikwels afgewit en word selfs gebruik as gastehuise.

Hierdie huisies word korbeelhuise genoem en aangetref in die Hantamkaroo en Roggeveld, in en rondom dorpe soos Carnarvon. Fraserburg, Williston, Sutherland ens.

Hierdie korbeelhuise is belangrike oorblyfsels van ñ ryke verlede en volksboukuns in Suid-Afrika.

WIE WAS DIE BOUERS?

Hierdie korbeelhuise wat wydverpreid in die Hantamkaroo en grensgebiede voorkom is gebou in die tydperk 1825 – 1875 (1820-1880) deur die pioniersboere wat die Hardemans-Karoo binnegetrek het. Hardemans-Karoo, so genoem omdat dit harde wêreld is met baie min plantegroei, bitter min bome en baie baie klip. Harde wêreld om in te oorleef.

Die blanke trekboere wat eerste hier met hulle vee getrek het, was nomadies en het in waens en tente gewoon.

Later toe grond hier bekom kan word, het pioniersboere hulle hier gevestig en begin om opstalle te bou.

Die area was byna boomloos, timmerhout en dekriet feitlik onbekombaar.

Plat klippe is toe as boumateriaal gebruik asook ñ mengsel van mis en gras.

OORSPRONG

Korbeelhuise is ñ eeue oue boutegniek.

Dit is al gebruik in antieke Egipte, antieke Griekeland, Indië en selfs deur die Majas van die Andes.

Koepeldakke wat soos ñ byekorf lyk vind ons in die suide van Italië, Frankryk. Ierland en Russiese Kerke van die 12 de eeu.

Rondom die Middellandse See was hierdie boumetode algemeen gebruik en dit is moontlik dat die vroeë setlaars vertroud was hiermee.

Die Sotho’s, o.a. die Ghoyas van die huidige Vrystaat het ook sulke klein byekorfhutte gebou en saamgegroepeer om ñ kraal te vorm.

KORBEEL

Die woord korbeel word in argitektuur gebruik om ñ ouderwetse konstruksie metode te beskryf.

Dit verwys na uitspringende of uitstaande steen uit ñ muur, pilaar of skoorsteen waarop ñ ander steen rus.

Die metode was veral gebruik vir die bou van boë en koepels.

EIENSKAPPE VAN KORBEELHUISE

Korbeelhuisies is gebou geheel en al uit klip.

Soms is ñ mengsel van kaf, grond en water geknie en as sement gebruik.

By ander huisies is weer net klippe gebruik wat netjies op mekaar gepak is.

Die huisies is gewoonlik rond gebou.

Deursnee ongeveer 50 m, hoogte 7 meter.

Die mure is 75 tot 78 cm dik.

Die dik mure en hoë dak is om beskerming te bied teen die geweldige somerhitte van hierdie ongenaakbare wêreld.

Die mure is regop, vertikaal, gebou tot op ñ hoogte van 2 meter en daarna word rye klip effens na binne gepak om ñ koepeldak te vorm.

Die sirkelvormige lae buig met verdrag binne toe tot dit bo bymekaar uitkom.

Die opening bo is dan met ñ plat klip bedek.

Klippe wat uitsteek is so elke 2 de tot 4de ry ingebou wat as trappe of ankers vir die bouer gedien het en ook gebruik is vir latere herstelwerk en vir die afwit van die huisies.

Die voordeur gewoonlik ñ bodeur en ñ onderdeur met ñ drumpel hoog bo die grond.

Regoor die deur was gewoonlik ñ klein venstertjie of ñ luggat met ñ luik wat skuins ingebou is sodat San of Boesmans nie hulle gifpyle daar deur kon skiet nie.

Deure en luggate

is met diervelle bedek, later vervang met houtdeure en vensters.

Die vloere was van ñ mengsel van klei en beesmis, gladgeskuur met ñ klip. Die rooibruin kleur is verkry deur ñ mengsel van osbloed en vet wat dan oorgesmeer is en glad gepoleer is.

By die drumpel is dikwels perskepitte in die vloer ingedruk.

Die buitemure is dikwels gepleister en afgewit.

BINNERUIMTE

Die korbeelhuisie het net een vertrek gehad, ñ enkelvertrek waar direk ingestap is.

Alles waarmee hierdie korbeelhuise gebou is, kom uit die natuur: Klip, klei, gras vir bouwerk.

Karosse vir komberse en bedekking van luggate en deure.

Beeshorings en bokhorings dien as muurpenne om goed aan op te hang.

Hout is gebruik vir kombuisware en hier en daar ñ kas.

Balke is binne aangebring om klere aan te hang en om vleis aan te hang om te droog.

Rakkies is in mure ingebou om plek te maak vir Bybel en Medisyne.

Onreëlmatige uitsteekklippe is gebruik as rakkies of hangplek van klere of gebruiksartikels.

LEWE IN KORBEELHUISE

Aanvanklik is net een korbeelhuisie gebou.

Later is ñ 2de of 3de bygevoeg of ñ langwerpige kamer aangebou.

Elke huisie het mettertyd sy eie unieke vorm of uitleg gehad.

Daar was geen binnedeure nie want harde klip is ñ moeilike medium om mee te werk en dit kon die struktuur verswak.

Al die vertrekke het buitedeure gehad.

Die boere en hul gesinne se bedrywighede was meestal buite in die veld, in krale, kookskerms, by bakoonde of besig om seep en kerse te maak.

Soms is die boonste vlak as slaapplek gebruik of stoorruimte vir groentes en ander benodigdhede.

Later is hierdie huisies gebruik om seep in te kook . Skaapvet is gebruik om seep van te maak en dit het ñ ekstra inkomste aan boerevvoorsien. Die korbeelhuisies het toe ook die benaming as Seephuisies van die Karoo verkry.

Die Britte het die huisies ook gebruik as bergplek vir kruit en ammunisie.

NASIONALE MONUMENTE

Tans is daar sowat 50 korbeelhuisies oor.

Meeste word as stoorplekke op plase gebruik.

Sommiges word as gastehuise aangewend.

In die omgewing van Grootfontein, Arbeidsfontein, Schuinshoogte, Goraas en Stuurmensfontein is 5 Korbeelhuisies as Nasionale Monumente verklaar.

By Carnarvon is ñ halwe korbeelhuisie wat besigtig kan word.

Beslis ñ besoek werd.

Bronne: Internet. Wikipedia. Ons Karoo en Kontrei Blad. Kalaharí Snippels.

Foto’s: Geleen vanaf Facebook.

Dankie Joshua Haarhoff en Magda Haarhoff Oktober 2023

Maak 'n opvolg-bydrae