SAMMY MARKS
Een van Suid-Afrika se welvarendste nyweraars
Vereeniging is uit sy visie en ywer gebore
SAMUEL MARKS
1844-1920
Gebore 11 Julie 1844 in Litaue, Lithuania, destyds deel van Rusland
Sammy sterf 18 Februarie 1820 in Johannesburg, Dudley Nursing Home.
Nyweraar, finansierder. Speel ‘n belangrike rol in Suid-Afrikanse mynwese, nywerhede en landbou.
Sammy Marks is bekend vir sy moed, integriteit en verstommende besigheidsvernuf.
Reeds op 40 was hy reeds baie ryk en suksesvol, ten spyte van ‘n armoedige en nederige begin.
Sammy Marks was ‘n gewilde man by Boer, Brit, Jood en Nie-Jood.
HERKOMS
Sammy is gebore as die seun van ‘n nederige Joodse kleremaker ,
Mordechai Feit MARKS, in Neustadt-Sugind (Russiese Empire). Sy moeder was Miriam Cohen.
Litaue was ‘n provinise van die Tsareryk wat voorheen ‘n deel van Pole was. Die Jode in hierdie Russiese Ryk het baie swaar gekry, regeringsmaatreëls het die lewe vir hulle onmoontlik gemaak. 1791 het ‘n keserlike dekreet hulle woongebied beperk tot 4% van die ryk se gebied o.a. Littaue. Hier moes hulle in afgeskeie wyke (Ghettos) woon.
Talle skole en universiteite was vir hulle verbode en beroepe soos boer, offisiere en amptenare was vir hulle gesluit.
Rampe soos oorstromings, hongersnood, misoeste en groot brande het die hele Russiese volk getref en lewensomstandighede vir die Jode nog hagliker gemaak
’n Uittog van Jode na die Weste het gevolg. Meeste immigrante Jode het vanuit Littaue gekom. ‘n Groot aantal van hierdie Jode het na Suid-afrika gekom en hulle het graag familie en vriende genooi om ook na SA toe te kom.
JONG SAMMY EMIGREER NA ENGELAND
Sammy emigreer alleen as sestienjarige jong man na Engeland.
Sammy vergesel ‘n klompie perde na Sheffield. Hy besluit om daar in Sheffield te bly en om nie terug te keer na die Joodse gemeenskap in die Russiese Empire nie. Familie daar het hom gehelp om ‘n bestaan te maak. Hier in Sheffield leer hy die afwerking en verkoop van sekere tipes messe en open ‘n klein messlypwinkeltjie.
‘n Tas met silwer messe is sy enigste waardevolle besitting.
In Sheffield ontmoet hy die Guttmann familie.
SAMMY MARKS EMIGREER NA SA
1869 arriveer Sammy in die Kaap. Hier smous hy aanvanklik met juwele en allerhande sierade en goedere op die platteland.
Sammy se opleiding was, afgesien van die Joodse godsdiens en Hebreeus,maar gebrekkig. Hier in Suid-Afrika het hy vinnig vlot Afrikaans leer praat. Sy voorkeur skryftaal het Hebreeus gebly. Sammy was ‘n slim man met ‘n skerp aanvoeling vir sakegeleenthede.
Isaac Lewis, Sammy se swaer, volg hom na SA.
Die ontdekking van diamante in Kimberley lok baie mense delwerye toe.
Spoedig vertrek Sammy Marks en Issac Lewis na Kimberley met ‘n wa vol gebruiksartikels wat hulle aan die myne en myners smous. Hulle open ‘n algemene handelaarswinkel in Kimberley.
Sammy Marks koop en ontgin kleims en koop diamante aan wat hy weer in Kaapstad verkoop. As diamantkoper raak hy gou voorspoedig.
Sammy begin al hoe meer belangstel in steenkool en in mynbedrywighede. Hy verneem van die ontdekking van groot neerslae steenkool deur George William Stow langs die Vaalrivier en sien dadelik die toekoms van hierdie ontdekking in. Hy stuur Stow om dadelik plase daar aan te koop. Dit lei tot die ontstaan van die dorp Vereeniging.
Die ontdekking van goud open weer nuwe deure vir Sammy en bekom ‘n groot klomp aandele in die Sheba-myn, een van die rykste myne. Saam stig Marks en Lewis die maatskappy Lewis&Marks in Barberton en word lewenslange vennote.
Sammy Marks het besef dat die Transvaal ‘n belowende en belangrike rol van die toekoms van Suid-Afrika gaan speel en verhuis na Pretoria.
SAMMY MARKS IN PRETORIA
Sammy Marks verhuis na Pretoria in 1881
Hy raak bevriend met President Paul Kruger en wen die vertroue van die President sowel as die van die ZAR regering. Sammy moedig hulle aan om ‘n spoorlyn te bou van Pretoria na Delagoabaai ( Maputu, Mosambiek).
Sammy koop die Zwartkoppies plaas, so genoem na die swart rotse op die plaas. Hierdie swart rotse is ysterbevattend en trek swaar weerlig aan.
Die huis op die plaas front wes wat dit ‘n baie koue huis gemaak het.
Sammy bou Zwartkoppies Landgoed tot ‘n spoglandgoed. Hy plant duisende bome aan en skep selfs ‘n mensgemaakte meer. Wildlewe en voëls floreer op die plaas en hy laat geen jag toe op die plaas nie.
Sammy Marks tree in die huwelik met Bertha Gutmann, ‘n gereelde huwelik. Sammy het sakebande met Bertha se pa gehad. Sy bruid,Bertha Gutmann, was 22 jaar oud , sy was maar 5 jaar oud toe Sammy Kaap toe gekom het.
Uit die huwelik word 9 kinders gebore, 6 seuns en 3 dogters. Net 6 van die kinders oorleef.
Ten spyte van Sammy Marks se eenvoudige begin en sy eie beperkte skoolopleiding was die onderrig van sy kinders vir hom baie belangrik. Hulle is eers tuis onderrig deur goewernantes tot ouderdom 8 vir die seuns en 12 vir die dogters. Daarna het hy hulle na ‘n privaatskool in Engeland gestuur vir verdere onderrig.
Op Zwartkoppies Landgoed bou hy ‘n Victoriaanse-styl huis met 40 vertrekke. Hy betrek in 1886 hierdie spogwoning. In hierdie huis het hulle gereeld deftige onthale gehou.
SAMMY MARKS, SKERP BESIGHEIDSMAN
Sammy was ‘n suksesvolle besigheidsman met ‘n oog vir geleenthede. Hy kon 5 tale vlot praat, insluitende Afrikaans.
Sammy begin eksperimente in vervaardiging, wat gou lei tot sy eerste fabrieke. Hy neem Eerste Fabrieken oor, ‘n mislukte projek van die bankrot Nellmapius.
Hy het besondere insigte in nuwe projekte en dit lei tot ‘n konfyt inmaak-fabriek, ‘n brandewyn- en gin-distileerdery en ‘n glasfabriek.
1883 is die eerste stokery amptelik deur Paul Kruger geopen en die naam eerste Fabrieken verander na Volkshoop.
Alhoewel almal maar skepties was oor sy brandewyn was die verkope gou baie suksesvol. Sammy se brandewyn raak so gewild dat hy dit ernstig oorweeg het om sy eie mynwerkers te verbied om alkohol te gebruik want dit het hulle produktiwiteit negatief beïnvloed.
Hy raak ook gou betrokke by die goud die Witwatersrand en saam met Lewis word hulle die mynbase van een van die mynhuise wat die meerderheid aandele in die goudmyne op die Rif gehad het.
1898 verkry Sammy Marks die buitengewone voorreg vanaf President Paul Kruger om die staatsmunt vir een dag te kon gebruik. Met goud uit sy myn in Barberton druk hy 215 goue tiekies as aandenkings vir sy familie en vriende , o.a. vir Pres Paul Kruger en die ZAR Volksraadslede.
STEENKOOL IN VEREENIGING
Sammy Marks verneem van George Willam Stow se ontdekking van steenkool langs die Vaalrivier en besef onmiddelik die belangrikheid van hierdie vonds.
Hy ontmoet Stow en saam stig die 2 die Zuid-Afrikaansche en Oranje Vrijstaatsche Kolen en Mineralen Myn Vereeniging 1880 . Later betrek hy ook sy neef Isaac Lewis. Die doel is om die oorvloed steenkool te ontgin.
Sammy stuur Stow om al die plase weerskante van die Vaalrivier aan te koop wat moontlik steenkool bevat. Op die plaas Leeukuil begin hulle dadelik om steenkool te myn.
Op die plaas Klipplaatdrift woon die berugte Kwaai Angus Pistorius. Hy is onwillig om sy plaas te verkoop want Kwaai Angus wil die plaas nalaat vir sy 6 seuns.
Die vasberade Sammy Marks kamp vir 15 dae op Kwaai Angus se plaas terwyl hy daagliks met hom in die skadu van sy eikebome onderhandel. Die transaksie word beklink toe Sammy ‘n aanbod maak, groot genoeg vir Kwaai Angus om 6 plase te kon koop vir sy seuns.
Saam met Stow ondersoek hulle die moontlikheid om steenkool met bote na Kimberley via die Vaalrivier te vervoer en begin om die eerste twee platboomskuite te bou. Hierdie projek was egter nie ‘n sukses nie.
Die vraag na steenkool in Kimberley-omgewing was groot. Die inheemse doringbome was reeds 50 myl rondom Kimberley kaalgestoop deur al die delwers en inwoners van Kimberley.
Sammy Marks vervoer steenkool met ossewaens na die delwerye toe. Selfs vir die geharde transportryers was dit ‘n moeilike tog. Die Vrystaatse sand, moeilike driwwe , donderstorms, tekort aan weiding en water en swaar vragte het die togryers ontmoedig. Sammy Marks het egter ‘n bestendige aantal waens nodig gehad vir die steenkool-vervoer. Hy lok transportryers deur gratis weiding en water te voorsien aan transportryers wat op sy grond by Vereeniging uitkamp. Hulle kon tot 2 weke oorbly op voorwaarde dat hulle steenkool na die diamantmyne toe vervoer. Daarvoor is hulle ook ruim vergoed.
Die eerste steenkoolmyne begin hy op Viljoensdrift.
Saam met Lewis stig hulle die dorp Vereeniging in 1889. Naam afkomstig vanaf Sammy Marks en Isaac Lewis se maatskappy : Zuid-Afrikaansche en Oranje Vrijstaatsche Kolen en Mineralen Myn Vereeniging
1892 stig hy en Issac Lewis die Zuid-Afrikaaasche en Oranje Vrijstaatsche Mineralen en Mijnbouwvereeniging.
VEREENIGING
Sammy beywer hom om die area te ontwikkel. Hy werk hard om die lewensomstandighede van die vroeë inwoners van Vereeniging te verbeter.
Buiten mynbedrywighede het Sammy Marks saam met sy neef Isaac Lewis ‘n groot rol gespeel in feitlik elke aspek in die ontwikkeling van Vereeniging. Hy het ‘n groot aandeel in die stigting van Die Nationale Bank, later Eerste Nasionale Bank en SA United Breweries, later SA Brouerye.
Sammy Marks voorsien die dorp gaan ‘n groot industriële sentrum word . In 1879 Stig hy Vereeniging Estates Ltd om landbougrond langs Vaalrivier te ontwikkel.
Sammy Marks was ‘n pionier in die gebruik van stoomtrekkers en plaasimlimente.
Sammy Marks het op een stadium opgemerk dat as hy sy lewe kon oorhê sal hy al sy grond met bome beplant. Saam met sy neef Issac Lewis het hulle tot 3 miljoen akkers grond onder hulle bestuur gehad wat landbou, mynbou en industriële ontwikkeling ingesluit het.
Die Maccauvlei Bos was sy groot en gunsteling projek. Op die plaas Maccauvlei is een van grootste boomplantasies in SA aangeplant. Hy stel die Duitse plantkundige, Otto Brandmuller, aan wat bekend was met SA se Fauna en Flora. Die reuse eike van Kwaai Angus Pistorius se akkers word gebruik om honderde bome aan te plant. Pistorius se paar bome word ‘n woud. In een een jaar het Brandmuller100 000 bome geplant. Die eerste bome van Pistorius se akkers word gebruik vir houtstutte vir die myne en bouwerk.
Sammy Marks bou ‘n Koringmeule in Vereeniging.
Sammy Marks haat vermorsing en die groot klei afsettings onder die steenkool lei tot produksie van teëls. Hy stig ‘n fabriek om vuurvaste stene te maak wat in die oonde van die stoomlokomotiewe en fabrieke gebruik kan word.
Samuel Marks se bydrae tot Vereeniging: Bydrae (Sarel Veldsman)
1. Samuel marks het aanvanklik al die plase en grond in en om Vereeniging aangekoop.
2. Hy het die Maatskappy begin wat die naam aan Vereeniging gegee het.
3. Hy het die eerste steenkoolmyn in Vereeniging begin.
4. Hy het Corneliamyn in Viljoensdrif begin
5. Hy het ‘n Vervoer maatskappy begin wat steenkool na Kimberley toe uitgevoer het.
6. Hy het die eerste poskantoorgebou geskenk aan Vereeniging.
7. Hy het Steen en Pan (Brick & Tile) as ‘n besigheid in Vereeniging gevestig.
8. Hy was betrokke met die eerste treinbrug se opening in Vereeniging.
9. Hy het die pont by Viljoensdrif bedryf as ‘n besigheid.
10. Hy het sy terrein beskikbaar gestel vir die Vredesonderhandelinge in Vereeniging.
11. Hy het die Bosbou en plantasies by Maccauvlei begin.
12. Hy het die eerste Indiërs in Vereeniging en Maccauvlei gevestig.
13. Hy het die eerste Appelboorde aangeplant by Maccauvlei.
14. Hy het die eerste Keerwal (Weir) in die Vaalrivier laat bou.
15. Hy het die eerste gemeganiseerde landbou toegepas by Maccauvlei.
16. Hy het die eerste grootskaalse landbouboerdery skema begin.
17. Hy het die eerste volle gemeganiseerde Meule in Vereeniging gebou.
18. Hy het die eerste staalsmelter in Vereeniging gebou.
19. Hy was betrokke by die eerste Kragstasie wat gebou was in Vereeniging
20. Hy het die Rand Water Skema by Barrage begin
21. en die Vereeniging Pompstasie en Suiweringswerke.
22. Hy het die aanvanklike Riviera Hotel laat bou.
en dit is maar net om ‘n paar van sy insette te noem wat ons erfenis geword het.
Samuel Marks was voorwaar ‘n merkwaardige man.
ANGLO-BOEREOORLOG
Sammy Marks was goed bevriend met Boer en Brit. Hy het die oorlog verfoei en as sinneloos bestempel.
Die Anglo-Boereoorlog bring mynbou en landbou tot stilstand.
Sammy Marks beywer hom daarvoor om die lewensomstandighede van die vroue en kinders in die Vereeniging Konsentrasiekamp te verbeter.
Sammy poog om die voortslepende en vernietigende Anglo-Boereoorlog tot ‘n einde te bring en pleit vir die beëindiging van die oorlog.
As persoonlike vriend en vertroueling van Paul Kruger reël hy ‘n samekoms tussen Boer en Brit in 1902. Hy geniet die vertroue van die Boeregeneraals De Wet, Botha, De la Rey en ook die respek van die prominente Engelse rolspelers Lords Roberts, Kitchener en Milner.
Sammy Marks stel ‘n terrein by sy Central Mine in Vereeniging tot beskikking van vredesonderhandelings. Hy rig ‘n groot tent op by sy Central Mine se mynhospitaal in Vereeniging.
Die Britse Offisiere huisves hy in die mynhospitaal en die Boere in tente.
Sammy Marks het dus ‘n groot rol gespeel in die vredesooreenkoms tussen Boer en Brit, Die Vrede van Vereeniging, 31 Mei 1902.
Na die oorlog kon die mynbedrywighede in die Vrystaat en Transvaal weer normaal voortgaan.
Sammy Marks het na die oorlog voortgegaan met sy sakebedrywighede in Vereeniging. Hy het lank reeds voor sy tydgenote die voordele van ‘n yster- en staalfabriek gesien.
Generaal Koos de la Rey en Sammy was baie goeie vriende. Kort na die Vrede van Vereeniging ontmoet Marks vir Koos de la Rey voor ‘n bank in Pretoria.
De la Rey se plaas was verwoes en hy wou ‘n lening vir sy kinders se opvoeding gaan vra. Sammy Marks het hom dadelik afgeraai om die lening aan te gaan en dieselfde bedrag teen veel laer renta aan hom aangebied.
Hulle het as parlementslede dikwels saamgelag en gesels. Sammy Marks was altyd vinnig om ‘n grap ten koste van sy eie Joodsheid te maak. Hy en Koos de la Rey het aan mekaar ‘n Bybel geskenk sodat hulle volgens Sammy “ nou twee sabatte het om te onderhou”.
Lord Milner verlaat SA in 1905. Selbourne word as High Commissioner in sy plek aangestel. Sammy Marks en Selbourne het goed klaargekom in hulle strewe om verhoudings te verbeter tussen die Britse administrasie en die Boere.
SAMMUY MARKS EN STAAL
Reeds in 1896 stel Sammy Marks belang in die stigting van ‘n staalbedryf in SA.
Hy raak bewus van die groot ysterneerslag naby die steenkoolvelde. Water is ook reeds daar beskikbaar. Die kostes van vervoer na Kimberley is ook baie groot en Sammy begin droom van ‘n spoorlyn na Kimberley.
In ‘n berekende studie bepaal hy die benodighede en kostes van so ‘n spoorlyn. Ongelukkig is daar min belangstelling en baie min vordering in sy planne, maar mettertyd word hierdie spoorlyn ‘n werklikheid.
In 1892 laat hy by gebrek aan kanonskote 21 dinamietkerse met tussenposes ontplof om die opening van die brug tussen Transvaal en Vrystaat te vier, om sodoende die ontmoeting tussen President Paul Kruger en President Reitz van die Vrystaat bekragtig. Die eerste trein stoom die Transvaal in.
Sammy besoek staalfabrieke in Engeland om sodoende genoeg kennis in te win.
Hy beplan sulke staalwerke in die Transvaal.
1911 ontvang hy die kontrak vanaf die regering om die groot hoeveelhede skrootyster in SA te smelt. Daar is minstens 15 000 ton skroot net in die spoorweg werkswinkels wat hy moes verwerk.
1912 stig Sammy Marks die Union Steel Corporation, USCO. Die eerste staal in SA word in 1913 getap. Hy behaal sukses in 1913 toe Union Steel Corporation die eerste hoogoond in Vereeniging in gebruik neem.
Sammy Marks het vermorsing en onbruik gehaat. Die swak gehalte kole en oop stukke grond het hom gepla.
Hy laat plant graan op die plase wat hy aangekoop het. Hy laat bou ‘n meule waar die swakker kole benut kan word en die graan verwerk kan word. Swakker kole verskaf krag aan die meule, die meule verskaf kos aan die mynwerkers. Die krag word ook gebruik om water na die goudvelde te pomp. Die Victoria Falls and Transvaal Power Company en Vereeniging Milling Company ontstaan.
JOODSE GEMEENSKAP
Sammy Marks het ‘n groot bydrae aan die Joodse gemeenskap gelewer.
Die ou sinagoge in Paul Krugerstraat Vereeniging is deur hom opgerig. In 1898 skenk hy al die stene vir die sinagoge en betaal vir die elektriese ligte se installasie en die kandelare.
UNIE VAN SUID-AFRIKA
Tydens en na die Wêreldoorlog besef hy die belangrikheid van koue bewaring van voedsel. Hy het groot belangstelling in die voorsiening in die voedselbehoeftes van die Randse mynwerkers.
Sammy Marks sluit by die Afrikaners se nuutgestigde party in Transvaal ,“Het Volk”, aan.
Na Uniewording word Sammy Marks aangestel as Senator in die Unieparlement, 1910, en hy raak beroemd vir sy Politieke insig.
Hy het selde in die openbaar gepraat, want sy Engels was maar middelmatig, maar in die wandelgange het die Afrikaners altyd aandagtig na hom geluister en sy advies altyd eers oorweeg.
Sy groot sukses en rykdom het egter ook kritiek van sommiges uitgelok en sy slimheid is hom verwyt. Hy en ander sakemanne is daarvan beskuldig dat hulle konsessies jag en monopolies verkry wat hoër pryse veroorsaak soos bv vir dinamiet. Nogtans het hy gewild by meeste Boere en Britte gebly en sy goeie sakevermoë is wyd bewonder.
Sammy dien in die Parlement as Senator tot sy dood in 1920. Hy word begrawe in die Rebeccastraat Begraafplaas , Pretoria-Wes.
Sammy Marks se oudste seun Louis Marks, 34, neem die die Lewis&Marks Company oor saam met sy broers , Joe en Ted Marks, en ook Isaac Lewis se seun, Roy Lewis.
1945 neem Anglo American Corporation die Lewis en Marks Company oor.
Louis en Teddy Marks stig die Maccauvlei Golf Club.
MONUMENTE
Na die ABO skenk Sammy ‘n gegote-yster fontein aan Pretoria. Dit word vanaf Glasgow verskeep. Die fontein is tans in die Pretoria Dieretuin.
Hy gee ook opdrag om ‘n standbeeld van Paul Kruger in Pretoria te laat maak, die beeld was gemaak deur Anton van Wouw. (Tans op Kerkplein, Pretoria)
SAMMY MARKS HUIS/ MUSEUM
Joseph Marks, Sammy se seun wou nie ‘n besigheidsman word nie. Hy wou eerder boer en gaan studeer Landbou. Na sy pa se dood erf hy die plaas Zwartkoppies.
Die huis op die plaas het getuig van Bertha, sy ma ,se duur en fyn kunstige smaak. Die waardevolle meubels is ingevoer vanuit Indië.
Sammy en Bertha Marks het ‘n Italiaanse kunstenaar gebruik om die mure te laat verf sodat dit lyk soos satyn. “Satin paintings on silk”. Selfs teen die biljartkamer se plafon is dit kunstig aangebring.
Joseph Marks het nie van hierdie kunstig-versierde mure gehou nie en het bo-oor dit geverf en onherstelbare skade aangerig. Later is daardie minstens 6 lae verf pynlik deur kenners verwyder in ‘n poging om die kunswerke weer bloot te stel. Joseph se familie het die huis bewoon tot 1981 waarna dit in gevaar van verwaarlosing gestaan het.
1984 is ‘n ooreenkoms met die Nasionale Kulturele Museum gesluit. Om die kosbare inhoud te koop sou baie duur wees. Mendel Kaplan, ‘n sakeman van Johannesburg, help deur die helfte te betaal en te help met die restourasie-proses en die huur vanaf die Familie Trust.
1986 open die Sammy Marks Museum sy deure. Tans vorm dit deel van die Ditsong Museums van Suid-Afrika.
1989 is Sammy Marks se huis as Nasionale Monument verklaar.
Bronne: Internet. Geskiedenis van Vereeniging. Geskiedenis van Maccouvlei.