Bethulie Konsentrasiekamp / ABO/ Begraafplaas

Bethulie Konsentrasiekamp

ABO

BETHULIE SE KONSENTRASIEKAMP

Die Bethulie-kamp het op 22 April 1901 ontstaan met 180 gevangenes. Die “Helkamp” was die derde grootste kamp, een van die kampe met die hoogste sterftesyfer per capita.

STERFTES

Persone onder die ouderdom van 15 jaar : 1311

Persone bo die ouderdom van 15 jaar : 426

Totaal : 1737

Gemiddeld sterf 4,5 persone per dag, 32 per week, 133 per maand.

Bethulie se konsentrasiekamp was ‘n oorvol kamp met ‘n geweldige hoë sterftesyfer.

“Twaalf begrafnisse in die oggend en sewe-in die middag in die Bethuliekamp. Dit was genoeg om die hardste van harte te breek. Vir enige minute moes ek dikwels eensaam ween voor ek kon preek.” Dagboek van ds.HJ.C Becker.

Bethulie se Konsentrasiekamp is begin in April 1901, hoofsaaklik om die oorvloei van Springfontein se kamp te hanteer aangesien daar te veel vrouens en kinders by Springfontein se kamp was.

Aanvanklik was die vrouens en kinders in die dorpie self gehuisves, maar later is ‘n kamp buite die dorp opgerig.

Die kamp is 2 keer verskuif. Eers teen die koppies naby die perdedepot, die Rooibult of Doringboomkamp.

Dit was n gemengde kamp waar ook die swart mense wat op die plase gevang was aangehou was.

Daar was dit ‘n groot probleem om water aan die militêre kamp, die perde en die gevangenes te verskaf. Daar was ‘n tekort aan water om te drink, om te was en om klere mee te was.

Junie 1901 is die kamp verskuif na die spruit toe ter wille van die beskikbaarheid van water en daar was ‘n put wes van die spruit.

Die spruit se water was ongelukkig erg besoedel van karkasse van diere wat naby die spruit begrawe was so paar jaar voor die ABO tydens die runderpes-epidemie. Die spruit word Moordspruit genoem.

Water uit die put, Adam se Put, kon ook net gehaal word as daar ‘n waterkar en osse beskikbaar was.

Klere moes in ‘n watergat in die spruit gewas word, dikwels was dit net ‘n modderpoel. Seep was onbekombaar.

Die swartes is mettertyd na ‘n ander terrein toe verskuif.

31 Julie 1901, minder as 3 maande later is hier reeds 4 280 gevangenes.

Die kamp was in ‘n laagte, in ‘n vlei geleë en het na die lentereëns die naam Moeraskamp gekry.

Die klam grond en besoedeling het die inwoners se gesondheid ernstig aangetas.

Die terrein was boonop so beknop dat die tente letterlik teenmekaar gestaan het en siektes het vinnig versprei.

Desember 1901 is die kamp weer verskuif na ‘n derde terrein noord van die laagte netjieser met heelwat meer spasie.

HAGLIKE OMSTANDIGHEDE IN DIE KAMPE

Die kamp was eers nie omhein nie en onbewaak, maar soos die omstandighede versleg het, het van die vroue probeer vlug.

Dit het daartoe gelei dat die kamp sedert September 1901 streng bewaak was deur kamppolisie ( mede-burgers) en spesiale permitte was nodig om die dorp te besoek.

Die gees in die Bethuliekamp was een van moedeloosheid en hopeloosheid agv van die swak toestande en die hoë steftesyfer.

Die vrouens en kinders wat hierheen gebring is, het reeds baie ontberings beleef en moes sonder beskutting reeds dae lank, selfs weke lank wag voor hulle in oorvol waens of oop treintrokke vervoer is na die kampe toe.

In Bethulie was daar ook nie genoeg behuising vir almal wat daarheen gedwing is nie.

Oorvol tente het siektes met rasse skrede laat versprei.

Tot ‘n 1000 vrouens was daar afgelaai sonder enige ekstra tente.

Tot 200 vrouens en kinders moes aanvanklik in die treintrokke bly aangesien daar reeds 300 in die dorpie met ‘n inwonertal van net oor die 500 gehuisves was.

Tente wat maksimum 6 mense kon huisves het 10 mense in gehad.

Voorrade in die dorp was ook totaal onvoldoende vir so ‘n groot groep mense.

In verskeie opsigte was die toestande in hierdie kamp van die slegste van al die kampe.

So laat as November 1901 het ongeveer vier-vyfdes van die kampinwoners (4882 mense) in hierdie kamp, as gevolg van die geweldige oorbevolking steeds op die grond geslaap sonder matrasse.

Die kamp was een van die skrikwekkendste kampe waarheen vroue en kinders weggevoer is.

Een van die redes was die onbeskikbaarheid van tente.

In die meeste gevalle moes vrouens en kinders onder die blote hemel ‘n heenkome vind.

Erge donderstorms het veroorsaak dat water tot ñ meter diep deur die kamp gestroom het.

Modder en nat beddegoed in die tente het omstandighede aaklig gemaak.

Gedurende die intense somerhitte het stofstorms hulle geteister.

Die koue weersomstandighede gedurende die winter van 1901 het ‘n groot rol gespeel in die hoë sterftesyfer.

Die Bethulie kamp was juis een van die kampe waar ‘n groot kapokstorm uitgesak het. Die gewig van die kapok het van die swak tente laat skeur en baie vroue en kinders is op die kasplankbeddens op die kaal en koue aarde vasgepen. Die seuns in die kamp het ingespring om aan die vasgepende vroue en kinders hulp te verleen.

Die dorp was oorvol, die kamp was oorvol, daar was nie genoeg voorrade om hierdie mense te voed en verpleeg nie en vrouens moes dikwels in die oop veld vir dae lank wag voor daar tente voorsien kon word.

Voedsel was baie min en van ñ swak gehalte ,vleis was dikwels vrot en melk was feitlik onverkrygbaar.

Om kos buite op die oop vure in wind en weer gaar te maak, was ook ‘n groot uitdaging.

Die inwoners van die kamp en díe in die dorp was ondervoed met geen weerstand teen siektes nie. Masels , kinkhoes, skarlakenskoors, ander aansteeklike siektes en maagkoors het ñ groot tol geëis.

Mediese hulp, dokters en medikasie was ook heeltemal ontoereikend en onbevoegd en die inwoners van die kamp was wantrouerig teenoor enige mediese hulp.

Die kamppersoneel was ook meestal onbevoegd, onsimpatiek en onbetroubaar.

Die tekort aan water het ook gelei tot ñ maagkoorsepidemie met baie sterftes.

Die kamp self was vuil en toiletgeriewe was letterlik stompe oor ñ sloot van 12-15 mlank, 3 voet diep en 1, 5 m breed. Die slote was sowat 100 meter van die kamp af weg en die stank en vlieë was onuithoudbaar. Die grond is daardeur ook erg besoedel.

Daar was 3 tente vir die lyke – vuil vervalle tente wat oopgestaan het net ‘n 100 tree weg van die gevreesde hospitaal af.

Die hospitaal was gevrees omdat niemand lewendig daarvan teruggekom het nie.

Alhoewel die omstandighede later onder nuwe bestuur effens verbeter het, het die omstandighede bitter moeilik gebly.

Na die oorlog het verarmde uitgedunde gesinne, honderde weeskinders en bejaardes sonder heenkome hier in Betulie ñ groot probleem geskep. Hulle het in ou stukkende tente agtergebly. Eers 10 Januarie 1903 is die kamp gesluit.

DIE MOSSIE OP ONS MUNTSTUK

‘n Groep vroue in die Behulie-kamp het Matt 10:29 as oorlewingsleuse gekies. “Word twee mossies nie vir ‘n stuiwer verkoop nie?” En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie.”

Die twee mossies is in 1923 as gevolg van bemiddeling deur mev Rachel Isabella (Tibbie) Steyn op Suid-Afrika se kwartpennie geplaas.

Konsentrasiekamp Begraafplaas: https://www.facebook.com/share/p/15uH5Kjuje/

Bronne: Elria Wessels. Bethulie… Onvoltooid, Trudie Venter.

Foto’s: Gysbertus Johannes Ströh (Gys Ströh snr 2020).Facebook. Trudie Venter

KONSENTRASIEKAMP BEGRAAFPLAAS

Konsentrasiekamp Kerkhof

Begraafplaas

Die oorspronklike begraafplaas was oos van die tweede Konsentrasiekamp op die area tussen die Engelse Monument en die naald van die oorspronklike gedenksuil.

Die oorspronklike grafte was almal bedek met klippe vanaf die spruit en omgewing.

Die oud-inwoners noem hierdie die “meerkatdorp- begraafplaas.”

Daar was tydens die ABO sowat 60 krygsgevangenes van Groenpunt Krygsgevangekamp op parool na die Bethuliekamp oorgeplaas om daar diens te doen. Hulle moes o.a. grafte grawe en kopsteentjies maak.

Giel Dippenaar van Phillipolis-distrik was verantwoordelik vir die uitleg van die begraafplaas.

Daar was dikwels nie hout om kiste mee te maak nie en dan is die lyke net in ñ kakiekombers toegedraai. Die kiste is ook by tye van afvalhout gemaak wat dan baie swak kiste was, met tragiese gevolge.

Die moeders het ook seepkissies gekoop en self daarvan kissies vir hulle kinders gemaak.

Oktober 1901 het van die grafte selfs oopgespoel tydens swaar reën.

Verskeie monumente is later jare by hierdie begraafplaas opgerig:

5 Junie 1902 het Ds Becker gereël dat klippe vanuit die berg aangedra word en op ñ klipstapel gepak word. Die klipstapel het hulle die Moederstapel of Klipstapel genoem.

1919 is die Engelse monument langsaan opgerig. Dit is die enigste monument wat deur die engelse befonds is en word genoem die Struktuurmonument of Engelse Monument. Die monument is ontwerp deur Reenen J van Reenen van Bloemfontein en hy self noem dit die Treurmonument.

Maart 1924 word die Moeder-en-kind monument daar ingewy, ook bekend as die Engelmonument.

Die begraafplaas verval in verwaardlosing en van 1950 af word dit weer herstel en November 1951 word die herstelde en ommuurde begraafplaas en ñ gedenksuil ingewy. Die oorspronklike klippe is van die grafte afgehaal en op ñ hoop gegooi wes van die Engelse Monument. Die grafte was bedek met eenvormige betonstene. ñ Gedenksuil word opgerig, met ñ ets bo-aan ( ñ doringboompie-ets) en 2 panele langsaan. Op die een paneel ñ gedig van Jan Cilliers en ook ñ deel van Totius se gedig Vergewe en Vergeet (verwys na die doringboompie).

VERSKUIWING VAN DIE KONSENTRASIEKAMP BEGRAAFPLAAS

In 1962 is kennis gegee dat die Konsentrasiekamp Begraafplaas verskuif moet word omdat daar ñ moontlikheid is dat die Verwoerddam dit kan oorstroom.

Teen 1966 was die skuif afgehandel en die nuwe terrein is op 10 Oktober 1966 deur Staatspresident CR Swart ingewy.

Die oorskotte van die 1737 slagoffers is opgegrawe, gedokumenteer en in eenvormige wit kissies geplaas en onder betonblokke op die nuwe terrein herbegrawe.

‘n Paar families wou hulle grafte apart hê en dit is toegelaat. Ongeveer 500 grafstene is in gedenkmure vasgemessel.

Al 1 737 slagoffers se name is op ‘n gedenkmuur gegraveer.

Die Moeder- en Kind monument is geskuif, maar die moeder en kind is geskei.

Die Moederstapel/ Klipstapel is op die nuwe terrein in ñ piramiedvorm herbou met die Kindbeeldjie (Engel) van die Moeder -en Kindmonument in ‘n nis teen die Klipstapel.

Die twee beelde kyk na mekaar.

Die gedenksuil (van doringboompie) se granietpanele is geskuif terwyl die suil op die oorspronklike terrein agtergelaat is.

‘n Gedenkplaat ter ere van Ds Becker is opgerig, maar moes vewyder word na diefstalpogings. Díe plaatjie word in die museum bewaar.

Mettertyd is ‘n dak oor die mure met grafsteentjies gebou en die area toegesluit om verdere vandalisering te verhoed.

Facebook pos:

“Die Bethulie Konsentrasiekamp Monument het vele verskillende fasette wat die Monument enig in sy soort maak:

KLEI-AFBEELDING

Hierdie klei afbeelding is ‘n kopie van ‘n oorspronklike foto waar die familie by die graf van ‘n geliefde in die Bethulie konsentrasiekamp begrafplaas staan. Die geliefde was Mev H.M.E van der Merwe.

DIE BETHULIE ENGEL

Hierdie is ‘n replika van die oorspronklike engeltjie- beeld wat op die oorspronklike Bethulie Konsentrasiekamp Gedenkteken was. Die oorspronklike beeld is in die vroeë 2000’s gesteel, maar is gelukkig teruggevind. Ongelukkig is dit beskadig en daar is toe besluit om liewer die beeldjie aan die Museum te skenk om te bewaar. Replika beelde is daarom gebruik vir die Bethulie Monument by die Museum asook die een by die Bethulie Konsentrasiekamp Kerkhof wat op die Gedenkteken staan.

Bronne: Facebook. Bethulie… Onvoltooid, Trudie Venter

Foto’s : Gysbertus Johannes Ströh (Gys Ströh ) 2020.

https://www.facebook.com/share/p/1AWc4GctMv

Maak 'n opvolg-bydrae