ISAAC LEWIS 1848 – 1927
(EGGSA pos deur Kobie Ströh)
-Suid-Afrikaanse Joodse Diamant-magnaat.
-Pionier in Ontwikkeling van Diamantmyne in SA
-Stigters van Vereeniging
ISAAC LEWIS, een van die vergete Jode wat diep spore in Suid-Afrika se ontwikkeling getrap het. Isaac Lewis het ‘n groot rol in die diamant-bedryf gespeel en in die ontwikkeling van dorpe soos Vereeniging. Hy het meestal in Sammy Marks se skadu geleef en so vergete geraak.
HERKOMS
Gebore 23 Oktober 1848 Neustadt-Sugind, Lithuana , destyds deel van Rusland .
Isaac se ouers was Samual Lewis geb. 1830 Lithuana x Dora COHEN Lewis gebore Lithuana 1830.
Broers en susters : Barnet Lewis 1854 Litjuana -sterf 1929 SA, Joseph Lewis, Fanny Rebecca Cohen en Ferderika Marks.
Isaac Lewis getroud met Sarah Ann Lewis gebore TICKSON.
Isaac en Sarah se kinders : Henry David Lewis 1875 Kimberley – sterf Engeland, Dora Fanny WEIL 1879 London, Ethel Fanny DUVEEN 1885 London- sterf Frankryk , Gilbert Roy LEWIS 1888 London – sterf Frankryk.
Isaac was ‘n neef van Sammy Marks.
Issac Lewis sterf 29 Maart 1927 in Kaapstad, Leeuwenhof.
Begrawe in die Willeden Joodse Begraafplaas, London, Engeland.
IMMIGREER NA SUID-AFRIKA
Litaue was ‘n provinsie van die Tsare-ryk wat voorheen ‘n deel van Pole was. Die Jode in hierdie Russiese Ryk het baie swaar gekry, regeringsmaatreëls het die lewe vir hulle onmoontlik gemaak. 1791 het ‘n keiserlike dekreet hulle woongebied beperk tot 4% van die ryk se gebied o.a. Littaue. Hier moes hulle in afgeskeie wyke (Ghettos) woon.
Talle skole en universiteite was vir hulle verbode en beroepe soos boer, offisiere en amptenare was vir hulle gesluit.
Rampe soos oorstromings, hongersnood, misoeste en groot brande het die hele Russiese volk getref en lewensomstandighede van die Jode nog hagliker gemaak. ’n Uittog van Jode na die Weste het gevolg. Meeste immigrante Jode het vanuit Littaue gekom.
‘n Groot aantal van hierdie Jode het na Suid-Afrika gekom en hulle het graag familie en vriende genooi om ook na SA toe te kom.
Aan die Kaap het hulle hulle aanvanklik as handelaars gevestig, Maar mettertyd het hulle na die Vrystaat en Transvaal toe verhuis. Hulle het ‘n groot bydrae gelewer tot die platteland se ontwikkeling. Meeste dorpe het het ‘n Joodse gemeenskap met ‘n eie sinagoge gehad.
Na die ontdekking van diamante en goud het die Joodse bevolking in SA skerp toegeneem. Hulle het ‘n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van die diamantbedryf sowel as die goudbedryf.
Isaac Lewis immigreer eers vanaf Lithuana na Engeland saam met sy neef Sammy Marks (1860).
1868/1869 kom hy en Sammy Marks in die Kaap aan . Hier werk hy eers baie suksesvol as ‘n smous. Hy sluit hom in SA by sy neef Sammy Marks aan en hulle word lewenslange vennote. Isaac Lewis vestig hom in 1870 in Kimberley, die jaar wat diamante daar ontdek is.
Sammy Marks en Isaac Lewis stig in 1878 een van eerste maatskappye wat diamantkleims in die Kimberley-omgewing besit en bedryf het nl. Lewis & Marks. Lewis & Marks word een van die grootste nywerheidsondernemings in SA.
Hulle het orals in Suid-Afrika grond aangekoop en bestuur. Meer as 3 miljoen akker (meer as 2 miljoen hektaar) was onder hulle bestuur. Hulle raak betrokke by landbou, mynbou en industrieë.
Die hoofkantoor van die Lewis & Marks Groep was in Johannesburg.
BANDE MET VEREENIGING
Sammy Marks verneem van George Willam Stow se ontdekking van steenkool langs die Vaalrivier en besef onmiddelik die belangrikheid van hierdie vonds. Die gebrek aan brandhout op die diamantvelde is ‘n groot probleem en steenkool kan ‘n winsgewende onderneming vir hulle wees.
Hy ontmoet Stow en saam stig die twee die Zuid-Afrikaansche en Oranje Vrijstaatsche Kolen en Mineralen Myn Vereeniging 1880 .
Sammy betrek ook sy neef en sakevennoot Isaac Lewis. Hulle koop die plase rondom die Vaalrivier aan waarop moontlik steenkool gemyn kan word. Die doel is om die oorvloed steenkool te ontgin. Isaac vestig hom vir ‘n tyd in Vereeniging waar hy ‘n groot rol gespeel het.
Met transportwaens laat ry hulle die steenkool na die diamantvelde aan. Generaal Koos de la Rey was een van hulle gereelde transportryers.
Op die plase Klipplaatdrift en Leeuwkuil het die dorp Vereeniging in 1892 ontwikkel.
1892 het hulle reeds 650 swart arbeiders en 50 blankes in hulle diens gehad en ook nog ‘n groot aantal klerke en meganiese werkers. Volgens hulle kontrak moes hulle tussen 7000 en 13000 ton steenkool maandeliks lewer aan die Kaapse Spoorweë.
1895 is ‘n terrein van die buiteklub deur TN Leslie aangewys as die mees geskikte vir die oprigting van ‘n hotel langs die rivier. Hy kon egter nie ‘n ooreenkoms met Marks en Lewis bereik nie. Later het Isaac Lewis die grond van die maatskappy gekoop en sy eie woonhuis daar opgerig (1909). Die Riviera Hotel is later naby opgerig. Roy Lewis, Isaac se seun het ‘n tyd lank in die huis gewoon. Toe hy na Engeland toe vertrek het, het Louis Marks weer die huis en terrein vir die Vereeniging Estates gekoop. Lewis se huis is in ‘n klubgebou omskep vir die Vereenigingse Buiteklub.
Lewis en Marks voorsien dat hierdie nuwe dorpie ’n groot industriële sentrum gaan word en saam stig hulle in 1897 Die Vereeniging Estates Limited. Isaac Lewis het ‘n Londense komitee gestig met homself as medevoorsitter.
Hulle koop die plaas Maccauvlei aan en begin om plantasies, vrugtebome en ander gewasse hier aan te plant en ontwikkel Maccauvlei as ‘n pragplaas met baie wildlewe. Voor die oorlog kon Maccauvlei spog met 1764 stuks vee, meestal beeste. Perde, skape en volstruise het orals gewei. Mielies, sorghum, patats en tabak was suksesvol aangeplant.
Die ABO het ‘n stilstand gebring aan hulle bedrywighede weens ‘n tekort aan arbeid, voorrade en vervoer. Meeste arbeiders keer terug Engeland toe.
Na die oorlog het hulle weer alle bedrywighede hervat, mynbou sowel as boerdery. Teen die begin van WWI het hulle boerdery op Maccauvlei ontwikkel tot een van die grootstes van sy soort in SA.
1904 laat kom Isaac Lewis sowat 200 fisante vanaf Engeland. Aanvanklik was hulle in hokke aangehou, maar later is hulle toe vrygelaat in die plantasies of in die bosse van Maccauvlei. Ongelukkig was hulle nie gewoond aan die Suid-Afrikaanse omstandighede nie. Hulle het hulle neste op die grond gemaak, waar wildekatte hulle uitgeroei het.
Vroeg reeds het die twee neefs ook die potensiaal van ‘n staalindustrie in SA besef en saam stig hulle in 1911 die Union Steel Corporation.
Na Sammy se dood in 1920 gaan Isaac Lewis nog 7 jaar aan as hoof van die maatskappy tot hy sterf. Toe het hy reeds in Engeland gewoon.
Sammy se seun, Louis Marks, hanteer sake in SA. Louis Marks , sy broers Joe en Ted Marks en Isaac Lewis se seun Roy Lewis was almal betrokke by die sakebedrywighede van hulle vaders.
JOODSE GEMEENSKAP
Marks en Lewis was nou betrokke by die bou van Die Ou Sinagoge in Vereeniging in 1898 en het ruim bygedra daartoe.
Isaac Lewis was ook betrokke by stigting en ontstaan van die Isaac Lewis Jewish Orphanage in Johannesburg waar Joodse weeskinders versorg en opgevoed is. Hierdie kinders is uit Rusland na SA toe gebring om vanuit die vervolging, misbruik, armoede en uiterste ellendige bestaan daar te ontsnap.
SUKSESVOLLE SAKEMAN
Isaac Lewis was een van mees kragtigste en suksesvolle persone van die mynwese en industriële ontwikkeling in SA en het ‘n reuse bydrae tot finansiële ontwikkeling in SA gelewer.
Hy was direkteur van die Johannesburg Consolidated Investment Company, SA Brouerye, Victoria Falls and Transvaal Power Company.
Die storie van Sammy Marks en Isaac Lewis is die stigting en ontwikkeling van die dorp Vereeniging. Maar meer nog, die Lewis & Marks Company dra grootliks by tot die industriele ontwikkeling van die Transvaal … iets wat hulle verseker nie kon vooruitsien het die dag toe hulle na Paul Kruger se ou Transvaal toe gekom het nie.
Bronne: Internet, Verreniging Geskiedenis, Archive of the Jewish Agency.
Lees meer:
SAMMY MARKS / VADER VAN DIE TRANSVAALSE NYWERHEID en MYNWESE / Stigter van Vereeniging – Monumente, Gedenktekens en Interessanthede in Suid Afrika (monument-sa.co.za)
GEORGE WILLIAM STOW / Ontdekker van steenkool / Vereeniging / – Monumente, Gedenktekens en Interessanthede in Suid Afrika (monument-sa.co.za)