Blokhuis ABO
Rooi Treinbrug
Beaufort-Wes
Noord-Kaap
Tydens ABO 1899-1900 het die Britte blokhuise opgerig op strategiese plekke om treinbrûe, spoorlyne en ingange na dorpe te bewaak. Hierdie was gewoonlik stewiger geboude blokhuise as díe wat later in die blokhuislinies opgerig is. Die blokhuislinies is opgerig om vrye beweging van die Boerevegters te beperk. Die oprig van blokhuise by treinbrûe was blykbaar baie suksesvol vir die Britte want tydens Kitchener se bevelvoering was daar bykans geen belangrike brug deur die Boere venietig nie.
Die treinbrug oor die Gamkarivier by Beaufort-Wes was belangrik vir die Britte want dit is die hooflyn waarlangs soldate, voorrade en ammunisie vervoer is na die twee Boererepublieke. Hier is ń blokhuis vir die soesifieke doel opgerig om die treinbrug te beskerm. Nogtans het hierdie blokhuis ook ingeskakel by die netwerke van duisende blokhuise wat oor die Republieke ( ZAR en OVS), Natal, Kaapkolonie en Betsjoeanaland gestrek het. Hierdie blokhuis het ingeskakel by die linie wat vanaf Wellington na Beaufort-Wes geplaas is.
Die blokhuis langs die rooi treinbrug is stewig geboude klipgebou, plaaslike klip is gebruik. Drieverdieping gebou met ingang in middelste vlak sodat toegang slegs met behulp van ń leer is. Snags en in tye van gevaar is die leer opgetrek wat toegang verhinder het. Reg rondom is skietgate vir verdediging na alle rigtings.
Die grondvloer is gebruik vir water en berging van voorrade. Die middelste vloer was woonkwartiere vir soldate. So 20 tot 30 man het die blokhuis bewoon. Die boonste vloer het as uitkykpunt gedien.
Die teenwoordigheid van die Britte in Beaufort-Wes het nogal gelei tot konflik en groot bitterheid onder die inwoners van die dorp. Water is ń kosbare kommoditeit in hierdie area en die Britse soldate en hulle perde het die waterbronne uitgeput en besoedel. “Ongewenstes”, dit was nou inwoners wat met die Boererepublieke gesimpatiseer het, is ook onder krygswet in die plaaslike tronk en in ń inteneringskamp langs die spoorwegstasie aamgehou. Dit het groot ongelukkigheid en gevoel van vyandigheid onder die inwoners veroorsaak.
Die ou oorblywende blokhuis van Beaufort-Wes langs die kenmerkende rooi brug is ook deur die jare gestroop van oorspronklike hout en staalmateriaal maar is ń paar jaar gelede nejies opgeknap, maar soos ander blokhuise oor die land ook maar in gevaar vir vandalisme. Ongelukkig is daar nie spesifieke organisasies verantwoordelik vir beskerming en instandhouding van blokhuise nie en inisiatief kom maar gewoonlik vanaf privaat persone of plaaslike maatskappye.
Treffende gedig deur Marcus Peters:
By Beaufort-Wes se rooi brug
By Beaufort-Wes se rooi brug,
waar platannas luidkeels kwaak,
en doringbome met goudgeel bloeisels
die eeu oue spoorlyn bewaak,
word met vlamrooi someraande
spookasem van stoom en rook opgeroep
fluit vergete treine
as jy aandagtig luister, ver vanaf jou stoep.
Bakhand sekel die maan
nog ‘n trein vertrek,
knars ysterwiele
hoor hul kreun op die blink trajek.
So reis verhale:
bekendes en vreemdelinge
wat kom en gaan;
nog ‘n trein vertrek
bakhand sekel die maan.
‘n Paar dekades gelede het hier,
‘n woonbuurt geblom:
bekend as die Bodorp
met deftige huise
en ander lendelam krom.
Al was daar lief en leed se soet en suur,
was dit hemels, maar ook van korte duur.
Donker skuil die nuwe maan,
die laaste stoomtrein vertrek,
flits treinwaens wat oor die rooi brug draf.
Dis die einde van ‘n era
die verlede word deur tegno gestraf;
die laaste stoomtrein vertrek
donker skuil die nuwe maan.
So salig was die kuier,
wat ‘n finale krismis bring,
ou dorpenaars wat op gras piekniek
onder die rooi brug
en die mooiste kersliedere sing.
Nou weerklink valse note op spore
van onthou se tragiek.
Blond en blou is die volmaan,
wit en bleker
oor donker kraters biggel ‘n traan
die oorspronklike inwoners is almal weg,
hulle was verplig om hul wonings te verlaat;
oor duistere flaters val ‘n traan
wit en bleker
blond en blou is die volmaan.
Deesdae snel elektriese lokomotiewe,
vooruitgang was daar voorwaar
tog het tyd net soos diewe
die nostalgie van stoom geensins gespaar;
al die bruin inwoners is weg
staan hul huise, as monumente teen onreg.
Bloed bevlek die maan
met rooi oë
ween sinjale oor seer wat nooit weggaan.
Nou dood droogte doringboompies,
skreeu die stilte bewoë,
nêrens is daar gekwaak
by die blou walle se opgedroogte stroompies.
By Beaufort-Wes se rooi brug,
waar platannas luidkeels kwaak,
en goudgeel doringbome
die eeu oue spoorlyn bewaak,
word met vlamrooi someraande
spookasem van stoom en rook opgeroep
fluit vergete treine
as jy aandagtig luister, ver vanaf jou stoep.
Hoeveel mane weifel oor jare?
Word tot in die derde geslag gestraf,
weet agterkleinkinders
soms nie van hul voorouers se wandade;
terwyl die bruin rondloper brak soekend draf,
onderdeur die rooi brug op someraande.
© Marcus Jorin Peters
Fotos:Gys Ströh snr Desember 2019
Gedig Marcus Peters in die Courier