Vereeniging / Straatname

VEREENIGING se STRAATNAME

‘n Ondersoek na die oorsprong en betekenis (waar  moontlik).

Straatname in die sentrale deel van Vereeniging

Vereeniging se Sentrale Kern se Straatname lees soos ‘n Geskiedenisboek.

DIE DORP VEREENIGING

Vereeniging  het sy ontstaan te danke aan die steenkool wat George William Stow  in 1878 hier ontdek het.

Vereeniging se naam is afkomstig van die steenkoolmaatskappy wat deur Sammy Marks en George William Stow bedryf was: “De Zuid Afrikaansche en Oranje Vrijstaatsche Kolen en Mineralen Mijn Vereeniging

Die steenkoolmaatskappy het aansoek gedoen by die ZAR (Transvaal Regering) vir die stigting van ‘n dorp aangesien die inwonergetalle en ontwikkeling rondom die steenkoolmyne ‘n dorp hier regverdig het.

Die Uitvoerende Raad van die ZAR se Volksraad het  die 4de Julie 1882 die plan vir ‘n dorp  goedgekeur en die naam wat hulle gekies het vir die dorp was “Vereeniging” die laaste woord van die steenkoolmaatskappy.

Die finale amptelike dokument vir die goedkeuring is eers op 23 Desember 1889 onderteken deur die Staatsekretaris.

Planne vir die dorpsgebied is deur Johan Rissik opgestel.

E Jorissen het alles opgemeet.  Elke erf was 200 voet by 100 voet groot.

 4 Akker is in die middel van die dorpie uitgehou as ‘n markplein. 

Aanvanklik is min erwe verkoop weens wantroue van die publiek oor die standvastigheid van nuwe dorpies en bedrywighede wat rondom die skagte van die myne ontstaan het waar myners hulle gevestig het.

1890 is die eerste nywerheid in Vereeniging opgerig o.a. vir die vervaardiging van vuurvaste kleistene.

Die dorpie het vinnig in ‘n handelsentrum begin ontwikkel.

1892 is van die dorp se erwe per openbare veiling in Johannesburg verkoop en die kopers het begin om huise op die erwe te bou.  Geleidelik het Vereeniging as ‘n dorp begin ontstaan.

DIE UITLEG VAN VEREENIGING

Die dorp Vereeniging  is uitgelê volgens ‘n rooster patroon.

Wye strate (Streets)  strek  van noord na suid  en lane (Avenues) strek van oos na wes.

Die strate was aanvanklik genommer volgens die  Amerikaanse model van lane en strate. Strate 1 tot 9 en Lane 1 tot 14.

Later was die name verander na ‘n gelyke hoeveelheid prominente Engelse en Afrikaanse Suid-Afrikaners.

Die huidige Lewis Laan / Avenue  was Avenue / Lane No. 1  tot  en met De Villierslaan wat Avenue / Lane No. 14 was.

Uniestraat was Street No. 1 en Van Riebeeckstraat was Street No. 9.

Na die voltooiing van die spoorlyn vanaf Bloemfontein na Vereeniging, die tydelike houtbrug en die verlenging van die spoorlyn na Johannesburg het  die spoorlyn deur die dorp geloop (op die hoek van De Villiers & Unie).

Eers later (1920’s en 1950/s) is die spoorlyn heraangelê  aangesien druk spoorverkeer dit genoodsaak het om ‘n nuwe brug te bou en om spoorverbindings te verbeter. Daar het daagliks sowat 60 treine deur Vereenigingstasie gestoom. 

NAAMVERANDERINGS

Name van prominente mense en Plekname is aan die strate en lane toegeken, bv. Lewislaan was Lane Number One.

Mainstreet is in 1939 herbenoem na Voortrekkerstraat ter herdenking aan  die Simboliese Ossewatrek van 1938.

Senator Marks Laan was  eers net gewoon Marks Laan.

TEERSTRATE

Die stowwerige strate  in Vereeniging was in die begin van die dorp se ontstaan en groei  bedek met ‘n aaklige laag swart steenkoolstof en dieremis.

In die reënseisoen het die strate gou-gou verander in ‘n modder-pappery.

Die modderspore wat die transportwaens uitgetrap het is mettertyd bedek met ‘n gruislaag soos daar geld beskikbaar geraak het.

Die strate was afgeperk met lanings bome.

1932 is ‘n  gebied rondom die stadsaal en ‘n gedeelte van Marklaan, wes na Bothastraat eerste geteer . Dit was die woonbuurt waar die meer welvarende en invloedryke inwoners gewoon het.

Twee jaar later, 1934,  is ‘n smal middelstrook in Mainstraat  geteer om deurverkeer te dra en om aan te sluit by die pad van Vereeniging na Johannesburg. Die pad van Vereeniging na Johannesburg  is in 1934 geteer.

In 1935 is die straat in die sakebuurt, Marklaan, tussen die stadsaal en die spoorwegstasie geteer.

1941 was daar reeds 150 myl (240 km) teerstrate in Vereeniging.

VOORTREKKERSTRAAT se voorkoms verander

1939 is Mainstreet se naam verander na Voortrekkerstraat.

1941 is Voortrekkerstraat  geteer en wyer gemaak  met verkeerseilande  in die middel vir die lengte van die straat. Treur-moebeibome  is toe in die middel op die eiland geplant.  Die voorkoms van die dorp was daarmee baie aantreklik gemaak.

Voortrekkerstraat was die deurgangsroete na Johannesburg.

Tans sluit Barrageweg,rigting vanaf Vanderbijlpark, by Voortrekkerstraat aan. Interessant is dat ‘n gedeelte van Voortrekkerstraat aan die suide parallel met Barrageweg loop en soos ‘n dienslaan gebruik word.  .

STRAATNAME van die Sentrale Sakekern:

LANE VAN OOS NA WES:

Lewislaan Avenue (was Lane No 1 / Eerste Laan)

Livingstone Ave

Smuts Ave

Victoria Ave

Stanley Ave

Senator Marks  Ave (Was Marks Ave)

Beaconsfield Ave

Market Ave

Merriman Ave

Kruger Ave

Hofmeyer Ave

Grey Ave

Rhodes Ave

De Villiers Ave ( Was Avenue No 14 / Veertiende Laan)

Telford Ave

General Smuts Ave

STRATE VAN NOORD NA SUID

Unie  Str (was Street No  1 / Eerste straat)

Voortrekker Str  (Was Main Road)

Leslie Str

Joubert Str

Edward Str

Botha Str

George Str

Van Riebeeck  Str (was Street No 9 / Negende straat)

Station Road het skynbaar verdwyn.

NAAMGEWING VAN DIE STRATE IN VEREENIGING

Met die gee van straatame was die naamgewers baie kreatief.

Sekere areas se name is volgens ‘n tema aangedui Bv Wes van die sakegebied is ‘n area met hoofaaklik name van Boksoorte. Interessant is dat die strate  hier nie volgens die normale roosterpatroon uitgelê is  nie.

Name van strate in hierdie area is Zebrastraat, Elandstr, Duikerstr, Kudustr, Wildebeesstr, Sablestr, Blesbokstr, Kwaggastr, Oribistr, Steenbokstr, Bosbokstr, Rooihartbeesstr, Nyalastraat  en sommer ook ‘n Porcupine straat.

In die Noord-ooste is weer name van bekende wetenskaplikes soos Faraday, Newton, Schonland en Nuffield gebruik.

 Die groot deurgangspad na Drie Riviere heet Generaal  Hertzog  (Boereleier)  en aan die oostekant Mario Milani Drive.   Dr Mario L Milani dien vanaf 1972 vir 30 jaar as aktiewe lid van die Stadsraad van Vereeniging (6 termyne, die langste dienende Raadslid.)  As erkenning vir sy baanbrekerswerk in Vereeniging se ontwikkeling , ontvang Mario L Milani ereburgerskap van Vereeniging 1992.

Suid van die sentrale gebied vind ons ook ‘n eienaardige uitbreiding waar daar afgewyk is van die normale roosterpatroon met interessante name soos  Corneliastraat, Berkowitz Str, Paul Str, Bertha Str , Betty Str  en  Sharpe Str.

Die  oorsprong van sommige van hierdie uitbreiding se name is nog raaiselagtig.

Corneliastraat: Cornelia: Die ou myn  naby Viljoensdrif was die Corneliamyn  (opvolger van die ou Central Mine ), een van Suid-Afrika se grootste steenkoolproduserende myne (1895) met ‘n Berthaskag en ‘n Bettyskag . Die eerste sooi van hierdie myn is gespit deur President Reitz van die Oranje Vrystaat. Hy vernoem hierdie myn na sy ma Cornelia. Moontlik is  Cornelia Str, Berthastr en BettyStr vernoem nav die eerste myne in Vereeniging.

Bertha straat: Bertha Gutman Marks was die vrou van Senator Sammy Marks.

Bertha Gutman Marks

Bettystraat: Betty? Wie Betty van Bettystr was, is nog ‘n raaisel. Moontlik vernoem na George William Stow se vrou Caroline Elizabeth Stow  (Stow trou 23 Julie 1844 met Caroline Elizabeth SKINNER. Sy sterf 1867).

Wie was Betty?

Paulstraat: Paulstraat is ook nog ‘n raaisel. Moontlik vernoem na Paul Kruger,  ‘n groot vriend van Sammy Marks.

Sharpestraat: John Lillie Sharpe, Burgemeester van Vereeniging,   1934 – 1937. Sharpeville is ook na hom vernoem.

Berkowitzstraat: Aaron David Berkowitz burgemeester van Vereeniging 1919- 1927, hy het hom beywer  vir die oprigting van ‘n hospitaal.

STRAATNAME IN DIE SENTRALE DEEL VAN VEREENIGING VERTEL GESKIEDENIS

LANE VAN OOS NA WES

1.Lewis Avenue / Lewislaan  / No 1 / Eerste Laan

Isaac Lewis

Isaac Lewis en Sammy Marks het ‘n groot rol gespeel in die ontstaan, stigting en ontwikkeling van Vereeniging   

Reeds met die ontdekking van steenkool in 1878 het hulle direk betrokke geraak met die omgewing wat later as Vereeniging bekend geraak het

Vereeniging het sy naam te danke aan die maatskappy wat hulle gestig en bedryf het.  De Zuid Afrikaansche en Oranje Vrijstaatsche Kolen en Mineralen Vereeniging (1880).

2.Livingstone Ave / Laan

David Livingstone (1813 – 1873)

Skotse ontdekkingreisiger, pionier, sendeling  in suidelike, sentraal en oos-Afrika. Hy was een van die groot Britse helde gedurende die laat-Victoriaanse tydperk. Daar word aanvaar dat Livingstone die eerste Europeër was wat die Victoria-waterval gesien het, 1855

30 jaar lank het hy Afrika deurkruis, plekke besoek waar geen Europeër nog ooit sy voete gesit het nie

David Livingstone het deur sy kennis, ervaring en inligting grootliks Europa se siening van Afrika en sy mense positief beïnvloed. Hy het geglo in Afrika se vermoë om deel te word van die moderne  en beskaafde wêreld

David Livingstone gedenksteen, Zambië

        David Livingstone

3. Smuts Ave / Smutslaan

Daar is ook ‘n General Smuts Ave / Generaal Smutslaan. Vermoedelik beide vernoem na:

Jan Christian Smuts  1870 – 1950

Staatsman,  militêre leier

Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika 1919 – 1924, 1939 – 1948

Smuts was die hoofargitek van die Grondwet van die Unie van Suid-Afrika

Smuts was in ‘n politieke vennootskap met Cecil John Rhodes en Onze Jan Hofmeyr.  Ná die mislukte Jameson-inval word hy egter ‘n Afrikanernasionalis en republikein 

In die eerste Unie-kabinet het Smuts drie portefeuljes beklee: Binnelandse sake, Myne en Verdediging, maar in 1912 net twee: Finansies en Verdediging. Sy Verdedigingswet No. 13 van 1912 was blywende wetgewing.

    Jan Smuts

4. Victoria Ave / Laan

Koningin Victoria

Alexandrina Victoria, Koningin van Engeland en Ierland vanaf 1837 tot 1901, 63 jaar lank

Die eerste kragstasie by Vereeniging is ook genoem: Die Victoria Falls Kragstasie (1912) : “Victoria Falls and Transvaal Power Company Queen Victoria”

         Koningin Victoria

5. Stanley Ave / Laan

Sir Henry Morton Stanley  ( gebore as John Rowlands; 1841 – 1904)

Amerikaanse Ontdekkingsreisiger, joernalis, skrywer, soldaat, Britse Politikus. Bekend vir sy reise deur Sentraal-Afrika, sy soeke na die oorsprong van die Nylrivier en die Kongorivier en sy soektog na die beroemde ontdekkingsreisiger, David Livingstone. Vir ‘n paar jaar lank het niemand iets van hom gehoor het nie. Soekgeselskappe het reeds verskeie kere vrugteloos na David Livingstone  gaan soek

1871 het hy David Livingstone opgespoor naby die Tanganyika-meer (vandag Tanzanië). Hy vind ‘n baie siek en verswakte man en groet hom met die bekende woorde: “Dr. Livingstone, I presume?”

The Herald‘s own first account of the meeting, published 1 July 1872, reports:[2

“Preserving a calmness of exterior before the Arabs which was hard to simulate as he reached the group, Mr. Stanley said: – “Doctor Livingstone, I presume?” A smile lit up the features of the pale white man as he answered: “Yes, and I feel thankful that I am here to welcome you.”[

Met die broodnodige voedsel en medisyne wat Stanley saamgebring het, het Livingstone gou herstel en saam het hulle die meer en Afrika verder verken. Stanley keer terug na Engeland in 1872.

   Sir Henry Stanley

6. Senator Marks Ave/ Laan  ( Was eers  Marks Avenue, later verander na Senator Marks Avenue, moontlik om verwarring met Market Ave te voorkom )

Sammy Marks  (1822 -1882)

Leslie en Sammy Marks was die stigters van Vereeniging

Toe Sammy Marks die nuus hoor dat Stow steenkool daar langs die Vaalrivier ontdek het (1871), het hy dadelik die waarde daarvan besef en die plase in die omgewing laat aankoop om die steenkool daar te begin ontgin

Sammy Marks was die VADER VAN VEREENIGING genoem, Vereeniging is uit sy visie en ywer gebore. Hy kan ook met reg ook die VADER VAN DIE TRANSVAALSE NYWERHEID genoem word

Saam met Lewis stig hulle die dorp Vereeniging in 1889

ABO 1898 – 1902: Sammy Marks het ‘n groot rol gespeel in die vredesooreenkoms tussen Boer en Brit, Die Vrede van Vereeniging, 31 Mei 1902.

Samuel Marks se bydrae tot Vereeniging: Bydrae (Sarel Veldsman)

1. Samuel marks het aanvanklik al die plase en grond in en om Vereeniging aangekoop.

2. Hy het die Maatskappy begin wat die naam aan Vereeniging gegee het.

3. Hy het die eerste steenkoolmyn in Vereeniging begin.

4. Hy het Corneliamyn in Viljoensdrif begin

5. Hy het ‘n vervoermaatskappy begin wat steenkool na Kimberley toe uitgevoer het.

6. Hy het die eerste poskantoorgebou geskenk aan Vereeniging.

7. Hy het Steen en Pan (Brick & Tile) as ‘n besigheid in Vereeniging gevestig.

8. Hy was betrokke met die eerste treinbrug se opening in Vereeniging.

9. Hy het die pont by Viljoensdrif bedryf as ‘n besigheid.

10. Hy het sy terrein beskikbaar gestel vir die Vredesonderhandelinge in Vereeniging.

11. Hy het die Bosbou en plantasies by Maccauvlei begin.

12. Hy het die eerste Indiërs in Vereeniging en Maccauvlei gevestig.

13. Hy het die eerste Appelboorde aangeplant by Maccauvlei.

14. Hy het die eerste Keerwal (Weir) in die Vaalrivier laat bou.

15. Hy het die eerste gemeganiseerde landbou toegepas by Maccauvlei.

16. Hy het die eerste grootskaalse landbouboerdery skema begin.

17. Hy het die eerste volle gemeganiseerde Meule in Vereeniging gebou.

18. Hy het die eerste staalsmelter in Vereeniging gebou.

19. Hy was betrokke by die eerste Kragstasie wat gebou was in Vereeniging

20. Hy het die Rand Water Skema by Barrage begin

21. en die Vereeniging Pompstasie en Suiweringswerke.

22. Hy het die aanvanklike Riviera Hotel laat bou.

7. Beaconsfield Ave / Laan

Benjamin Disraeli, Earl of Beaconsfield ( 1804 -1881) / Graaf van Beaconsfield

Britse staatsman wat van 1874 – 1880 in die parlement gedien het. Britse Eerste Minister (1868 en 1874). Goeie vriend van Koningin Victoria wat in 1876 aan hom die titel Earl of Beaconsfield gegee het. Hy was die Eerste Earl of Beaconsfield

Verskeis dorpe, plekke en paaie elders in die wêreld is vernoem na die gewilde Earl of Beaconsfield en sy vrou. In Kimberley vind ons ook die naam Beaconsfield.

Benjamin Disraeli, Earl of Beaconsfield

8. Market Ave / Marklaan

Die sakebuurt van die dorp Vereeniging was Market Ave.

Die belangrikste sakebuurt  was aan die onderkant van Marklaan in die rigting van die stasie.

9. Merriman Ave / Laan

John Xavier Merriman ( 1841 –  1926)

Suid-Afrikaanse politikus

Eerste Minister van die Kaap Kolonie (1908 – 1910), die laaste Eerste Minister van die Kaap Kolonie voor die vorming van die Unie van Suid-Afrika 1910.

John X Merriman 

10. Kruger Ave / Krugerlaan (Daar is ook ‘n Paulstraat, waarskynlik ook vernoem na Paul Kruger, ‘n groot vriend van Sammy Marks)

Stephanus Johannes Paulus Kruger (1825 – 1904)

Gewilde Boereleier, Lid van die Driemanskap

Staatpresident van die ZAR 1883 – 1904.

Stephanus Johannes Paulus Kruger

11. Hofmeyer Ave / Hofmeyerlaan

Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan) 1845 – 1909

Joernalis en politikus

Redakteur van De Volksvriend, later De Zuid-Afrikaan

In 1878 stig hy “Het Zuid-Afrikaansche Tijdschrift” om belangstelling vir die Nederlandse taal te wek.

Hy beywer hom vir gelyke regte van Hollands en Engels

‘n Prominemte figuur in die Eerste Taalbeweging

In 1890 help hy met die stigting van die Taalbond en vanaf 1903 steun hy “De Goede Hoop” ter bevordering van die Hollandse taal

In 1905 hou hy sy beroemde toespraak “Is’t ons ernst?”, waarvan die woorde op die voetstuk van sy standbeeld in Kaapstad verskyn. Met hierdie vraag het Onze Jan – soos hy in die omgang bekend gestaan het – die Nederlandse taal probeer bevorder, dog dit het onregstreeks ‘n groot stoot aan Afrikaans besorg deurdat kampvegters soos dr DF Malan en Gustav Preller nou ook in die bres getree het vir Afrikaans.

Daar was ‘n politieke vennootskap tussen  Cecil John Rhodes en Onze Jan Hofmeyr

Beeld van  J.H. Hofmeyr, Kerkplein, Kaapstad

 Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan)

12. Grey Ave / Greylaan

Sir George Grey 1812 -1917

Goewerneur en Hoë Kommissaris van die Kaapkolonie

Reis deur die Kaapkolonie, Vrystaat en Natal om vredesooreenkomste te sluit en om goeie verhoudings  tussen die Boererepublieke, Britse kolonies en inheemse stamleiers aan te moedig

Heg hoë waarde aan opleiding en opvoeding, evangeliesasie en aanvaarding van die westerse kultuur.

        Sir George Grey

13. Rhodes Ave / Rhodeslaan

Cecil John Rhodes 1853 – 1902

Britse mynmagnaat, Politikus

Eerste Minister van die Kaapkolonie 1890-1896

Politieke vennootskap tussen Cecil John Rhodes en Onze Jan Hofmeyr

Cecil John Rhodes

14. De Villiers Avenue  / De Villierslaan  / was Veertiende Laan

John Henry de Villiers,  Lord Henry de Villiers, Eerste Baron De Villiers van Wynberg  in die Provinsie van Kaap die Goeie Hoop en die Unie van Suid-Afrika 1842 – 1914

Die eerste Hoofregter van die Suid-Afrikaanse Hooggeregshof  187. Hy beklee hierdie pos vir 40 jaar

De Villiers het geglo aan gratis basiese onderrig.

Hy het geglo dat Engels die hooftaal moes wees, maar dat Hollands ook ’n plek moes hê. De Villiers was egter gekant teen die strewe om Afrikaans as taal te bevorder 

Ná die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) was hy lid van die kommissie wat aan die Pretoria Konvensie – die vredesluiting ná die oorlog – gewerk het

Laastens was hy die voorsitter van die komitee wat die Unie se konsepgrondwet opgestel het

Na die vestiging van die Unie van SA het hy as Hoofregter bly dien van 1910 -1914

Hy dra by tot die vestiging van ’n appèlhof in 1910.

      John Henry de Villiers

John Henry de Villiers as Hoofregter

15.Telford Avenue / Telfordlaan

Thomas Telford 1757 – 1834

‘n Skotse siviele ingenieur bekend vir sy pad- en kanaalprojekte, tonnels en hawens  in Skotland

Ontwerper van talle brûe, veral die hangbrug

Die eerste President van die Institution of Civil Engineers.

         Thomas Telford

16. General Smuts Ave / Generaal Smutslaan

Jan Christian Smuts  1870 – 1950

Staatsman,  militêre leier

Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika 1919 – 1924, 1939 – 1948

Smuts was die hoofargitek van die Grondwet van die Unie van Suid-Afrika, die Suid-Afrika-wet

In die eerste Unie-kabinet het Smuts drie portefeuljes beklee: Binnelandse sake, Myne en Verdediging, maar in 1912 net twee: Finansies en Verdediging. Sy Verdedigingswet No. 13 van 1912 was blywende wetgewing.

     Jan Christian Smuts 

STRATE

VAN NOORD  NA SUID STREK  WYE STRATE

1.Unie Street  / Uniestraat Was Street  Number 1 /  Eerste straat

Uniestraat was moontlik eers Stasiestraat. Die ouer inwoners van Vereeniging praat vandag nog steeds van  Uniestraat as Stasiestraat.   Na Uniewording is die straatnaam waarskynlik verander na Uniestraat.

Die Unie van Suid-Afrika  31 Mei  1910

Die 4 selfregerende Kolonies; Die Britse Kaap de Goede Hoop, Britse Natal, Transvaal en die Oranjerivierkolonie,  is na die ABO (1898-1902)  en die Vrede van Vereeniging (1902)  in 1910 verenig as die Unie van SA onder Britse beheer. Die kolonies het provinsies geword nl. die Transvaal, Oranje-Vrystaat, Natal en Kaap de Goede Hoop. Jan Smuts en John X Merriman was die groot argitekte van die eenwording van die 4 provinsies.

31 Mei 1961 het die Republiek van SA ontstaan.

2.Voortrekker Street / Voortrekkerstraat / Was Main Road

Mainstreet se naam is in 1939 verander na Voortrekkerstraat ter herdenking aan die Simboliese Ossewatrek in 1938.

Mainstreet / Voortrekkerstraat

Voortrekkerstraat se Monumentjie is verskuif na die Vredesmonument-terrein in Vereeniging.

3.Leslie Street / Lesliestraat

Dr Thomas Nicolas Leslie 1858 – 1942

Kalkbrander, klipgroefwerker, bouer. Antropoloog, geoloog, botanis, antropoloog, fotograaf

Kenner van klippe en stene

Liefde vir drama en letterkunde

Arriveer 1891in Vereeniging

Geweldige groot bydrae gelewer tot die ontwikkeling van Vereeniging.

Vereeniging se eerste Burgemeester

Kenner op die gebied van Fossiele  en Steenkoolneerslae in die Vereeniging-area

Ontdek ‘n versteende woud op die bodem van die Vaalrivier, die stamme van die versteende bome is tot 15 meter lank. Ongelukkig is alles  onder water na die Barrage gebou is.

              Thomas Nicolas Leslie

4.Joubert street / Joubertstraat

Generaal Petrus Jacobus Joubert / Piet Joubert / 1831 – 1900

Kommandant-generaal van die Boeremagte tydens die Eerste Vryheidsoorlog 1880 -1881 en aan die begin van die ABO 1898 – 1902

Vorm 1880 saam met Paul Kruger en MW Pretorius die Driemanskap wat Transvaal se eer moes herstel na die Eerste Britse anneksasie. Groot held van Majuba.

     Generaal  Piet Joubert

5.Edward Street / Edwardstraat

Prins Albert Edward 1841 – 1910

Oudste seun van Koningin Victoria

Na Victoria se dood in 1901  word hy gekroon as Koning Edward VII.

6.Botha Street / Bothastraat

Louis Botha 1862 – 1919

Groot leier van die Boervolk tydens die ABO.

Verteenwoordiger van die Boere tydens die Vrede van Vereeniging

Die eerste Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika.

             Louis Botha

7.George Street / Georgestraat

GEORGE WILLIAM STOW (STOWE) 1822 -1882

Ontdekker van steenkool in Vereeniging

Die vader van Vereeniging

Geoloog, kartograaf, historikus , skrywer, digter , kunstenaar

1878 ontdek hy waardevolle steenkoolneerslae by Makouw’s Vlei. (Vereeniging).

      GEORGE WILLIAM STOW

8.Van Riebeeck  Street / Van Riebeeckstraat / Street No 9 / Negende straat

Johan Anthoniszoon Van Riebeeck  / Jan van Riebeeck 1619 – 1677

Volksplanter  aan die Kaap van Storms / Halfwegstasie / Bou ‘n Fort

Die VOC stuur Jan van Riebeeck Kaap die Goeie Hoop toe om daar ‘n handelspos te vestig

6 April 1652 land Jan van Riebeeck aan die Kaap om hierdie moeilike taak as kommandeur aan te pak

Mei 1662  verlaat hy weer die Kaap om ‘n pos in Batavia te aanvaar.

9. Station Road / Stasiestraat  het  verdwyn met verlegging van die spoorlyn.

Bronne: Vereeniging Suid-Afrika deur Ramon Lewis Leigh, Sarel Veldmann se Geskiedenis van Vereeniging, Internet: www.monument-sa.co.za. Vereeniging Geskiedenis.

Maak 'n opvolg-bydrae